Vrae van lesers
▪ Wat is die gepaste reaksie van die gemeente as iemand die ware Christelike geloof verlaat en by ’n ander kerk aansluit?
So iets het soms in die eerste eeu plaasgevind. Dit is dus te begrype dat dit vandag soms gebeur. Wanneer dit gebeur, reageer die gemeente gepas om die geestelike reinheid van die lojale Christene daarin te beskerm.
Een woordeboek definieer afvalligheid as “die verloëning van ’n mens se geloof, beginsels, politieke party, ens.” ’n Ander sê: “Afvalligheid . . . 1 : versaking van ’n geloof 2 : ontrou.” Judas Iskariot was gevolglik skuldig aan ’n vorm van afvalligheid toe hy die aanbidding van Jehovah God versaak het deur Jesus te verraai. Later het ander afvalliges geword deur die ware geloof te verlaat selfs terwyl die apostel Johannes en ander vroeë dissipels nog gelewe het. Johannes het geskryf: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het.”—1 Johannes 2:19.
Wat moet gedoen word wanneer iets soortgelyks vandag gebeur? Die ouere manne, of herders, van die gemeente kom dalk te hore van ’n gedoopte Christen wat opgehou het om met Jehovah se volk om te gaan en wat skynbaar by ’n ander kerk aangesluit het. In ooreenstemming met Jesus se woorde dat ons besorg moet wees oor enige skaap wat afgedwaal het, moet die geestelike herders daarin belangstel om so ’n persoon te help. (Mattheüs 18:12-14; vergelyk 1 Johannes 5:16.) Maar gestel dat die herders wat aangestel is om op die saak in te gaan, vasstel dat die persoon niks meer met Jehovah se volk te doen wil hê nie en vasbeslote is om lid van ’n valse geloof te bly. Wat dan?
Hulle sal dan eenvoudig vir die gemeente aankondig dat die persoon homself gedissosieer het en gevolglik nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. So ’n persoon het “ontrou” geword, maar dit is nie nodig om hom formeel uit te sit nie. Waarom nie? Omdat hy hom reeds self van die gemeente gedissosieer het. Hy probeer waarskynlik nie om kontak met sy voormalige broers te behou om hulle te oorreed om hom te volg nie. En die lojale broers streef nie omgang met hom na nie, aangesien ‘hy van hulle uitgegaan het, omdat hy nie van hulle soort was nie’ (1 Johannes 2:19, vgl. NW). So ’n gedissosieerde wat ‘van ons uitgegaan het’, begin dalk om briewe of lektuur wat valse godsdiens of afvalligheid voorstaan uit te stuur. Dit sal net die feit onderstreep dat die individu beslis ‘nie van ons soort is nie’.
Die Skrif waarsku egter dat sommige sal probeer om onder God se volk te bly en sal probeer om ander aldaar te mislei. Die apostel Paulus het vermaan: “Uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:30). Hy het Christene onomwonde gewaarsku om ‘diegene in die oog te hou wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat hulle geleer het en om hulle te vermy’.—Romeine 16:17, 18.
Indien iemand dus ’n valse leraar onder ware Christene word, soos dit in Paulus se dag die geval met Himeneus en Filetus was, moet die herders van die kudde beskermende stappe doen. As die persoon hulle liefdevolle vermaninge verwerp en voortgaan om ’n sekte voor te staan, kan ’n komitee van ouere manne so ’n persoon vir afvalligheid uitsit (2 Timotheüs 2:17; Titus 3:10, 11). Die broers en susters in die gemeente sal Paulus se raad volg om die een wat “tweedrag” probeer veroorsaak te “vermy”. Johannes het soortgelyke raad gegee: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.”—2 Johannes 10.
■ Het die Jode sowat 800 kilometer of 1 600 kilometer gereis toe hulle uit gevangenskap in Babilon na Jerusalem teruggekeer het?
Die regstreekse afstand van eertydse Babilon na Jerusalem was omtrent 800 kilometer. So ’n reis sou beteken dat hulle deur uiters onherbergsame terrein moes trek, met inbegrip van lang ente deur baie droë landstreke of woestyn. ’n Alternatiewe roete wat nagenoeg twee keer langer was, was langs die Eufraatvallei na Haran en dan verby Damaskus tot in die Beloofde Land. Abraham het laasgenoemde roete gevolg toe hy sy familie van Ur na Kanaän geneem het.—Genesis 11:31-12:5.
Die Bybel sê nie watter roete die Jode gevolg het toe hulle uit Babiloniese gevangenskap na Jerusalem teruggekeer het nie (Esra 8:1-32; 7:7-9). Enigeen van die twee afstande is dus moontlik en kan in verband met die reis gemeld word. ’n Belangriker feit is dat die terugkerende Jode vry van Babiloniese opvattings en gebruike sou wees terwyl hulle op “die heilige weg” gereis het.—Jesaja 35:8-10; vergelyk bladsye 153-157 van die boek Man’s Salvation out of World Distress at Hand! uitgegee in 1975.