Beïndruk deur die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies
IN 1978 het Christine E. King die takkantoor van Jehovah se Getuies in Londen, Engeland, besoek. Sy wou inligting hê oor die ondervindinge van die Getuies in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog om in ’n tesis vir haar doktorsgraad te gebruik. Terwyl sy haar materiaal versamel het, was sy so beïndruk deur die onversetlikheid van Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland dat sy besluit het om haar tesis uit te brei sodat dit in boekvorm gepubliseer kon word. Nadat sy haar doktorsgraad verwerf het, het sy in ’n brief aan die takkantoor geskryf: “My werk oor Jehovah se Getuies was baie uitdagend en dit het my ’n groot bewondering gegee vir die Duitse Getuies se weerstand teen die Nazi’s; ek hoop dat my boek dit sal weerspieël.” Die titel van dr. King se boek is The Nazi State and the New Religions: Five Case Studies in Non-Conformity.
Dr. King se uitsonderlikste bevinding is die syfers van sterfgevalle en gevangesetting onder Jehovah se Getuies. Dit dui daarop dat die syfers wat voorheen deur die Getuies gepubliseer is heeltemal te laag geskat was. Dr. King se bron vir hierdie statistiek is ’n bundela wat in München, Duitsland, deur Michael Kater uitgegee is. “My eie noukeurige ondersoek van Hof- en Gestapo-verslae”, het sy gesê, “bevestig ongetwyfeld hierdie hoër syfers.”
Wat is hierdie syfers? “Ongeveer 10 000 is opgesluit, en altesaam het hulle vonnisse van 20 000 jaar ontvang. Een uit elke twee Duitse Getuies is opgesluit, een uit vier het gesterf.
“Teen alle verwagting in”, het sy voortgegaan, “het die Getuies in die kampe bymekaargekom en saam gebid, lektuur geproduseer en mense bekeer. Die Getuies, onderskraag deur hulle kameraadskap en, anders as baie ander gevangenes, terdeë bewus van die redes waarom sulke plekke bestaan en waarom hulle so moet ly, was ’n klein maar onvergeetlike groepie gevangenes, geïdentifiseer deur die pers driehoekie en bekend vir hulle moed en oortuigings.”
Dr. King het verder gesê: “Die Getuies het teologiese beginsels gevolg; hulle het ‘neutraal’ gebly, hulle was eerlik en heeltemal betroubaar en is derhalwe, heel ironies, dikwels as bediendes van die SS [die organisasie wat die konsentrasiekampe bestuur het] in diens geneem. Een SS-offisier het gesê dat slegs ’n getuie van Jehovah vertrou kon word om sy werkgewer met ’n vlymskerp skeermes te skeer en dit nie gewelddadig te gebruik nie.”
Nadat sy daarop gewys het dat die Nazi-regime ander sektes deur intimidasie tot kompromie gedwing het, het Dr. King gesê: “Die regering was slegs teen die Getuies onsuksesvol, want hoewel hulle duisende doodgemaak het, het die werk [die verkondiging van Jehovah se Koninkryk] voortgegaan en in Mei 1945 was Jehovah se Getuies nog bedrywig, terwyl Nasionale Sosialisme nie meer bestaan het nie. Die Getuies se getalle het toegeneem en hulle het geen kompromisse aangegaan nie. Die beweging het martelare gekry en het nog ’n oorwinning in Jehovah God se oorlog behaal.”
[Voetnoot]
a “Die Ernsten Bibelforscher Im Dritten Reich” in Vierteljahrs Hefte Für Zeitgeschichte, Deel 17, München, 1969.