Adam en Eva—Mite of werklikheid?
“IS DIT nie ’n skreiende weerspreking van die Bybel om te sê dat Adam en Eva van die diereryk afstam nie?” Hierdie vraag, wat die Rooms-Katolieke dagblad La Croix geopper het, stel die probleem waarmee talle Christene te doen het in ’n paar woorde. Hulle wonder waaroor die Christelike geloof gaan as die skepping bevraagteken word.
Ten einde die betrokke probleme beter te verstaan, sal ons moet kyk wat die Bybel oor sonde en die dood sê. Ons sal eerstens moet teruggaan na die verslag oor wat in die tuin van Eden gebeur het.
Sonde en die losprys
Genesis hoofstuk 2 sê dat God die eerste man ’n gebod gegee het. Hy moes nie van ’n sekere boom, naamlik “die boom van die kennis van goed en kwaad”, eet nie (Genesis 2:17). Soos The Jerusalem Bible in ’n voetnoot verduidelik, het die mens, toe hy God se gebod oortree het, hom ’n reg toegeëien wat nie aan hom behoort het nie, “die vermoë om vir homself te besluit wat goed en wat kwaad is en om dienooreenkomstig op te tree, ’n aanspraak op volkome morele onafhanklikheid waardeur die mens weier om sy status as ’n geskapene te erken”.
Deur God se wet te verbreek, het Adam gesondig en onvolmaaktheid oor die mensdom gebring, wat tot die dood gelei het soos God voorspel het. Aangesien hulle hulle volmaaktheid verloor het, kon die eerste mensepaar slegs onvolmaaktheid aan hulle kinders oordra. Al Adam en Eva se nakomelinge—met ander woorde, die hele mensdom—sou vir die dood bestem wees.—Genesis 3:6; Psalm 51:7; Romeine 5:14, 18, 19.
Hoe kon die mensdom ooit weer hoop om die ewige lewe te hê wat Adam verbeur het? Die beginsel van “lewe vir lewe”, soos uiteengesit in God se Wet wat deur Moses gegee is, het getoon wat vereis is: ’n volmaakte lewe moes geoffer word vir die volmaakte lewe wat Adam verloor het (Deuteronomium 19:21). Jesus, die hoeksteen van die Christelike geloof, het ten volle hieraan voldoen. Daar Jesus sondeloos en volmaak was, kon slegs hy ’n volmaakte lewe as “’n ooreenstemmende losprys vir almal” opoffer (1 Timotheüs 2:5, 6, NW). Christus het getoon dat dit een van die vernaamste redes vir sy koms aarde toe was toe hy gesê het: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”—Mattheüs 20:28.
Hierdie selfde vereiste—naamlik dat die losprys geoffer moet word deur iemand hoër as onvolmaakte mense—word ook duidelik in Psalm 49:8 gestel waar ons omtrent die mens se lot lees: “Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie.” Waarom kan niemand ooit “’n broer loskoop” nie? Bloot omdat geen onvolmaakte lewe ooit kan vergoed vir die volmaakte lewe wat Adam verloor het nie.
Twee gewigtige bewysstukke
Deur te ondersoek wat die apostel Paulus en Christus self oor die onderwerp gesê het, kan ons vir onsself besluit of die verslag oor Adam en Eva simbolies is en of hulle werklik bestaan het of nie.
Die apostel Paulus trek ’n parallel tussen die rol wat Adam gespeel het en die een wat Jesus gespeel het en verduidelik: “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood . . . Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer” (Romeine 5:12, 17, NAV). Hy stel hierdie selfde punt in een van sy ander briewe waar hy Jesus “die laaste Adam” noem, en sodoende toon dat slegs Jesus kon loskoop wat Adam verloor het. Na sy opstanding tot ’n geestelewe in die hemele kon Jesus dan “’n lewendmakende Gees” word ten behoewe van almal wat gered word (1 Korinthiërs 15:45). Maar watter grondslag sou die apostel Paulus se argument hê as Adam net ’n simbool van die mens of ’n “kollektiewe wese” was, soos ’n voetnoot in die Franse Traduction Œcuménique de la Bible (Ekumeniese vertaling van die Bybel) dit stel?
Maar Christus self het die belangrikste getuienis omtrent die egtheid van die Genesisverslag oor Adam en Eva gelewer deur daarna te verwys toe die godsdiensleiers van sy dag hom ondervra het. Hy het gesê: “Het julle nie [in Genesis] gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees . . . ? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Mattheüs 19:4-6). Kan ons ons voorstel dat Jesus sy leer omtrent die heiligheid van die huwelik op iets sou baseer wat denkbeeldig of mitologies was?
Die wysheid van die wêreld of die wysheid van God?
Die Franse Jesuïetepriester Teilhard de Chardin het een van die grootste veranderinge in Katolieke denkwyse meegebring. Hy het evolusie beskou as geleidelike vooruitgang tot ’n geestelike bestaan. Volgens sy teorie evolueer lewensvorme en gaan hulle deur die diere- en mensestadium, daar hulle uiteindelik bestem is om verenig te word by ’n Omega-brandpunt—Christus. Hoewel die teorie aanvanklik deur die kerk veroordeel is, het talle Katolieke geestelikes dit goedgekeur. Maar dit was duidelik strydig met Skriftuurlike getuienis en het oneer op God gebring, aangesien dit die nodigheid van die losprys vir mense om volmaakte menselewe te herwin, verloën het.
Hierdie pseudowetenskaplike teorie het uiters ernstige gevolge vir die kerk gehad. Jean Rondot het in die boek (L’épopée des adamites (Die epos van die Adamiete) verduidelik: “Alle sedisieuse of opstandige tendense in die Kerk, van geestelikes sowel as leke, het letterlik in die kloof ingestroom wat Teilhard geopen het. Waarom sou hulle nie, noudat ’n mate van vryheid in Skrifvertolking toegelaat is (al het dit beteken dat die gees van die teks verander is), die geleentheid ten beste benut en ’n nuwe godsdiens volgens persoonlike smaak skep nie?”
Die vrugte van hierdie tendens is vandag veral opmerklik. In 1980 het ’n meningspeiling wat georganiseer is deur ’n belangrike Franse instituut getoon dat slegs 40 persent van Franse Katolieke in Adam en Eva en die eerste sonde glo. Twyfel besmet ook ander ewe belangrike gebiede, aangesien slegs 59 persent van Katolieke in Frankryk nou in die fundamentele Christenleerstelling van die opstanding van Jesus Christus glo.
In plaas daarvan om getrou by Skrifleerstelling te hou, het die verskillende kerke wat die evolusieteorie aanvaar het, getoon dat hulle bowenal gewilde, heersende filosofieë wil aanneem. Paulus het die vroeë Christene teen sulke denke gewaarsku. Hy het die Korinthiërs daaraan herinner dat die Christelike geloof niks gemeen het met die idees of filosofieë wat in sy dag in swang was nie. Hy het geskryf: “Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? . . . want die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, . . . dwaasheid vir die Grieke.”—1 Korinthiërs 1:20-23.
Vandag kan die strewe na sulke “wysheid van hierdie wêreld” die mens eweneens nie tot kennis van God of die verkryging van Sy goedkeuring lei nie. (Vergelyk Johannes 17:3.) Redding wat tot die ewige lewe lei, is beskikbaar vir almal wat Christus se offer, die losprys wat hy betaal het om die volmaakte lewe terug te koop wat Adam verloor het, ten volle aanvaar. Dit is slegs op grond van hierdie offerande dat mense God kan nader en vergifnis vir hulle sondes kan ontvang. Die apostel Petrus was vas oortuig hiervan toe hy vir godsdiensleiers wat in Jerusalem vergader was, gesê het: “Die saligheid is in niemand anders [behalwe Jesus] nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”—Handelinge 4:12.
Honderdduisende mense het reeds hulle vertroue in hierdie “lewendmakende Gees” gestel. Hulle sien gretig uit na die nabye toekoms wanneer die Paradys op aarde herstel sal wees en hulle die hoop sal kan verwesenlik wat Adam verloor het, naamlik om vir ewig op aarde te lewe. As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy hierdie lewensbelangrike Bybelkennis verkry deur gratis saam met Jehovah se Getuies te studeer en deur hulle Christenvergaderinge by te woon. Jy sal sodoende leer wat nodig is om een van Jesus se dissipels te word. En jy kan deur hom, “die laaste Adam”, wonderlike seëninge van God ontvang.—1 Korinthiërs 15:45; Openbaring 21:3, 4.
[Prent op bladsy 6]
Jesus was gelyk aan die volmaakte Adam