Vrae van lesers
▪ Moet ’n Christen wat meen dat iemand in die gemeente weens sy gedrag of gesindheid nie die beste omgang is nie daardie individu persoonlik „teken”, ooreenkomstig 2 Thessalonicense 3:14, 15?
Diegene wat by die Christengemeente aansluit, doen dit omdat hulle Jehovah liefhet en opreg volgens sy beginsels wil lewe. Dit is beter om met hulle om te gaan as met wêreldse mense. Ons is moontlik meer op ons gemak by sekere Christene, net soos Jesus vir die apostel Johannes „baie lief was” en aan drie van die twaalf besonder geheg was. Maar hy het hulle almal gekies, in hulle almal belanggestel en hulle almal liefgehad (Johannes 13:1, 23; 19:26; Markus 5:37; 9:2; 14:33). Hoewel al ons broers tekortkominge het wat ons moet begryp en oor die hoof moet sien, weet ons dat medegelowiges merendeels opbouende metgeselle is (1 Petrus 4:8; Mattheüs 7:1-5). Liefde vir mekaar is nog ’n kenmerk van die Christengemeente—Johannes 13:34, 35; Kolossense 3:14.
Maar soms het iemand miskien ’n gesindheid of lewenswyse wat ons nie goedkeur nie. Die apostel Paulus het geskryf van sommige in Korinthe wat die verkeerde beskouing van die opstanding en ’n gesindheid van ,laat ons eet, drink en vrolik wees’, gehad het. Ryp Christene in die gemeente moet lig loop vir sulke persone, want Paulus het vermaan: „Moenie dwaal nie; slegte gesprekke [„omgang”, NW] bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:12, 32, 33.
Hierdie algemene raad is vandag ook van krag. ’n Christenegpaar kan byvoorbeeld opmerk dat hulle kinders benadeel word deur omgang met sekere ander jongmense wat die waarheid nog nie ernstig opneem nie of wat ’n wêreldse gesindheid openbaar. Hierdie ander kinders sal miskien nog by goddelike opleiding baat vind, maar totdat dit die geval is, sal die egpaar hulle kinders moontlik belet om saam met sulke kinders te speel of by hulle te kuier. Dit beteken nie dat daardie kinders ,geteken’ word, volgens die bedoeling van 2 Thessalonicense hoofstuk 3 nie. Die ouers pas eenvoudig Paulus se raad toe om „slegte omgang” te vermy.
Situasies waar iemand ,geteken’ moet word, is ernstiger as die bogenoemde voorbeeld waarby kinders betrokke is. Van tyd tot tyd is daar iemand in die gemeente wie se handelwyse onbybels en baie sorgwekkend is, hoewel daar nog nie grond is vir die uitsetting wat in 1 Korinthiërs 5:11-13 genoem word nie. Sulke gedrag het in die gemeente van eertydse Thessalonika voorgekom, en Paulus het derhalwe geskryf: „Ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is.”—2 Thessalonicense 3:11.
Wat moes ander Christene in Thessalonika doen? Paulus het geskryf: „Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. En julle, broeders, moet nie in goeddoen verflou nie. En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken die man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. En beskou hom nie as ’n vyand nie, maar vermaan hom as ’n broeder.”—2 Thessalonicense 3:6,13-15.
Paulus het dus, sonder om die lui bemoeisiekes by name te noem, hulle ernstige handelwyse aan die gemeente geopenbaar. Alle Christene wat geweet het wie die onordelikes was, kon hulle toe „teken”. Die raad om ,die man te teken’, het ’n Griekse woord gebruik wat beteken „plaas teken op”, dit wil sê, ,hou iemand spesiaal in die oog’ (NW-naslaanuitgawe, voetnoot). Paulus het gesê, „hou geen gemeenskap met” die getekende persoon nie „sodat hy skaam kan word”. Broers sou hom nie heeltemal vermy nie, want Paulus het gesê dat hulle ,hom as ’n broeder moet vermaan’. Maar deur nie op sosiale voet met hom te verkeer nie, kon hulle hom skaam laat word en sou hy moontlik besef dat hy sy lewe na Bybelbeginsels moet skik. Die broers en susters sou terselfdertyd teen sy ongesonde invloed beskerm word.—2 Timotheüs 2:20,21.
Die hedendaagse Christengemeente pas ook hierdie raad toe.a Die Wagtoring van 15 April 1982, bladsy 30, het beklemtoon dat iemand nie geteken word bloot op grond van private opinie, of wanneer ’n Christen persoonlik verkies om nie intiem met iemand om te gaan nie. Soos blyk uit die geval in Thessalonika word iemand alleen geteken wanneer daar ’n ernstige skending van Bybelbeginsels is. Die ouere manne probeer eers herhaaldelik om die oortreder te help deur hom te vermaan. As die probleem voortduur, kan hulle, sonder om die persoon by name te noem, ’n toespraak aan die gemeente gee om hulle teen die betrokke onordelike gedrag te waarsku, soos Paulus die Thessalonicense gewaarsku het. Daarna sal individuele Christene die skuldige „teken”.
Goeie oordeel is nodig, nie vooropgesette reëls oor elke aspek van tekening nie. Paulus het nie uitvoerige reëls oor daardie probleem in Thessalonika gegee nie. Hy het byvoorbeeld nie gestipuleer hoe lank iemand moes weier om te werk voordat hy geteken kon word nie. Die ouere manne is eweneens in voeling met die kudde en kan met redelikheid en insig bepaal of ’n sekere situasie so ernstig en sorgwekkend is dat ’n waarskuwende toespraak voor die gemeente gehou moet word.b
Een doel van tekening is om ’n onordelike Christen skaam te laat voel sodat hy sy onbybelse handelwyse laat vaar. Individue wat hom geteken het, veral die ouere manne, sal hom steeds bemoedig en op sy gesindheid let wanneer hulle by vergaderinge en in die velddiens met hom in aanraking kom. Wanneer hulle sien dat die probleem en gesindheid wat die tekening nodig gemaak het uit die weg geruim is, kan hulle weer sosiaal met hom verkeer.
Tekening moet gevolglik nie verwar word met ’n persoonlike of gesinstoepassing van God se raad om slegte omgang te vermy nie. Hoewel dit selde nodig is om iemand te teken, is dit ongetwyfeld ’n skriftuurlike stap wat gedoen moet word wanneer daar rede voor is, ’n stap wat ons broers in Thessalonika gedoen het.
[Voetnote]
a Kyk Die Wagtoring van 1 September 1973, pages 406-408.
b Ouere manne moet byvoorbeeld insig toon wanneer hulle te doen het met ’n Christen wat met ’n ongelowige uitgaan.—Kyk Die Wagtoring van 1 Junie 1982, bladsy 30.