God se Koninkryk—die gewisse oplossing
“DIE een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.” Hierdie verklaring, wat in Prediker 8:9 in die Bybel opgeteken is, was dwarsdeur die geskiedenis tot vandag toe waar. Waarom is dit die geval? Waarom was die mens nie in staat om die swaar tye waarmee hy nou te kampe het te verbeter nie?
In 1778 het George Washington geskryf: “Net ’n bietjie kennis van die menslike natuur sal ons daarvan oortuig dat, by verreweg die meeste mense, [eie]belang die vernaamste beginsel is; en dat feitlik elke mens in ’n meerdere of mindere mate onder die invloed daarvan is. . . . Min mense is in staat om voortdurend alle aspekte van persoonlike belang of voordeel ter wille van die gemeenskap se welsyn op te offer. Dit is tevergeefs om om hierdie rede teen die verdorwenheid van die menslike natuur uit te vaar; die feit bly staan dat die ondervinding van elke eeu en nasie dit staaf, en ons moet eers in ’n groot mate die inbors van die mens verander voordat ons iets aan die situasie kan doen.”
Omdat alle mense onvolmaak en sondig gebore word, is dit vir geen mens moontlik om sy medemens op ’n absoluut volmaakte of regverdige wyse te behandel nie (Romeine 5:12). Selfsugtige persoonlike belange beinvloed of oorheers ’n mens se oordeel en dade. En al probeer mense ook hoe hard om wette teen hierdie aangebore swakhede te maak, kan geen menseregering daarvan ontslae raak nie. “Geen regeringstelsel—hetsy van ’n monarg, diktator of tiran, ’n aristokrasie, ’n oliegargie, ’n republiek, suiwer demokrasie of die Kommunistiese Party—is al ooit bedink wat sal verseker dat goeie en verstandige leiers altyd aan die roer van die staatskip sal staan nie”, skryf Laurence Beilenson in The Treaty Trap. “Dit is omdat diegene wat hulle kies of in hulle bewind berus, mense is. . . . En die mense oor wie die heersers regeer, is ook nie goed en verstandig nie. Wanneer mense hulle naaste soos hulleself liefhet, sal wette om hulle te bedwing, polisiemanne om die wette te handhaaf en leërs om te beskerm oorbodig wees, en so ook verdrae.”
Hoewel Beilenson soos baie ander meen dat so ’n “salige dag” “nie ophande” is nie, laat daardie beskouing God se voorneme met die aarde buite rekening. Die mensdom se versuim om verstandig en vreedsaam te heers, ongeag watter weg ingeslaan is, het duidelik getoon dat die mensdom nie in staat is om oor homself te heers nie. Die enigste oplossing is God se Koninkryk in die hande van sy Seun Jesus Christus. Dit is waarom Jesus, toe hy aan sy dissipels ’n modelgebed gegee het, hulle geleer het om tot God te bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:10.
Dit is God se wil dat sy Koninkryk, wat reeds in die hemele opgerig is, die middel moet wees om algehele vrede op aarde te bewerkstellig. Aangaande die heerskappy van sy Seun, die “Vredevors”, sê die geïnspireerde verslag: “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”—Jesaja 9:5, 6, NAV.
Daardie Koninkryk sal nie alleen sorg dat ware vrede die aardbol oordek nie, maar dit sal doen wat geen ander regering kan doen nie: dit sal die mens se selfsugtige neigings weens sy oorgeërfde onvolmaaktheid uitwis. Want onder Koninkryksheerskappy sal die mensdom, bevry van sonde en sy straf, die dood, die vooruitsig op volmaakte, ewige lewe op ’n paradysaarde hê (Romeine 6:23). Te dien einde sal God “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan”. En Jehovah beloof: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:4, 5). Dit is die gewisse oplossing vir ons swaar tye.