Biskoppe—heersers of dienaars?
THOMAS WOLSEY is in 1475 in Ipswich, Engeland, gebore. Hy het in 1498 ’n priester geword, en koning Hendrik VIII het hom begunstig. Hy het vinnig opgang gemaak. Hy is in 1514 as biskop van Lincoln aangestel, ’n paar maande later as aartsbiskop van York, in 1515 as kardinaal en net drie jaar later as pouslike gesant. Daarbenewens het die koning hom Voorsitter van die Hoërhuis gemaak. Gevolglik het hy Engeland van 1515 tot 1529 feitlik geregeer. Kardinaal Wolsey was tipies van talle geestelikes wat mag uitgeoefen het as sekulêre sowel as geestelike “heersers”.
In die eerste eeu G.J. het ’n ander soort “biskop” gedien. Timotheüs was die seun van ’n Griek, hoewel sy moeder Eunice en grootmoeder Loïs Jodinne was. Hulle het hom liefdevol in die Christelike godsdiens grootgemaak. Omstreeks 50 G.J. het Timotheüs, terwyl hy nog ’n jongman was, die geleentheid aangegryp om by die apostel Paulus aan te sluit en ’n sendeling te word. Na jare se opleiding het hy ’n Christenopsiener, of e·piʹsko·pos (waarvan die woord “biskop” afgelei is), geword, en hy was baie bemind vir sy onselfsugtige toewyding. Paulus het geskryf: “Hy [het], soos ’n kind teenoor sy vader, saam met my in die evangelie gedien.”—Filippense 2:22.
Thomas die heerser, Timotheüs die dienaar—wie het die regte voorbeeld gestel vir ware Christelike “biskoppe”, of opsieners?
Die patroon vir ’n Christenopsiener
Die Stigter en enigste Hoof van die ware Christelike godsdiens, Jesus Christus, het ’n basiese patroon vir opsieners gegee toe hy gesê het: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie . . . elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”—Mattheüs 20:25-28; ons kursiveer.
Petrus, een van die eerste Christenopsieners, het die bogemelde patroon bevestig deur Christen- ouere manne te beveel: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:2, 3). Petrus se woorde en dade het ooreengestem. Toe hy Cornelius besoek het, die eerste nie-Jood wat ’n Christen geword het, het laasgenoemde “aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ’n mens.”—Handelinge 10:25, 26.
Dit is interessant dat Petrus sy woorde in 1 Petrus 5:1 aan die “ouderlinge”, of ouere manne, gerig het. Die Griekse woord wat Petrus vir “ouderlinge” gebruik het, was pre·sby·teʹrous, waarvan die woord “priester” afgelei is. In die Christendom word “biskoppe” nou hoër as “priesters” geag. Maar toe die apostel Paulus ‘na Efese gestuur en die ouderlinge [pre·sby·teʹrous] van die gemeente laat roep het’, het hy onder meer vir hulle gesê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners [e-pi-sko’pous] aangestel het” (Handelinge 20:17, 28). Ouere manne (pre·sby·teʹrous) en opsieners (e·piʹsko·pos) het dus in Bybeltye dieselfde rang beklee. Die term “ouderling” beklemtoon die ondervinding en geestelike rypheid wat nodig is vir diegene wat hierdie verantwoordelikheid aanvaar, terwyl die term “opsiener” die soort werk beskryf wat hulle doen om toesig te hou en om te sien na die gemeentelede.
Maar het een man in Bybeltye as “opsiener”, of “ouere man”, oor ’n gemeente geheers? Nie volgens wat die Bybel in Titus 1:5, 7 sê nie. Daar is Titus aangesê om ‘van stad tot stad ouderlinge [pre·sby·teʹrous] aan te stel’. Volgens The Jerusalem Bible lui hierdie vers: “En stel ouderlinge in elke dorp aan” met ’n voetnoot wat sê: “In die vroegste tye is elke Christengemeenskap deur ’n liggaam ouderlinge gelei.”—Ons kursiveer.
Timotheüs is ook aangesê om opsieners in talle gemeentes aan te stel. Volgens die King James Version het Paulus aan hom geskryf: “As ’n man na die amp van ’n biskop [e·piʹsko·pos] verlang, begeer hy ’n goeie werk” (1 Timotheüs 3:1). The Jerusalem Bible gee dit soos volg weer: “As iemand graag ’n presiderende ouderling wil wees, begeer hy ’n voortreflike werk.” Dit voeg by in ’n voetnoot: “Die woord ‘e·piʹsko·pos’”, wat hier deur Paulus gebruik is, “het nog nie dieselfde betekenis as ‘biskop’ aangeneem nie.” (Ons kursiveer.) Katolieke geleerdes erken derhalwe dat die heersende biskoppe van die Christendom nie dieselfde is as die nederige opsieners van die vroeë Christene nie. Soos The New Bible Dictionary sê: “Daar is geen spoor van heerskappy deur ’n enkele biskop in die Nuwe Testament nie.” Elmer T. Merrill, M.A., LL.D, sê eweneens in sy boek Essays in Early Christian History: “Gedurende die eerste honderd jaar . . . was die biskop hoogstens slegs die beskeie voorsitter van ’n raad [georganiseerde liggaam] van medepresbiters [ouere manne].”
Voldoen die Christendom se biskoppe aan Skriftuurlike vereistes?
Toe hy aan Titus geskryf het, het die apostel Paulus gesê dat ’n opsiener “onberispelik” moet wees (Titus 1:6). Was kardinaal Wolsey “onberispelik”? Die Encyclopcedia Britannica sê hy was “onkuis—hy het ’n buite-egtelike seun en dogter gehad”. Hy was nie die enigste een nie. Deur die eeue heen was talle priesters en biskoppe net so skuldig. Die boek Age of Faith sê: “Teen die negende eeu het geestelike kuisheid en selfs die selibaat ’n bespotting geword.” Een van die 11de-eeuse pouse, Gregorius VII, het erken: “Daar is maar min biskoppe waarvan ek weet wie se aanstellings en lewens ooreenstem met die wette van die Kerk, en wat God se volk deur liefde en nie deur wêreldse ambisie lei nie.”
Paulus het verder geskryf dat ’n Christen- ouere man “geen geldgierige” moet wees nie (1 Timotheüs 3:3). Maar die Encyclopcedia Britannica sê van Wolsey: “Hy was wêrelds, begerig na rykdom” en “het sy groot wêreldlike en kerklike gesag gebruik om rykdom te vergaar wat slegs deur die van die koning oortref is”. Hy het twee paleise gehad, waarvan een, York Place, so weelderig was dat toe Hendrik VIII dit besigtig het, hy “woedend was oor die rykdom daar” en dit oorgeneem het.
Geestelikes gebruik vandag eweneens kerkgelde, kollektes, tiendes en inkomste uit die grond en eiendom om hulleself te verryk (Openbaring 18:7). ’n Biskop in Suid-Afrika, hoof van een van die duisende Swart sektes, het byvoorbeeld onlangs ’n nuwe Buick van R37 000 gekoop. Dit is ondanks die feit dat hy reeds vier luukse-voertuie tot sy beskikking het. Toe daar gevra is wat verkeerd is met een van die ander motors, het ’n kerkbeampte verduidelik: “Dit is ’n goeie motor, maar die biskop het die ekstra bietjie ruimte in die groot Buick nodig.”
Maar hoe kortstondig kan sulke materiële goed tog wees! Thomas Wolsey het nie daarin geslaag om Hendrik VIII se huwelik nietig verklaar te kry nie en het dus in 1529 in onguns geraak. Volgens die geskiedenis het hy toe “in ongenade teruggekeer na sy bisdom van York, wat hy nooit besoek het nie”—in 15 jaar! (Ons kursiveer.) Wolsey het egter nie net in die politiek gefaal nie. Sy grootste tekortkoming was die versuim om die ‘goeie herder, Jesus, wat sy lewe vir die skape aflê’ na te volg.—Johannes 10:11.
In teenstelling hiermee het Timotheüs hom nie met die politiek bemoei nie. Hy was derhalwe “nie van die wêreld” nie (Johannes 15:19). In plaas daarvan om oor ander te heers, het hy so ’n toegewyde dienaar van mede-Christene geword dat Paulus kon skryf: “Ek het niemand anders wat . . . werklik vir julle omgee soos hy nie.”—Filippense 2:20, Die Lewende Bybel.
Hoe dankbaar kan ons wees dat Jehovah vandag eweneens duisende getroue opsieners verwek het wat ‘werklik omgee’ vir die kudde van God. Min van die opsieners in gemeentes van Jehovah se Getuies is welgesteld. Die meeste onderhou hulle gesinne deur sekulêre werk en kom hulle geestelike verpligtinge ná werk na. Die meeste van daardie tyd word daaraan bestee om vir vyf vergaderinge per week voor te berei en dit by te woon; die leiding in die predikingswerk van huis tot huis te gee; Bybelstudies met belangstellendes te hou; die siekes, bejaardes en geestelik swakkes te besoek; en na hulle eie gesinne om te sien. Hulle is baie besige manne, toegewyde “dienaars”, wat geen betaling vir hulle dienste ontvang nie. Inteendeel, hulle dra uit hulle eie sak by tot die instandhouding van die plaaslike Koninkryksaal. Hulle dra geen kenmerkende klere nie, het geen spesiale titels nie en word slegs onderskei deur hulle Bybelkennis, hulle Christelike rypheid en hulle ywer in Jehovah se diens. Sulke manne verdien diepe eerbied en heelhartige samewerking terwyl hulle na die kudde omsien en deur hulle nederige, toegewyde diens toon dat hulle dienaars is—nie heersers nie!