Die booshede van Nazisme aan die kaak gestel
IN DIE twintigerjare, terwyl Duitsland gesukkel het om van sy nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog te herstel, het Jehovah se Getuies ontsaglike hoeveelhede Bybellektuur versprei. Dit het die Duitse volk meer as net vertroosting en hoop gebied, dit het hulle ook teen die opkomende mag van militarisme gewaarsku. Tussen 1919 en 1933 het die Getuies gemiddeld agt boeke, boekies of tydskrifte by elk van die ongeveer 15 miljoen gesinne in Duitsland gelaat.
Die tydskrifte The Golden Age en die Vertroosting het dikwels die aandag op die militaristiese ontwikkelings in Duitsland gevestig. In 1929, meer as drie jaar voor Hitler aan die bewind gekom het, het die Duitse uitgawe van The Golden Age moedig gesê: “Nasionaal-Sosialisme is . . . ’n beweging wat . . . direk in diens van die mens se vyand, die Duiwel, staan.”
Aan die vooraand van Hitler se magsoorname het The Golden Age van 4 Januarie 1933 gesê: “Die dreigende berg van Nasionaal-Sosialisme doem voor ons op. Dit lyk ongelooflik dat ’n politieke party wat so ’n onbeduidende begin gehad het, wat so afwykend in sy beleide is, binne ’n paar jaar afmetings kan aanneem wat die struktuur van ’n nasionale regering oorskadu. Tog het Adolf Hitler en sy nasionaal-sosialistiese party (die Nazi’s) hierdie buitengewone prestasie behaal.”
’n Beroep om begrip
Hitler het op 30 Januarie 1933 die eerste minister van Duitsland geword, en ’n paar maande later, op 4 April 1933, is die takkantoor van Jehovah se Getuies in Maagdenburg beset. Maar die bevel is op 28 April 1933 herroep en die eiendom is teruggegee. Wat sou hierna gebeur?
Ondanks die Hitler-regime se duidelike vyandigheid het Jehovah se Getuies ’n streekbyeenkoms vir 25 Junie 1933 in Berlyn, Duitsland, gereël. Ongeveer 7 000 mense het byeengekom. Die Getuies het openlik gesê wat hulle standpunt is: “Ons organisasie is in geen opsig polities van aard nie. Ons dring slegs daarop aan om die Woord van Jehovah God aan die mense te leer, en om dit sonder hindernis te doen.”
Jehovah se Getuies het dus in goeie trou hulle saak probeer stel. Wat was die gevolge?
Die aanval begin
Die onbeweeglike neutrale standpunt van die Getuies, tesame met hulle lojaliteit teenoor God se Koninkryk, was onaanvaarbaar vir die Hitler-regering. Die Nazi’s was nie van plan om enigiemand te duld wat geweier het om hulle ideologie te ondersteun nie.
Op 28 Junie 1933, onmiddellik ná afloop van die streekbyeenkoms in Berlyn, het die Nazi’s weer die takkantoor in Maagdenburg beset. Hulle het vergaderinge van die Getuies opgebreek en van hulle in hegtenis geneem. Daar is kort daarna begin om Getuies uit hulle werk te ontslaan. Hulle huise is geplunder, hulle is geslaan en in hegtenis geneem. Teen die begin van 1934 het die Nazi’s op 65 ton Bybellektuur van die Getuies beslag gelê en dit buite Maagdenburg verbrand.
Die Getuies se onverskrokke standpunt
Ondanks hierdie aanvanklike aanvalle het Jehovah se Getuies standvastig gebly en die onderdrukking en onregverdigheid openlik veroordeel. Die artikel “Vrees hulle nie” het in The Watchtower van 1 November 1933 verskyn. Dit is veral vir die Duitse Getuies voorberei en het hulle aangespoor om ten spyte van toenemende druk moed te skep.
Op 9 Februarie 1934 het J. F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap, ’n beswaarbrief aan Hitler gestuur wat gesê het: “Jy kan enige en alle mense met welslae teëstaan, maar jy kan nie Jehovah God met welslae teëstaan nie. . . . In die naam van Jehovah God en Sy gesalfde Koning, Christus Jesus, eis ek dat jy alle amptenare en dienaars van jou regering beveel dat Jehovah se getuies in Duitsland toegelaat moet word om vreedsaam te vergader en God sonder hindernis te aanbid.”
Rutherford het 24 Maart 1934 as die sperdatum gestel. Hy het gesê dat die feite oor die vervolging regoor Duitsland en die res van die wêreld gepubliseer sou word as daar nie teen daardie tyd vir die Duitse Getuies verligting was nie. Die Nazi’s het met verskerpte mishandeling op Rutherford se eis gereageer en baie van Jehovah se Getuies na die konsentrasiekampe gestuur wat kort tevore opgerig is. Hulle was dus onder die eerste gevangenes van hierdie kampe.
Getuies onthul Nazi-gruweldade
Soos Jehovah se Getuies beloof het, het hulle die gruweldade wat in Duitsland plaasgevind het aan die kaak begin stel. Getuies oor die hele wêreld het herhaaldelik by die Hitler-regering protes aangeteken.
Op 7 Oktober 1934 het alle gemeentes van Jehovah se Getuies in Duitsland byeengekom om te hoor hoe ’n brief voorgelees word wat aan die amptenare van die Hitler-regering gestuur sou word. Dit het gesê: “Daar is ’n direkte konflik tussen julle wet en God se wet . . . Hiermee stel ons julle dus in kennis dat ons God se gebooie tot elke prys sal gehoorsaam, dat ons sal vergader om Sy Woord te bestudeer en dat ons Hom sal aanbid en dien soos Hy beveel het.”
Op dieselfde dag het Jehovah se Getuies in 49 ander lande vir spesiale byeenkomste bymekaargekom en die volgende telegram aan Hitler gestuur: “Jou mishandeling van Jehovah se getuies skok alle goeie mense op aarde en bring oneer op God se naam. Hou op om Jehovah se getuies te vervolg; anders sal God jou en jou nasionale party vernietig.”
Die Nazi’s het byna onmiddellik hierop gereageer deur hulle vervolging te verskerp. Hitler self het geskreeu: “Hierdie gebroedsel sal uitgewis word in Duitsland!” Maar namate die teenstand verskerp het, het die Getuies ooreenkomstig meer vasberade geword.
In 1935 het The Golden Age die martelmetodes soos dié van die Inkwisisie en die spioenasiestelsel van die Nazi-regime blootgelê. Dit het ook aan die lig gebring dat dit die doel van die Hitlerjeug-organisasie was om Duitsland se jongmense hulle geloof in God te ontneem. Die daaropvolgende jaar het ’n landwye Gestapo-veldtog tot die inhegtenisneming van duisende Getuies gelei. Kort daarna, op 12 Desember 1936, het die Getuies hierop gereageer deur hulle eie veldtog te onderneem waartydens hulle oor die hele Duitsland tienduisende eksemplare van ’n resolusie versprei het wat teen die vervolging van Jehovah se Getuies beswaar gemaak het.
Op 20 Junie 1937 het die Getuies wat nog vry was nog ’n boodskap versprei wat die vervolging onomwonde beskryf het. Dit het amptenare by name genoem en het datums en plekke verskaf. Die Gestapo was ontsteld oor hierdie onthullings en oor die vermoë van die Getuies om hulle aan die kaak te stel.
Dit was liefde vir hulle naaste wat die Getuies beweeg het om die mense van Duitsland te waarsku om nie om die bos gelei te word deur die indrukwekkende visie van ’n glorieryke duisendjarige heerskappy deur die Derde Ryk nie. “Ons moet die waarheid vertel en die waarskuwing gee”, het die boekie Hou rekening met die feite gesê, wat in 1938 uitgegee is. “Ons besef dat die totalitêre regering . . . die produk van Satan is wat as die plaasvervanger vir God se koninkryk voortgebring is.” Jehovah se Getuies was onder die eerstes wat die skyf van die Nazi’s se mishandeling was, maar hulle het ook die gruweldade teen Jode, Pole, die gestremdes en ander luid veroordeel.
Die resolusie “Waarskuwing!” wat in 1938 tydens ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Seattle, Washington, VSA, aangeneem is, het gesê: “Die Fasciste en Nazi’s, radikale politieke organisasies, het wederregtelik beheer oor baie Europese lande oorgeneem . . . Al die mense sal gereglementeer word, al hulle vryhede sal weggeneem word en almal sal gedwing word om hulle aan die heerskappy van ’n eiemagtige diktator te onderwerp, en dan sal die eertydse Inkwisisie ten volle herleef het.”
Rutherford het gereeld kragtige lesings oor die radio gehou oor die sataniese aard van Nazisme. Die lesings is wêreldwyd heruitgesaai en miljoene daarvan is vir verspreiding gedruk. Op 2 Oktober 1938 het hy die toespraak “Fascisme of vryheid” gehou, waarin hy Hitler ronduit veroordeel het.
“In Duitsland is die gewone mense vredeliewend”, het Rutherford gesê. “Die Duiwel het sy verteenwoordiger Hitler in beheer geplaas, ’n man wat nie by sy volle verstand is nie, ’n man wat wreed, boosaardig en genadeloos is . . . Hy vervolg die Jode wreedaardig omdat hulle eens Jehovah se verbondsvolk was en Jehovah se naam gedra het en omdat Christus Jesus ’n Jood was.”
Namate die Nazi’s se toorn teen Jehovah se Getuies nuwe hoogtes bereik het, het die Getuies se veroordelings al hoe skerper geword. Die Vertroosting se nommer van 15 Mei 1940 het gesê: “Hitler is so ’n volmaakte kind van die Duiwel dat hierdie toesprake en besluite deur hom vloei soos water deur ’n deeglik geboude riool.”
Die gruwels van die kampe blootgelê
Hoewel die publiek tot 1945 merendeels onbewus was van die bestaan van die konsentrasiekampe het uitvoerige beskrywings daarvan dikwels gedurende die dertigerjare in Wagtoringpublikasies verskyn. In 1937 het die Vertroosting byvoorbeeld van eksperimente met gifgas in Dachau vertel. Teen 1940 het publikasies van die Getuies 20 verskillende kampe genoem en oor hulle onbeskryflike toestande verslag gedoen.
Waarom was Jehovah se Getuies so goed bekend met die konsentrasiekampe? Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 was daar reeds 6000 Getuies in kampe en gevangenisse opgesluit. Die Duitse geskiedkundige Detlef Garbe skat dat die Getuies destyds tussen 5 en 10 persent van die totale kampbevolking uitgemaak het!
By ’n seminaar oor die Getuies en die Slagting het Garbe gesê: “Van die 25 000 mense wat aan die begin van die Derde Ryk gesê het dat hulle Jehovah se Getuies is, was ongeveer 10 000 vir verskillende tydperke opgesluit. Meer as 2 000 van hulle is na konsentrasiekampe gestuur. Dit beteken dat Jehovah se Getuies, met uitsondering van die Jode, die godsdiensgroep was wat die ergste deur die SS vervolg is.”
In Junie 1940 het die Vertroosting gesê: “Daar was 3 500 000 Jode in Pole toe Duitsland met sy Blitzkrieg begin het . . . , en as verslae wat die Westerse wêreld bereik reg is, lyk dit asof hulle uitwissing ver gevorderd is.” In 1943 het die Vertroosting gesê: “Hele nasies soos die Grieke, Pole en Serwiërs word stelselmatig uitgeroei.” Teen 1946 het The Golden Age en die Vertroosting 60 verskillende gevangene- en konsentrasiekampe geïdentifiseer.
Nazi’s deur die Getuies gefrustreer
Hoewel die Nazi’s die sirkulasie van die Wagtoringpublikasies wou stuit, het ’n Berlynse amptenaar erken: “Dit is moeilik om die geheime plekke in Duitsland te vind waar die Bybelstudente se lektuur nog gedruk word; niemand het name of adresse by hulle nie en niemand verraai mekaar nie.”
Ondanks hulle desperate pogings kon die Gestapo nooit meer as die helfte van die totale aantal Getuies in Duitsland op enige gegewe tydstip gevange neem nie. Stel jou die frustrasie van die uitgebreide spioenasiestelsel van die Nazi’s voor—dit kon nie hierdie klein groepie Getuies aankeer en stilmaak of die sirkulasie van lektuur keer nie. Die lektuur is op straat versprei en selfs die hakiesdraadheinings kon dit nie buite die konsentrasiekampe hou nie!
’n Oorwinning oor barbarisme
Die Nazi’s, wat beskou is as meesters in die kuns om die mensewil te breek, het desperaat probeer om Jehovah se Getuies hulle Christelike neutraliteit te laat prysgee, maar hulle het hopeloos misluk. Die boek The Theory and Practice of Hell het gesê: “’n Mens kan nie anders as om die indruk te kry dat die SS, sielkundig gesproke, nooit heeltemal opgewasse was teen die uitdaging wat Jehovah se Getuies hulle gebied het nie.”
Die Getuies het inderdaad, met behulp van God se gees, die stryd gewen. Die geskiedkundige Christine King, kanselier van die Staffordshire-universiteit in Engeland, het die opponente in die konflik beskryf: “Een [die Nazi’s] was groot, kragtig, oënskynlik onoorwinlik. Een [die Getuies] was baie, baie klein . . . met slegs hulle geloof, geen ander wapen nie . . . Jehovah se Getuies het op sedelike gebied die mag van daardie Gestapo-ryk oorwin.”
Jehovah se Getuies was ’n klein, vreedsame groepie binne die Nazi-ryk. Tog het hulle op hulle eie manier ’n stryd gevoer en gewen—’n stryd om die reg om hulle God te aanbid, ’n stryd om hulle naaste lief te hê en ’n stryd om die waarheid te vertel.
[Venster op bladsy 9]
Die Getuies het die bestaan van die kampe blootgelê
HOEWEL Auschwitz, Buchenwald, Dachau en Sachsenhausen tot ná die Tweede Wêreldoorlog vir die meeste mense onbekende name was, was die lesers van The Golden Age en die Vertroosting goed bekend daarmee. Die verslae oor Jehovah se Getuies, wat ondanks groot gevaar uit die kampe gesmokkel en in Wagtoringlektuur gepubliseer is, het die moorddadige bedoelings van die Derde Ryk blootgelê.
In 1933 het The Golden Age die eerste van baie verslae oor die bestaan van konsentrasiekampe in Duitsland gepubliseer. In 1938 het Jehovah se Getuies die boek Kruistog teen die Christelike godsdiens in Frans, Duits en Pools uitgegee. Dit het die Nazi’s se wreedaardige aanvalle op die Getuies noukeurig gedokumenteer en diagramme van die Sachsenhausen- en Esterwegen-konsentrasiekamp ingesluit.
Die Nobelpryswenner dr. Thomas Mann het geskryf: “Ek het julle boek en sy ontstellende dokumentasie met die diepste emosie gelees. Ek kan nie die gemengde gevoelens van afsku en walging beskryf waarmee my hart vervul was terwyl ek hierdie verslae van menslike vernedering en afskuwelike wreedheid sorgvuldig deurgelees het nie. . . . As ’n mens stilbly, sal jy slegs die morele onverskilligheid van die wêreld bevorder . . . Julle het julle plig nagekom deur hierdie boek uit te gee en hierdie feite aan die lig te bring.”—Ons kursiveer.
[Venster op bladsy 10]
Die Getuies onder die eerstes in die kampe
MADAME Geneviève de Gaulle, ’n niggie van die voormalige president van Frankryk Charles de Gaulle, was ’n lid van die Franse Weerstandsbeweging. Nadat sy in 1944 gevange geneem en later na die Ravensbrück-konsentrasiekamp gestuur is, het sy Jehovah se Getuies ontmoet. Ná die Tweede Wêreldoorlog het madame De Gaulle regoor Switserland lesings gehou en dikwels van die Getuies se onkreukbaarheid en moed gepraat. Tydens ’n onderhoud op 20 Mei 1994 het sy van hulle gesê:
“Hulle was onder die eerste gedeporteerdes in die kamp. Baie het reeds gesterf . . . Ons het hulle aan hulle unieke kenteken herken. . . . Hulle is geheel en al verbied om oor hulle geloof te praat of om enige godsdiensboeke te hê, en veral die Bybel, wat as die vernaamste boek van opstoking beskou is. . . . Ek weet van [een van Jehovah se Getuies], en ek het gehoor dat daar ander was, wat tereggestel is omdat sy ’n paar bladsye met Bybeltekste gehad het. . . .
“Wat ek baie van hulle bewonder het, was dat hulle te eniger tyd vrygelaat kon word deur eenvoudig ’n vorm te onderteken waarin hulle hulle geloof verloën. Hierdie vroue, wat so swak en afgemat gelyk het, was op die ou end sterker as die SS, wat mag en al die middele tot hulle beskikking gehad het. [Jehovah se Getuies] het hulle krag gehad, en dit was hulle wilskrag wat niemand kon oorwin nie.”
[Venster op bladsy 11]
Die Getuies se gedrag in die kampe
UIT LIEFDE vir hulle naaste—diegene wat saam met hulle in ’n sel, die barakke of kamp opgesluit is—het die Getuies nie net hulle geestelike voedsel gedeel nie, maar ook enige fisiese voedsel wat hulle gehad het.
’n Jood wat die Buchenwald-konsentrasiekamp oorleef het, het verduidelik: “Daar het ek die Bibelforscher ontmoet. Hulle het voortdurend van hulle geloof getuig. Trouens, niks sou hulle keer om oor hulle God te praat nie. Hulle was baie behulpsaam teenoor ander gevangenes. Toe ’n groot aantal Jode op 10 November 1938 as gevolg van die pogrom na die kamp gestuur is, het die ‘Jehovah’s schwein’, soos die wagte hulle genoem het, hulle rantsoen brood met die bejaarde en uitgehongerde Jode gedeel en self tot vier dae lank sonder voedsel gegaan.”
’n Joodse vrou wat ’n gevangene in die Lichtenburg-kamp was, het insgelyks van die Getuies gesê: “Hulle was moedige mense wat hulle lot geduldig verduur het. Hoewel die nie-Joodse gevangenes verbied is om met ons te praat, het hierdie vroue nooit dié reël gehoorsaam nie. Hulle het vir ons gebid asof ons aan hulle familie behoort het en het ons gesmeek om uit te hou.”
[Venster op bladsy 12]
Pogings om die Slagting te ontken, is voorspel
IN SY nommer van 26 September 1945 het die Vertroosting gesê dat daar in die toekoms moontlik pogings aangewend sal word om die geskiedenis te herskryf en te ontken wat gebeur het. Die artikel “Is Nazisme uitgewis?” het gesê:
“Propagandiste dink dat mense ’n kort geheue het. Dit is hulle oogmerk om die geskiedenis uit te wis en hulle nou as weldoeners voor te doen, terwyl hulle inkriminerende rekord verdoesel word.”
Die tydskrif het hierdie insiggewende waarskuwing gegee: “Totdat Jehovah die oorlog van Armageddon voer, sal Nazisme voortdurend sy aaklige kop uitsteek.”
[Diagramme op bladsy 11]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Hierdie diagramme van konsentrasiekampe het in 1937 in publikasies van die Getuies verskyn
[Prent op bladsy 7]
Die 150 werkers in 1931 by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Maagdenburg
[Prent op bladsy 8]
Publikasies van Jehovah se Getuies het aan die lig gebring dat die kerk kop in een mus was met Nazisme