Koninkryksverkondigers berig
Getuieniswerk in Brasilië
BRASILIË is ingesluit in Jesus se bevel aan sy volgelinge: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies” (Mattheüs 28:19). Die goeie nuus wat in daardie land deur meer as 158 000 van Jehovah se Getuies verkondig word, het roerende ondervindinge tot gevolg gehad.
’n Getuie in Sobradinho wou byvoorbeeld haar familie help om die waarheid van die Bybel te leer. Sy het eers twee broers en ’n skoonsuster in Brasilia gehelp om die waarheid te leer en gedoop te word. Toe het sy vir haar familielede in Teresina, Piauí,
1 800 kilometer daarvandaan, gaan kuier. Hulle was aktiewe Katolieke en het nie van die Bybelboodskap gehou wat Jehovah se Getuies verkondig nie. Nadat sy tot Jehovah gebid het om leiding, het sy vir haar moeder verduidelik waarom dit Skriftuurlik verkeerd is om bloed te eet. Haar moeder was beïndruk en het gevra: “Waarom het die priesters dit nie vir ons geleer nie?”
Die moeder het vir nog inligting uit die Bybel gevra, en ’n vergadering is vir daardie aand gereël. Haar moeder het bure en familielede genooi om na die bespreking te kom luister, en hulle was almal beïndruk. Gedurende die 15 dae wat die suster by haar familie was, het sy elke aand Bybelbesprekings met 17 persone gehad. Die gevolg? Daar is twaalf Bybelstudies gereël wat deur die plaaslike Getuies gehou sou word. Drie studente is reeds gedoop as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah, twee ander beplan om by die volgende kringbyeenkoms gedoop te word, en nog twee maak goeie vordering.
’n Bejaarde suster in Rio de Janeiro doen vroeg in die oggend getuieniswerk by Copacabana en ander strande, asook op die openbare pleine. Sy ontmoet huisbediendes, kinderoppassters, bankklerke en welgestelde dames wat hulle oggend-wandelings neem en hou Bybelstudies terwyl sy en haar studente op bankies in sulke plekke sit. Etlike mense wat die waarheid by haar geleer het, is nou getuies van Jehovah.—Spreuke 1:20.
As Jehovah se Getuies wil ons van elke geleentheid gebruik maak om aan ander die goeie nuus te leer. Dit sluit informele getuieniswerk in, soos een broer in Macapá, ’n stad in die Amasonestreek, gedoen het.
Op pad terug van sy gewone getuieniswerk af het hy ’n man gesien wat by die ingang van ’n kruidenierswinkel ’n boek oor die Bybel gesit en lees het. Die broer het die man genader en hom gevra of hy daarvan hou om die Bybel te lees. Die man het bevestigend geantwoord. “Wil jy graag ’n Bybelkursus volg?” het die broer hom gevra. “Ja, maar wat sal dit kos?” Toe hy hoor dat dit gratis is, het die man dit aanvaar. Hy en sy gesin het eerlank die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Hy het veranderinge in sy lewe aangebring sodat hy aan Bybelbeginsels sou voldoen, vir die Teokratiese Bedieningskool ingeskryf en aan velddiens begin deelneem. Hy is ’n jaar later gedoop om sy toewyding te simboliseer. Dit het alles gebeur omdat ’n broer informeel getuig het.
Jehovah versamel inderdaad die “ander skape” (Johannes 10:16). En hoe gelukkig is ons tog as ons aan hierdie werk deelneem.