Godsdiens en die politiek—Stuur hulle op ’n botsing af?
DIE beleid om politieke en godsdiensmag in een man te kombineer, het nie sy oorsprong by Hendrik VIII nie. In sy dag was dit reeds ’n beproefde politieke set om nasionale eenheid te bevorder.
Die eertydse Egiptiese ryk het byvoorbeeld talle gode gehad. “Farao was self een van die gode, en ’n hooffiguur in sy onderdane se lewens”, sê The New Bible Dictionary. Die Romeinse Ryk het eweneens ’n godewêreld gehad, met inbegrip van die keisers. Een geskiedskrywer beskryf keiseraanbidding as “die allerbelangrikste krag in die godsdiens van die Romeinse wêreld”.
Maar ondanks die feit dat verbintenisse tussen die Kerk en Staat eeue oud is, het die Christendom se hedendaagse ekskursies in die politiek haar op ’n botsingskoers geplaas juis met die wie se guns sy soek. Hoe so? Om hierdie vraag te beantwoord, gaan ons nou kyk na hoe die Christendom oorspronklik by die politiek betrokke geraak het.
Die ware Christelike godsdiens—’n teenstelling
Jesus Christus, die stigter van die Christelike godsdiens, het alle politieke mag verwerp. By minstens een geleentheid het die volk, wat in ekstase was oor sy wonderwerke, probeer om hom met geweld koning te maak, maar hy het “weer weggegaan na die berg, Hy alleen” (Johannes 6:15). Toe die Romeinse goewerneur hom gevra het of hy ’n koning was, het Jesus geantwoord: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie.”—Johannes 18:36.
Christus het ook vir sy dissipels gesê: “Omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). Die vroeë Christene het dus nie betrokke geraak by maatskaplike of politieke probleme nie. Slawerny was byvoorbeeld destyds ’n groot probleem, maar Christene het hulle nie daarvoor beywer dat dit afgeskaf moet word nie. Christenslawe is eerder beveel om gehoorsaam te wees aan hulle here.—Kolossense 3:22.
In plaas van hulle met die politiek te bemoei, het hierdie vroeë Christene hulle daarop toegelê om die verkondiging van “die koninkryk van God” te volbring (Handelinge 28:23). In net ’n paar dekades het hulle boodskap die grense van die destydse wêreld bereik (Kolossense 1:23). En met watter gevolge? Duisende het gunstig gereageer en geestelike ‘broers en susters’ geword (Mattheüs 23:8, 9). Jode en Heidene wat Christene geword het, het hulle vyandigheid laat staan. Tussen die Jode en die Samaritane is selfs groot geskille uit die weg geruim weens die ‘vurige liefde’ wat Christene vir mekaar gekoester het.—1 Petrus 4:8.
Maar Christelike liefde is selfs aan hulle vyande betoon (Mattheüs 5:44). Hulle het derhalwe geweier om by die keiser se leërs aan te sluit. ‘Maar’, maak party dalk beswaar, ‘het Jesus nie gesê: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom” nie?’ Ja. Maar het Jesus van militêre diens gepraat? Nee, hy het bloot die kwessie bespreek of ‘belasting aan die keiser betaal moet word of nie’ (Mattheüs 22:15-21). Christene het gevolglik hulle belasting betaal. Maar volgens hulle was hulle lewe aan God toegewy en het hulle geweier om hulle naaste skade te berokken.
’n Vriend van die wêreld
‘Maar kyk vandag na die Christendom’, sê sommige dalk. ‘Dit is hopeloos verdeeld, sy lede bring mekaar dikwels om die lewe, sy geestelikes is betrokke by die politiek. Wat het van die Christelike godsdiens geword?’ Wel, Jesus het gewaarsku dat valse Christene onder ware Christene ‘gesaai’ sou word (Mattheüs 13:24-30). Paulus het eweneens voorspel: “Ek weet dit, dat . . . wrede wolwe onder julle sal inkom en . . . daar manne [sal] opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”—Handelinge 20:29, 30.
Hierdie tendens het selfs in die eerste eeu kop uitgesteek. Die dissipel Jakobus het dit nodig gevind om onomwonde te skryf: “Julle is so ontrou soos owerspelige vroue; besef julle nie dat as julle ’n vriend van die wêreld word julle ’n vyand van God word nie?” (Jakobus 4:4, The Jerusalem Bible; ons kursiveer.) Talle het verkies om hierdie goddelike raad te verontagsaam—in so ’n mate dat ’n wolf in skaapsklere, keiser Konstantyn, in die vierde eeu die verdorwe “Christelike godsdiens” verder kon kompromitteer deur dit die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk te maak. Maar deur ’n ‘vriend van die wêreld’ te word, het die Christendom God se vyand geword. ’n Uiteindelike botsing het onvermydelik geword.
Teen die 13de eeu het die Kerk, wat deur sy “pous” of “vader” regeer is, “die toppunt van sy mag” bereik en die weg gebaan vir ’n selfs hegter verbintenis tussen die Kerk en Staat. Pous Innocentius III was daarvan oortuig dat “die Here nie net vir Petrus die bewind van die Universele Kerk gegee het nie, maar ook die bewind van die hele wêreld”. (Ons kursiveer.) Geskiedenisprofessor T. F. Tout sê verder in The Empire and the Papacy: “Innocentius se werk was die van ’n kerkstaatsman, . . . hy het konings en keisers na goeddunke aangestel en onttroon.” Maar dieselfde skrywer voeg by: “Hoe meer polities die pouslike gesag geword het, des te moeiliker het dit geword om sy aansien as die bron van die wet, van sedelikheid, van godsdiens te handhaaf.”
Godsdiens en oorlog
Oorlog is politiek op ’n gewelddadiger skaal. Pous Innocentius III het egter self ’n militêre kampanje teen die Albigense van suidelike Frankryk georganiseer. Dit het gelei tot die afgryslike slagting van duisende by Beziers in 1209, en die massaverbranding van slagoffers deur die Heilige Inkwisie. ’n Kruistog, wat oorspronklik op Palestina gemik was, het weens politieke draadtrekkery uitgewyk om Konstantinopel in te sluit. Daar het “Christelike” ridders deelgeneem aan “drie verskriklike dae van roof, moord, wellus en kerkroof”. Op wie? Op Mede-“Christene”! Een geskiedskrywer sê: “Die kerke is genadeloos geplunder.”
Die kerk se onchristelike metodes het uiteindelik daartoe gelei dat Martin Luther in 1517 sy uitdagende Stellings teen die kasteelkerkdeur in Wittenberg vasgespyker het—en die Hervorming het begin. Maar H. A. L. Fisher sê in History of Europe: “Die nuwe geloofsbelydenis het . . . grootliks afgehang van vorstelike en staatsgoedkeuring.” Duitsland het op polities-godsdienstige vlak verdeeld geraak. In Frankryk het die Calviniste eweneens met politieke leiers gemeng. Die daaropvolgende godsdiensoorloë is derhalwe nie net om godsdiensvryheid gevoer nie, maar ook weens “wedywer tussen Protestante en Rooms-Katolieke edelmanne om beheer van die Kroon”. Die godsdiensgeskiedenis in Europa is dus in bloed geskrywe!
Die 20ste eeu het aangebreek met Brit en Boer aan die veg in Suid-Afrika. Geestelikes aan beide kante het die vlamme aangeblaas met “aansporings van die preekstoel af”. Geskiedskrywer R. Kruger sê: “Die aantal smeekbede wat in die loop van die oorlog deur albei kante opgestuur is, is slegs geëwenaar deur die aantal kerkverbande van die bidders.” Wit “Christene” het mekaar om die lewe gebring terwyl hulle God gevra het om hulle dit te help doen!
Hierdie patroon is in 1914 op ’n ontsaglike skaal herhaal toe die Duitse troepe wat België ingeval het gordels gedra het waarop die woorde “Gott mit uns” (God met ons) gegraveer was. Die Kerk aan albei kante het ’n oorvloed gebede om oorwinning opgestuur en was venynig in hulle veroordeling van die vyand.
Talle is ontnugter deur godsdiens se rol in die Eerste Wêreldoorlog. Ateïste en kommuniste het vermenigvuldig en noem godsdiens “die opium van die mense”. Die geestelikes het nietemin voortgegaan met hulle betrokkenheid by die politiek en fascistiese diktators soos Mussolini en Franco ondersteun. In 1933 het die Rooms-Katolieke Kerk selfs ’n konkordaat met die Nazis aangegaan. Kardinaal Faulhaber het aan Hitler geskryf: “Hierdie handdruk met die pousdom . . . is ’n daad van onmeetbare seëning . . . Mag God die Kanselier van die Ryk [Hitler] bewaar.”
Selfs die moontlikheid van nog ’n wêreldoorlog het die geestelikes hulle nie aan die politiek laat onttrek nie. Een onlangse tendens is dat party kerke ’n linksgesinde politieke standpunt inneem. Een skrywer sê: “Die jongste geslag teoloë van Latyns-Amerika . . . hou vol dat marxisme die onvermydelike politieke uitdrukking van die Christelike godsdiens is.” Maar die Bybel waarsku: “As hulle dan wind saai, sal hulle ’n orkaan oes.”—Hosea 8:7, Die Lewende Bybel.
Die orkaan
Ja, die Bybel waarsku ernstig: ’n Vreeslike botsing tussen godsdiens en die politiek lê voor. In Openbaring hoofstuk 17 stel die Bybel die wêreldryk van valse godsdiens wat met bloed bevlek is voor as ’n “groot hoer wat op die baie waters sit”. Hierdie “waters” stel ‘volke en nasies’ voor (Verse 1, 15). Die hoer word genoem ‘Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde’ en sy is “dronk van die bloed van die heiliges” (Verse 5, 6, vgl. NW). “Babilon” is ’n gepaste naam vir georganiseerde valse godsdiens, aangesien baie van haar leerstellings in die eertydse stad Babilon ontstaan het.a Sy het haar reputasie vir bloeddorstigheid verdien met haar vervolging van ware Christene deur die eeue heen.
Volgens ’n verdere voorstelling ry die wêreldryk van valse godsdiens op ’n dier met “sewe koppe en tien horings . . . [wat] tien konings” is (Verse 3, 12). Vorige artikels in hierdie tydskrif het hierdie “dier” geïdentifiseer as die instrument wat veronderstel is om wêreldvrede te handhaaf, die Verenigde Volke. Dit is alom bekend dat kerke hierdie organisasie ondersteun. In Oktober 1965 het pous Paulus VI die VV beskryf as “die laaste hoop op harmonie en vrede”. In 1979 het pous Johannes Paulus II die VV se Algemene Vergadering toegespreek. Sonder om Christus of sy Koninkryk enigsins te meld, het hy gepraat van die VV as “die vernaamste forum vir vrede en geregtigheid”.
Maar waarom is hierdie verbintenis tussen godsdiens en die VV so gevaarlik? Want “die tien horings . . . en die dier . . . sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak . . . en haar met vuur verbrand” (Vers 16, NAV). Valse godsdiens stuur derhalwe reguit op ’n katastrofiese botsing met die politiek af. Wanneer sy kaal gemaak en haar walglike onreinheid blootgele is, sal sy heeltemal vernietig word.
Dit sal die “groot verdrukking” waarvan Jesus gepraat het, ontketen en dit sal ’n hoogtepunt bereik in die slag van Armageddon. Christus, wat ondersteun word deur onoorwinlike hemelse leërs, sal Satan se wêreldwye stelsel “verbrysel en daar ’n einde aan maak”, sodat slegs die ‘sagmoediges wat die aarde sal beërwe’, sal oorbly. Dit sal ware Christene wees wat hulle onder meer uit die verdelende politiek uitgehou het.—Mattheüs 24:21; Daniël 2:44; Psalm 37: 10, 11; Mattheüs 5:5; Openbaring 6:2; Mattheüs 16:14-16.
Wat moet jy nou doen as jy ontsteld is oor die lyding wat valse godsdiens veroorsaak het en die smaad wat dit God se naam aangedoen het? Die Bybel beveel: “Gaan uit haar [valse godsdiens] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê . . . nie” (Openbaring 18:4). Slegs Jehovah se Getuies spoor mense aan om hierdie bevel te gehoorsaam. Soos die vroeë Christene bly hulle uit oorlog en die politiek en sal gevolglik nie vir vernietiging bestem wees wanneer godsdiens met die politiek bots nie. Nader hulle dus. Hulle sal jou graag wys hoe om die “nou poort” te vind wat nie tot vernietiging lei nie, maar tot die ewige lewe.—Mattheüs 7:13, 14; Johannes 17:3.
[Voetnote]
a Kyk die boek “Babylon the Great Has Fallen!” God’s Kingdom Rules! wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word vir nadere besonderhede.
[Prent op bladsy 6]
In 1914 het die biskop van Londen by ’n tromaltaar op die trap van die St. Paulus-katedraal patriotisme in Britse troepe aangeblaas