Nuttig en gelukkig al is ek blind
Soos vertel deur Polytimi Venetsianos
Ek het saam met my boeties en sussie asook ’n niggie gespeel toe ’n klein voorwerp deur die venster gegooi is. Dit was ’n granaat, en my twee boeties en sussie het almal gesterf toe dit ontplof het, en ek was heeltemal blind.
DIE datum was 16 Julie 1942, en ek was ’n klein dogtertjie wat net vyf jaar oud was. Ek het dae lank in ’n koma verkeer en met tye daaruit gekom. Toe ek my bewussyn herwin het, het ek my boeties en sussie gesoek. Nadat ek uitgevind het dat hulle dood is, wou ek ook dood wees.
Toe ek gebore is, het ons gesin op die Griekse eiland Salamis gewoon, naby Piraeus, die hawe van Atene. Al was ons arm, het ons ’n rustige lewe gehad. Dit het alles tot ’n einde gekom toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 begin het. My pa was ’n seevaarder in die Middellandse See. Hy moes dikwels uitwyk vir die duikbote, oorlogskepe, torpedo’s en bomme van die Spilmoondhede sowel as van die Geallieerde magte. Griekeland het onder die juk van Fascisme en Nazisme gelewe.
Geleer om God te haat
As gevolg van die verskriklike toestande gedurende die oorlog het my ma ’n vierde kind aan die dood afgestaan. Sy het aan vernietigende depressie gely, tering gekry en, nadat sy aan haar sesde kind geboorte gegee het, uiteindelik in Augustus 1945 gesterf. Van ons bure wat godsdienstig was, het begin sê dat ons deur God gestraf word. Grieks-Ortodokse priesters wat ons probeer bemoedig het, maar dinge in werklikheid net erger gemaak het, het gesê dat God my broers en susters hemel toe geneem het om klein engeltjies te wees.
My pa was verontwaardig. Waarom sou God vier klein kindertjies van ’n arm gesin wegneem as hy miljoene engele by hom het? Hierdie opvattings van die Ortodokse Kerk het sterk gevoelens teen God en teen godsdiens by hom gewek. Daarna wou hy niks met godsdiens te doen hê nie. Hy het my geleer om God te haat en te verag deur te beklemtoon dat God vir ons pyn en lyding verantwoordelik is.
Soos ’n dier in ’n hok
Kort ná die dood van my ma in 1945 het my pa ook tering gekry en is hy in ’n sanatorium geplaas. My babasussie is in ’n kinderhuis gesit. Later, toe my pa uit die sanatorium ontslaan is en haar by die kinderhuis gaan haal het, is daar vir hom gesê dat sy dood is. Ek is in ’n blindeskool gesit, waar ek die volgende agt jaar van my lewe deurgebring het. In die begin was ek baie hartseer. Tydens besoekdae was dit veral moeilik. Die meeste van my blinde skoolmaats het iemand gehad wat hulle kom besoek het, maar ek het niemand gehad nie.
Ek het my soos ’n dier in ’n hok gedra. Ek is die deugniet van die skool genoem. As gevolg hiervan het ek dikwels pak gekry en moes ek in die ‘stoutstoel’ sit. Ek het dikwels daaraan gedink om selfmoord te pleeg. Maar mettertyd het dit vir my duidelik geword dat ek moes leer om tevrede te wees. Ek het bevrediging daarin begin vind om blinde skoolmaats te help, dikwels deur hulle te help om aan te trek of om hulle beddens op te maak.
Priesters het vir ons gesê dat God ons blind gemaak het weens die een of ander verskriklike sonde van ons ouers. Dit het net gemaak dat ek God meer gehaat het, aangesien hy wreed en boosaardig voorgekom het. ’n Godsdiensopvatting wat my bang en kwaad gemaak het, is dat die geeste van die dooies rondgaan en die lewendes teister. Al was ek lief vir my oorlede boeties, sussies en ma, was ek bang vir hulle “geeste”.
My pa help my
Mettertyd het my pa met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Hy was verbaas om uit die Bybel te leer dat Satan, en nie Jehovah nie, die bron van pyn en die dood is (Psalm 100:3; Jakobus 1:13, 17; Openbaring 12:9, 12). Kort voor lank het my verligte pa die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon, geestelike vooruitgang gemaak en is hy in 1947 gedoop. ’n Paar maande vroeër het hy weer getrou, en hy het nou ’n seun gehad. Mettertyd het sy nuwe vrou Jehovah saam met hom begin aanbid.
Toe ek 16 was, het ek die blindeskool verlaat. Hoe lekker was dit tog om na ’n hartlike Christengesin terug te gaan! Hulle het, soos hulle dit genoem het, ’n gesinsbybelstudie gehad en my genooi om dit by te woon. Ek het dit uit respek en beleefdheid bygewoon, al het ek nie werklik enige aandag geskenk nie. My sterk gevoelens teen God en godsdiens het nog die oorhand oor my gehad.
Die gesin het die boekie God’s Way Is Love bestudeer. Aanvanklik het ek nie belanggestel nie, maar toe het ek gehoor hoe my pa die toestand van die dooies bespreek. Dit het my aandag getrek. Prediker 9:5, 10 is uit die Bybel gelees: “Die dooies weet glad niks nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”
Ek het begin besef dat my vrees ongegrond is. My oorlede ma, boeties en sussies kon my nie kwaad aandoen nie. Die bespreking het daarna oor die onderwerp van die opstanding gehandel. Nou het ek my ore gespits. My hart is met vreugde gevul toe ek die Bybel se belofte hoor dat die dooies onder Christus se heerskappy opgewek gaan word! (Johannes 5:28, 29; Openbaring 20:12, 13). Nou was die studie vir my baie interessant. Ek het gretig uitgesien na die dag wanneer hierdie gesinsbespreking gehou is, en ten spyte van my blindheid het ek goed voorberei.
Ek kry geestelike gesigsvermoë
Namate ek meer skriftuurlike kennis ingeneem het, het misvattings oor God en sy handelswyse verdwyn. Ek het geleer dat God nie my of enigiemand anders blind gemaak het nie, maar dat die wortel van alle kwaad sy Teenstander, Satan die Duiwel, is. Hoe jammer was ek tog dat ek uit my volslae onkunde God blameer het! Met ’n onversadigbare honger het ek in juiste kennis van die Bybel begin toeneem. Ek het al die Christelike vergaderinge bygewoon en daaraan deelgeneem, al het ons baie kilometers van die Koninkryksaal af gewoon. Ek het ook ’n ywerige deelname aan die predikingswerk gehad en nie toegelaat dat my blindheid my strem nie.
Hoe bly was ek tog toe ek op 27 Julie 1958, ’n bietjie meer as 16 jaar ná daardie tragiese oomblik wat my blind gemaak het, gedoop is! Ek het ’n nuwe begin gehad en was vol hoop en optimisme. Nou het my lewe ’n doel gehad—om my liefdevolle hemelse Vader te dien. Kennis van hom het my bevry van valse leringe en het my die moed gegee om my blindheid en die probleme wat dit skep met vasbeslotenheid en hoop die hoof te bied. Ek wy gereeld 75 of meer uur per maand aan die verkondiging van die glorieryke goeie nuus aan ander.
Egskeiding
In 1966 is ek met ’n man getroud wat dieselfde doelwitte as ek in die lewe gehad het. Dit het gelyk of ons saam ’n gelukkige huwelik sou hê, aangesien ons al twee ons deelname aan die predikingswerk probeer vermeerder het. Party maande het ons baie ure aan hierdie lewensreddende werk bestee. Ons het na ’n afgesonderde gebied naby Livadiá, in die sentrale deel van Griekeland, verhuis. Gedurende die jare wat ons daar was, van 1970 tot 1972, kon ons, ten spyte van die onderdrukkende militêre junta wat toe in Griekeland aan bewind was, talle mense help om Bybelwaarhede te leer en gedoopte Christene te word. Ons was ook bly om die klein gemeente van Jehovah se Getuies in daardie gebied by te staan.
Maar met verloop van tyd het my man Bybelstudie en die bywoning van ons Christelike vergaderinge begin afskeep, en hy het Bybelleringe uiteindelik heeltemal verwerp. Dit het baie spanning in ons huwelik veroorsaak, wat in 1977 tot ’n egskeiding gelei het. Ek was heeltemal verpletter.
’n Gelukkige, produktiewe lewe
Gedurende hierdie laagtepunt in my lewe het Jehovah en sy organisasie weer eens tot my redding gekom. ’n Liefdevolle Christenbroer het vir my verduidelik dat ek in werklikheid ’n slaaf van my vorige man sou wees as ek sou toelaat dat die situasie wat hy veroorsaak het my van my vreugde beroof. Hy sou dan die sleutel tot my geluk hou. Omtrent hierdie tyd het ’n ouer lid van die Christengemeente my gevra om haar te help om bekwamer in die predikingswerk te word. Spoedig was ek weer besig met dít wat my die grootste vreugde verskaf—om aan die bediening deel te neem!
Toe het ’n ander Christen hierdie wenk gegee: “Jy kan aanhou om in plekke te help waar jy die grootste hulp kan gee. Jy kan ’n ligtoring wees wat deur Jehovah God gebruik word.” Wat ’n opwindende gedagte! ’n Blinde wat ‘’n ligtoring is wat deur Jehovah God gebruik word’! (Filippense 2:15). Ek het sonder om te talm Atene verlaat en in die dorpie Amárintos, in suidelike Évvoia, gaan woon waar daar baie min Bybelonderrigters is. Met die hulp van vriende daar kon ek ’n huis laat bou en voldoende na my behoeftes omsien.
Ek kon dus nou al meer as 20 jaar lank elke jaar ’n paar maande daaraan wy om meer in die predikingswerk te doen. Met krag van Jehovah is ek in staat om aan alle vorme van die bediening deel te neem, onder meer om mense by hulle huise te besoek, Bybelstudies met belangstellendes te hou en met mense op straat te praat. Tans het ek die voorreg om vier Bybelstudies te hou met mense wat in ons Skepper belangstel. Hoe bly is ek tog dat ek kon sien hoe drie gemeentes in hierdie gebied gestig is waar daar 20 jaar gelede net ’n handjievol broers was!
Twee keer per week reis ek meer as 30 kilometer in elke rigting om Christelike vergaderinge by te woon, vasbeslote om selfs nie eers een oor te slaan nie. Wanneer my gedagtes gedurende die vergaderinge dwaal—as gevolg van die gebrek aan visuele kontak met die spreker—gebruik ek my spesiale braillenotaboek om kort aantekeninge te maak. So dwing ek my ore en my gedagtes om noukeurig aandag te skenk. Daarbenewens het ek die voorreg om een van die gemeentelike vergaderinge in my huis te hê. Mense kom van die nabygeleë dorpies om die Gemeentelike Boekstudie by te woon. Pleks van altyd te verwag dat ander my in my huis moet kom besoek, neem ek die inisiatief om hulle te gaan besoek, iets wat tot wedersydse aanmoediging lei.—Romeine 1:12.
Toe ek as tiener by my pa gewoon het, het hy my nooit soos ’n blinde kind behandel nie. Met geduld en deursettingsvermoë het hy baie tyd daaraan bestee om my te leer om dinge met my hande te doen. Hierdie praktiese opleiding het my in staat gestel om goed na my tuin en ’n paar stuks vee om te sien. Ek werk hard by die huis deur die huis skoon te hou en maaltye voor te berei. Ek het geleer dat ons vreugde en geluk in die eenvoudige dinge van die lewe kan vind, in dit wat ons het. Ek het al baie dinge gedoen met my vier oorblywende sintuie—gehoor, reuk, smaak en gevoel—en dit gee my eindelose bevrediging. Dit is ook ’n wonderlike getuienis vir buitestanders.
Onderskraag deur my God
Baie wonder hoe dit vir my moontlik is om positief en selfonderhoudend te wees ten spyte van my beperkinge. Bowenal moet Jehovah, “die God van alle vertroosting”, die eer ontvang (2 Korintiërs 1:3). Ná ek my gesigsvermoë verloor het, het ek dikwels aan selfmoord gedink. Ek glo dus nie dat ek vandag nog sou gelewe het as dit nie vir Jehovah en Bybelwaarheid was nie. Ek het tot die besef gekom dat ons Skepper ons baie gawes gegee het—nie net gesigsvermoë nie—en dat ons wel gelukkig kan wees as ons hulle gebruik. Eenkeer toe Getuies in ons dorpie predikingswerk gedoen het, het ’n vrou vir hulle oor my gesê: “Dit is die God wat sy aanbid wat haar help om al hierdie dinge te doen!”
Al my beproewinge het my nader aan God laat kom. Dit is baie geloofversterkend. Ek herinner my daaraan dat die apostel Paulus ook gely het aan wat hy “’n doring in die vlees” genoem het, moontlik ’n oogkwaal (2 Korintiërs 12:7; Galasiërs 4:13). Dit het nie verhinder dat hy ‘intensief besig gehou’ is met die goeie nuus nie. Ek kan soos hy sê: “Met die grootste genoeë sal ek dus liewer in verband met my swakhede roem . . . Want wanneer ek swak is, dan is ek kragtig.”—Handelinge 18:5; 2 Korintiërs 12:9, 10.
My Bybelse hoop dat ek met my eie oë my liewe ma, sussies en boeties in die opstanding kan sien, het bowenal ’n positiewe en heilsame uitwerking op my. Die Bybel belowe dat “die oë van die blindes geopen” sal word en dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees” (Jesaja 35:5; Handelinge 24:15). Hierdie vooruitsigte vul my met optimisme en die gretige verwagting van die glorieryke toekoms onder die Koninkryk van God!
[Prent op bladsy 15]
My vader, wat die Bybel met my studeer het
[Prent op bladsy 15]
In my kombuis
[Prent op bladsy 15]
Saam met ’n vriendin in die bediening