Waarom God nog nie sy oordeel voltrek het nie
PARTY Christene het reeds sowat twee dekades na Jesus se dood verwag dat Jehovah sou „kom” om sy oordeel te voltrek. Dit het die apostel Paulus aan hulle laat skryf: „Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.” Hoewel Paulus erken het dat die „geheime krag van die wetteloosheid” in sy dag „al aan die werk” was, was dit klaarblyklik nog nie erg genoeg sodat goddelike oordeel kon kom nie.—2 Thessalonicense 2:2, 3, 7, 8, NAV.
’n Tweevoudige insameling
Hoewel die afval beslis sou kom, sou dit nie God se voorneme in die wiele ry om 144 000 getroue Christene te kies om medeheersers saam met sy Seun, Jesus, in die hemel te wees nie. (Kyk Openbaring 14:1-5.) Eers nadat hulle voltallig is en hulle finaal deur God verseël is, kan Jehovah se oordeel voltrek word. Openbaring 7:2, 3 verduidelik: „[Aan] die vier engele [is gesê]: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig [deur die vernietigende winde van God se oordeel teen die nasies te bring] voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.” Ons weet nou dat hierdie werk nog nie klaar was toe die Koninkryk in 1914 opgerig is nie.
Hoewel party gehoop het dat dit sou gebeur, kon God se oordeel dus nie op daardie stadium voltrek word nie. The Watch Tower se nommer van 1 Januarie 1914 het hierdie verwikkeling in ag geneem en gesê dat hoewel „die Jaar 1914 die laaste een is van wat die Bybel die ,Heidense Tye’ noem . . . ons geensins seker is dat vanjaar, 1914, sulke radikale en vinnige veranderinge van die dispensasie sal sien soos wat ons verwag nie”. Die artikel het verder verduidelik dat Christene nietemin dankbaar was dat Bybelchronologie hulle bewus gemaak het van die nabyheid van goddelike oordeel. Dit het gesê: „Ons glo dat die chronologie ’n seën is. As dit ons ’n paar minute vroeër of ’n paar uur vroeër in die oggend wakker maak as wat ons andersins sou ontwaak, goed en wel! Dis diegene wat wakker is wat die seën ontvang.”
Onder diegene wat ’n seën sal ontvang, sal ook die wees wat die Bybel beskryf as „’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Daar is eers in 1935 ten volle begryp dat hierdie „groot menigte” sou bestaan uit persone „wat uit die groot verdrukking kom”, dit wil sê, die wat Satan se organisasie verlaat en hulle aan God se kant skaar sodat hulle die voltrekking van God se oordeel kan oorleef. Die insameling van hierdie „groot menigte” duur nou al ongeveer vyf dekades in ooreenstemming met Jehovah se voorneme. Ons kan bly wees dat goddelike oordeel nie voltrek sal word totdat hierdie lewensreddende werk voltooi is nie.—Openbaring 7:9, 14.
Politieke verwikkelinge
Daar is ook voorspel dat sekere politieke verwikkelinge voor die voltrekking van God se oordeel sal plaasvind. Ons sien duidelik hoe die vervulling van Daniël se profesie oor „twee konings” (hoofstuk 11) nou voltooiing nader.a Wanneer hierdie vervulling sy hoogtepunt bereik, sal God sy oordeel voltrek.—Vergelyk Daniël 2:44.
Hoewel hulle teenstanders is, word die supermoondhede en hulle blokke—„die koning van die Suide” en „die koning van die Noorde”— albei verteenwoordig in die wêreldwye politieke organisasie waaraan mense hulle vandag „verwonder”. Wat ’n gepaste beskrywing van die Volkebond wat na die Eerste Wêreldoorlog opgerig is en sy opvolger van na die Tweede Wêreldoorlog, die Verenigde Volke-organisasie.—Daniël 11:40; Openbaring 17:8.
Hierdie „twee konings”, wat ideologies en polities verdeeld en tog terselfdertyd „verenig” is, het baie te sê oor die bewaring van wêreldwye „vrede en veiligheid”. Dit is ook betekenisvol, want Bybelprofesie sê dat „wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle”. Ons weet tans nie in watter mate hierdie „twee konings”, afsonderlik en in samewerking met die Verenigde Volke-organisasie, die wêreld se politieke, ekonomiese, omgewings- en maatskaplike probleme sal oplos sodat hulle geregverdig voel om hierdie uitroep te maak nie.—1 Thessalonicense 5: 2, 3.
Maar wat ons wel weet, is dat die Verenigde Volke-organisasie, saam met al sy ledenasies—waaronder hierdie „twee konings” die vernaamste is—die een of ander tyd gedurende sy bewind God se oordeel sal ondervind en ,na die verderf sal gaan’. Ons weet ook dat die geslag van 1914 na aan sy einde is, wat gevolglik maar min tyd oorlaat vir hierdie profesie om vervul te word. Maar ons weet ook—ons het Jesus se belofte hiervoor—dat „hierdie geslag . . . sekerlik nie [sal] verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie”.—Openbaring 17:11; Markus 13:30.
Jehovah sal nie uitstel nie—Sal jy?
As jy die Bybel bestudeer en van Jehovah se voornemens leer, moet jy dit nie uitstel om na God se simboliese skuilplek te vlug nie. „Soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:1-3.
Hou in gedagte die eerste-eeuse Christene wat in 66 G.J. uit Jerusalem gevlug het toe hulle die teken gesien het wat Jesus van die stad se naderende oordeel gegee het. Enigiemand wat sy vlug uitgestel het—om watter rede ook al—het waarskynlik oorgerus geraak toe die Romeine, wat die stad omsingel en toe onverwags teruggetrek het, versuim het om terug te keer. Weke het verloop. Weke het maande geword. Maande het jare geword. Party het miskien gedink dat Jehovah die voltrekking van sy oordeel vertraag het. Maar in 70 G.J. het die Romeine skielik teruggekeer. Vir diegene in die stad was daar geen kans om te vlug nie.—Lukas 21:20-22.
Mense van vandag wat andersyds reeds hulle lewe toegewy het om God se wil te doen en na sy plek van veiligheid gevlug het, moet nie uitstel om hulle Christelike verpligtinge na te kom nie. Hulle moet nie hulle verantwoordelikheid om Jehovah se oordeelsboodskap te verkondig probeer ontduik soos Jona toe hy aangesê is om die Nineviete teen God se oordeel te waarsku nie. Hulle moet hulle ook nie soos hy weens nukkerigheid in onbedrywigheid onttrek net omdat dinge nie verloop soos hulle verwag het of so vinnig soos hulle gehoop het nie.—Jona 1:1, 2; 4:2, 5, 10, 11; 2 Petrus 3:15.
The Watch Tower van 1 Junie 1906 het gepas van God se oordeelsvoltrekking gesê: „Die tyd sal die goddelike wysheid van wat vir kortsigtige mense na onbarmhartige vertraging lyk ten volle openbaar . . . God het ons liefdevol tot sy gesigspunt oorgehaal en ons versoek om in die glorieryke toekoms in te kyk . . . en afhangende van hoeveel ons kan begryp en glo, kan ons rus en ons daarin verheug. Maar intussen moet ons, daar ons so goedgunstig verkwik is deur die verblydende vooruitsig, geduldig vir die einde wag, ongeag hoe smartlik die wagtyd ook al is.”
En ons sal wag, met hierdie vaste oortuiging: „Alte seker sal dit kom en nie versuim nie.”—Habakuk 2:3.
[Voetnote]
a Hierdie profesie word breedvoerig verduidelik in die boek „Laat U wil geskied op aarde”, wat in 1958 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is.
[Venster op bladsy 6]
WAT DIE VOLTREKKING VAN OORDEEL MOET VOORAFGAAN
Die afval—2 THESSALONICENSE 2:2, 3
Die verseëling van die 144 OOO—OPENBARING 7:2, 3
Die finale insameling van die „groot menigte” vir oorlewing—OPENBARING 7:14
Die verskyning van die Volkebond en daarna die Verenigde Volke—OPENBARING 17:8
Die finale konfrontasie tussen die twee groot blokke van nasies—DANIËL 11:40, 44, 45
Die wêreldwye uitroep „Vrede en veiligheid”—1 THESSALONICENSE 5:2, 3
[Prent op bladsy 7]
Petrus het God se geduld as redding beskou, terwyl Jona gekla het. Wie se voorbeeld wil jy volg?