Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 7/15 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoekom ons ander moet groet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Dissipline wat ’n vredevolle vrug kan lewer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Hulp vir dié wat uit die gemeente verwyder word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 7/15 bl. 30-31

Vrae van lesers

◼ Het 2 Johannes 10, wat sê dat sekere mense nie in die huis ontvang of gegroet moet word nie, net betrekking gehad op persone wat ’n valse leer verkondig het?

Volgens die verband het hierdie raad betrekking gehad op die “baie verleiers” wat ingekom het, “die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie” (2 Johannes 7). Die apostel Johannes het aan die Christene van sy dag riglyne verskaf oor hoe hulle iemand moet behandel wat ontken dat Jesus bestaan het of dat hy die Christus en Vrykoper is. Johannes het beveel: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Johannes 10, 11). Maar die Bybel toon elders dat hierdie raad ’n breër toepassing het.

Op een tydstip was daar onder die Christene in Korinthe ’n man wat onsedelik gelewe het, en die apostel Paulus het vir hulle geskryf “om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie”. Met so ’n persoon moes hulle “selfs nie saam eet nie” (1 Korinthiërs 5:11). Maar het dit net gegeld vir voormalige broers wat uitgesit is weens die growwe sondes wat daar genoem word?

Nee. Openbaring 21:8 toon ook dat onberouvolle moordenaars, towenaars en leuenaars ingesluit is onder diegene wat die tweede dood verdien. Die raad in 1 Korinthiërs 5:11 sou eweseer van toepassing wees op voormalige Christene wat aan hierdie sondes skuldig was. Johannes het bowendien van sommige geskryf: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Johannes 2:18, 19). Johannes het nie gesê dat hulle weens growwe sonde uitgesit is nie. Party van hulle het miskien net tou opgegooi en besluit dat hulle nie meer in die gemeente wil wees nie omdat hulle nie met ’n leerstelling saamstem nie. Ander het moontlik moeg geword en uitgesak.​—1 Korinthiërs 15:12; 2 Thessalonicense 2:1-3; Hebreërs 12:3, 5.

As ’n broer op ’n sondige weg begin afdwaal het, sou ryp Christene natuurlik probeer het om hom te help (Galasiërs 6:1; 1 Johannes 5:16). As hy twyfelgedagtes gehad het, sou hulle probeer het om hom “uit die vuur te ruk” (Judas 23). Selfs as hy onbedrywig geword en nie meer vergaderinge bygewoon of aan die openbare bediening deelgeneem het nie, sou die wat geestelik sterk is, probeer het om hom te help. Hy het dalk vir hulle gesê dat dit hom nie meer skeel of hy in die gemeente is of nie, wat toon hoe sy geloof verswak en sy geestelikheid gedaal het. Hulle sou hom nie bly lastig val het nie, maar hulle het moontlik van tyd tot tyd vriendelike besoeke op hom gedoen. Sulke liefdevolle, geduldige, barmhartige pogings sou God se belangstelling weerspieël het, aangesien hy nie wil sien dat enigiemand verlore gaan nie.​—Lukas 15:4-7.

Johannes se woorde toon andersyds dat sommige verder gegaan het as geestelike swakheid en onbedrywigheid; hulle het God se gemeente willens en wetens verwerp. Iemand het moontlik openlik standpunt ingeneem teen God se volk en verklaar dat hy nie langer in die gemeente wil wees nie. Hy het dalk selfs sy voormalige geloof formeel verloën, soos deur ’n brief. Die gemeente sal natuurlik sy besluit om homself te dissosieer, aanvaar het. Maar hoe sou hulle hom daarna behandel het?

Johannes sê: “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie” (2 Johannes 9, 10). Daardie woorde sou beslis gegeld het vir iemand wat afvallig geraak het deur by ’n valse godsdiens aan te sluit of ’n valse leer te verkondig (2 Timotheüs 2:17-19). Maar wat van die wat Johannes gesê “van ons uitgegaan” het? Eerste-eeuse Christene sou geweet het dat hulle nie moet omgaan met ’n uitgesette sondaar of met ’n aktiewe afvallige nie. Het hulle egter soortgelyk opgetree teenoor iemand wat nie uitgesit was nie maar wat moedswillig die Christelike weg verloën het?

Aid to Bible Understanding toon dat die woord “afval” van ’n Griekse woord kom wat letterlik “‘’n wegbeweging van’ beteken, maar die gedagte van ‘verlating, afstanddoening of opstand’ bevat”a Die Aid-boek voeg by: “Onder die talle oorsake van afvalligheid wat in apostoliese waarskuwings gemeld word, is: ongelowigheid (Hebr. 3:12), gebrek aan volharding ten tye van vervolging (Hebr. 10:32-39), die versaking van goeie sedes (2 Pet. 2:15-22), die aanvaarding van die ‘verdigte woorde’ van valse leraars en ‘verleidende geeste’ (. . . 1 Tim.4:1-3) . . . Sulke persone wat moedswillig die Christengemeente verlaat, word sodoende ’n deel van die ‘Antichris’(1 Joh.2:18, 19).”

Iemand wat hom moedswillig en formeel van die gemeente gedissosieer het, sou aan daardie beskrywing voldoen. Deur God se gemeente opsetlik die rug toe te keer en die Christelike weg te verwerp, sou hy homself tot ’n afvallige gemaak het. ’n Lojale Christen sou nie gemeenskap met ’n afvallige wou hê nie. Al was hulle ook vriende, het die afvallige die grondslag vir noue omgang met die broers verwerp toe hy die gemeente verloën en afvallig geword het. Johannes stel dit duidelik dat hy nie iemand in sy huis sou ontvang wat ‘nie God het nie’ en wat nie “van ons is nie”.

Iemand wat God se gemeente verwerp, word in die oë van die Skrif afkeurenswaardiger as die mense van die wêreld. Waarom? Wel, Paulus het getoon dat Christene in die Romeinse wêreld daagliks met hoereerders, gierigaards en afgodedienaars in aanraking gekom het. Tog het hy gesê dat Christene “nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem” maar sy goddelose werke hervat het nie (1 Korinthiërs 5: 9-11, vgl. NAV). Petrus het eweneens gesê dat iemand wat “die besmettinge van die wêreld ontvlug het” maar dan weer in sy ou weë verval soos ’n sog is wat na die modder terugkeer (2 Petrus 2:20-22). Johannes het derhalwe ooreenstemmende raad gegee toe hy gesê het dat Christene iemand wat moedswillig ‘van ons uitgaan’ ‘nie in die huis moet ontvang nie’.—2 Johannes 10.

Johannes het bygevoeg: “Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Johannes 11). Hier het Johannes die Griekse groetwoord khai’ro gebruik, pleks van a·spaʹzo·mai, soos ons in vers 13 aantref.

Khai’ro beteken om bly te wees (Lukas 10:20; Filippense 3:1; 4:4). Dit is ook as ’n groet gebruik, hetsy gesproke of geskrewe (Mattheüs 28:9; Handelinge 15:23; 23:26). A·spaʹzo·mai beteken “om te omvou in die arms, derhalwe om te groet, om te verwelkom’’(Lukas 11:43; Handelinge 20:1, 37; 21:7, 19). Altwee kon as ’n begroeting gebruik word, maar a·spaʹzo·mai het moontlik meer behels as net ’n beleefde “hallo” of “goeiedag”. Jesus het vir die 70 dissipels gesê om niemand te a·spaʹse·sthe nie. Daardeur het hy getoon dat hulle dringende werk nie tyd gelaat het vir die Oosterse groetwyse met soene, omhelsings en lang gesprekke nie (Lukas 10:4). Petrus en Paulus het Christene aangespoor: ‘Groet [a·spaʹse·sthe] mekaar met ’n kus van liefde, of ’n heilige kus.’​—1 Petrus 5:14; 2 Korinthiërs 13:12, 13; 1 Thessalonicense 5:26.

Dit kan dus wees dat Johannes opsetlik khai’ro in 2 Johannes 10, 11 gebruik het in plaas van a·spaʹzo·mai (vers 13). In daardie geval het Johannes Christene nie aangespoor om bloot te sorg dat hulle iemand wat valsheid verkondig of die gemeente verstoot het (afvallig geraak het) nie hartlik groet (met ’n omhelsing, kus en geselsie) nie. Johannes het eerder bedoel dat hulle so ’n persoon nie eens met khai’ro, ’n gewone “goeiedag”, moes groet nieb

Die erns van hierdie raad blyk uit Johannes se woorde: “Die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.” Geen ware Christen sou wou hê dat God hom as ’n deelgenoot in bose werke moet beskou weens sy omgang met ’n uitgesette sondaar of met iemand wat Sy gemeente verwerp het nie. Hoeveel beter sou dit nie wees om gemeenskap te hê met die liefdevolle Christenbroederskap nie, soos Johannes geskryf het: “Wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.”​—1 Johannes 1:3.

[Voetnote]

a Webster’s New Collegiate Dictionary omskryf “afval” soos volg: “1 : verloëning van ’n godsdiens 2 : versaking van ’n vroeëre lojaliteit.”

b R. C. H. Lenski lewer die volgende kommentaar oor die gebruik van khai’ro in 2 Johannes 11: “[Dit] was die gewone groet by ontmoeting of afskeid. . . . Die betekenis hier is: Moenie eens die proselietemaker so groet nie! Dit maak jou alreeds ’n deelgenoot van die bose werke waarvoor hy gekom het. Johannes [bedoel] . . . ’n begroeting van enige aard.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel