Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 5/1 bl. 23-25
  • Ongetroud en gelukkig as ’n pionier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ongetroud en gelukkig as ’n pionier
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek gee gehoor aan die oproep
  • ’n Groter veld
  • Eensaam?
  • Die werk verbied! Moet ek bly of gaan?
  • Jehovah se hulp altyd duidelik
  • Jehovah tree lojaal op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Jehovah het my krag gegee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 5/1 bl. 23-25

Ongetroud en gelukkig as ’n pionier

Soos vertel deur Margaret Stephenson

MOMBASA, Oos-Afrika, 1958. Die tropiese hitte was drukkend en het alles in ’n glimmende waas gehul. Die vlieë het irriterend om my gegons. Onder die sinkdak van die doeane-gebou by die hawe was die temperatuur amper 40 grade Celsius. Terwyl ek geduldig gewag het, het die sweet teen my wange afgerol. Die vogtigheid het soos ’n stomende kombers oor ons gehang, en die lug​—klam en bedompig—​was amper te dik om in te asem. Sou die hele Kenia so wees?

Ek het begin wonder of dit ’n goeie plek vir ’n ongetroude vrou is. Ek het foto’s gesien van uitgestrekte, golwende vlaktes vol wild, geil woude, selfs sneeubedekte berge, maar hier . . . „Ag, wat het ek gedoen?” het ek myself afgevra. „Waarvoor het ek myself ingelaat?”

Alles was so heeltemal anders as in Ottawa, Kanada, waar ek gewoon het. Die seereis het vyf weke geduur. Sestienduisend kilometer net om hier te kom! Sal daar iemand wees om my te ontmoet? Ek het nie geweet of daar Jehovah se Getuies in Mombasa was nie, dus kan jy jou my verrassing en verligting voorstel toe ek ’n groep glimlaggende gesigte gesien het. Dit was so opbeurend! En wat ’n hartlike verwelkoming!

Die eerste vergadering daardie aand het ook baie daartoe bygedra om my vrese te stil oor hierdie land wat so nuut en vreemd vir my was. Net twee gesinne​—hulle was so dankbaar en aangemoedig om ondervindinge te hoor en geselskap te hê. Daar is so baie wat hier gedoen moet word, het ek gedink. Hoe kon ek hierdie paar dapper mense los om dit alles self te doen? Daardie eerste aand het my baie gehelp om te besluit om te bly en te help solank ek kon.

Ek gee gehoor aan die oproep

„Kom oor na Macedonië!”, was die uitnodiging wat die spreker feitlik 18 maande vantevore, in 1957, by Jehovah se Getuies se byeenkoms in Seattle, Washington, V.S.A., gerig het. Ons is almal gevra om dit ernstig te oorweeg of ons persoonlike omstandighede ons sou toelaat om gehoor te gee aan die oproep om meer werkers in die veld, en selfs in ander lande te help as verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk. Ek het vir myself gesê: ,Is daar werklik enigiets wat my keer? Is daar ’n rede waarom ek myself nie beskikbaar kanstel nie? Ek is ongetroud en hoef niemand te onderhou nie. Ek was nog altyd iemand wat daarvan gehou het om dinge heelhartig te doen, en hier is ’n regstreekse versoek van Jehovah waaraan ek gehoor moet gee.’ Ek het gou al die plekke begin neerskryf wat die spreker aangegee het as hedendaagse „Macedoniës”, ter herinnering aan die plek waar baie hulp nodig was en waarheen die heilige gees die apostel Paulus in die eerste eeu genooi het.​—Handelinge 16:9, 10.

Jy wonder dalk wat ’n tingerige vrou van oor die 50 moed laat bymekaarskraap en op haar eie na ’n verafgeleë plek laat gaan het. Avontuur? Nee, glad nie; ek is beslis nie die avontuurlustige soort nie. Miskien was dit die invloed van bejaarde suster Bartlett, wat my tot my doop in 1954 so geduldig en liefdevol die waarheid geleer het. Sy het altyd die voltydse diens voorgestaan en die vreugde en seëninge daarvan beklemtoon. Maar watter veranderinge sou ek tog moes aanbring! My vader het reeds diepe eerbied vir die Bybel en Die Wagtoring getoon, maar hy het nooit sover gekom om ’n duidelike standpunt vir Bybelwaarhede in te neem nie. Ek het ook ’n ruk lank gehuiwer. Suster Bartlett het my twee en ’n half jaar lank probeer aanspoor om aan die huis-tot-huispredikingswerk deel te neem. Ek het begryp waarom hierdie werk nodig was, maar ek was bang. Uiteindelik het sy, nadat ons vier groot studieboeke voltooi en ek nog steeds flou verskonings geopper het, my aangespoor om tydskrifwerk op straat te doen. „As jy nog trots oor het”, het sy gesê, „sal dit daarvan ontslae raak.” Hoe wonderlik voorsien Jehovah tog aan ons almal die krag wat ons nodig het om sy wil te doen!​—Filippense 4:13, NW.

As ek nou terugkyk, is ek baie dankbaar dat die pionierwerk en die beloninge daarvan altyd as ’n doelwit voor my gehou is. Nadat ek gesmaak en gesien het dat die bediening inderdaad ’n waarlik bevredigende werk is, het ek in 1956 besluit om dit voltyds as ’n pionier te doen. Aangesien ek die volgende jaar sou moes aftree, het ek besluit: ,Waarom doen ek dit nie nou dadelik nie?’ Ek het toe ook, en ek het dit baie geniet. „Moet ek aansoek doen om die Gilead-sendingskool by te woon?” het ek ’n ryp egpaar gevra. „Nee”, het hulle geantwoord, „jy is te oud!” „Wel, moet ek dan aansoek doen om by die Genootskap se hoofkwartier te werk?” Weer was die antwoord: „Jy is te oud, Margaret!” ,Ag wel’, het ek gedink, ,ek sal maar net moet dien waar daar hulp nodig is.’ Hulle het my wyslik aangespoor om eers ’n verandering in Kanada te maak om te sien hoe ek by veranderinge kon aanpas en oor die weg kom voordat ek na ’n ander land gaan.

Toe ek ’n toewysing ontvang het, het ek gepak en 4 000 kilometer van Vancouver dwarsoor Kanada na Ottawa gereis. Daar het ek Aubrey en Eunice Clarke ontmoet, wat pas Gileadskool verlaat het en na Kenia gestuur is. Hulle was positief en het vriendelik aangebied om te skryf en al die inligting te voorsien wat hulle gemeen het ek nuttig sou vind. Na ’n aantal briewe vol praktiese raad, aansporing, wenke en waarskuwings, en talle ander dinge wat my sou help om te besluit of ek dit kon doen, het ek vertrek.

Was ek bang? O nee! . . . nie totdat ek in Mombasa aangekom het nie. Maar die hartlikheid van die plaaslike broers en hulle pogings om my welkom en nodig te laat voel, het my weldra tuis laat voel. Na slegs twee dae by die kus, het ek 480 kilometer na die hoofstad, Nairobi, in die binneland, gereis.

’n Groter veld

Ons getuieniswerk was aanvanklik merendeels informeel en slegs onder Blankes, aangesien ons werk nog nie in Kenia wetlik erken was nie. Die uitdaging onder hierdie omstandighede was inderdaad groot. Ons moes so baie mense met die goeie nuus bereik en daar was so min mense om dit te doen! ’n Fondament is nietemin vir groter uitbreiding gelê. Wat ’n heuglike dag was dit tog in 1962 toe ons volle erkenning en aanvaarding as ’n Bybelvereniging ontvang het! Danksy hierdie nuwe vryheid kon ons van huis tot huis gaan en vir die plaaslike Swart mense getuig.

Ons het dus begin, baie opgewonde en met beperkte, gememoriseerde Swahili-prekies. Die mense se reaksie het ons werklik met geesdrif vervul. Ons het talle nuwe Bybelstudies begin, en die mense was so gretig om te leer! Maar die toestande was baie anders as waaraan ek gewoond was, en ek kan onthou dat ek gedink het: ,Ag, hoe nodig het mense tog die lewegewende boodskap van die waarheid!’

Die mense se gasvryheid was veral innemend. Ek kan nie onthou hoeveel koppies tee ons gedrink het nie. En nou en dan het ’n vonkie belangstelling vlam gevat, en die waardering wat die nuwelinge vir die waarheid getoon het, was vir ons almal ’n groot aansporing om met ons werk voort te gaan.

Eensaam?

Was ek eensaam as ’n ongetroude persoon wat so ver van die huis af was? Nie regtig nie. Daar was so baie vriende en so baie werk! Ons het dinge saam gedoen, mekaar besoek en besig gebly. Ek het geleenthede gehad om te trou, maar ek het net nooit so ver gekom nie. Ek het eerder die ekstra vryheid en beweeglikheid van die ongetroude lewe gebruik om besig te bly in die bediening, en dit verskaf my groot geluk. Wanneer ek herbesoeke by belangstellende gesinne doen, het ek weliswaar al gedink: ,Wel, ek veronderstel ’n man het sy nut!’ Aangesien sekere gesinne my liefdevol saamgenooi het wanneer hulle iets gedoen het, was ek selde op my eie. Hier in Kenia het ek ’n geestelike gesin wat bestaan uit ’n stuk of 15 verskillendes wat ek bevoorreg was om te help sodat hulle hulle kan toewy en laat doop. As ek nou na die gemeente kyk, sien ek hoedat een van hierdie persone en haar vyf kinders ook die goeie nuus verkondig. Dit maak beslis al die opoffering en inspanning die moeite werd. Hierdie nuwelinge, tesame met my dierbare geestelike broers en susters, vul my lewe in so ’n mate dat daar altyd iets is om te doen en nie te veel tyd vir eensaamheid is nie.

Die werk verbied! Moet ek bly of gaan?

Wat ’n skok! Dit was soos ’n donderslag uit ’n helder hemel toe ons een oggend wakker word om te vind dat ons werk heeltemal verbied is. Geen predikingswerk of groot samekomste is toegelaat nie. Sendelinge is weldra verban, en lektuur is verbied. Die toekoms het baie onseker gelyk. Wat moes ek doen? Ek het ’n broer by die Wagtoringgenootskap se takkantoor gaan spreek. Hy was self besig om te pak. „Moet ek gaan of moet ek bly?” het ek gevra. Hy het geantwoord: „As jy kan, moet jy liewer bly. Jy kan dalk nog help.” ,Wel’, het ek gedink, ,ek het gekom om die mense te dien en die goeie nuus te verkondig na die beste van my vermoë, en vir my is dit nog moontlik.’ Ek het dus aangebly. Maar ek het ’n groot leemte ervaar toe ek vir die sendelinge by die lughawe tot siens gewaai het! So baie goeie vriende en metgeselle is almal op een slag weg! Ek het hulle baie gemis en mis hulle steeds.

Wanneer ek terugkyk, is ek baie dankbaar dat ek die inisiatief geneem en vriende gemaak het met die plaaslike broers en ander wat agtergebly het! As ek dit nie gedoen het nie, sou ek heeltemal op my eie gewees het. Saam het ons die storm deurstaan. En hoe opgewonde en verlig was ons net ’n paar maande later toe sake opgeklaar, die verbod opgehef en ons werk weer wetlik erken is!

Meer hulp het geleidelik opgedaag. Hoe het dit ons almal en die werk tog nie gehelp nie! Hoe bly het dit ons tog gemaak om te sien hoe die werk vooruitgaan! Toe ek in Kenia aangekom het, was daar slegs nagenoeg 30 broers en belangstellendes wat gesukkel het om die lig van waarheid na die mense te neem. Nou het ons sowat 3 000 Koninkryksverkondigers en ruim 4 000 Bybelstudies in die land. Ek het voorheen almal by ons klein byeenkomste geken. Maar as ek deesdae na die groot, kleurvolle en stampvol stadions kyk, is dit onmoontlik. Ek onthou ook die eerste takkantoortjie. In plaas van ’n kantoortjie met twee vertrekke het ons ’n pragtige nuwe takkantoor en drukkery.

Jehovah se hulp altyd duidelik

Ek het onlangs probleme met my oë begin ondervind, en dit sou duur operasies verg. Dit sou my reeds kwynende middele nog verder verminder het. Ek moes weer eens besluit of ek na Kanada sou terugkeer of in my pioniertoewysing sou probeer aanbly. Ek het hierdie probleem ’n saak van gebed gemaak. Jy kan jou dus my opgewondenheid voorstel toe ek hoor dat die Kanadese regering juis besig was om die wette te verander sodat burgers ’n pensioen kon ontvang al woon hulle nie in Kanada nie. Jehovah het my die uitweg getoon, en ek was verheug, want ek het Kenia my tuiste gemaak en wou regtig graag aanbly.

My verhouding met Jehovah het oor die jare heen verdiep. As ’n ongetroude vrou in ’n Afrikaland het ek hom as ’n Beskermer leer ken. Hy onderhou ons ook, want op 77 doen ek steeds pionierdiens, iets wat ek nou al die afgelope 27 jaar doen. Ek het ook geleer om te bly by wat reg is wanneer probleme ontstaan. Dinge verander altyd later; hulle bly nie dieselfde nie. En hoe bly is jy dan dat jy getrou gebly het! Wat my betref, hoop ek om Jehovah solank as ek kan as ’n gelukkige pionier te dien.

„Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp,

wie se hoop is op die HERE sy God,

wat hemel en aarde gemaak het,

die see en alles wat daarin is;

wat trou bly tot in ewigheid”

​—PSALM 146:5, 6.

[Prent op bladsy 25]

‘Die reaksie op ons Swahili-prekies het ons met geesdrif vervul’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel