Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 2/15 bl. 3-5
  • Die einde van alle oorloë—Is dit moontlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die einde van alle oorloë—Is dit moontlik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom mensepogings misluk
  • Die gebrek aan internasionale orde
  • Toenemende bedreiging en spanning
  • Gewapen en gereed
  • Enige rede tot hoop?
  • Die oorlog om ’n einde aan orloë te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wat is die toekoms van oorlog?
    Ontwaak!—1999
  • Oorlog
    Ontwaak!—2017
  • ‘Hy laat die oorloë ophou’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 2/15 bl. 3-5

Die einde van alle oorloë​—Is dit moontlik?

„ARMAGEDDON”​—wat beteken hierdie Bybelse naam? ’n Reeks leersame artikels oor hierdie tema, telkens ingelei deur ’n sinvolle voorblad, het in die vier nommers van Die Wagtoring vir Januarie en Februarie 1985 verskyn. Ons hoop dat hierdie Skriftuurlike besprekings jou gerusstel met kennis van wat ARMAGEDDON werklik is.

„KOM, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.”​—Psalm 46:9, 10.

Die voorgaande woorde van die geïnspireerde psalmis stem ooreen met die hartsbegeerte van mense deur die eeue heen. Wie verlang nie na die dag wanneer daar nie meer oorloë sal wees nie? Maar hoe graag ons dit ook al wil sien, alle pogings deur mense om ’n einde aan oorloë te maak, het tot dusver misluk. Nie alleen is oorlog nog steeds baie algemeen nie, maar dit het ook so verwoestend en dodelik geword dat die voortbestaan van die beskawing en van die lewe self vir die eerste keer in die mens se geskiedenis bedreig word. In die lig van die groot gevaar wat dreig, kan ons nie anders as om te vra nie: Waarom het mensepogings om oorlog te verhoed so hopeloos misluk? Is oorlog werklik onafwendbaar? En waarom is daar in die eerste plek oorloë?

Waarom mensepogings misluk

„As jy in ’n buurt woon waar daar geen polisie is nie en waar almal vuurwapens het en gedurig bang is dat hulle aangeval gaan word, sal daar beslis baie skietery wees”, skryf joernalis en krygsgeskiedskrywer Gwynne Dyer. „Dit is die soort buurt waarin al die lande van die wêreld woon”, sê hy voorts. „Daar is geen internasionale polisie nie, met die gevolg dat elke land gewapen en gereed is vir geweld; maar die soort geweld waarby lande betrokke raak, het ’n spesiale naam. Ons noem dit oorlog.”

Hoewel dit ’n enigsins vereenvoudigde uiteensetting is, vestig dit die aandag op verskeie van die basiese faktore wat tot oorlog aanleiding gee. Daar moet die middele wees om oorlog te voer, sowel as die geneigdheid om dit te doen. Daarby voeg ons ook die gebrek aan wet en orde in die „buurt”, wat in hierdie geval die wêreld is.

Die beroemde geskiedskrywers Will en Ariel Durant het op hierdie selfde basiese faktore gewys toe hulle die volgende in hulle boek The Lessons of History geskryf het: „Met die huidige ontoereikendheid van die internasionale reg en sentiment moet ’n nasie elke oomblik gereed wees om homself te verdedig; en wanneer sy essensiële belange in die gedrang kom, moet hy die reg hê om gebruik te maak van watter middele hy ook al nodig ag om sy voortbestaan te verseker. Die Tien Gebooie moet stil wees wanneer selfbehoud op die spel staan.”

Die sukses van enige poging om ’n einde aan oorlog te maak, hang dus grootliks af van hoe dit hierdie basiese faktore uitskakel. Het enige menseskema, hoe edel ook al, al ooit hierin geslaag? Laat ons die feite ondersoek.

Die gebrek aan internasionale orde

Baie pogings is al in die verlede aangewend om die een of ander wêreldinstansie in die lewe te roep wat die mag sal hê om die internasionale wet en orde te handhaaf. Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog is die Volkebond byvoorbeeld gestig om te verseker dat die wêreld nie weer in oorlog gedompel word nie. Dit het in die vergetelheid geraak met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Toe, in 1945, het die Verenigde Volke-organisasie op die toneel verskyn. Die geestelikes van die Christendom het dit geloof en begroet as die mensdom se hoop op vrede. Hoeveel welslae het die organisasie behaal? Die geskiedenis verstrek weer die antwoord. „Meer as viermiljoen mense neem tans aan 42 verskillende oorloë, opstande en burgerstryde deel. . . . Tussen eenmiljoen en vyfmiljoen mense het in hierdie stryde omgekom”, het The New York Times in 1984 berig. Vandag is daar min mense wat glo dat die VV die vermoë het om oorloë en botsings te voorkom. Die bestaan van hierdie organisasie stil nie juis die vrees vir ’n derde wêreldoorlog of ’n kernslagting nie.

Toenemende bedreiging en spanning

Een rede waarom instansies soos die VV magteloos is om oorlog te verhoed, is dat die nasies rondom die wêreld totaal verbind is tot hulle nasionale soewereiniteit en regte. Hulle steur hulle weinig aan internasionale verantwoordelikheid of gedragsreëls. Sommige nasies dink dat hulle die volste reg het om enige middel te gebruik wat hulle nodig ag om hulle doelstellings te bereik​—menseslagtings, sluipmoorde, skakings, bomaanvalle, en so meer. En dit is dikwels onskuldige mense wat die spit afbyt. Selfs die groot moondhede van die wêreld tart mekaar dikwels tot die uiterste toe in die naam van selfbehoud en landsbelang. Hoe lank sal die nasies mekaar nog verdra terwyl hulle hulle aan sulke sinnelose en onverantwoordelike gedrag skuldig maak? Hoeveel Falklande, Afghanistans, Grenadas, Koreaanse 007’s, ensovoorts kan die wêreld oorleef sonder ’n groot konfrontasie? Dit is nie moeilik om te sien waarom nasionalisme en selfbeskikking ernstige struikelblokke in die weg van ’n oorlogvrye wêreld geword het nie.

Gewapen en gereed

Dit is nou al ’n bekende feit dat die arsenale van die supermoondhede genoeg kerntoestelle bevat om alle menselewe op aarde oor en oor te vernietig. Maar wat van die ander nasies? Volgens ’n regeringsverslag van die V.S.A. het ontwikkelingslande rondom die wêreld, ondanks hulle haglike ekonomiee, gedurende die afgelope dekade ver oor die R400 miljard bestee aan van die gevorderdste vliegtuie, missiele en tenks wat beskikbaar is. Die gevolg? „Dit het nou die punt bereik waar baie van die kopers dit moeilik vind om al hulle nuwe krygstuig te absorbeer.” Hierdie nasies is letterlik tot die tande toe gewapen, soos die uitdrukking lui. Die feit dat hulle net sogenaamd konvensionele wapens het, maak hulle des te gewilliger om dit te gebruik.

Enige rede tot hoop?

Die herhaalde mislukking van mensepogings om ’n einde aan oorlog te maak, beklemtoon bloot die Bybelwaarheid dat ,die mens nie self sy pad kan kies nie of self sy koers kan bepaal nie’ (Jeremia 10:23, NAV). Hoe graag mense ook al die einde van oorlog wil sien, hulle weet eenvoudig nie hoe om dit reg te kry nie. Wat dan van die belofte dat ,oorloë sal ophou tot by die einde van die aarde’? Is dit maar net gegee om hoop te wek of om ons te treiter? Beslis nie. Want Jehovah gee ons hierdie versekering aangaande enige woord of belofte uit sy mond: „Dit sal nie leeg na My terugkeer nie” (Jesaja 55:11). Hoe sal hierdie belofte dan vervul word? Watter grondige rede het ons om te glo dat God sal slaag waar die mens herhaaldelik gefaal het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel