Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 5/1 bl. 3-5
  • Moet geestelikes hulle met die politiek bemoei?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet geestelikes hulle met die politiek bemoei?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe politiek in die naam van Christus begin het
  • Hoe die politiek geestelikes beïnvloed het
  • Moet godsdiens by die politiek betrokke raak?
    Nog onderwerpe
  • Godsdiens en die politiek—Stuur hulle op ’n botsing af?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • Het die eerste-eeuse Christene aan die politiek deelgeneem?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 5/1 bl. 3-5

Moet geestelikes hulle met die politiek bemoei?

“BETROKKENHEID by die politiek kan die armes help, het ’n Kanadese aartsbiskop vir pelgrims gesê . . . Selfs al lyk dit of die politieke stelsel nie in ooreenstemming met God se wil is nie, ‘moet ons betrokke raak sodat ons geregtigheid aan die armes kan bring’.”​—⁠Catholic News.

Berigte van hooggeplaaste geestelikes wat hulle ten gunste van betrokkenheid by die politiek uitspreek, is redelik algemeen; ook is dit nie ongewoon dat godsdiensleiers ’n politieke amp beklee nie. Sommige het die politiek probeer hervorm. Ander word bewonder en onthou vir hulle veldtogte teen dinge soos rasseongelykheid en slawerny.

Nietemin hinder dit baie lidmate wanneer hulle geestelikes kant kies in politieke geskille. “Dit was Protestantse kerkgangers wat soms die politieke bedrywighede van hulle geestelikes bevraagteken het”, het ’n artikel in Christian Century oor politieke teologie gesê. Talle godsdienstige mense meen dat die kerk eenvoudig te heilig is vir die politiek.

Dit laat ’n paar interessante vrae ontstaan wat almal raak wat graag ’n beter wêreld wil sien. Kan die geestelikes van die Christendom die politiek hervorm?a Is betrokkenheid by die politiek God se manier om ’n beter regering en ’n beter wêreld tot stand te bring? Het die Christelike godsdiens ontstaan as ’n nuwe manier om die politiek te beoefen?

Hoe politiek in die naam van Christus begin het

In The Early Church sê die geskiedskrywer Henry Chadwick dat die vroeë Christengemeente bekend daarvoor was dat hulle “nie in die verkryging van mag in hierdie wêreld belanggestel het nie”. Dit was ’n “niepolitiese, rustige en vreedsame gemeenskap”. A History of Christianity sê: “Daar was ’n algemene oortuiging onder Christene dat nie een van hulle lede ’n politieke amp in die staat moet beklee nie . . . Selfs nog in die begin van die derde eeu het Hippolitus gesê dat die geskiedkundige Christelike gebruik vereis het dat ’n burgerlike magistraat uit sy amp bedank voordat hy by die Kerk aansluit.” Maar geleidelik het magsugtige manne die leiding in baie gemeentes begin neem en hoogdrawende titels aan hulleself toegeken (Handelinge 20:​29, 30). Party wou godsdiensleiers sowel as politici wees. ’n Skielike verandering in Rome se regering het hierdie geestelikes die geleentheid gegee waarop hulle gewag het.

In die jaar 312 G.J. het die heidense Romeinse keiser Konstantyn ’n vriendelike gesindheid teenoor die sogenaamde Christelike godsdiens ontwikkel. Verbasend genoeg was die biskoppe van die kerk gewillig om met die heidense keiser tot ’n vergelyk te kom, in ruil vir die voorregte wat hy aan hulle sou toeken. “Die Kerk het al hoe meer betrokke geraak by belangrike politieke besluite”, het Henry Chadwick geskryf. Watter uitwerking het betrokkenheid by die politiek op geestelikes gehad?

Hoe die politiek geestelikes beïnvloed het

Die idee dat God geestelikes as politici sou gebruik, is veral bevorder deur Augustinus, ’n invloedryke vyfde-eeuse Katolieke teoloog. Hy het hom voorgestel dat die kerk oor die nasies sou heers en vrede vir die mensdom sou bring. Maar die geskiedskrywer H. G. Wells het geskryf: “Die geskiedenis van Europa vanaf die vyfde tot die vyftiende eeu is grotendeels die geskiedenis van die mislukking van hierdie fantastiese idee dat ’n goddelike wêreldregering in die praktyk verwesenlik sou word.” Die Christendom het nie eers vrede vir Europa gebring nie, wat nog te sê vir die wêreld. Dit wat as die Christelike godsdiens beskou is, het aansien verloor in die oë van baie. Wat het verkeerd geloop?

Baie wat beweer het dat hulle die Christelike godsdiens verkondig, het met goeie bedoelings by die politiek betrokke geraak, maar later bose dinge begin beoefen. Martin Luther, ’n geestelike en Bybelvertaler, is welbekend vir sy pogings om die Katolieke Kerk te hervorm. Sy moedige standpunt teen kerkleerstellings het hom egter gewild gemaak by diegene wat om politieke redes in opstand wou kom. Luther het die respek van baie verloor toe hy ook sy mening oor politieke geskille begin lug het. Aanvanklik was hy ten gunste van die kleinboere wat teen die onderdrukkende adellikes in opstand gekom het. Maar toe die opstand gewelddadig raak, het hy die adellikes aangespoor om die opstand te onderdruk, wat hulle gedoen het deur duisende voor die voet dood te maak. Dit is nie verbasend dat die kleinboere hom as ’n verraaier beskou het nie. Luther het ook die adellikes aangehits in hulle eie opstand teen die Katolieke keiser. Trouens, Protestante, soos Luther se volgelinge later genoem is, het uit die staanspoor ’n politieke beweging gevorm. Watter uitwerking het mag op Luther gehad? Dit het hom korrup gemaak. Byvoorbeeld, hy was aanvanklik daarteen gekant dat andersdenkendes gedwing word om hulle godsdiensoortuigings prys te gee, maar hy het later sy politieke vriende aangepor om diegene wat teen kinderdoop was, op die brandstapel te laat sterf.

Johannes Calvyn was ’n beroemde geestelike in Genève, maar uiteindelik het hy ook ontsaglike politieke invloed gehad. Toe Michael Servetus verduidelik het dat daar geen skriftuurlike grondslag vir die Drie-eenheid is nie, het Calvyn sy politieke invloed gebruik om Servetus se teregstelling op die brandstapel te steun. Wat ’n gruwelike afwyking van Jesus se leringe!

Dalk het hierdie manne vergeet wat die Bybel in 1 Johannes 5:​19 sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.” Het hulle ’n opregte begeerte gehad om die politiek van hulle tyd te hervorm, of was dit die vooruitsig op mag en invloedryke vriende wat hulle getrek het? Hoe dit ook al sy, hulle moes die geïnspireerde woorde van Jesus se dissipel Jakobus onthou het: “Weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:⁠4). Jakobus het geweet dat Jesus van sy volgelinge gesê het: “Hulle [is] geen deel van die wêreld . . . nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.”​—⁠Johannes 17:⁠14.

Hoewel baie erken dat Christene geen deel van die wêreld se boosheid moet wees nie, maak hulle nogtans beswaar teen politieke neutraliteit, om waarlik “geen deel van die wêreld” te wees nie. Hulle beweer dat sulke neutraliteit Christene daarvan weerhou om hulle liefde vir ander op daadwerklike maniere te toon. Hulle meen dat kerkleiers hulle teen korrupsie en onreg moet uitspreek en ’n rol moet speel in die bekamping daarvan. Maar is die neutraliteit wat Jesus geleer het, werklik onversoenbaar met daadwerklike besorgdheid oor ander? Kan ’n Christen afgeskeie bly van verdelende politieke geskille en terselfdertyd praktiese hulp aan ander bied? Die volgende artikel ondersoek hierdie vrae.

[Voetnoot]

a Die politiek word gedefinieer as “die bedrywighede wat verband hou met die bestuur van ’n land of gebied, veral die debatvoering of konflik tussen individue of partye wat aan die bewind is of hoop om aan die bewind te kom”.​—⁠The New Oxford Dictionary of English.

[Prent op bladsy 4]

Kerkleiers het met heersers, soos keiser Konstantyn, tot ’n vergelyk gekom om politieke mag te ontvang

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prente op bladsy 5]

Waarom het welbekende godsdiensleiers by die politiek betrokke geraak?

Augustinus

Luther

Calvyn

[Erkenning]

Augustinus: ICCD Photo; Calvyn: Portrait by Holbein, from the book The History of Protestantism (Vol. II)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel