Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 7/15 bl. 29-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • “Moenie moeg word om goed te doen nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Bewaar die vrede en reinheid van die gemeente
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 7/15 bl. 29-31

Vrae van lesers

Is die reëling in 2 Tessalonisense 3:14 om iemand te ‘merk’ ’n formele gemeentelike proses, of is dit iets wat Christene individueel doen deur weerbarstige persone te vermy?

Wat die apostel Paulus aan die Tessalonisense geskryf het, toon dat die gemeentelike ouer manne ’n spesifieke rol in hierdie ‘merkery’ speel. Maar individuele Christene voer dit daarna deur, en doen dit met ’n geestelike doel voor oë. Ons kan dit beter verstaan as ons kyk na Paulus se raad en die rede waarom hy dit gegee het.

Paulus het gehelp om die gemeente in Tessalonika te stig, en hy het mans en vrouens gehelp om gelowiges te word (Handelinge 17:1-4). Later het hy uit Korinte geskryf om hulle te prys en aan te moedig. Paulus het hulle ook die nodige raad gegee. Hy het hulle aangespoor ‘om rustig te lewe, om hulle met hulle eie sake te bemoei en met hulle hande te werk’. Party het dit nie gedoen nie en Paulus het dus bygevoeg: “Ons [maan] julle, broers: Vermaan die wanordelikes ernstig, praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes.” Dit is duidelik dat daar “wanordelikes”a onder hulle was wat raad nodig gehad het.—1 Tessalonisense 1:2-10; 4:11; 5:14.

’n Paar maande later het Paulus sy tweede brief aan die Tessalonisense geskryf, met bykomende kommentare oor Jesus se toekomstige teenwoordigheid. Paulus het ook verdere riglyne gegee oor wat hulle met wanordelikes moes doen wat ‘nie gewerk het nie, maar hulle bemoei het met wat hulle nie aangegaan het nie’. Hulle optrede was in stryd met Paulus se voorbeeld as ’n harde werker sowel as sy duidelike bevel om te werk om hulleself te onderhou (2 Tessalonisense 3:7-12). Paulus het beveel dat sekere stappe gedoen moet word. Hierdie stappe sou volg ná wat die ouer manne reeds gedoen het om die wanordelikes te vermaan of raad te gee. Paulus het geskryf:

“Ons gee julle dan nou bevel, broers, . . . om julle te onttrek aan elke broer wat wanordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat julle van ons ontvang het nie. Wat julle betref, broers, moenie ophou om te doen wat reg is nie. Maar as iemand nie gehoorsaam is aan ons woord deur hierdie brief nie, hou dié een gemerk, hou op om met hom om te gaan, sodat hy beskaamd kan word. Beskou hom nogtans nie as ’n vyand nie, maar hou aan om hom ernstig te vermaan as ’n broer.”—2 Tessalonisense 3:6, 13-15.

Die verdere stappe het dus ingesluit dat hulle hulle onttrek aan die wanordelikes, hulle merk, ophou om met hulle om te gaan, maar dat hulle hulle as broers ernstig vermaan. Wat sou daartoe lei dat lede van die gemeente hierdie stappe doen? Om dit duideliker te stel, gaan ons drie situasies identifiseer wat Paulus nie hier in gedagte gehad het nie.

1. Ons weet dat Christene onvolmaak is en tekortkominge het. Nogtans is liefde ’n kenmerk van die ware Christelike godsdiens, wat vereis dat ons begrip moet toon en ander hulle foute moet vergewe. ’n Christen kan byvoorbeeld by uitsondering ’n woedeuitbarsting hê, soos Barnabas en Paulus gehad het (Handelinge 15:36-40). Of iemand sê dalk weens moegheid harde en snydende woorde. As ons in sulke gevalle liefde openbaar en Bybelraad toepas, kan ons die sonde bedek en voortgaan om met ons mede-Christen saam te lewe, te assosieer en saam te werk (Matteus 5:23-25; 6:14; 7:1-5; 1 Petrus 4:8). Dit is duidelik dat Paulus nie hierdie soort tekortkominge in 2 Tessalonisense bespreek het nie.

2. Paulus het nie ’n situasie bespreek waarin ’n Christen persoonlik besluit om sy omgang te beperk met iemand wie se weë of gesindhede nie goed is nie—byvoorbeeld iemand wat behep is met ontspanning of materiële dinge. Of ’n ouer beperk dalk sy kind se omgang met kinders wat ouerlike gesag minag, op ’n rowwe of gevaarlike manier speel of die Christelike lewenswyse nie ernstig opneem nie. Dit is bloot persoonlike besluite in ooreenstemming met wat ons in Spreuke 13:20 lees: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.”—Vergelyk 1 Korintiërs 15:33.

3. ’n Baie ernstiger saak waaroor Paulus aan die Korintiërs geskryf het, is wanneer iemand ernstige sonde beoefen en nie berouvol is nie. Sulke onberouvolle sondaars moes uit die gemeente gesit word. Die “goddelose” mens moes as ’t ware aan Satan oorgegee word. Daarna moes lojale Christene nie met sulke goddeloses omgaan nie; die apostel Johannes het Christene aangespoor om hulle nie eers te groet nie (1 Korintiërs 5:1-13; 2 Johannes 9-11). Maar die raad in 2 Tessalonisense 3:14 is ook nie op hierdie situasie van toepassing nie.

Die situasie oor “wanordelikes” wat in 2 Tessalonisense bespreek word, is anders as die bogenoemde drie situasies. Paulus het geskryf dat hulle nog ‘broers’ was, wat as sodanig vermaan en behandel moes word. Die probleem met die ‘wanordelike’ broers was dus nie bloot ’n persoonlike saak tussen Christene nie en ook nie ernstig genoeg dat gemeentelike ouer manne die oortreder moes uitsit, soos Paulus aanbeveel het in die geval van onsedelikheid in Korinte nie. Anders as die man wat in Korinte uitgesit is, was die “wanordelikes” nie skuldig aan ernstige sonde nie.

Die “wanordelikes” in Tessalonika het duidelik afgewyk van die Christelike lewenswyse. Hulle wou nie werk nie, of dit nou was omdat hulle gedink het dat Christus se wederkoms op hande was of omdat hulle lui was. Daarbenewens het hulle ’n groot steurnis veroorsaak deur ‘hulle te bemoei met wat hulle nie aangegaan het nie’. Die gemeentelike ouer manne het hulle waarskynlik herhaaldelik raad gegee, in ooreenstemming met Paulus se raad in sy eerste brief en met ander Goddelike raad (Spreuke 6:6-11; 10:4, 5; 12:11, 24; 24:30-34). Tog het hulle volgehou met ’n weg wat die gemeente in ’n slegte lig gestel het en wat ander Christene kon beïnvloed. Die Christen- ouer man Paulus het dus, sonder om die individue se name te noem, in die openbaar die aandag gevestig op hulle wanordelikheid en hulle verkeerde weg blootgelê.

Hy het ook die gemeente laat weet dat dit vir hulle as individuele Christene gepas sou wees om die wanordelikes te ‘merk’. Dit het geïmpliseer dat individue moes let op diegene wie se optrede ooreenstem met die weg waarteen die gemeente in die openbaar gewaarsku is. Paulus het hulle aangeraai om hulle “te onttrek aan elke broer wat wanordelik wandel”. Dit sou beslis nie beteken dat hulle so iemand heeltemal moes vermy nie, want hulle moes ‘aanhou om hom ernstig te vermaan as ’n broer’. Hulle sou aanhou om Christelike kontak met hom te hê by die vergaderinge en moontlik in die bediening. Hulle kon hoop dat hulle broer ag sou slaan op die vermaning en sy verontrustende weg sou verlaat.

In watter sin sou hulle hulle aan hom “onttrek”? Dit was klaarblyklik in ’n sosiale konteks. (Vergelyk Galasiërs 2:12.) As hulle sou ophou om op sosiale vlak met hom om te gaan en saam met hom ontspanning te geniet, sou dit hom dalk wys dat beginselvaste mense nie van sy weë hou nie. Selfs al het hy nie beskaamd geword en verander nie, sou die moontlikheid ten minste kleiner wees dat ander sy weë leer en soos hy word. Terselfdertyd moes hierdie individuele Christene hulle met positiewe dinge besighou. Paulus het hulle dié raad gegee: “Wat julle betref, broers, moenie ophou om te doen wat reg is nie.”—2 Tessalonisense 3:13.

Hierdie apostoliese raad is ongetwyfeld geen grondslag om neer te sien op ons broers wat die een of ander foutjie begaan of om hulle te veroordeel nie. Die oogmerk daarvan is eerder om die een te help wat ’n verontrustende weg inslaan wat duidelik in stryd is met die Christelike lewenswyse.

Paulus het nie breedvoerige reëls voorgeskryf asof hy ’n ingewikkelde prosedure probeer uiteensit het nie. Maar dit is duidelik dat die ouer manne eers ’n wanordelike persoon raad moet gee en moet probeer help. As hulle nie slaag nie en die persoon volhou met ’n weg wat verontrustend is en wat ander kan beïnvloed, sal hulle moontlik besluit dat die gemeente gewaarsku moet word. Hulle kan reël dat ’n toespraak gehou word oor waarom sulke wanordelikheid vermy moet word. Hulle sal nie name noem nie, maar hulle waarskuwende toespraak sal help om die gemeente te beskerm omdat diegene wat gehoor gee, sal sorg dat hulle enige sosiale bedrywighede beperk met enigeen wat duidelik sulke wanordelikheid openbaar.

Hopelik sal die wanordelike mettertyd beskaamd voel oor sy weg en beweeg word om te verander. Namate die ouer manne en ander in die gemeente die verandering sien, kan hulle individueel besluit om weer persoonlik met hom om te gaan.

Ter opsomming: Die gemeentelike ouer manne neem die leiding deur iemand wat wanordelik wandel hulp en raad aan te bied. As hy nie die dwaling van sy weg insien nie, maar voortgaan om ’n onheilsame invloed te wees, kan die ouer manne die gemeente waarsku deur middel van ’n toespraak wat die Bybelse beskouing duidelik uiteensit—hetsy oor afsprake met ongelowiges of wat die ongepaste weg ook al is (1 Korintiërs 7:39; 2 Korintiërs 6:14). Christene in die gemeente wat op dié manier gewaarsku is, kan individueel besluit om omgang te beperk met diegene wat duidelik ’n wanordelike weg volg, maar wat nog broers is.

[Voetnoot]

a Die Griekse woord is gebruik in verband met soldate wat nie in gelid gebly het of na dissipline geluister het nie, asook vir leerlinge wat stokkiesgedraai het.

[Prente op bladsy 31]

Christen- ouer manne vermaan die wanordelikes, maar beskou hulle nogtans as medegelowiges

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel