Vrae van lesers
▪ Wat moet ’n Christen doen as hy nie die viering van die Here se Aandmaal kan bywoon nie?
Dit is belangrik dat Christene die jaarlikse viering van die Here se Aandmaal bywoon, want Jesus het by die instelling daarvan gesê: „Doen dit tot my gedagtenis” (Lukas 22:19). Die vroeë Christene het dit gedoen. Die apostel Paulus kon derhalwe skryf dat die Korinthiese broers elke jaar „as gemeente saamkom” vir die Herdenking van Jesus se offerdood (1 Korinthiërs 11:20, NAV). Maar wat sou hulle onder moeilike omstandighede gedoen het om die Gedenkmaal te hou? Wat het Paulus byvoorbeeld gedoen gedurende die jare wat hy in die gevangenis (onder bewaking en moontlik selfs in kettings) in Cesarea was?—Handelinge 23:35; 24:26, 27.
In die lig van Jesus se duidelike bevel, sou Paulus, al was hy ook in afsondering ten tye van die Here se Aandmaal, beslis die Skriftuurlike aspekte van die gebeurtenis hersien het. As ’n geesverwekte Christen sou hy alles in sy vermoë gedoen het om van die geskikste embleme wal hy in die hande kon kry te gebruik. Wyn was destyds algemeen, en selfs ’n gevangene soos Paulus sou moontlik wyn en die een of ander soort brood gehad het om te gebruik. Dit was selfs waarskynliker toe hy later in Rome in huisarres was en besoekers kon ontvang. Sommige broers van Rome het moontlik in ’n klein groepie met hom ,saamgekom’ om die Here se Aandmaal te vier.—Handelinge 28:30.
Vandag vergader gemeentes van Jehovah se Getuies rondom die aarde op die dag wat met 14 Nisan ooreenstem om Christus se dood te herdenk. Maar soms kan daar buitengewone struikelblokke ontstaan. Partymaal verhinder tierende storms of oorstromings ’n gemeente, of sommige van sy lede, om byeen te kom soos hulle beplan het. In uitsonderlike gevalle is krygswet van krag en sien gewapende soldate toe dat mense na sononder in hulle huise is. Ander Christene kon nie by die gemeente se viering wees nie omdat hulle in die hospitaal of ernstig siek was. Wat kan in sulke gevalle gedoen word?
Hoewel dit gepas is dat die hele gemeente vir hierdie belangrike geleentheid byeenkom, kan omstandighede soos hierbo gemeld dit onmoontlik maak. Wanneer gure weer, ’n natuurramp of iets soortgelyks dit vir ’n gesin of ’n deel van die gemeente geheel en al onmoontlik maak om saam met die gemeente byeen te kom, kan die afgesonderdes saam vergader en Skrifgedeeltes soos Lukas 22: 7-23, 28-30 en 1 Korinthiërs 11:20-31, asook die betekenis van die geleentheid, bespreek. As ’n gedwonge aandklokreëling dit vir ’n gemeente onmoontlik maak om op die gepaste aand byeen te kom, is Gemeentelike Boekstudiegroepe of groepies wat in die buurt byeenkom moontlik die beste alternatief. Die som van die aanwesiges sal dan die opkoms vir die gemeente uitmaak. ’n Kort toespraak kan selfs gehou word as daar ’n bekwame, toegewyde broer in die groep is. Dit maak nie saak as daar geen geskikte embleme beskikbaar is nie, solank niemand in hierdie noodgeval voorheen as ’n gesalfde Christen van die brood en die wyn gebruik het nie.
God se Wet aan Israel het ’n spesiale voorsiening gehad vir iemand wat nie die gewone Pasgamaal kon nuttig nie; die persoon kon dit ’n maand (30 dae) later doen (Numeri 9:10, 11; 2 Kronieke 30:1-3, 15). In ’n uiterste geval kan ’n geestelike Israeliet wat nie op 14 Nisan die Gedenkmaal kan bywoon of die embleme kan gebruik nie, dit 30 dae later doen. Dit geld slegs in die geval van ’n gesalfde Christen wat onder verpligting staan om die brood en die wyn te gebruik.—Galasiërs 6:16.
Op 4 April 1985, na sononder, sal gemeentes ware Christene rondom die aarde byeenkom ooreenkomstig Jesus se gebod: „Doen dit . . . tot my gedagtenis.” Hulle nooi jou om saam met hulle byeen te kom.—1 Korinthiërs 11:25.