“Die hele Israel” is gered om die hele mensdom te seën
1. Waarom moet die Republiek van Israel nie verwag dat hy God se middel sal wees om die hele mensdom te seën net omdat hy aan die Verenigde Volke behoort nie?
JEHOVAH het aan Abraham beloof dat al die families en nasies van die aarde ‘n seën deur daardie getroue aartsvader se saad sou ontvang (Genesis 12:3; NW; 22:17, 18, NW). Maar daardie beloftes wat in die 20ste eeu voor ons Gewone Jaartelling gedoen is, beteken nie dat God die Verenigde Volke, die opvolger van die eertydse Volkebond, gaan seën nie. Omdat die hedendaagse Republiek van Israel ‘n lid van die V.V.O. is, moet hy dus nie verwag om deur die God van eertydse Israel gebruik te word om die hele mensdom te seën nie. Die V.V.O. staan in werklikheid in die pad van God se Koninkryk in die hande van die “saad” van Abraham. Dit is gevolglik die hedendaagse “gruwel van die verwoesting” (Mattheüs 24:15). Nee, die V.V.O. is nie ‘n seën nie, al bid die geestelikes van die Christendom en die rabbi’s van die Jodedom dat God se seën op daardie organisasie moet rus. Dit is in werklikheid “die beeld” van “die dier”, die sigbare politieke, kommersiële organisasie van “die god van hierdie wêreld” Satan die Duiwel. Die V.V.O. sal gevolglik binnekort saam met daardie dierlike organisasie vernietig word.—Openbaring 13:1-18; 2 Korinthiërs 4:4.
2. Hoe verskil die oorblyfsel van “die hele Israel” van die Republiek van Israel wat handelwyse betref?
2 Intussen voer die Republiek van Israel ‘n stryd op lewe en dood teen ander lede van die V.V.O. Maar die oorblyfsel van “die hele Israel” volg nie die Republiek van Israel na nie (Romeine 11:26). Daardie oorblyfsel aanbid nie “die dier se beeld” nie. Die geestelike Israeliete stel eerder die V.V.O. aan die kaak vir wat dit in God se oë is—’n namaaksel wat mense op die V.V.O. in plaas van op Jehovah se Koninkryk in die hande van Jesus Christus laat steun. Om hierdie rede bly die oorblyfsel van “die hele Israel” ‘n deel van Jehovah se universele organisasie. Die oorblyfsel van die geestelike ‘saad van Abraham’ strek reeds al die nasies en families van die mensdom tot seën. Jehovah se profetiese beloftes was dus waar.
3, 4. Wat het Jehovah Jesaja om en by 2 700 jaar voor 1914 geïnspireer om oor “al die nasies” te skryf?
3 Meer as 2 700 jaar gelede het Jehovah God vooruit gewys op die tydvak wanneer oorlogstenks van staal en vliegtuie die eerste keer in oorlog gebruik sou word en wanneer loopgraafoorlog gespesialiseerd sou word, soldate gasmaskers sou moes gebruik en afstandskanonne soos die “Groot Bertha” in ‘n volskaalse botsing gebruik sou word. Ja, sowat 27 eeue voor die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah God die profeet Jesaja geïnspireer om iets anders te beskryf wat in daardie tyd sou gebeur:
4 “Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob [Israel], dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!”—Jesaja 2:1-5.
5. Uit watter standpunt moet Jesaja se profesie oor “die huis van die HERE” beskou word met die oog op die Republiek van Israel se handelwyse?
5 Ons sien nie vandag hoedat hierdie wonderlike profesie in Midde-Oosterse Jerusalem, die hoofstad van die Republiek van Israel, vervul word nie. Ons sien geen tempel van Jehovah op die berg Sion, soos dit eens genoem is nie, maar eerder die Mohammedaanse Rotskoepel en ‘n moskee wat aan Allah gewy is. Toeriste uit baie nasies besoek hierdie godsdiensterrein, nie om te aanbid nie, maar bloot om na hierdie pragtige Islamitiese gebou te kyk. Hier “aan die einde van die dae” van hierdie dodelik siek stelsel word Jesaja se profesie glad nie in die geval van die hedendaagse staat Israel vervul nie. Dit is nie veronderstel om “die hele Israel” te wees wat ter vervulling van Jehovah se belofte aan Abraham gered word tot seën van die hele mensdom nie. Die profetiese uitdrukking “die berg van die huis van die Here” moet dus uit ‘n geestelike standpunt beskou word met betrekking tot “die Israel van God”.—Galasiërs 6:16.
6. (a) Hoe het Petrus getoon watter soort nasie “die Israel van God” is? (b) Gedurende watter wêreldverwikkeling het “al die nasies” begin om na “die huis van die HERE” te stroom?
6 Hierdie “Israel van God” is ‘n geestelike nasie, soos die apostel Petrus getoon het toe hy geskryf het: “Julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk [nasie, NW], ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9). Die hedendaagse oorblyfsel van hierdie “heilige nasie” staan as ‘n simbool van die “huis van die Here” en maak vandag die kern van Jehovah se Getuies uit. Dit was 21 jaar in “die einde van die dae” in—toe Rooms-Katolieke Fascisme en Hitler se Nazisme in Europa getier het—dat “al die nasies” begin stroom het na die geestelike “huis van die HERE” wat deur Jehovah se Getuies as ’t ware bokant die toppe van die berge verhef is.
7. Waarom was dit nie ‘n onbeduidende aangeleentheid toe die nasies begin het om na die “huis van die HERE” te stroom nie?
7 Hierdie betekenisvolle begin is gekenmerk deur ’n algemene byeenkoms laat in die noordelike lente van 1935 in Washington, D.C., die hoofstad van die Verenigde State van Amerika. Tydens ‘n baie opmerklike toespraak by daardie byeenkoms het ‘n lid van “die hele Israel”—J. F. Rutherford, destyds president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap—’n wanbegrip onder die Internasionale Bybelstudente reggestel. Hy het daarop gewys dat die “groot menigte” wat uit alle dele van die mensdom versamel sou word en wat God by Sy geestelike tempel sou aanbid (daar die stoflike tempel in Jerusalem in 70 G.J. deur die Romeine vernietig is) ‘n aardse klas sou wees (Openbaring 7:9-17). Hierdie klas het die vooruitsig gehad om Armageddon te oorlewe en die nuwe stelsel binne te gaan gedurende die naderende Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus, wat sedert 1914 in die hemele regeer.
8. (a) Watter tydvakskeppende gebeurtenis het in 1935 by die byeenkoms te Washington, D.C., plaasgevind? (b) Waarom kan daar gesê word dat “al die nasies” na die “huis van die HERE” stroom?
8 Die reaksie op hierdie geopenbaarde lig was tydvakskeppend. By daardie dramatiese byeenkoms is 840 byeenkomsgangers as simbool van hulle toewyding aan Jehovah God deur Jesus Christus gedoop. Daar is nie vasgestel hoeveel nasies deur daardie groep verteenwoordig is nie, maar hulle het die hoop op ‘n aardse paradys gekoester. Vandag, meer as 49 jaar later, tel Jehovah se Getuies veel meer as “die hele Israel”. Hulle is bedrywig in 205 lande rondom die aardbol. Globaal beskou, kan daar dus gesê word dat “al die nasies” na Jehovah se verhewe huis van aanbidding stroom.
Watter soort mense is Jehovah se Getuies?
9. Hoe het Jehovah se Getuies, anders as die Republiek van Israel, opgetree ter vervulling van Jesaja 2:4?
9 Watter soort mense is Jehovah se Getuies vandag, gesien teen die agtergrond van die republiek van Israel? Is hulle soos daardie Republiek gewapen om vleeslike oorlog te voer teen diegene wat hulle voortbestaan bedreig? Nee! Hulle is eerder presies die soort mense wat in Jesaja 2:4 voorspel is. Omdat hulle die aanbidding van Jehovah by die geestelike huis van God verhef, het hulle figuurlik van hulle swaarde pikke gesmee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle vertrou op Jehovah God as hulle Beskermer terwyl hulle hulle Leier, Jesus Christus, navolg. Hoewel hulle uit feitlik al die nasies van die aarde kom, laat hulle nie toe dat nasionalistiese vyandigheid hulle beheers nie; hulle bemoei hulle ook nie met wêreldse politiek nie. Hulle het wesenlik opgehou om die vleeslike krygskuns te leer. Hulle staan neutraal teenoor wêreldse botsings en politiek. Hulle het inderdaad opgehou om defensiewe en offensiewe vleeslike wapens te gebruik. Hulle glo wat Jesus Christus gesê het—dat sy Koninkryk “nie van hierdie wêreld [is] nie”. Anders sou sy dissipels met die mees gesofistikeerde vleeslike oorlogswapens daarvoor geveg het.—Johannes 18:36.
10. (a) Slegs aan watter oorlog neem Jehovah se Getuies deel? (b) Watter “nuwe gebod” gehoorsaam die Getuies, en hoe doen hulle dit?
10 In plaas daarvan neem Jehovah se Getuies slegs aan geestelike oorlogvoering deel. Hulle stryd is teen die bose geeste in die lug. Hulle wapens is dus nie vleeslike, bloedvergietende wapens nie (Efesiërs 6:10-18). Hulle voer nie teen die mensdom oorlog nie, en hulle veg beslis nie met hulle geestelike broers in Jehovah se organisasie nie. Hulle gehoorsaam Jesus Christus se bevel om hulle geestelike broers lief te hê net soos hy ons liefgehad het, dermate dat hy selfs sy menselewe vir sy dissipels afgelê het. Dit strook met die “nuwe gebod” wat Jesus aan sy volgelinge gegee het, naamlik dat hulle mekaar moet liefhê net soos hy hulle liefgehad het.—Johannes 13:34.
11. Watter wet word vervul deur die liefde wat Jehovah se Getuies openbaar?
11 Jehovah se Getuies word aangespoor deur die soort liefde wat die Wet vervul wat deur bemiddeling van die profeet Moses gegee is. Niemand word ooit deur sulke liefde benadeel nie en dit behels veel meer as blote liefdadigheid. In die Bybel dui die Hebreeuse en Griekse woorde vir “liefde” op veel meer as blote “liefdadigheid”.—Kyk 1 Korinthiërs, hoofstuk 13, in die Authorized Version en die Katolieke Douay Version, waar die Engelse woord “charity” gebruik word.
Tot seën, nie tot vloek nie
12. Moes al die lede van “die hele Israel” in die hemel wees voordat daar begin kon word om “al die nasies” te seën?
12 Uit die voorgaande is dit duidelik dat dit nie vir die oorblyfsel van “die hele Israel” nodig was om hemel toe te gaan en by die vernaamste Lid van daardie “saad”, Jesus Christus, te wees voordat die “saad” van die Grotere Abraham, Jehovah God, al die families en nasies tot seën kon begin strek nie. Lede van die families en nasies van die aarde ontvang nou al feitlik ‘n halfeeu lank seëninge van die beloofde “saad” van Abraham. Meer as twee-en-’n-halfmiljoen “ander skape” is reeds versamel om “een kudde” uit te maak saam met die oorblyfsel van die Goeie Herder se geesverwekte “skape” met die hemelse hoop.—Johannes 10:16.
13. Wat het Jesus vir die “ander skape” in gedagte gehad toe hy na die tempel gekom het, en hoe sal sy gesindheid teenoor hulle binnekort tot ‘n hoogtepunt gevoer word?
13 Die geseënde “ander skape” is begunstig met die hoop om die Paradys wat gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus die Koning op die aarde herstel gaan word reg uit die staanspoor te beërf. Toe Jesus Christus, as Jehovah se “boodskapper van die verbond”, na die geestelike tempel gekom het om te oordeel, het hy gekom om die “ander skape” te seën, nie om hulle te vloek nie (Maleagi 3:1-3, NW). Hierdie seën sal tot ‘n hoogtepunt gevoer word wanneer hulle bewaar word tydens die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” teen sy aardse vyande wat te “Armageddon” versamel is (Openbaring 16:14, 16). In vervloë tye was die stad Megiddo die plek waar Jehovah God baie oorwinnings behaal het (Josua 17:11; Sagaria 12:11). By die simboliese Armageddon sal God sy grootste oorwinning behaal, tot sy ewige eer. Sy verhewe Seun, Jesus Christus, sal daar sy Veldmaarskalk wees.—Openbaring 19:11-21.
14. (a) Oor wie se redding het die “ander skape” rede om bly te wees? (b) Hoeveel van die “ander skape” is daar reeds?
14 Die “ander skape” sal deur daardie allerskouspelagtigste vertoning van goddelike krag en heerlikheid heen bewaar word. Hoe bly sal alle oorlewende aanskouers van daardie beslissende stryd tog wees oor die feit dat die oorblyfsel van “die hele Israel” “gered” is gedurende die vredestyd tussen die Eerste Wêreldoorlog en die Tweede Wêreldoorlog! Vanaf die noordelike lente van 1935 is die “groot menigte” sonder bepaalde getal by hierdie geredde Israel gevoeg. As “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus, nader hulle nou driemiljoen. Ter vervulling van die belofte wat Jehovah God gedoen het aan die een wat hom afgebeeld het, naamlik sy “vriend” Abraham, kom hulle uit “alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9-17; Jakobus 2:23). En die versameling van hierdie “ander skape” het nog nie ten einde geloop nie. Ons weet nie hoeveel van hulle daar eindelik sal wees wanneer die Goeie Herder hulle klaar versamel het voor die vernietiging van Babilon die Grote en God se oorlog teen haar politieke minnaars te Armageddon nie.—Openbaring 17:1-18:24.
15. Van watter geseënde toestand is die “ander skape” se omgang met die oorblyfsel van “die hele Israel” die begin?
15 Die omgang van die “ander skape” met die oorblyfsel van “die hele Israel” in “een kudde” onder die Goeie Herder, Jesus Christus, die Vernaamste Lid van Abraham se “saad”, was die begin van iets. Waarvan? Dit was die begin van die volle seën wat “die hele Israel” gedurende Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy, tot waarin daardie “ander skape” onder goddelike beskerming behoue gaan bly, op hulle gaan uitstort.
16. Waarom is die “ander skape” vasbeslote om Jehovah skouer aan skouer saam met die oorblyfsel van “die hele Israel” te dien?
16 Ter vervulling van Openbaring 7:14-17 het die “ander skape” reeds “hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam”. Dit is waarom hulle toegelaat word om God, geestelik gesproke, “dag en nag in sy tempel” te dien. Ja, “die Lam van God”, Jesus Christus, voed hulle reeds met geestelike voedsel sodat hulle ‘nie meer honger het nie’ (Johannes 1:29). Daarbenewens lei hulle getroue Herder hulle na “lewende waterfonteine”, dit wil sê, lewe op ‘n paradysaarde. Omdat hulle dankbaar is vir al die seëninge wat hulle reeds deur die oorblyfsel van “die hele Israel” ontvang, sal die “groot menigte” voortgaan om Jehovah skouer aan skouer saam met hierdie getroue oorblyfsel te dien. Hierdie “ander skape” sal dit in die “een kudde” onder die “een herder” doen ter wille van God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus. Hulle is vasbeslote om dit te doen totdat alle vyande van die Koninkryk van die oppervlak van God se “voetbank”, die aarde, af uitgewis is.—Jesaja 66:1; Mattheüs 5:34, 35; Handelinge 7:49.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom is die Republiek van Israel nie Jehovah se middel om die hele mensdom te seën nie?
◻ Waarom kan daar gesê word dat “al die nasies” nou na “die huis van die HERE” stroom?
◻ Hoe vervul Jehovah se Getuies Jesaja 2:4?
◻ Watter gesindheid het Jesus Christus teenoor die “ander skape”, en hoe sal dit binnekort tot ‘n hoogtepunt gevoer word?
◻ Watter geseënde toestand het ontstaan toe die “ander skape” met die oorblyfsel van “die hele Israel” begin omgaan het?
[Prent op bladsye 16, 17]
“Deur middel van jou saad sal alle nasies van die aarde hulself stellig seën, as gevolg van die feit dat jy na my stem geluister het.”—GENESIS 22:18, NW.
[Prent op bladsy 19]
Jehovah se Getuies het liefde onder mekaar en het ‘van hulle swaarde pikke gesmee’