Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 6/22 bl. 20-24
  • Ek het ware rykdom in Australië gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het ware rykdom in Australië gevind
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë swaarkry
  • Godsdienssoeke in ’n nuwe land
  • Kontak met die dorpspriester
  • Terug na Griekeland
  • Teëstand bars los
  • Gearresteer en verhoor
  • Terug na Australië
  • Ek gee Jehovah wat hy verdien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ‘Ek het nie goud nie, maar diamante gevind’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Bly om meer te kan doen
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 6/22 bl. 20-24

Ek het ware rykdom in Australië gevind

DIT was April 1971. Nadat ek sewe jaar in Australië gewoon het, het ek kort tevore na Griekeland toe teruggekeer om vir my familie te kuier. Dit was aand en ek het op my eie by ’n kafeetafeltjie op Karies se dorpsplein gesit toe die plaaslike priester en die burgemeester oorkant my kom sit het. Dit was duidelik dat hulle daarop uit was om ’n rusie te begin.

Sonder om my eens behoorlik te groet, het die priester my daarvan beskuldig dat ek Australië toe geëmigreer het met die uitsluitlike doel om geld te maak. Ek was, om dit sag te stel, uit die veld geslaan. Ek het so kalm as moontlik geantwoord dat ek, terwyl ek in Australië gewoon het, ’n rykdom verwerf het wat baie waardevoller as geld was.

My antwoord het hom verbaas, maar toe wou hy opsluit weet presies wat ek daarmee bedoel. Ek het geantwoord dat ek onder andere geleer het dat God ’n naam het. “En dit is iets wat jy nagelaat het om my te leer”, het ek gesê terwyl ek hom reguit in die oë gekyk het. Voordat hy daarop kon reageer, het ek gevra: “Sal jy asseblief vir my sê wat die naam van God is waarna Jesus verwys het toe hy ons in die modelgebed geleer bid het: ‘Laat u Naam geheilig word’?”—Mattheüs 6:9.

Nuus oor die woordewisseling het vinnig in die dorpsplein versprei en binne tien minute het ongeveer 200 mense saamgedrom. Die priester het ongemaklik begin voel. Hy wou nie my vraag oor God se naam beantwoord nie, en sy antwoorde op verdere Bybelvrae was maar power. Sy verleentheid het duidelik geblyk uit die feit dat hy kort-kort die kelner geroep het vir nog ouzo, ’n Griekse alkoholiese drankie.

’n Interessante twee uur het verloop. My pa het na my kom soek, maar toe hy sien wat aan die gang is, het hy stilletjies in ’n hoek gaan sit en toegekyk. Die lewendige bespreking het tot 11:30 nm. aangehou, totdat ’n besope man driftig begin skreeu het. Toe het ek voorgestel dat ons almal maar huis toe gaan omdat dit al so laat is.

Wat het tot hierdie konfrontasie aanleiding gegee? Waarom het die priester en die burgemeester met my rusie gesoek? ’n Bietjie agtergrondskennis oor my kinderdae in hierdie deel van Griekeland sal jou help om dit te verstaan.

Vroeë swaarkry

Ek is in Desember 1940 in die dorpie Karies in Peloponnesos gebore. Ons was baie arm, en wanneer ek nie by die skool was nie, het ek van sonop tot sononder kniediep in die water langs Ma in die ryslande gewerk. Toe ek op 13-jarige ouderdom my laerskoolloopbaan voltooi het, het my ouers vir my werk as ’n vakleerling gekry. Om dit vir my moontlik te maak om as ’n loodgieter en ’n vensterinstalleerder opgelei te word, het my ouers my werkgewer 500 kilogram koring en 20 kilogram plantolie gegee, wat hulle inkomste vir ongeveer ’n hele jaar was.

Die lewe as ’n vakleerling—om kilometers ver van die huis af te woon en dikwels van sonop tot middernag te werk—was alles behalwe maklik. Soms het ek dit oorweeg om terug te gaan huis toe, maar ek kon dit nie aan my ouers doen nie. Hulle het só ’n onselfsugtige opoffering om my ontwil gedoen. Daarom het ek hulle nooit van my probleme laat weet nie. Ek het vir myself gesê: ‘Jy móét vasbyt, al word dit ook hoe moeilik.’

Deur die jare heen kon ek my ouers van tyd tot tyd besoek, en op 18 het ek uiteindelik my vakleerlingskap voltooi. Ek het toe besluit om na Athene, die hoofstad, te gaan waar daar meer werksgeleenthede was. Daar het ek werk gekry en ’n kamer gehuur. Elke dag ná werk het ek huis toe gegaan, vir myself gekook, die kamer aan die kant gemaak en dan die bietjie tyd wat ek vir myself gehad het, gebruik om Engels, Duits en Italiaans te leer.

Die onsedelike praatjies en gedrag van ander jongmense het my ontstel, en ek het dus hulle geselskap vermy. Maar dit het my nogal eensaam laat voel. Toe ek 21 geword het, moes ek militêre diensplig verrig, waartydens ek my studie van tale voortgesit het. Toe, in Maart 1964, nadat ek die weermag verlaat het, het ek Australië toe geëmigreer en in Melbourne gaan woon.

Godsdienssoeke in ’n nuwe land

Ek het gou werk gekry, ’n ander Griekse immigrant met die naam Alexandra ontmoet, en binne ses maande ná my aankoms is ons getroud. ’n Hele paar jaar later, in 1969, het ’n bejaarde dame, een van Jehovah se Getuies, aan ons deur geklop en Die Wagtoring en die Ontwaak! aangebied. Ek het die tydskrifte interessant gevind, en daarom het ek hulle op ’n veilige plek gesit en vir my vrou gesê om hulle nie weg te gooi nie. ’n Jaar later het twee ander Getuies ons besoek en my ’n gratis tuisbybelstudie aangebied. Ek het ingestem, en wat ek uit die Skrif geleer het, was net waarna ek gesoek het om die leemte te vul wat daar in my lewe bestaan het.

Toe my buurvrou uitvind dat ek saam met die Getuies studeer, het sy my dadelik na die Evangeliste verwys en gesê dat hulle ’n beter godsdiens was. Ek het gevolglik ook met ’n ouderling van die Evangeliese Kerk begin studeer. Kort daarna het ek die vergaderinge van die Evangeliste sowel as die Getuies begin bywoon, want ek was vasbeslote om die ware godsdiens te vind.

Terselfdertyd het ek ter wille van my Griekse opvoeding deeglike ondersoek begin instel na die Ortodokse godsdiens. Op ’n dag het ek na drie Grieks-Ortodokse Kerke toe gegaan. Toe ek by die eerste een die doel van my besoek verduidelik het, het die priester my stadig die deur gewys. Terwyl hy dit gedoen het, het hy verduidelik dat ons Grieks is en dat dit gevolglik verkeerd was om met die Getuies of die Evangeliste te assosieer.

Sy gesindheid het my verbaas, maar ek het gedink: ‘Miskien is hierdie spesifieke priester nie ’n goeie verteenwoordiger van die kerk nie.’ Tot my verbasing het die priester by die tweede kerk op ’n soortgelyke wyse gereageer. Hy het egter vir my gesê dat ’n teoloog elke Saterdagaand ’n Bybelstudieklas by sy kerk hou. Toe ek die derde kerk probeer het, was ek nog verder ontnugter.

Ek het egter besluit om die volgende Saterdag die Bybelstudieklas by die tweede kerk by te woon. Ek het dit geniet om die Skriflesing uit die Bybelboek Handelinge te volg. Toe ons die gedeelte lees waar Cornelius voor Petrus kniel, het die teoloog die leesgedeelte onderbreek en daarop gewys dat Petrus reg opgetree het deur Cornelius se daad van aanbidding te weier (Handelinge 10:24-26). Daarop het ek my hand opgesteek en gesê dat ek ’n vraag het.

“Ja, wat is dit wat jy wil weet?”

“Wel, as die apostel Petrus geweier het om aanbid te word, waarom het ons ’n beeld van hom en aanbid ons dit?”

Daar was ’n hele paar sekondes lank ’n doodse stilte. Toe was dit asof daar ’n bom ontplof het. Humeure het opgevlam en daar was uitroepe soos: “Waar kom jy vandaan?” Daar was twee ure lank ’n hewige debat met baie geskreeu. Uiteindelik, toe ek op pad was om te loop, is ek ’n boek gegee om huis toe te neem.

Toe ek dit oopmaak, was die eerste woorde wat ek gelees het: “Ons is Grieks, en ons godsdiens het bloed vergiet om ons tradisie te bewaar.” Ek het geweet dat God nie net aan die Grieke behoort nie, en daarom het ek my onmiddellik van die Grieks-Ortodokse Kerk afgeskei. Van toe af het ek my Bybelstudie slegs saam met die Getuies voortgesit. In April 1970 het ek my toewyding aan Jehovah deur middel van waterdoop gesimboliseer, en my vrou is ses maande later gedoop.

Kontak met die dorpspriester

Teen die einde van daardie jaar het die priester van my tuisdorp in Griekeland ’n brief gestuur waarin hy geld gevra het om die dorpskerk te help regmaak. Pleks van geld vir hom te stuur, het ek vir hom die boekie Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gestuur, saam met ’n brief waarin ek verduidelik het dat ek nou een van Jehovah se Getuies is en glo dat ek die waarheid gevind het. Toe hy my brief ontvang het, het hy in die kerk afgekondig dat ’n emigrant na Australië gerebelleer het.

