‘Moenie hierdie wêreld ten volle gebruik nie’
“Hulle wat te doen het met die dinge wat in die wêreld is, moet nie daaraan vas raak nie, want hierdie wêreld, soos ons hom nou ken, is aan die verbygaan.”—1 KORINTHIËRS 7:31, “Die Lewende Bybel”.
1, 2. (a) Watter beskouing van die wêreld se toekoms huldig baie vandag? (b) Wat het Paulus oor die wêreld en die gebruik daarvan gesê?
“’N MENS kan nie voorspel watter verrassings of teleurstellings die toekoms gaan bring nie. . . . Maar of dit nou lomp of gladweg geskied, dit lyk of die wêreld vorder en sal vorder.” Dit is wat beroemde geskiedskrywer H. G. Wells ’n paar dekades gelede gesê het. Ondanks talle krisisse en rampe meen baie dat die mensdom sy probleme op die een of ander wyse gaan oplos en dat die wêreld, soos ons dit ken, sal voortbestaan.
2 Maar toe die Christenapostel Paulus onder goddelike inspirasie geskryf het, het hy ’n ander beeld geskilder toe hy medegelowiges aangespoor het: “Die wat hierdie wêreld gebruik, [moet wees] asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.” ’n Ander vertaling lui: “Hulle wat te doen het met die dinge wat in die wêreld is, moet nie daaraan vas raak nie, want hierdie wêreld, soos ons hom nou ken, is aan die verbygaan” (1 Korinthiërs 7:29-31, AB; Die Lewende Bybel). Wat beteken hierdie raad vir hedendaagse knegte van Jehovah God?
“Hierdie wêreld . . . is aan die verbygaan”
3. Wat het Paulus in 1 Korinthiërs hoofstuk 7 bespreek, en wat is party van die dinge wat hy daar gesê het?
3 In 1 Korinthiërs hoofstuk 7 het Paulus die huwelik onder Christene bespreek. Hoewel hy die ongehude staat as die beter weg aanbeveel het, het hy erken dat diegene wat trou ‘nie sondig nie’. Hy het egter bygevoeg dat hulle ‘verdrukking vir die vlees’ sal hê, want die huwelik gaan met sekere bekommernisse gepaard. Die siekte van ’n dierbare kan byvoorbeeld spanning veroorsaak. Hoewel Paulus nie vervolging hier meld nie, kan getroude persone tydens vervolging bykomende verdrukkings ondervind indien huweliksmaats van mekaar of ouers van hulle kinders geskei word.—1 Korinthiërs 7:25-28.
4. Wat beteken 1 Korinthiërs 7:29?
4 Paulus het voorts gesê: “Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie” (1 Korinthiërs 7:29). Aangesien ‘die tyd kort is’, moet getroude Christene hulle nie so volkome aan huweliksvoorregte en -pligte wy dat hulle hele lewe net daaruit bestaan nie. Hulle moet eerder voorkeur aan Koninkryksbelange in hulle lewe gee, hoewel hulle nie nalaat om hulle huweliks verantwoordelikhede na te kom nie (1 Korinthiërs 7:3-5, 29-40). Aangesien ons in “die laaste dae” lewe, het ons des te meer rede om hierdie geïnspireerde raad te volg.—2 Timotheüs 3:1-5.
5. Wat is die “wêreld” wat ons nie ten volle moet gebruik nie?
5 Aangesien ‘die tyd kort is’, het Paulus gesê dat “die wat hierdie wêreld gebruik “dit nie ten volle [moet] gebruik nie” (1 Korinthiërs 7:29-31). In hierdie gedeelte is die Griekse woord (kόsmos) wat met “wêreld” weergegee word, nie regstreeks op die mensdom van toepassing soos dit in Johannes 3:16 die geval is nie, maar op die menslike lewensfeer en sy raamwerk. Die mensdom het sy taalgroepe, nasies, stamme, gesinne, rykes en armes, en die algemene raamwerk wat mense omring en beïnvloed (1 Korinthiërs 14:10; Jakobus 2:5, 6; Openbaring 7:9; 14:6). Ja, dit was na die menslike lewensfeer en wat dit bied dat Paulus verwys het toe hy gesê het: “Dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie.”—1 Korinthiërs 7:31, NTP.
6, 7. (a) Hoe is ‘die gedaante van hierdie wêreld besig om verby te gaan’? (b) Wat het die apostel Johannes oor die wêreld se toekoms gesê?
