Waarom ons geen deel van hierdie wêreld moet wees nie
“Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.”—JOHANNES 17:16, NW.
1. Watter soort behandeling het Jesus gesê dat sy volgelinge kon verwag?
JESUS CHRISTUS is deur hierdie wêreld verwerp, gehaat en selfs vervolg. Wat moet sy volgelinge dan verwag? Wel, hy het vir hulle gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle [’n deel] van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie [’n deel] van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.”—Johannes 15:18-20.
2. (a) Wat is die “wêreld” waarvan Jesus se volgelinge grootliks verskil? (b) Wat doen Jehovah ten behoewe van Christus se dissipels in plaas daarvan om hulle uit die wêreld te neem?
2 Ja, Jesus se ware volgelinge verskil grootliks van hierdie wêreld—die sondige mensegemeenskap wat van God vervreem is. Christus se dissipels is so anders dat hulle deur hierdie wêreld gehaat en vervolg word. Maar deur afgeskeie van die wêreld te wees, volg Jesus se volgelinge sy uitmuntende voorbeeld na, en Jehovah God waak oor hulle in ooreenstemming met Christus se gebed: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld te neem nie, maar om oor hulle te waak vanweë die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is waarheid.”—Johannes 17:15-17, NW.
3. Watter vrae in verband met hierdie wêreld moet beantwoord word?
3 Wat beteken dit om “geen deel van die wêreld” te wees nie? Beteken dit dat Jesus se volgelinge alle kontak met nie-Christene moet vermy?
Christene kan nie kluisenaars wees nie
4. Watter werk het Jesus aan sy volgelinge opgedra wat dit vir hulle onmoontlik maak om kluisenaars te wees?
4 Jesus het tog sekerlik nie verwag dat sy volgelinge hulle in eksklusiewe godsdiensgemeenskappe moet afsonder nie. Hy het hulle eerder ’n wêreldomvattende werk gegee om te doen. Hy het gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Hy het hulle ook beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense uit alle nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel” (Mattheüs 28:19, 20, NW). Hoewel dit sou beteken dat “mense uit alle nasies” dissipels word, moet ons natuurlik nie verwag dat hele nasies die leringe van Jesus Christus sal aanvaar nie.
5. Deur watter Skriftuurlik gemagtigde metode word mense tot die Christelike geloof bekeer?
5 Maar party sê miskien: ‘Is hele nasies dan nie tot die Christelike geloof bekeer nie? En vorm hulle nie saam die sogenaamde Christendom nie?’ Wel, sekere regeerders het die godsdiens van hulle onderdane bepaal en het nie geaarsel om daardie besluit deur wrede en barbaarse metodes af te dwing nie. Daarbenewens was vrees vir foltering in ’n mitiese helvuur ’n kragtige faktor in sogenaamde bekerings tot die “Christelike” geloof. (Vergelyk Prediker 9:5, 10.) Maar hoe ver is dit alles verwyder van die enigste Skriftuurlik gemagtigde manier om die ware Christelike geloof uit te dra! Daardie edel werk moet gedoen word deur daadwerklike getuienis, onderrigting en dissipelmaking. Kluisenaars of afgesonderde monnike en nonne kan nooit daardie werk verrig of uitvoering gee aan Christus se bevel om ‘hulle lig voor die mense te laat skyn’ nie (Mattheüs 5:14-16). En gedwonge “bekerings” het niks gemeen met die getuienis-, predikings- en onderrigtingswerk wat opregte mense uit alle nasies help om ’n intelligente, hartgrondige toewyding aan Jehovah God te maak nie.
Waarom “geen deel van die wêreld nie”
6. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah se Getuies aan Jesus se beskrywing van sy volgelinge in Johannes 13:35 voldoen?
6 Die naam “Christen” is dikwels ’n valse etiket. Vir watter dade van hebsug, verowering, oorlogslagting en onderdrukking van die menigtes kan sogenaamde Christene en Christennasies tog nie aanspreeklik gehou word nie! Maar hoe anders is dit met Christus se ware volgelinge gesteld! “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is”, het Jesus gesê, “as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Daar is inderdaad mense wat vandag aan daardie beskrywing voldoen—Jehovah se Getuies. Die liefde wat onder hulle heers, beteken dat daar geen onverbiddelike wedywer, geen uittarting, geen selfsugtige uitbuiting van mekaar is nie. Dit beteken eerder dat hulle uit een mond spreek, dat daar geen verdeeldheid onder hulle is nie maar dat hulle ‘verenig is in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening’ (1 Korinthiërs 1:10; 13:4-8). Jehovah se Getuies het die denke van God en Christus geleer en word daardeur gelei (Romeine 12:1, 2; 1 Korinthiërs 2:16). ’n Baie belangrike deel van daardie denke is dat Christene “geen deel van die wêreld” moet wees nie.—Vergelyk Jakobus 1:27.
7. Hoe toon Paulus se woorde in Handelinge 17:30, 31 dat dit vir Christene onvanpas is om ’n deel van hierdie wêreld te wees?
7 Daar is baie goeie redes waarom Jesus se volgelinge ‘geen deel van hierdie wêreld’ moet wees nie. Die oorgrote meerderheid van die mensdom is al sowat 4 000 jaar lank “sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Efesiërs 2:12). Maar die lang vervreemding van Jehovah weens menslike sonde sal nie onbepaald voortduur nie. Negentien eeue gelede het die apostel Paulus gesê dat God ‘aan al die mense oral verkondig dat hulle hul moet bekeer’ omdat “Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het”, Jesus Christus. Paulus het daaraan toegevoeg dat God “aan almal sekerheid gegee [het] deur [Jesus] uit die dode op te wek” (Handelinge 17:30, 31). Dit is ’n onbetwisbare aanduiding dat hierdie onregverdige wêreld, met inbegrip van die afvallige Christendom, geoordeel, veroordeel en vir goed uit die weg geruim sal word. Hoe onvanpas dus vir verklaarde Christene om ’n deel van hierdie wêreld te wees!
8. Watter werk toon dat “die einde” naby is en gee Jehovah se volk nog ’n rede om “geen deel van die wêreld” te wees nie?
8 Meer as 1 900 jaar het sedert Jesus se opstanding verloop, en dit ly geen twyfel dat die voltrekking van goddelike oordeel aan die afvallige Christendom en die res van Satan se wêreld voor die deur is nie (2 Petrus 3:10; 1 Johannes 5:19). Intussen verkondig Jehovah se Getuies God se boodskap aardwyd, en berouvolle, waarderende lede van die mensdom geniet “tye van verkwikking” (Handelinge 3:19-21). Ooreenkomstig Jesus se profetiese woorde vir ons dag is daar nou meer as 2 650 000 getuies van Jehovah wat “hierdie evangelie van die koninkryk” in 205 lande verkondig. Wanneer daardie werk gelei het tot “’n getuienis vir al die nasies” in die mate wat dit God behaag, “sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Noudat die einde van hierdie bose stelsel so naby is, het Jehovah se knegte beslis alle rede om “geen deel van die wêreld” te wees nie.
9. (a) Hoe moet ons Koninkryksbelange en -vereistes beskou, in die lig van die feit dat Satan se wêreld binnekort gaan eindig? (b) Watter vrae verdien nou ons aandag?
9 Aangesien Satan se wêreld eersdaags sal verbygaan, is dit lewensbelangrik dat ons seker maak of ons werklik eers God se Koninkryk soek (Mattheüs 6:33). Ongeag ons ouderdom, opvoeding of lewenstatus, “ons sal . . . almal voor die regterstoel van God moet verskyn” (Romeine 14:10, NAV). Leef ons Koninkryksvereistes na? Of streef ons eintlik nog daarna om in harmonie te wees met hierdie wêreld wat ’n renons in ware Christene het? Het ons wêreldse ambisies en verwagtinge? Volg ons die wêreld se on-skriftuurlike giere na? Bewonder ons die wêreld se helde? Onthou dat “die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is” (Jakobus 4:4). Maar hoe kan ons besoedeling deur die wêreld vermy sodat ons nie vyande van God word nie? Wat is sommige dinge in die wêreld wat ons moet vermy?
Moenie die wêreld liefhê nie
10. Watter drie dinge in hierdie wêreld moet Jehovah se volk volgens 1 Johannes 2:15, 16 nie liefhê nie?
10 Die apostel Johannes het geskryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe [die opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele, NW]—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld” (1 Johannes 2:15, 16). Johannes meld hier drie basiese dinge in die wêreld wat Jehovah se volk nie moet liefhê nie.
11. Waarom moet Christene nie voor “die begeerlikheid van die vlees” swig nie?
11 “Die begeerlikheid van die vlees” kan aanleiding gee tot talle skadelike en dodelike gebruike wat so algemeen is in hierdie bose wêreld onder die beheer van Satan. Daaronder tel “werke” van die sondige vlees—“owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge”. Ons kan eenvoudig nie ongestraf die apostel Paulus se waarskuwing ignoreer “dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie” (Galasiërs 5:19-21). Trouens, diegene wat onberouvol “die werke van die vlees” beoefen, is ’n deel van hierdie wêreld en sal geen aandeel hê in die beloofde Koninkryk wat Jehovah se naam sal regverdig en die aarde in ’n paradys sal omskep nie (Lukas 23:43, NW). Dit is dus duidelik dat Christene nie moet swig voor “die begeerlikheid van die vlees” nie.
12. (a) Wat is “die begeerlikheid van die oë”, en hoe kan dit ’n mens se geestelikheid beïnvloed? (b) Wat kan ons ons gerus afvra ten opsigte van “die begeerlikheid van die oë”?
12 “Die begeerlikheid van die oë” is nog ’n kenmerk van diegene wat ’n deel van hierdie wêreld is. Hulle vergaar rykdom en besittings, maar is skynbaar nooit tevrede nie. Trouens, selfs baie wat in sekere mate aandag geskenk het aan die Bybelwaarheid wat deur Jehovah se Getuies verkondig word, swig op die ou end voor “die begeerlikheid van die oë” en maak gevolglik geen geestelike vooruitgang nie. Hulle begeerte na nuwe klere, motors, huise, apparate en baie ander dinge wat die oë behaag, word so sterk dat, soos Jesus gesê het ‘die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge inkom en die woord verstik sodat dit onvrugbaar word’ (Markus 4:18, 19). Dit is interessant dat Satan Eva versoek het deur by haar ’n begeerte te wek na ’n verbode ding wat sy met haar oë kon sien. Maar hy was geheel en al onsuksesvol in sy pogings om Jesus te laat sondig deur by hom ’n begeerte te wek na dinge wat die oë kan sien (Genesis 3:1-6; Lukas 4:5-8). Maar wat van jou? Volg jy Jesus se uitmuntende voorbeeld na? Of word jou tyd, aandag en energie so in beslag geneem deur die bevrediging van “die begeerlikheid van die oë” dat jy Koninkryksbelange verwaarloos? As geestelike sake op die agtergrond raak, moet jy dadelik optree om die situasie reg te stel!
13. Waartoe kan die hebsugtige “begeerlikheid van die oë” lei, soos Paulus en sekere spreuke aantoon?
13 Die hebsugtige “begeerlikheid van die oë” kan aanleiding gee tot oneerlikheid, afguns, geldgierigheid en ander sondes wat God mishaag. Soos Paulus gesê het, sal “gierigaards” nie “die koninkryk van God . . . beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10). Wyse spreuke waarsku dan ook heel tereg: “’n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie. ’n Afgunstige man oorhaas hom om ryk te word, en hy weet nie dat gebrek oor hom sal kom nie” (Spreuke 28:20, 22). Al word sekere gierige, afgunstige individue nie dadelik deur die armoede oorval nie, sal hulle òf buite God se guns sterf òf tragies aan hulle einde kom wanneer hierdie stelsel vernietig word.—Mattheüs 24:3; Lukas 12:13-21.
14. (a) Hoe kan “die opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” tot uiting kom? (b) Wat is die grondoorsaak van hierdie “opsigtige vertoon”, grootpratery en statussug? (c) Waarom moet ons die versoeking weerstaan om met ons besittings en vermeende prestasies te spog?
14 “Die opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” is nog iets wat Jehovah se knegte moet vermy. Hoe groot is die versoeking tog soms om met duur besittings te spog! Hierdie verkeerde begeerte lei dikwels daartoe dat ’n persoon nie net probeer om by ander by te hou nie, maar ook om hulle materieel ver uit te stof. Iets wat hiermee verband hou, is grootpratery oor vermeende prestasies. In die hoop om posisie of status te verkry, kan ’n persoon selfs die vriendskap en ondersteuning van prominente individue soek. Maar diegene wat toelaat dat hulle op hierdie manier misbruik word, is dwaas, en die oormatig ambisieuse persoon kan uiteindelik word soos die “goddelose mense” van Judas se dag wie se ‘mond trotse woorde gespreek het terwyl hulle mense gevlei het ter wille van hulle eie voordeel’ (Judas 4, 16). Die grondoorsaak van hierdie statussug en opsigtige vertoon is sondige trots (Spreuke 8:13; 16:18; 21:4). Dit spreek vanself dat ons die versoeking moet weerstaan om met ons besittings en vermeende prestasies te spog. Die volgende spreuk is hier gepas: “Om te veel heuning te eet, is nie goed nie, ook nie om eer te bly soek nie” (Spreuke 25:27, NAV). En aangesien die meeste mense die breë weg bewandel wat na vernietiging lei, is Jesus se woorde beslis tydig: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat”!—Lukas 6:26.
“Die wêreld gaan verby”
15. (a) Watter fundamentele rede gee die apostel Johannes waarom ons “geen deel van die wêreld” moet wees nie? (b) Waarop moet lojale Christene hulle toelê?
15 Johannes verstrek ’n fundamentele rede waarom ons “geen deel van die wêreld” moet wees nie wanneer hy byvoeg: “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). “Die wêreld”, die onregverdige mensegemeenskap, sal gedurende die snel naderende “groot verdrukking” aan sy einde kom (Mattheüs 24:21). Gedurende daardie tydperk sal elke spoor van hierdie wêreld se politieke, kommersiële en valsegodsdienselemente vernietig word. Hoe kan enige ware getuie van Jehovah dan al sy tyd, energie en middele aan hierdie elemente bestee wat binnekort verdelg sal word? Lojale Christene sal hulle eerder toelê op die bevordering van Koninkryksbelange en die dinge wat blywend, ewig is. Deur sulke lojaliteit en geloof sal Jehovah se volk boonop die wêreld, of onregverdige mensegemeenskap ‘oorwin’, net soos Jesus Christus dit oorwin het (Johannes 16:33). Ja, en hulle sal behoue bly wanneer hierdie wêreld deur goddelike vernietiging verbygaan, net soos Noag en sy gesin die Vloed oorleef het.—2 Petrus 2:5.
16. Watter vrae moet nog beantwoord word?
16 Die feit dat hierdie wêreld verbygaan, laat die volgende vrae ontstaan: Hoe moet Christene betrokkenheid by die maatskaplike aangeleenthede van die wêreld beskou? Wat moet hulle gesindheid teenoor opvoeding, saketransaksies en vermaak wees? Hierdie vrae verdien ons noukeurige aandag.
Wat sou jy sê?
◻ Van watter wêreld is Jesus se ware volgelinge geen deel nie?
◻ Watter werk wat aan Christus se dissipels opgedra is, maak dit vir hulle onmoontlik om kluisenaars te wees?
◻ Wat is sommige van die redes waarom Jehovah se Getuies “geen deel van die wêreld” is nie?
◻ Watter drie basiese dinge in die wêreld moet Jehovah se knegte nie liefhê nie indien hulle die raad van 1 Johannes 2:15-17 wil volg?
[Prent op bladsy 10]
Hoewel Jehovah se Getuies “geen deel van die wêreld” is nie, is hulle besig om mense van alle nasies geestelik te help
[Prent op bladsy 12]
As ons “geen deel van die wêreld” is nie, sal ons nie voor die begeerlikheid van die vlees en die oë swig of ’n opsigtige vertoon van ons lewensmiddele maak nie