Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 11/15 bl. 4-6
  • Kan mense sake deur onderhandeling regstel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan mense sake deur onderhandeling regstel?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hou verdrae?
  • ’n Kenmerk van ons swaar tye
  • ’n Rooskleurige toekoms vir ons kinders
    Ontwaak!—1997
  • Kernoorlog—Kan dit voorkom word?
    Ontwaak!—2004
  • Ware vrede—Uit watter bron?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • God se Koninkryk—die gewisse oplossing
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 11/15 bl. 4-6

Kan mense sake deur onderhandeling regstel?

VERDRAE word van die vroegste tye af gereeld verbreek ten gunste van selfsugtige volksbelange. Hulle het ook nie oorlog voorkom nie.

“Sedert mense hulself in stamme gegroepeer het”, skryf Laurence W. Beilenson in sy boek The Treaty Trap, “gaan vredesverdrae hand aan hand met oorlog. Maar etikette het soveel krag dat vredesverdrae in die onderbewussyn geassosieer word met vrede en hulle afwesigheid met oorlog. Dit het sommige kommentators laat beweer dat aangesien oorlog so rampspoedig geword het, logika voorskryf dat verdrae gesluit moet word om dit te voorkom. Die gevolgtrekking berus egter nie op die aanname nie. Kernoorlog sal ’n ramp wees, maar slegs die geskiedenis bevat ’n aanduiding of verdrae oorlog sal voorkom.”

Hou verdrae?

Die geskiedverslag toon dat verdrae nie oorlog voorkom nie. “Alle nasies was betroubare verdragverbrekers” sê Beilenson. En hoewel private burgers instansies kan vind waarop hulle hulle kan beroep vir die toepassing van ’n hof se uitspraak teen kontrakbreuk in hulle nasie, is dit nie die geval wanneer verdrae tussen nasies verbreek word nie. Daar kan selfs na oorlog gegryp word as ’n doeltreffende manier om onregte te herstel.

Internasionale geregshowe was ook nie in staat om geskille by te lê en wêreldvrede te bewaar nie. Die Internasionale Geregshof (die regsorgaan van die Verenigde Volke, wat dikwels die Wêreldhof genoem word) kan byvoorbeeld nie sy beslissings afdwing nie. Hy maak eerder staat op die wêreldmening en morele oorreding. Baie nasies het geweier om die Hof se jurisdiksie as verpligtend in die beslegting van geskille te aanvaar. En volgens die Wêreldhof se reëls kan ’n nasie weier om daardeur geoordeel te word deur so te sê voordat ’n bepaalde saak na die Hof toe geneem word.

Die probleem word vererger deur die feit dat nasies baie sensitief is oor sake wat hulle soewereiniteit raak. Hulle is gevolglik uiters versigtig wanneer hulle verdrae opstel, en die bewoording laat dikwels ontduiking toe wanneer hulle soewereiniteit aan bande gelê word. “Die bewoording van verdrae is dikwels dubbelsinnig”, sê The Encyclopedia Americana. “Daar is ’n mag der menigte vertolkingsreëls . . . en tog is daar geen algemeen aanvaarde standaard vir die behoorlike toepassing van enige van hulle nie. . . . Daar ontstaan dus meningsverskille oor die regte betekenis, en teenaantygings van verbondskendings is algemeen.” Charles de Gaulle, voormalige president van Frankryk, het dit eenkeer soos volg gestel: “Verdrae is soos jong vroue en rose. Hulle hou net so lank as wat hulle hou.” Toe het hy die volgende woorde uit Victor Hugo se Les Orientates aangehaal: “Helaas, hoeveel jong meisies het ek gesien sterf.”

’n Kenmerk van ons swaar tye

Die Bybel het lank gelede reeds voorspel dat ons dag oorheers sou word deur trotse, selfsugtige mense wat nie bereid is om saam te stem of hulle woord te hou nie. In 2 Timotheüs 3:1-5 lees ons: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”

Hierdie “laaste dae” het in hierdie eeu—in 1914, met die Eerste Wêreldoorlog—begin en duur tot vandag toe voort. Die waaragtigheid van die Bybelse profesie is deeglik deur die geskiedverslag gestaaf. Die nasies, wat geskok was deur die hewigheid van die Groot Oorlog, soos dit destyds genoem is, het probeer om verdrae te sluit om nog ’n oorlog van sulke afmetings te voorkom. Voor die oorlog was daar nie ’n verdrag wat oorlog aardwyd verbied het nie en ook nie ’n organisasie wat die vrede moes handhaaf nie. Wêreldleiers het dus probeer om ooreenkomste tussen die nasies op te stel wat dit sou doen en wêreldvrede sou verseker.

Die Verbond van die Volkebond was ’n belofte dat die ledenasies mekaar sou steun en beskerm en nie oorlog sou voer nie, behalwe uit selfverdediging, en dan slegs nadat die geskil aan die Bondsraad voorgelê is vir beslegting en ’n tydperk van drie maande verstryk het waartydens gevoelens kon afkoel. Dit het in 1920 in werking getree. Die Locarno-verdrae, wat in 1926 in werking getree het, is begroet as ’n “oorwinning vir vrede en veiligheid” onder die Europese nasies. Die Verdrag van Parys, ook bekend as die Kellogg-Briand-verdrag, het “toevlug tot oorlog” verwerp. Dit was ’n veelsydige verdrag wat deur al die nasies bekragtig kon word. Dit is in 1929 formeel voorgelê, en dit is eindelik geteken deur 63 nasies wat ingestem het om hulle geskille slegs op “vreedsame maniere” te besleg, ’n Aantal ander verdrae is in daardie tydperk gesluit, en dit het baie laat dink dat oorlog tot die verlede behoort. Maar dit was nie lank voordat die meeste van daardie nasies in nog ’n wêreldoorlog gewikkel was nie. Kan mense dus vrede deur onderhandeling bewerkstellig? Die geskiedverslag en hedendaagse wêreldgebeure antwoord NEE! Skrywer Beilenson som dit soos volg op: “Na die verwoesting van die Eerste Wêreldoorlog het staatsmanne die sterkste papierstruktuur vir vrede wat ooit bestaan het, opgerig. Dit het nie die siniese veronagsaming van verdrae van enige vorige tydperk in die geskiedenis voorkom nie, ook nie die geweldige verwoesting wat deur die Tweede Wêreldoorlog en ander kleiner oorloë sedertdien aangerig is nie. Ondanks die verdrag van die Verenigde Volke het die nasies on verenig gebly.”

Omdat die mensdom vandag “onversoenlik” is soos die Bybel voorspel het, bestaan daar geen algemene vredesverdrag nie en lewe die wêreld in ’n milieu van vrees. Beteken dit dat daar geen hoop vir ons moeilike tye bestaan nie? As daar ’n oplossing is, waar is dit te vinde?

[Prent op bladsy 5]

“Verdrae . . . hou net so lank as wat hulle hou”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel