Kan ’n blinde „sien”?
Soos vertel deur Bernardo de Santana
„DIT is werklik jammer, Bernardo”, het Germiro gesê. „Jy het altyd saam met ons gewerk; jy kon toe sien. Maar nou . . . dis die verloop van die lewe. Dit is wat God wou hê, nie waar nie?”
„Dis reg, Germiro”, het ek geantwoord. „Dis God se wil en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie.”
Ek het werklik gemeen dat dit God se wil was dat ek my gesig moes verloor, maar in my hart was daar vrae wat onbeantwoord was. Hier was ek—32 jaar oud, ongetroud, ’n toegewyde Katoliek, en in ’n wankelende geldelike situasie. Ek het myself afgevra: ,Waarom wou God „hê” dat ek my gesig moes verloor? Hoe kan ek ooit vir my ouers sorg?’ Toe ek agtergekom het dat ek my gesig verloor, het ek vurig om hulp gebid tot Santa Luzia, die „heilige” vir gesig, terwyl ek voor haar beeld in die hospitaal wat na haar vernoem is, gekniel het. ,Waarom het sy my in die steek gelaat?’ het ek gewonder.
Ek het eens ’n bestaan gemaak deur groente te verkoop in die Mark van die Sewe Deure in Salvador, Brasilië. Dit was nie winsgewend nie, maar dit was ’n vaste werk. Sedert ek tien jaar oud was, het ek op ’n plaas in die staat Sergipe gewerk. Toe ons na Salvador verhuis het, was dit dus vir my natuurlik om groente te begin verkoop.
Eendag het ek opgemerk dat my gesig verdof. ’n Spesialis het bevestig dat ek katarakte het, maar hy het gehoop dat ’n operasie my gesig sou herstel. ’n Operasie op my regteroog in 1960 het my effens beter laat sien, maar ’n tweede operasie op my linkeroog vier jaar later was onsuksesvol. Toe was dit net ’n kwessie van tyd voor ek heeltemal blind sou wees. Hoewel ek jare lank geweet het dat ek besig was om my gesig te verloor, is dit moeilik om my gevoelens te beskryf toe ek niks meer kon sien nie.
Ek het aangehou om in die mark te werk, maar met enkele aanpassings. Voordat ek werk toe is, het my gesin die geld verdeel en note met verskillende waardes in verskillende sakke gesit. Dit het my in staat gestel om kleingeld te gee. Maar ek moes voortdurend op my hoede bly om nie foute te begaan nie. My medewerkers was simpatiek, en hulle vriendelike woorde het voorkom dat ek mismoedig word. Maar sommige van hulle verklarings, soos die een van Germiro aan die begin van die artikel, het net vrae by my laat ontstaan.
Ek begin „sien”
Dit was op hierdie stadium in my lewe dat een van my kennisse, een van Jehovah se Getuies genaamd Clovis, met my oor die beloftes in die Bybel gepraat het. Hy het vir my vertel dat God ’n Nuwe Orde gaan skep waar die blindes weer sal sien en die dowes weer sal hoor (Jesaja 35:5). Sy woorde het ’n snaar in my hart aangeroer. Ek was gretig om meer te weet en het voortdurend met vrae na hom gegaan. Hy het my belangstelling gesien en gevra: „Bernardo, kan ek nie een middag na jou huis toe kom sodat ons meer oor die Bybel kan gesels nie?” Ek het gretig ingestem. Dit was die begin van ons weeklikse Bybelbesprekings.
Ondanks my gebrek was ek leergierig. Met Clovis se geduldige hulp het ek nie alleen God se naam—Jehovah—leer ken nie, maar ook geleer van Sy wonderlike dade in die verlede. Dit was ’n waarborg dat Sy beloftes oor ’n regverdige paradysaarde vervul sou word. Dan sou selfs fisiese gebreke, soos myne, nie meer bestaan nie. Dit het nie lank geduur voordat ek met ander oor my nuwe hoop gesels het en selfs van huis tot huis gepreek het nie. Eindelik, op 18 November 1973, is ek gedoop. Dit was veral van toe af dat my lewe werklik sin gekry het en dit vir my makliker was om my gebrek te verwerk.
Uit my studie van die Bybel het ek geleer dat dit nie God se wil was dat ek blind moes word nie. Dit is eerder soos die Bybel in Prediker 9:11 sê: „Tyd en lotgeval tref hulle almal.” Net soos die res van die mensdom is ek vir onvolmaakte ouers gebore wat sonde en onvolmaaktheid by ons eerste menseouers, Adam en Eva, geërf het (Romeine 5:12). In plaas daarvan dat dit God se wil was dat ek moes blind word, het ek geleer dat dit sy wil is dat ek weer moet sien. Onder die Koninkryksheerskappy van God se Seun en op grond van sy losprysoffer sal die gelowige mensdom verlos word van alle onvolmaaktheid en gebreke, en dit in die nabye toekoms. Ek het so baie dinge begin „sien” wat ek nie tevore kon sien toe ek goeie gesig gehad het nie.
Ek het nou tot Jehovah gebid en nie meer tot Santa Luzia en ander „heiliges” nie. In plaas daarvan om te bid dat ’n wonderdadige genesing moet plaasvind, het ek opreg gebid dat ,Sy wil moet geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde’. My gebede het ook die versoek ingesluit dat ek eendag ’n „hulp” sou vind wat by my pas, ’n vrou met wie ek my vreugde en probleme kon deel.
Terwyl ek eendag Bybellektuur in die sakegebied van Salvador vir mense aangebied het, het ek ’n vrouestem hoor sê: „Ek is ook een van Jehovah se Getuies.” Ek het met haar gesels. Sy was die eienares van ’n straatstalletjie. Ek het gevra: „Is jou man ook een van Jehovah se Getuies?” Sy het geantwoord: „Ek het nie ’n man nie. Ek is ongetroud.” Daardie toevallige ontmoeting was die begin van ’n vriendskap wat ontwikkel het tot ’n hofmakery, en op 14 Junie 1975 is ek en Ambrosina getroud. Tot vandag toe is sy my goeie helper en komplement.—Genesis 2:18.
Blind, maar besig
Sedert ek gedoop is, is dit my begeerte om vir ander te vertel wat ek uit die Bybel geleer het. Ek was bly dat my gebrek my nie verhinder het om dit te doen nie. Hoe verbasend was dit tog om uit te vind dat my gehoor en tassin geneig was om vir my gebrek aan gesig te vergoed. Toe ek die eerste keer alleen van deur tot deur gepreek het, het dit my ’n gevoel van groot voldoening gegee! Ek het gewonder of ek nie meer tyd aan hierdie werk kon wy nie. ’n Toespraak deur ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies het gehelp om my vraag te beantwoord. Hy het verskeie voorbeelde van persone met gebreke, waarvan sommige erger as myne was, gemeld wat as voltydse predikers van die goeie nuus, ofte wel pioniers, gedien het. Dit het my so bemoedig dat ek my aansoekvorm om hulppionierdiens ingevul het.
Weens my blindheid het ek probleme in die pionierdiens ondervind, maar met die hulp van liefdevolle broers in die gemeente is hulle almal opgelos. Wanneer dit gereën het, het ek byvoorbeeld drie hande nodig gehad. In die een hand het ek my boeketas gedra en in die ander my wandelstok. Maar die sambreel? Hoe het ek tog die „derde hand” waardeer wat aangebied is deur my Christenbroers wat my in die bediening vergesel het! Probleme het ook ontstaan wanneer ek in gebiede gewerk het waar ek nie die strate geken het nie. Maar simpatieke broers het my weer eens gehelp.
Hoe het ek in die predikingsgebied oor die weg gekom? Ek het gewoonlik geen probleem ondervind nie, aangesien ek ’n spesiale kursus geloop het wat blindes help om oor die weg te kom. Ek het geleer hoe om my wandelstok te gebruik, om my gehoor en tassin te verbeter, hoe om in en uit busse te klim en hoe om met ’n trap op en af te loop. Die kursus het my gehelp om talle klein dingetjies te leer wat ek vantevore as vanselfsprekend aangeneem het. Ek het straatname uit die hoof geleer en dan onthou hoeveel ek oorgesteek het. Ek het ook geleer om in my gedagte verslag te hou van elke huis in die straat, en sodoende kon ek herbesoeke doen by persone wat in Bybelstudie belanggestel het. En hoewel ons ongeveer twee-en-’n-half kilometer van die Koninkryksaal af woon, ondervind ek geen probleem om self daar te kom nie.
’n Reisende opsiener het glo in hierdie verband vir iemand gesê: „Toe ek die gemeente besoek het, was ek werklik beïndruk toe ek saam met Bernardo gewerk het. Hy ken die strate en selfs die huise, kan trappe klim en teen heuweis op en af loop. Ek was verbaas om te sien hoe hy die huise vind van die persone by wie hy Bybelstudies hou. Ons het een studie op die vierde verdieping van ’n woonstelgebou gaan hou, en hy het ons sonder probleme soontoe geneem.”
Voorbereiding en inspanning word beloon
My huis-tot-huisbediening verg spesiale voorbereiding. Ek leer die Bybeltekste wat ek wil gebruik uit die hoof, asook die bladsy in die Bybel waar dit voorkom. By die deure vra ek die huisbewoner om die tekste te lees en verstrek ek die bladsynommer, maar as die huisbewoner verkies om nie te lees nie, haal ek die tekste uit die hoof aan.
Wanneer ek Bybelstudies hou, spoor ek die student aan om goed voor te berei. Dan laat ek hom eers die vraag om my onthalwe lees, dan die paragraaf, en laastelik weer die vraag. Dit help my om te bepaal of hy die vraag korrek beantwoord. Met behulp van hierdie metode het ek twee persone gehelp om hulle lewens toe te wy en gedoop te word. Ek hou ook studies met drie ander gesinne.
Ek het al jare lank ’n aandeel in die Teokratiese Bedieningskool van ons gemeente. Ter voorbereiding van my toesprake laat ek iemand die materiaal hardop vir my lees terwyl ek dit op band opneem. Dan luister ek na die opname en vorm ek ’n skets van my toespraak in my gedagte terwyl ek ook die Bybeltekste wat ingesluit word uit die hoof leer. Dan is ek gereed om my toespraak te hou. Ek word ten minste nooit vermaan om minder afhanklik van skriftelike aantekeninge te wees nie! Dieselfde prosedure stel my in staat om gereeld tydens die Wagtoring-studie in die gemeente kommentaar te lewer.
Die jaar 1977 was ’n mylpaal in my lewe as ’n toegewyde Christen. Ek is as ’n gewone pionier, ’n bedieningskneg en Gemeentelike Boekstudiehouer aangestel, voorregte wat ek nog steeds geniet. Ek volg dieselfde prosedure in die Gemeentelike Boekstudie as met my Bybelstudente.
Ten slotte: Kan ’n blinde „sien”? Ek kan die vervulling van soveel Bybelprofesieë in ons dag sien, en gevolglik besef ek hoe nodig dit is om ander te help om die waarheid te leer wat tot die ewige lewe lei (Johannes 17:3). Ek het die vervulling van Jesaja 35:5 op ’n geestelike wyse ondervind: „Dan sal die oë van die blindes geopen . . . word.” Ek is seker dat hierdie profesie op Jehovah se bestemde tyd ook ’n letterlike vervulling sal hê vir duisende persone soos ek wat blind is. Intussen is dit my begeerte om voort te gaan om sy wil na my beste vermoë te doen sodat ek waardig bevind mag word om in sy Nuwe Orde van geregtigheid te lewe.
[Lokteks op bladsy 27]
”Hy het vir my vertel dat God ’n Nuwe Orde gaan skep waar die blindes weer sal sien en die dowes weer sal hoor”
[Prent op bladsy 28]
Vir my huis-tot-huisbediening leer ek die Bybeltekste wat ek wil gebruik uit die hoof, asook die bladsy in die Bybel waar dit voorkom