Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 6/1 bl. 19-23
  • Jehovah tree lojaal op

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah tree lojaal op
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My doellose jong dae
  • ’n Nuwe lojaliteit
  • Die voltydse bediening in Engeland
  • ’n Uitgebreide bediening in Afrika
  • Terug Afrika toe
  • Nuwe omstandighede in Engeland
  • Vertroue in Jehovah bring geluk mee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Ongetroud en gelukkig as ’n pionier
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • ’n Sendingtoewysing word ons tuiste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 6/1 bl. 19-23

Jehovah tree lojaal op

SOOS VERTEL DEUR PETER PALLISER

Dit was Desember 1985. Ons het al hoe meer opgewonde geraak namate ons vliegtuig gereed gemaak het om op die internasionale lughawe in Nairobi, Kenia, te land. Terwyl ons deur die stad gery het, het bekende plekke en geluide herinneringe opgewek.

ONS het Kenia toe gekom om die “Handhawers van onkreukbaarheid”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies by te woon. Twaalf jaar tevore was ek en my vrou verplig om Kenia te verlaat weens ’n verbod op ons predikingswerk. Ons het daar in die Bethel, die naam vir die takkantore van Jehovah se Getuies, gewoon. Wat ’n aangename verrassing het op ons gewag toe ons teruggegaan het om dit te besoek!

’n Jong Getuie vir wie ons geken het vandat sy twee jaar oud was, het gehelp om die middagete by Bethel voor te berei. Ten minste ses lede van die Bethelgesin was persone wat ons geken het toe hulle nog kinders was. Wat ’n vreugde was dit tog om hulle nou as jong volwassenes te sien, tesame met hulle gesinne, almal steeds bedrywig in die bediening! Ons God, Jehovah, het vir hulle gesorg, in ooreenstemming met die Bybel se belofte: “Teenoor iemand wat lojaal is, sal u lojaal optree” (2 Samuel 22:26, NW). Watter teenstelling het ek tog gevind tussen my jong dae en die lonende lewe wat hierdie jongmense gelei het!

My doellose jong dae

Ek is op 14 Augustus 1918 in Scarborough, Engeland, gebore. Twee jaar later het my ma en stiefsuster na Kanada verhuis, en ek het dus die volgende drie jaar by my pa, sy ma en sy suster gewoon. Toe ek vyf was, het my ma my ontvoer en my na Montreal, Kanada, geneem. Vier jaar later het sy my na Engeland teruggestuur om by my pa te woon en skool te gaan.

My ma en stiefsuster het omtrent elke ses maande vir my geskryf. Aan die einde van hulle briewe het hulle die wens uitgespreek dat ek ’n goeie burger sal wees, lojaal aan die Koning en my vaderland. Die briewe wat ek teruggeskryf het, het hulle seker teleurgestel, want ek het geskryf dat ek geglo het nasionalisme en oorlog is verkeerd. Maar aangesien ek geen duidelike riglyne gehad het nie, het ek gedurende my tienerjare doelloos gelewe.

Toe, in Julie 1939, ses weke voor die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, is ek deur die Britse leër opgeroep. Ek was maar 20. My regiment is spoedig na noordelike Frankryk gestuur. Toe Duitse vliegtuie ons aangeval het, het ons groep jong manne ons gewere op hulle gerig en na hulle geskiet. Dit was ’n angswekkende lewe. Ons het gewyk voor die Duitse leër in aantog, en ek was onder diegene wat gedurende die eerste week van Junie 1940 van Duinkerken ontruim is. Ek dink nou nog met afgryse aan die toneel van die lyke van ’n hele bataljon wat oor die strand versprei gelê het. Ek het daardie nagmerrie oorleef en aan boord van ’n klein vragskip in Harwich in die ooste van Engeland aangekom.

Die daaropvolgende jaar, in Maart 1941, is ek na Indië gestuur. Daar het ek opleiding as ’n instrumentwerktuigkundige ontvang. Nadat ek ’n tyd lank weens ’n infeksie in die hospitaal was, is ek na ’n leëreenheid in Delhi, Indië se hoofstad, oorgeplaas. Ver van die huis af en nog nie heeltemal gesond nie, het ek oor die toekoms begin dink. Ek het veral begin wonder wat met ons gebeur wanneer ons sterf.

’n Nuwe lojaliteit

’n Mede-Engelsman, Bert Gale, was my kamermaat in Delhi. Eendag het hy gesê dat “godsdiens van die Duiwel is”, ’n opmerking wat my belangstelling gewek het. Sy vrou het een van Jehovah se Getuies geword, en sy het van tyd tot tyd vir hom Bybelpublikasies gestuur. Een hiervan, die boekie Hoop, het my geïnteresseer. Die bespreking daarin van die hoop op ’n opstanding het my ’n ware gevoel van kalmte gegee.

Op die een of ander tyd vroeg in 1943 het Bert met ’n Engels-Indiese burgerlike, Teddy Grubert, gesels wat saam met ons op die militêre basis gewerk het. Tot ons verbasing het ons uitgevind dat Teddy ’n Getuie is. Hoewel ’n verbod in 1941 op die publikasies van Jehovah se Getuies geplaas is, het hy ons na die vergaderinge van die Getuies in Delhi geneem. In daardie klein gemeente het ek vir die eerste keer in my lewe opregte, hartlike samesyn gevind. Basil Tsatos, ’n ouer Christenbroer van Griekeland, het my onder sy vlerke geneem en my vrae beantwoord. Hy het duidelike Bybelantwoorde verskaf op vrae oor waarom ons oud word en sterf, die opstanding en God se beloofde nuwe wêreld van regverdigheid.—Handelinge 24:15; Romeine 5:12; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.

Die boekie Peace—Can It Last?, uitgegee in 1942, het veral my belangstelling gewek. Dit het die Volkebond as die “skarlakenkleurige wilde dier” geïdentifiseer (Openbaring 17:3). Waar dit hoofstuk 17, vers 11, van Openbaring aangehaal het, het die boekie gesê: “Daar kan nou gesê word dat die Volkebond ‘was, en nie is nie’.” Dit het voorts gesê: “Die vereniging van wêreldse nasies sal weer verrys.” Dit is presies wat in 1945, meer as drie jaar later, gebeur het toe die Verenigde Nasies gestig is!

Gedurende die verbod op die Getuies se lektuur was ek in staat om my nuutgevonde vriende te help. Wanneer ’n karton met die boekies Peace—Can It Last? gekom het, het die gemeente dit vir my gegee om te bewaar. Wie sou daaraan dink om in die militêre kamp na lektuur te soek wat verbied is? Elke keer wanneer ek die vergaderinge bygewoon het, het ek ’n paar boekies saamgeneem sodat die broers ’n voorraad kon hê. Ek het selfs hulle persoonlike Bybellektuur versteek wanneer hulle gevrees het dat hulle huise deursoek gaan word. Uiteindelik, op 11 Desember 1944, is die verbod opgehef.

My lojaliteit teenoor Christelike leringe is op die proef gestel gedurende die Kersvierings van 1943 wat vir ons leërafdeling gereël is. Ek het geweier om deel te neem, aangesien ek geleer het dat Jesus nie in die koue van Desember gebore is nie en dat vroeë Christene nie Kersfees gevier het nie.—Vergelyk Lukas 2:8-12.

Toe die “Verenigde aankondigers”-byeenkoms in Jubbulpore (Jabalpoer) van 27 tot 31 Desember 1944 gehou is, was ek een van die ongeveer 150 wat dit bygewoon het. Baie byeenkomsgangers het per trein van Delhi af gereis, ’n rit van meer as 600 kilometer. Ek sal nooit die wonderlike atmosfeer by daardie opelugbyeenkomsterrein vergeet nie, waar ek Jehovah se organisasie in aksie gesien het.

Die byeenkomsgangers is in skoolslaapsale gehuisves, waar ons Koninkryksliedere gesing en aangename Christenassosiasie geniet het. Gedurende daardie streekbyeenkoms het ek aan die openbare predikingswerk begin deelneem, ’n werk wat my sedertdien na aan die hart gelê het.

Die voltydse bediening in Engeland

Ek het in 1946 na Engeland teruggekeer en het kort daarna met die Wolverton-gemeente begin assosieer. Hoewel ons net omtrent tien Koninkryksverkondigers gehad het, het hulle my tuis laat voel, en ek het dieselfde tevredenheid ervaar wat ek onder my broers in Indië gehad het. In die gemeente het Vera Clifton my opgeval as ’n opregte, hartlike persoon. Toe ek uitvind dat sy my begeerte deel om ’n pionier, soos voltydse bedienaars genoem word, te wees, is ons op 24 Mei 1947 getroud. Ek het ’n karavaan reggemaak, en ons het die daaropvolgende jaar ons eerste pioniertoewysing ontvang, die plattelandse dorp Huntingdon.

In daardie dae het ons vroegoggend op ons fietse na die landelike gebied gery. Ons vol dag van predikingswerk is onderbreek deur ’n kort pouse in die middag om toebroodjies te eet. Ongeag hoe sterk die teenwinde was of hoe swaar die reën was waardeur ons met ons fietse huis toe moes ry, ons was gelukkig en tevrede in die Here se werk.

Ná verloop van tyd het ons die begeerte gehad om ons bediening uit te brei en om die “goeie nuus” aan mense van ander lande te verkondig (Matteus 24:14). Ons het dus aansoek gedoen om die Gileadsendingskool in South Lansing, New York, VSA, by te woon. Ons is eindelik vir die 26ste klas van Gilead aanvaar en het in Februarie 1956 gegradueer.

’n Uitgebreide bediening in Afrika

Ons sendingtoewysing was Noord-Rhodesië (nou Zambië) in Afrika. Kort ná ons aankoms is ons gevra om by die Bethel in daardie land te dien. As deel van my Bethelwerk het ek na korrespondensie met Oos-Afrika omgesien. In 1956 het Kenia—een van hierdie lande in Oos-Afrika—net vier Getuies gehad, terwyl daar meer as 24 000 in Noord-Rhodesië was. Ek en Vera het begin dink hoe goed dit sou wees om te dien waar daar meer hulp nodig is.

Toe het ek onverwags nog ’n uitnodiging na die Gileadskool ontvang, hierdie keer vir ’n kursus van tien maande vir opsieners. Ek het Vera in Noord-Rhodesië agtergelaat en na New York-stad vertrek, waar die Gileadskool op daardie stadium gehou is. Nadat ek in November 1962 die kursus voltooi het, is ek na Kenia gestuur om ’n takkantoor daar te vestig. Teen dié tyd het Kenia meer as honderd Getuies gehad.

Met my terugkeer na Noord-Rhodesië om Vera te ontmoet, was ek veronderstel om ’n vlugtige besoek aan Nairobi, Kenia, te bring. Maar toe ek daar aankom, het Bill Nisbet, ’n Gileadgegradueerde van die 25ste klas, my ontmoet met die nuus dat daar ’n geleentheid was om amptelike toestemming te kry om onmiddellik in Kenia in te gaan. Ons het na die immigrasie-owerheid gegaan, en binne ’n paar minute het ek ’n werkspermit vir vyf jaar gekry. Ek het dus in werklikheid nooit na Noord-Rhodesië teruggekeer nie; Vera het eerder by my in Nairobi aangesluit.

Ná ’n informele kursus in die Swahili-taal, het ons die klein Nairobi-gemeente in die bediening vergesel. Soms, nadat ons ons Swahili-aanbieding gelees het, het die huisbewoner uitgeroep: “Ek verstaan nie Engels nie!” Ons het ten spyte hiervan aangehou en geleidelik die taalprobleem oorkom.

Ons gebied het groot woonkomplekse ingesluit met Bybelname soos Jerusalem en Jerigo. Belangstelling is gou verder ontwikkel en uit hierdie gebiede het baie nuwe Koninkryksverkondigers gekom. Wat ’n wonderlike uitwerking het Bybelwaarhede op hierdie mense gehad! Gevoelens van stamtrots het verdwyn namate lojaliteit teenoor die Koninkryk eenheid onder Jehovah se volk meegebring het. Huwelike tussen lede van verskillende stamme het selfs plaasgevind, iets uiters ongewoon onder mense wat nie Getuies is nie.

Nuwe Koninkryksverkondigers het die waarheid met ywer aangeneem. Samson was byvoorbeeld so gretig dat Bybelwaarheid in sy tuisgebied versprei moes word dat hy aanhou vra het dat pioniers daarheen gestuur word. Trouens, hy het by sy huis in die Ukambani-gebied laat aanbou om huisvesting vir hulle te verskaf. Weldra is ’n nuwe gemeente van Koninkryksverkondigers daar gestig.

Ek het ons broers in Etiopië, Oos-Afrika, etlike kere besoek. Hulle het gemiddeld oor die 20 uur per maand in die bediening deurgebring, ondanks gevangenemings, slae en die feit dat hulle gedurig dopgehou is. Eenkeer het Etiopiese broers en susters in twee busse ’n week lank, en oor gevaarlike bergpasse, gereis om ’n streekbyeenkoms in Kenia by te woon. Die vindingrykheid waarmee hulle gereël het om Koninkrykslektuur in hulle land beskikbaar te kry, was merkwaardig. Ons in Kenia was verheug om hulle van voorraad te voorsien.

In 1973 is ’n amptelike verbod op ons werk in Kenia ingestel, en die sendelinge is gedwing om die land te verlaat. Teen daardie tyd het ons meer as 1200 Getuies in Kenia gehad, en baie van hulle was by die lughawe om vir ons ’n onvergeetlike afskeid te gee. Hulle teenwoordigheid het daartoe gelei dat ’n medereisiger wou weet of ons beroemde persone van die een of ander aard was. Ek en Vera het na Engeland teruggekeer en het ’n toewysing daar gekry, maar ons het verlang om terug te gaan Afrika toe.

Terug Afrika toe

’n Paar maande later het ons dus ons nuwe toewysing na die Bethel in Accra, die hoofstad van Ghana, ’n land in Wes-Afrika, gekry. Hier het een van my toewysings my regstreeks te doen laat kry met die moeilike omstandighede waarmee ons broers daar te kampe gehad het. Terwyl ek die aankope van voedsel en voorraad vir die Bethelgesin gedoen het, was ek verbaas oor die buitensporige pryse van voedsel. ’n Mens kon dikwels net nie die artikels koop wat jy nodig gehad het nie. Petroltekorte en die skaarste aan onderdele het bykomende probleme veroorsaak.

Ek het die belangrikheid van geduld begin leer, iets wat ons broers in Ghana aangekweek het. Dit was so bemoedigend om te sien hoe hulle ’n blymoedige gesindheid behou het terwyl hulle die versoeking weerstaan het om lewensbenodigdhede deur omkopery te bekom. Gevolglik het Jehovah se Getuies in Ghana bekend geword vir hulle eerlikheid, en hulle het ’n goeie naam by baie amptenare verkry.

Maar ten spyte van materiële tekorte was daar toenemende geestelike voorspoed. Regdeur die land kon ons Bybelpublikasies in feitlik elke huis gevind word. En ons het gesien hoe die getal Koninkryksverkondigers in Ghana styg van 17 156 in 1973 toe ons daar aangekom het tot meer as 23 000 in 1981. In daardie jaar het my probleem met velkanker, wat ongetwyfeld vererger is deur die jarelange blootstelling aan die son in Indië en Afrika, ons genoodsaak om Ghana te verlaat en na Engeland terug te keer om gereelde behandeling te ontvang.

Nuwe omstandighede in Engeland

Ons terugkeer het vir my ’n geweldige aanpassing in my bediening beteken. Ek was so gewoond daaraan om vryelik met mense te gesels wat eerbied vir God en die Bybel het. Maar in Londen vind ek selde so ’n gesindheid. Ek verwonder my oor die volharding van die broers in Brittanje. Dit het my laat besef hoe belangrik dit is om meer empatie te ontwikkel vir die mense wat geestelik “gestroop en rondgegooi” is.—Matteus 9:36.

Nadat ons van Afrika af teruggekom het, het ek en Vera saam by die Londense Bethel gedien tot haar dood in September 1991 op die ouderdom van 73. Dit was nie maklik om so ’n getroue maat te verloor wat soveel jare lank sy aan sy met my in die bediening gearbei het nie. Ek mis haar geweldig. Maar ek waardeer die goeie ondersteuning wat ek van ons Bethelgesin van omtrent 250 lede ontvang.

Ek ag dit werklik ’n voorreg om die voorwaartse beweging van Jehovah se organisasie te ondervind en om te sien hoe soveel die voltydse bediening hulle lewenswyse maak. Ek kan julle daarvan verseker dat daar geen beter lewenswyse as dit is nie, want “Jehovah . . . sal sy lojales nie verlaat nie”.—Psalm 37:28, NW.

[Prent op bladsy 23]

Ons het van 1947 tot 1955 as pioniers in Engeland gedien

[Prent op bladsy 23]

My eerste keer in die bediening tydens ’n streekbyeenkoms in Indië

[Prent op bladsy 23]

Toe ons sendelinge in Noord-Rhodesië was

[Prent op bladsy 23]

In 1985, saam met vriende wat ons 12 jaar lank nie gesien het nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel