Vertraag God sy oordeel?
GESTEL jy verwag ’n besoeker van elders wat vir jou gesê het op watter dag, maar nie hoe laat nie, hy sal kom. Soos die tyd verbygaan, en hy nog nie opgedaag het nie, begin jy wonder of hy vertraag is. Is dit werklik die dag waarop hy gesê het hy sou kom? Was daar dalk ’n misverstand? Wat aanvanklik slegs ongeduld was, begin stadigaan oorgaan in iets ontstellenders, iets wat twyfel genoem word.
Dit beskryf goed hoe party mense voel oor die beloofde koms van God se strafgerig teen goddeloosheid. Sy aanbidders wag per slot van rekening al so lank daarvoor. Kyk byvoorbeeld na getroue koning Dawid. Hy het meer as 3 000 jaar gelede gesê: „Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn. Hy sal ’n strafgerig hou onder die nasies.” Kan iemand dus vandag geblameer word as hy wonder: Wanneer?—Psalm 110:5, 6.
Deur wêreldtoestande met Bybelprofesie te vergelyk en deur Bybelchronologie in aanmerking te neem, is ernstige Bybelstudente daarvan oortuig dat God se oordeelsdag uiteindelik naby is. Maar het talle mense in die verlede nie ook so gedink net om later uit te vind dat hulle verkeerd was nie? Is daar ’n onfeilbare manier om vas te stel wanneer God se oordeel presies voltrek sal word?
Op God se „vasgestelde tyd”
Jesus het getoon dat daardie oordeel op ’n bepaalde tyd sou plaasvind. Maar hy het sy volgelinge gemaan: „Bly wakker, want julle weet nie wanneer die vasgestelde tyd is nie.”—Markus 13:33, NW.
Habakuk, wat ses eeue vroeër deur God aangesê is om oor die voltrekking van goddelike oordeel te skryf, het ook gesê dat dit „op die vasgestelde tyd” sou kom. En as ’n waarskuwing teen ongeduld of miskien selfs twyfel, het hy onder God se leiding beloof: „[Dit] sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.”—Habakuk 2:2, 3.
Maar as God se oordeel „op die vasgestelde tyd” sal kom en „nie [sal] versuim nie”, waarom het Habakuk gesê „as dit mag vertoef”? Klaarblyklik om te toon dat party van God se volk dit vroeër sou verwag as wat dit werklik sou wees. Waarom? Omdat hulle nie sou weet presies wanneer dit sou kom nie.
En toe Jesus op aarde was, het selfs hy nie die presiese tyd geweet nie, want hy het gesê: „Van daardie dag en die uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader” (Markus 13:32). Maar wat hy wel geweet het, was die tydperk waartydens die oordeel sou plaasvind. Daarom het hy op versoek van sy dissipels ’n teken gegee wat hulle in staat sou stel om hierdie tydperk te herken wanneer dit begin het. Jesus het gesê dat die eerste aanduiding daarvan soos „geboortepyne” sou wees. Wanneer ’n swanger vrou se geboortepyne begin, weet sy natuurlik nie die presiese tyd wanneer haar kind gebore sal word nie. Sy weet egter wel dat die geboorte ophande is.—Mattheüs 24:3-8, NAV.
„Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan nie”
Jesus het nie net geweet wanneer die tydperk vir goddelike oordeel sou aanbreek nie, maar kon ook ’n beperking op die duur daarvan plaas. Hy het die illustrasie van ’n vyeboom gebruik en gesê: „Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”—Mattheüs 24:32-34.
Die oordeel sou dus voltrek word in die leeftyd van mense wat die eerste aanduiding gesien het van die tydperk wat Jesus voorspel het. Wanneer hierdie tydperk begin het, sou dit die begin van die einde van Satan se wêreld wees aan wie God se nuut opgerigte Koninkryk goddelike oordeel sal voltrek. Bybelchronologie en die vervulling van Bybelprofesie verskaf voldoende bewys dat hierdie tydperk in 1914 begin het.a
God se oordeel moet dus voltrek word voordat 1914 se geslag heeltemal uitsterf. Daar is nog baie van hierdie geslag oor. In 1980 was daar byvoorbeeld nog 1 597 700 persone in die Bondsrepubliek van Duitsland wat in 1900 of vroeër gebore is. Die syfer sou nog hoër gewees het as miljoene van sy burgers nie vroegtydig gedurende die twee wêreldoorloë gesterf het nie.
Toe Jesus beloof het dat ,hierdie geslag sekerlik nie sal verbygaan’ nie, het hy die twee Griekse negatiewe ou en me gebruik. The Companion Bible verduidelik hierdie gebruik soos volg: „Wanneer die twee negatiewe gekombineer word, verloor hulle hulle onderskeie betekenisse en vorm die kragtigste en nadruklikste versekering [bevestiging].” Dis slegs nou, op ’n tyd wanneer dit voorkom of die geslag kan verbygaan voordat alles vervul is, dat Jesus se woorde „sekerlik nie” ware betekenis aanneem.
’n Toets van geloof
Habakuk se waarskuwende woorde toon dat daar ’n oënskynlike vertraging in Jehovah se oordeel sou wees, wat as ’n toets van geloof sou dien. Dit is logies dat hierdie toets eers laat in die geslag waarvan Jesus gepraat het, kan ontstaan. Dink, na aanleiding van die voorbeeld aan die begin van hierdie artikel, hieraan: Wanneer sal jy ernstig begin twyfel of jou besoeker gaan kom? Beslis nie teen nege-uur in die oggend nie, ook nie teen twaalfuur nie en moontlik nie eens laat in die middag nie. Maar jou geloof sal waarskynlik op die proef gestel word wanneer die aand aanbreek. Maar onthou dat jou besoeker selfs teen 11:30 nm. nog genoeg tyd sou hê om sy belofte na te kom!
Daar bestaan geen rede om bekommerd te wees dat God se Woord onvervuld sal bly nie. Dit het nog nooit gefaal nie. Josua se woorde aan die Israeliete meer as 3 000 jaar gelede is nou net so waar soos toe: „Nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.
„Wat die vervulling van profesie betref, lyk dit of dit natuurlik is dat ons, en die hele mensdom, ongeduldig is en verwag dat dinge vinniger gedoen moet word as wat gewoonlik die geval is.” So het The Watch Tower van 1 Mei 1910 gesê, en bygevoeg: „Dit is ’n vertraging betreffende ons verwagtinge, maar ons kan seker wees dat daar geen vertraging is wat die goddelike voorneme betref nie . . . Ons twyfel geensins dat die resultate aan die volheid van die tyd—God se tyd—behaal sal word nie.”
Agterna beskou, kan getroue Christene vandag goeie rede sien waarom God se oordeel nog nie voltrek is nie. Trouens, hulle is bly dit het nie gekom nie. Ons volgende artikel verduidelik waarom.
[Voetnote]
a Kyk hoofstukke 16 en 18 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is, vir ’n breedvoerige bespreking.
[Prent op bladsy 4]
Talle lede van die geslag van 1914 hoop om „al hierdie dinge” te sien gebeur