6 Paulus het ook te kenne gegee dat Christene ‘nie die wêreld ten volle moet gebruik nie’ omdat ‘die gedaante van hierdie wêreld verbygaan’. Hierdie wêreld is soos die veranderende tonele op ’n verhoog. Hoewel dit mooi lyk, verander die toneelspelers en die toneelskikkings. Mense verskyn op die verhoog, en party tree hoogmoedig op. Maar hulle verdwyn gou saam met hulle geslag en word vergeet (Prediker 1:4). In ons dag is die tyd vir die ‘gordyn’ om op hierdie ou wêreld ‘te val’ baie naby! Ja, waarlik, “hierdie wêreld, soos ons hom nou ken, is aan die verbygaan”.—1 Korinthiërs 7:31, Die Lewende Bybel.
7 Die apostel Johannes het ’n soortgelyke gedagte gestel toe hy gesê het: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). Johannes het klaarblyklik bedoel dat die onregverdige mensegemeenskap deur goddelike vernietiging sal verbygaan, net soos die goddelose antediluviaanse wêreld vergaan het (Hebreërs 11:7; 2 Petrus 2:5; 3:6). Die teenswoordige menslike raamwerk en alles wat dit bied, sal natuurlik saam met onregverdige mense vernietig word.
8. Watter hoop het Christene, al is hierdie wêreld besig om verby te gaan, en hoe moet dit ons gebruik van die wêreld beïnvloed?
8 Jesus het egter getoon dat sommige die vinnig naderende “groot verdrukking” sal oorlewe net soos regverdiggesinde mense die Sondvloed oorlewe het. (Mattheüs 24:21, 22, 36-39; vergelyk Openbaring 7:9-17.) ’n “Nuwe aarde”, ’n gemeenskap wat onder Koninkryksheerskappy op hierdie aarde gaan lewe, is reeds besig om vorm aan te neem. (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1; vergelyk Psalm 96:1.) Waarom sou ons, as ons persoonlik die hoop koester om behoue te bly en om vir ewig in die Nuwe Orde te lewe, die meeste van ons tyd en energie wy aan die ou wêreld wat verbygaan?
“So lig moontlik”
9. Op watter gebalanseerde maniere kan getuies van Jehovah gepas die wêreld gebruik?
9 As getuies van Jehovah wat in hierdie stelsel lewe, kan ons nie werklik ‘uit die wêreld uitgaan’ nie (1 Korinthiërs 5:9, 10). Ons kan dus gepas die wêreld op gebalanseerde, behoorlike, beperkte maniere gebruik. Omdat ons ons belasting betaal, is ons byvoorbeeld geregtig op sekere dienste wat deur die goewermentele “magte” gelewer word (Romeine 13:1-7). Ons gebruik tereg pos-, polisie- en ander wettige dienste, soos vervoerstelsels. Waarom? Om behoorlik te lewe en die Godgegewe Koninkryksgetuieniswerk te doen. Maar aangesien ons nie die wêreld “ten volle” moet gebruik nie, word al sulke dinge slegs gebruik in die mate waartoe dit Christelike belange bevorder.
10 (a) Waarom moet ons ons lewens bou? (b) Hoe het Jesus die kosbaarheid van die Koninkryk toegelig? (c) Watter uitwerking sal dit op ons gebruik van die wêreld hê as Koninkryksbelange en intiemheid met Jehovah vir ons baie beteken?
10 Ons kan nie toelaat dat wêreldse belange ons oorheers nie. Ons moet eerder ons lewe bou om ons verhouding met Jehovah, om ons aanbidding van hom en ons diens aan hom. Toon ons dade dat “intiemheid met God” werklik vir ons belangrik is? (Job 29:4, NW). En besef ons die oortreffende waarde van geestelike dinge? Jesus Christus het die kosbaarheid van die Koninkryk toegelig deur ‘een pêrel’ wat so waardevol was dat ’n koopman dadelik ‘alles verkoop het wat hy gehad het en dit gekoop het’ (Mattheüs 13:45, 46). Jesus het sodoende getoon dat ’n persoon wat waarlik besef hoe kosbaar dit is om die Koninkryk te beërf bereid sou wees om van enige aardse skat af te sien om dit te doen. Indien die Koninkryk en die belange daarvan, en veral intiemheid met Jehovah, soveel vir ons beteken, sal ons “elke kontak met die wêreld . . . so lig moontlik hou”.—1 Korinthiërs 7:31, Phillips.
‘Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie’
11, 12. (a) Wat is die “gees van die wêreld”? (b) Watter gees het Christene ontvang, en watter teenstelling vorm dit met die gees van hierdie wêreld?
11 Nog ’n rede waarom ons nie die wêreld ten volle moet gebruik nie, is dat dit onmoontlik is om intiemheid met Jehovah te geniet as ’n mens “die gees van die wêreld” het (1 Korinthiërs 2:12). Die gees of dryfkrag wat die wêreld van onregverdige mense beheer, is demonies en van God vervreemd. Onder die beheer van die Duiwel bevredig die wêreld selfsug en die begeertes van die gevalle vlees, en dit bring vyandskap met Jehovah God mee.—Johannes 14:30; Efesiërs 2:1-3; 1 Johannes 5:19.
12 Die apostel Paulus het ’n teenstelling getref tussen die wêreld se gees en die gees van God, en het van Christene gesê: “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is” (1 Korinthiërs 2:12). Aangesien die wêreld se denk- en gedragspatroon indruis teen die invloed van God se heilige gees en die voorskrifte in sy Woord, moet godvresende persone daardie gees vermy. Liefhebbers van Jehovah kweek en openbaar tereg die heilige gees se vrug, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.—Galasiërs 5:22.
13. Wat het Johannes in 1 Johannes 4:1-6 geskryf, en het dit enige betrekking op ons gebruik van die wêreld?
13 Dit is interessant dat die bejaarde apostel Johannes getoon het dat God se ware “geeste” of “geïnspireerde uitinge” deur die ware Christengemeente gekom het, nie deur onchristelike, wêreldse bronne nie. Toe het hy gesê: “Hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie.” Johannes het weliswaar oor “geïnspireerde uitinge” gepraat. Maar hy het dit duidelik gestel dat Christene nie “uit die wêreld” praat nie (1 Johannes 4:1-6, vgl. NW). Waarom moet ons dan die wêreld ten volle gebruik?
Ons moet ons ‘vlekkeloos bewaar van die wêreld’
14. Hoe is dit opvallend dat gesalfde Christene en hulle toegewyde metgeselle “nie van die wêreld is nie”?
14 Sekulêre werk en ander bedrywighede laat getuies van Jehovah op sekere maniere ‘te doen kry met die dinge wat in die wêreld is’. Maar daar is nog ’n rede waarom ons nie ‘daaraan vas moet raak nie’ (Die Lewende Bybel). Jesus het gesê dat sy volgelinge “nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Deur Christus het Jehovah dit moontlik gemaak om verlos te word uit hierdie wêreld onder Satan se beheer (Kolossense 1:13, 14). Deur gehoorsaamheid aan die geopenbaarde waarheid van Jehovah se Woord is gesalfde Christene geheilig, afgeskei sodat God hulle in sy diens kan gebruik. Hulle, asook hulle toegewyde metgeselle van die “groot menigte”, is dus opvallend “nie van die wêreld” wat ontrou is aan Jehovah se waarheid nie (Openbaring 7:9; Johannes 17:16, 17; Jakobus 1:18; 1 Petrus 1:22). Hoe onvanpas sal dit tog vir sulke persone wees om die wêreld ten volle te gebruik.
15. Wat verg reine en onbesmette aanbidding volgens Jakobus 1:27?
15 Dit verg neutraliteit teenoor die geskille en politiek van die wêreld om “nie van die wêreld” te wees nie (Mattheüs 22:21; Johannes 18:36, 37). Gesalfde volgelinge van Christus en hulle toegewyde metgeselle moet ook geestelike hoerery, vriendskap met die wêreld, vermy. Daar word van hulle vereis om moreel en geestelik rein te wees (Efesiërs 4:25-32; Jakobus 4:4). Om Jehovah op reine en onbesmette wyse te aanbid, moet ons ons ‘vlekkeloos bewaar van die wêreld’ deur nie gesindhede, spraakgewoontes en gedrag aan te leer wat eie is aan die sondige mensdom wat van God vervreemd is nie (Jakobus 1:27). Ons moet vry bly van die wêreld se verdorwenheid, geweld, onregverdige planne, ensovoorts. Ja, die nodigheid om “vlekkeloos van die wêreld” te bly, is nog ’n lewensbelangrike rede waarom ons nie ‘die wêreld wil gebruik ten einde soveel moontlik daaruit te kry nie’.—The New Testament in the Language of Today, William F. Beck.
Bly ‘heilig aan ons God’
16. Waarom moes die Israeliete “fraiings” aan die some van hulle mantelagtige klere maak?
16 Jehovah se volk verskil van die wêreld wat verwagtinge, begeertes en onderworpenheid aan die wil van hulle heilige God betref (Exodus 39:30). Hulle moet heilig aan God wees. Die mense van eertydse Israel moes gevolglik “fraiings aan die some van hulle [mantelagtige] klere” maak, met ’n blou koord bokant die fraiings. Hulle moes dit doen om nie dieselfde “mode” as die Moabiete, Egiptenaars of ander te hê nie en om daaraan herinner te word dat hulle, as Jehovah se volk, anders moes wees en dat hulle hom moes gehoorsaam en ‘heilig aan hulle God moes wees’ (Numeri 15:37-41, NW). Die begeerte om ‘heilig aan ons God te wees’ moet ons beweeg om die wêreld versigtig te gebruik.
17. Hoe kan die wêreldse doelwit om rykdom te verkry ons verhouding met Jehovah in gevaar stel?
17 Wêreldse doelwitte staan in verband met rykdom, roem en geestelik ongesonde bedrywighede wat Christelike geloof kan ondermyn. Indien die najaging van materiële dinge en rykdom die eerste plek in ons lewe beklee, kan dit ons selfs verlok om verkeerde dinge te doen vir selfsugtige voordeel en aldus ons verhouding met Jehovah in die gevaar stel. (Spreuke 28:20; vergelyk Jeremia 5:26-28; 17:9-11.) Diegene wat die wêreld in so ’n mate gebruik dat hulle voorkeur aan materiële strewes gee, loop inderdaad gevaar om betrokke te raak by oneerlike gebruike en om hulle geloof te verloor omdat hulle geestelike sake verwaarloos. Iemand wat ’n suksesvolle sakeman word of ryk word, kan ook “hoogmoedig” en trots word en meer waarde aan sy eie beskouings heg as aan die raad van God se gemeente (1 Timotheüs 6:9, 10, 17). Dit is beslis nie die manier om ‘heilig aan ons God’ te bly nie.
18. Waarom moet ons nie die wêreldse doelwit hê om ’n oorvloed materiële dinge te bekom nie?
18 Jesus het gepas gesê: “Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak, sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle [julle hemelse Vriende, Jehovah God en Jesus Christus] julle in die ewige wonings sal ontvang” (Lukas 16:9, NTP). Terwyl ons dan materiële dinge besit en ons sulke middele kan gebruik om Koninkryksbelange te bevorder en hemelse Vriende te maak, moet ons nie toelaat dat die wêreldse doel om ’n oorvloed van hierdie dinge te bekom ons hart verderf nie.—Lukas 12:34.
19. Hoe moet ons die wêreldse doelwit om eer te verkry, beskou?
19 Nog ’n wêreldse doel is om status, roem en eer te verkry. Dit verg dikwels jare van gevorderde onderrig, sosiale vooruitgang en dies meer. Maar mense wat hulle eie eer nastreef, word in die Skrif vergelyk met diegene wat te veel heuning eet, iets wat ’n mens naar kan maak. Ons lees dus: “Dit is nie goed om te veel heuning te eet nie, en die najaging van hulle eie eer is nie iets eerbaars nie” (Spreuke 25:16, 27, Rotherham; NW). Die verering van wêreldse helde en sterre is eweneens onskriftuurlik, ’n feit wat Christenouers soms vriendelik onder hulle kinders se aandag sal moet bring. (Vergelyk Handelinge 12:21-23.) Die regte beskouing van sulke sake is beslis ook noodsaaklik as ons ‘heilig aan ons God’ wil bly en nie die wêreld ten volle wil gebruik nie.
Moenie ‘die wêreld ten volle gebruik nie’
20, 21. Waarom moet ons nie die wêreld ten volle gebruik nie?
20 As getroue getuies van Jehovah moet ons dus nie die wêreld ten volle gebruik nie. Ons “moet nie daaraan vas raak nie” want (1) “die tyd is kort”; (2) “hierdie wereld, soos ons hom nou ken, is aan die verbygaan”; (3) ons lewe moet gebou word om ons kosbare verhouding met Jehovah; (4) ons moet God se gees openbaar, nie die wêreld s’n nie; (5) ons moet ons ‘vlekkeloos van die wêreld’ bewaar; en (6) ons moet ‘heilig aan ons God’ bly.
21 Ons kan al hierdie dinge slegs met Jehovah se hulp doen. (Vergelyk Sagaria 4:6.) Omdat ons die wonderlike Koninkrykshoop het, moet ons nie die begeerte koester om die wêreld ten volle te gebruik asof die dinge wat dit aanbied al is wat ons het nie. Maar wat kan ons werklik help om wêreldse weë en begeertes te verwerp?
Onthou jy?
◻ Wat is die “wêreld” in 1 Korinthiërs 7:31?
◻ Hoe moet Christene die gebruik van die wêreld beskou aangesien ‘die gedaante van hierdie wêreld verbygaan’?
◻ ln watter mate mag Christene die wêreld gepas gebruik?
◻ Wat is “die gees van die wêreld”, maar watter gees openbaar liefhebbers van Jehovah?
◻ Hoe verskil Jehovah se volk van die wêreld wat doelwitte betref?
[Prent op bladsy 16]
Die koopman het alles verkoop om “een baie kosbare pêrel” te koop