Daarna het die ma’s wat seuns in Australië gehad het die priester bly vra of dit hulle seun is. My ma het selfs na sy huis toe gegaan en hom gesmeek om vir haar te sê. “Ongelukkig is dit jou seun”, het hy gesê. Later het Ma vir my gesê dat hy haar eerder dood kon gemaak het as om haar dit van my te vertel.

Terug na Griekeland

Ná ons doop wou ek en my vrou na Griekeland toe terugkeer en ons familie en vriende van die goeie dinge vertel wat ons uit die Bybel geleer het. Daarom het ons in April 1971 vir ’n verlengde vakansie, saam met ons vyfjarige dogter, Dimitria, teruggekeer en in die dorp Kiparissia gebly, ongeveer 30 kilometer van my tuisdorp Karies af. Ons retoerkaartjies was geldig vir ses maande.

Die tweede aand tuis het Ma in trane uitgebars en vir my gesê dat ek die verkeerde weg ingeslaan het en dat ek die familienaam oneer aangedoen het. Al huilend en snikkend het sy my gesmeek om my “verkeerde” weg te laat staan. Toe het sy flou geword en in my arms inmekaargesak. Die volgende dag het ek met haar probeer redeneer en verduidelik dat ek net my kennis vergroot het van die God van wie sy ons so liefdevol van kindsbeen af geleer het. Die volgende aand het ek daardie onvergeetlike onderonsie met die plaaslike priester en die dorp se burgemeester gehad.

My twee jonger broers, wat in Athene gewoon het, het vir die Paastyd kom kuier. Al twee het my vermy asof ek melaats was. Maar eendag het die ouer een begin luister. Ná ’n bespreking wat ’n hele paar uur geduur het, het hy gesê dat hy met alles saamstem wat ek vir hom uit die Bybel gewys het. Van daardie dag af het hy my voor die res van die familie verdedig.

Daarna het ek Athene dikwels besoek om by my broer te kuier. Elke keer het hy ander gesinne oorgenooi om die goeie nuus te hoor. Tot my groot vreugde het hy en sy vrou, saam met drie ander gesinne met wie hulle Bybelstudies gehou het, later hulle toewyding aan God deur middel van waterdoop gesimboliseer!

Die weke het gou verbygegaan, en net voor ons ses maande om was, het ’n Getuie ons besoek wat in ’n gemeente ongeveer 70 kilometer van ons dorpie af gedien het. Hy het daarop gewys hoeveel hulp daar met die predikingswerk in die gebied nodig is en gevra of ek dit al oorweeg het om permanent aan te bly. Daardie aand het ek die moontlikheid met my vrou bespreek.

Ons het saamgestem dat dit moeilik sou wees om te bly. Maar dit was duidelik dat mense ’n groot behoefte daaraan gehad het om Bybelwaarhede te hoor. Uiteindelik het ons besluit om ten minste ’n jaar of twee te bly. My vrou sou na Australië terugkeer om ons huis en motor te verkoop en die besittings wat sy kon terug te bring. Nadat ons ons besluit geneem het, het ons die volgende oggend dorp toe gegaan en ’n huis gehuur. Ons het ook ons dogter by die plaaslike laerskool ingeskryf.

Teëstand bars los

Dit was asof daar kort daarna feitlik oorlog teen ons verklaar is. Teëstand het van die polisie, die skoolhoof en die onderwysers gekom. By die skool het Dimitria geweier om die teken van die kruis te maak. Skoolbeamptes het ’n polisieman ingeroep om haar bang te maak en haar sover te probeer kry om dit te doen, maar sy het standvastig gebly. Die skoolhoof het my ontbied, en hy het vir my ’n brief van die aartsbiskop gewys waarin ek beveel is om Dimitria uit die skool te haal. Nadat ek egter ’n lang bespreking met die skoolhoof gehad het, is sy toegelaat om in die skool te bly.

Met verloop van tyd het ek gehoor van ’n egpaar in Kiparissia wat ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het, en ons kon hulle belangstelling hernuwe. Ek en my vrou het ook Getuies van ’n dorpie daar naby vir Bybelstudies oorgenooi. Maar kort daarna het die polisie gekom en ons almal vir ondervraging na die polisiestasie toe geneem. Ek is daarvan aangekla dat ek sonder ’n lisensie my huis as ’n plek van aanbidding gebruik. Maar aangesien ons nie opgesluit is nie, het ons met ons vergaderinge voortgegaan.

Hoewel ek werk aangebied is, het die biskop, sodra hy daarvan te hore gekom het, gedreig om my werkgewer se winkel toe te maak as hy my nie ontslaan nie. ’n Loodgietery- /plaatmetaalonderneming was te koop, en ons was in die posisie om dit te koop. Twee priesters het feitlik onmiddellik gekom en gedreig om ons onderneming toe te maak, en ’n paar weke later het die aartsbiskop beveel dat ons gesin uit die kerk geban word. Enigeen wat destyds uit die Grieks-Ortodokse Kerk geban is, is as ’n algehele uitgeworpene beskou. ’n Polisiebeampte is buite ons winkel geplaas om te keer dat enigeen inkom. Al was daar geen klante nie het ons elke dag koppig die winkel oopgehad. Almal het spoedig oor ons verknorsing gepraat.

Gearresteer en verhoor

Een Saterdag het ek en nog ’n broer op sy motorfiets vertrek om in ’n nabygeleë dorp te gaan getuig. Daar het die polisie ons voorgekeer en ons na die polisiestasie geneem, waar ons die hele naweek aangehou is. Die Maandagoggend is ons per trein terug na Kiparissia geneem. Die nuus van ons arrestasie het versprei en ’n skare het by die stasie saamgedrom om te sien hoe ons onder polisiebegeleiding arriveer.

Nadat hulle ons vingerafdrukke geneem het, is ons na die staatsaanklaer geneem. Hy het die saak begin deur te sê dat hy hardop beskuldigings teen ons gaan lees wat saamgestel is van dorpenaars wat deur die polisie ondervra is. “Hulle het ons vertel dat Jesus Christus in die jaar 1914 Koning geword het”, het die eerste beskuldiging gelui.

“Waar op aarde het julle hierdie snaakse idee gekry?” het die aanklaer aggressief gevra.

Ek het vorentoe gestap en die Bybel geneem wat hy op sy lessenaar gehad het en dit by Mattheüs hoofstuk 24 oopgemaak en voorgestel dat hy dit lees. Hy het ’n oomblik gehuiwer, maar toe die Bybel geneem en begin lees. Nadat hy ’n paar minute gelees het, het hy opgewonde gesê: “Haai, as dit die waarheid is, moet ek alles net so los en by ’n klooster aansluit!”

“Nee”, het ek stilweg gesê. “Jy moet die waarheid van die Bybel leer en ander dan help om ook die waarheid te vind.”

’n Paar regsgeleerdes het opgedaag, en ons kon ook gedurende die dag vir party van hulle getuig. Ironies genoeg het dit nóg ’n klag tot gevolg gehad—proselitisme!

Ons het gedurende daardie jaar drie hofsake gehad, maar ons is uiteindelik van alle aanklagte vrygespreek. Dit het gelyk asof die oorwinning die ys gebreek het wat mense se gesindheid teenoor ons betref het. Van toe af het hulle ons vryliker genader en geluister na wat ons oor God se Koninkryk te sê gehad het.

Uiteindelik is die studiegroepie wat ons in ons huis in Kiparissia gehad het tot ’n gemeente gevorm. ’n Christen- ouere man is na ons nuwe gemeente oorgeplaas, en ek is as ’n bedieningskneg aangewys. Die vergaderinge in ons huis is kort daarna gereeld deur 15 bedrywige Getuies bygewoon.

Terug na Australië

Ná twee jaar en drie maande het ons besluit om na Australië terug te keer. Die jare hier het vinnig verbygegaan. My dogter Dimitria het haar geloof behou en het met ’n bedieningskneg in ’n gemeente in Melbourne getrou. Ek dien tans as ’n ouere man in ’n Griekse gemeente in Melbourne, waar my vrou en ons 15-jarige dogter, Martha, die vergaderinge bywoon.

Die gemeentetjie wat ons in Kiparissia agtergelaat het, het nou baie groter geword, en baie verdienstelikes het daar hulle hart vir Bybelwaarhede geopen. Gedurende die somer van 1991 het ek Griekeland vir ’n paar weke besoek en ’n openbare Bybeltoespraak in Kiparissia gehou, en 70 was teenwoordig. Gelukkig het my jonger suster Maria ’n kneg van Jehovah geword ten spyte van familieteenkanting.

Ek is dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om in Australië ware rykdom te vind—’n kennis en begrip van ons Skepper, Jehovah God, en van sy Koninkryksregering. My lewe het nou ’n ware doel, en ek en my familie wag op die nabye toekoms wanneer ons sal sien hoe die seëninge van God se hemelse regering oor die hele aarde versprei.—Soos vertel deur George Katsikaronis.

[Prent op bladsy 23]

Kiparissia, waar ek gewoon het nadat ek van Australië af teruggekeer het

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou, Alexandra

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel