Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 7/15 bl. 26-27
  • Ek het vrede nagejaag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het vrede nagejaag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek het ware rykdom in Australië gevind
    Ontwaak!—1994
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 7/15 bl. 26-27

Ek het vrede nagejaag

DIE apostel Petrus, het getoon dat diegene wat “die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien” “vrede [moet] soek en dit najaag” (1 Petrus 3:10, 11). Dit is nie altyd maklik nie, maar dit bring seëninge mee. Beskou, ter toeligting hiervan, die volgende ondervinding van een van Jehovah se Getuies in Kanada.

Ek was pas 20 jaar oud en het op die punt gestaan om ’n kinderdroom te verwesenlik. Ek het by die Koninklike Kanadese Berede Polisie (RCMP) aangesluit. Dit was die begin van wat ek gemeen het ’n lewenslange loopbaan as ’n polisieman sou wees. Maar na bykans 16 jaar van diens het ek bedank.

’n Bietjie agtergrondinligting sal dalk van nut wees voordat ek verduidelik waarom ek uit die mag bedank het. Ek het my vroeë dae in die RCMP in die provinsie Nieu-Brunswyk deurgebring. Gedurende hierdie tyd het ek ’n pragtige jong vrou ontmoet met wie ek toe getroud is. Ons het in ’n klein blokkie woonstelle gewoon waarvan die opsigters toevallig getuies van Jehovah was. Hulle het dikwels vir ons getuig. Godsdiens was egter op daardie stadium nie een van my prioriteite in die lewe nie. My vrou het andersyds die waarheid geredelik aanvaar en ’n gedoopte getuie van Jehovah geword. Ek was, om die minste te sê, nie beïndruk nie. Ek het alles in my vermoë gedoen om haar van plan te laat verander, maar verniet. Ek het selfs ’n plaaslike priester oorgenooi om haar tot besinning te bring. As ek egter aan daardie besoek terugdink, glo ek dat die priester se duidelike gebrek aan Skriftuurlike kennis haar opnuut van die waarheid oortuig het.

Ek het byna ses jaar lank vir my vrou probeer wys hoe dwaas haar geloof is, maar sy het standvastig gebly. Mettertyd het ek toegeefliker geword en besluit dat sy maar haar gang kon gaan, en ek sou glo wat ek wou. Op daardie tydstip was my aspirasies natuurlik nie Skriftuurlik nie; ek wou my loopbaan as lid van die RCMP so ver moontlik bevorder. Met daardie doel voor oë het ek aangebied om oortyd te werk en het ek probeer om by opspraakwekkende sake betrokke te raak sodat ek die aandag van my bevelvoerders kon trek. Dit was ten koste van tyd wat saam met my gesin deurgebring moes word.

Ek het tot in 1978 met hierdie lewenswyse voortgegaan. My vrou wou graag die “Seëvierende geloof”- Internasionale Byeenkoms in Montreal, in die provinsie van Quebec, bywoon. Ek het ingestem om haar na Montreal te neem maar geweier om enige van die sessies by te woon. Na afloop van die eerste dag van die byeenkoms het my vrou gesê dat die volgende dag se program oor die gesinslewe sou handel en my oorreed om dit by te woon. Tot vandag toe dank ek Jehovah dat ek dit gedoen het. Ek was verbaas oor die orde wat onder hierdie yslike skare geheers het. Niemand het gerook of vuil taal gebruik nie, en dit het gelyk of almal gelukkig was en op vreedsame voet met mekaar verkeer het. Hoewel ek feitlik geen kennis van die Bybel gehad het nie, het ek die toesprake baie insiggewend en prakties gevind. Hierdie mense het probeer om God se wette, soos in die Bybel uiteengesit word, te leer en toe te pas. As ’n polisieman het ek gesien dat baie mense, hoewel hulle die wet ken, skuiwergate gesoek het sodat hulle dinge op hulle manier kon doen. Nou was ek beïndruk. Kort na ons terugkeer van die byeenkoms af het ek begin om ’n studie van die Bybel te maak, en ek is in Oktober 1979 gedoop.

Namate ek geestelik vooruitgang gemaak het, het ek baie wêreldse gebruike die rug toegekeer en eindelik het ek die voorreg gekry om Jehovah God as ’n bedieningskneg te dien. My kollegas by die werk, wat aanvanklik weinig ag gegee het op my nuwe geloof, het gou gesien dat ek my met ’n nuwe, Christelike persoonlikheid beklee het (Efesiërs 4:22-24). Mettertyd kon ek hulle spottende aanmerkings gebruik as ’n geleentheid om te getuig. Trouens, namate dit in die afdeling rugbaar geword het dat ek ’n getuie van Jehovah is, het baie my met vrae genader. Ek is ook baie dank aan my hoofde verskuldig wat, uit respek vir my geloof, take aan my toegewys het wat nie sou veroorsaak dat ek my verhouding met Jehovah skaad nie.

Ja, dit het gelyk of alles goed gaan. Toe ek een aand na werk by die huis kom, was my vrou ywerig besig om die Watchtower van 15 Julie 1983 te lees, en in die besonder die studie-artikel op bladsye 21-26 met die titel “Soek vrede en jaag dit na!”.a Dit het gehandel oor die vermyding van ‘’n betrekking wat vereis dat ’n wapen gedra moet word vir gebruik teen ander mense’, omdat ‘die gevaar altyd bestaan dat ’n mens bloedskuldig kan word deur iemand se lewe met die wapen te neem’ (Jesaja 2:4; Romeine 12:17, 18). Die artikel het verder gesê: “Namate die wêreld al hoe gewelddadiger word, kan ons nie langer ’n broer wat aanbly in ’n betrekking waar hy ’n wapen moet dra as voorbeeldig beskou nie. Hy kan ses maande gegun word om ’n verandering aan te bring. Indien hy nie ’n verandering aanbring nie, sal hy nie in die posisie wees om spesiale diensvoorregte of verantwoordelikheid in die gemeente te geniet nie.—1 Timotheüs 3:2; Titus 1:5, 6.”

Dit was duidelik dat ek ’n baie belangrike besluit moes neem. Ons het die saak as ’n gesin bespreek en dit in gebed aan Jehovah opgedra. Die volgende werkdag het ek my baas genader en my situasie verduidelik. Na ’n lang gesprek het ons tot die gevolgtrekking gekom dat die polisiemag my waarskynlik nie daarvan sou vrystel om ’n vuurwapen te dra nie. Gevolglik het ek hulle kennis gegee dat ek binne ses maande sou bedank.

Ek het geen benul gehad waar om te begin werk soek nie, aangesien ek nooit van werk verander het vandat ek die skool verlaat het nie. Die ekonomiese klimaat het ook ’n nadelige uitwerking op die arbeidsmark gehad. Ek het verskeie konneksies in die sakewêreld gehad wat ek deur die jare opgebou het, en ek het besluit om met hulle in verbinding te tree. Verbasend genoeg is ek binne ’n week na ’n gevestigde organisasie verwys wat na iemand gesoek het vir ’n nuwe pos as speurder. Ek het met die personeelbeampte in aanraking gekom en ontdek dat ek goed gekwalifiseer was vir die werk. Die werk was baie soortgelyk aan my pligte as ’n bedrogspeurder en ek sou nie ’n vuurwapen hoef te dra nie. Soos jy jou kan voorstel, het ek nie op my laat wag om my resumé daarheen te neem nie.

Ek het besluit dat dit raadsaam sou wees om tydens die onderhoud openhartig te wees oor die rede waarom ek die RCMP verlaat het. Tot my verbasing het die persoon wat die onderhoud met my gevoer het (wat ook my hoof sou wees), verduidelik dat hy sy vorige werk om gewetensredes verlaat het en dat hy hom met my situasie kon vereenselwig. Hy het ook daarop gewys dat hierdie pos deur iemand met ontwyfelbare integriteit beklee moes word. Hy het my vir my openhartigheid bedank en gesê dat hy my vir die pos sou aanbeveel. Binne twee weke is ek amptelik in diens geneem.

Ek twyfel nie dat Jehovah se gees my en my gesin deur hierdie ondervinding heen bygestaan het nie. Daar is miskien party broers wat hulle in ’n soortgelyke situasie bevind. Ek hoop dat my ondervinding hulle sal aanmoedig om op Jehovah te vertrou en hom toe te laat om dinge op sy manier op te los.—Mattheüs 6:33.

Soos die voorgaande ondervinding toon, vereis dit inspanning en dalk persoonlike aanpassings om vrede na te jaag en God se Koninkryk eerste in jou lewe te stel. Maar diegene wat Skriftuurlike raad toepas, word ryklik geseën en openbaar sodoende ’n gees soos die van die psalmis Dawid, wat gesê het: “HERE, leer my u weg, en lei my op ’n gelyke pad.—Psalm 27:11

[Voetnoot]

a In Afrikaans, Die Wagtoring van 1 Oktober 1983, bladsye 19-25.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel