Sendingwerk—kom wat wil!
Soos vertel deur Eric Britten
DIE plek: Coventry, Engeland. Die tyd: sewe-uur in die aand, 14 November 1940. Skielik het lugalarms begin skel as ’n voorspel tot een van die langste lugaanvalle in die geskiedenis van moderne oorlogvoering. Toe die bomme begin val het, het ek en tien ander pioniers (voltydse predikers) onder die trap van ons “pionierhuis” saamgedrom. Ek het aan my vrou gedink wat haar moeder besoek het. Was sy veilig?
Ons het Jehovah uit ons hart om beskerming gevra. Hoe bly was ons tog om ongedeerd uit daardie beproewing te kom en later te hoor dat my vrou en al die lede van ons gemeentetjie ook veilig was! Ons het gevoel soos die psalmis wat gesê het: “U goedertierenheid [ondersteun] my, o HERE!”—Psalm 94:18.
Vroeë tragedie
Van my geboorte in Januarie 1910 af is ek in ’n streng godsdienstige huis grootgemaak, en daardie vroeë Bybelonderrig het my later baie gehelp. Dit was veral die geval na my moeder se dood in Januarie 1922 toe ek maar net 12 jaar oud was.
Ongeveer daardie tyd het my vader, hoewel hy ’n Christadelfiër was, by die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het) ’n stel van C. T. Russell se Studies in the Scriptures gekry. Iets wat my vader beïndruk het, was die redelike verduideliking van die losprysleerstelling (Mattheüs 20:28). Vader het sterk gevoel dat as ’n Christen die losprysleerstelling aanvaar dit sy verantwoordelikheid is om ander daarvan te vertel. Hy het ook besef dat die Bybelstudente juis dit doen, en daarom het hy met hulle in aanraking gekom.
In die vroeë twintigerjare het hy die vergaderinge van die Bybelstudente in Coventry begin bywoon en my saam met hom geneem. Ons het albei weldra aan die predikingswerk begin deelneem. Vader het die stadium van toewyding bereik en is in 1924 gedoop. In 1926 is ek, op die ouderdom van 16, ook gedoop. Die volgende jaar, in Oktober 1927, het ’n tragedie ons weer getref—my vader het gesterf en my en my jonger suster agtergelaat om versorg te word. Sy het by ons grootouers gaan woon terwyl ek steeds alleen gewoon het.
Ek was net 17 en moes Vader se liggaam gaan uitken en die nodige reëlings vir sy begrafnis tref. Dit was vir my ’n gedugte taak, maar die Christenbroers het my gehelp. Hulle het my vir etes genooi, die Bybel saam met my bestudeer en my in die predikingswerk vergesel totdat ek weer sterker gevoel het. Hoe het ek tog nie hulle vriendelikheid gedurende hierdie moeilike tydperk waardeer nie! Hoewel ek in Coventry gewoon het, het ek in die nabygeleë stad Birmingham werk gekry. Gedurende die week kon ek vergaderinge daar bywoon. Dit was by hierdie midweekvergaderinge dat ek later vir Christina, met wie ek later sou trou, ontmoet het.
Hoewel sy as ’n Metodis grootgemaak is, het Chris ander kerke besoek op soek na iets meer bevredigends. Een Sondagoggend het twee Bybelstudente haar by die huis besoek en drie boekies by haar gelaat. Kort daarna het Chris se moeder ’n vergadering van die Bybelstudente bygewoon en drie boeke vir Chris gekry. Min het haar moeder besef hoe hierdie boeke haar dogter se lewe sou beïnvloed, sodat Chris selfs met die Koninkryksboodskap van huis tot huis gegaan het—iets wat Chris gesê het sy nooit sou doen nie!
Oorlog word verklaar
Ek en Chris is in 1934 getroud. Ons het albei die getroude lewe betree met die voorneme om ‘eers God se Koninkryk te soek’, en ons kan eerlik waar sê dat Jehovah ons geseën het omdat ons hierdie weg ingeslaan het (Mattheüs 6:33). Ons het dit as ons doelwit gestel om die voltydse pionierbediening te betree. Ons het derhalwe reëlings getref vir ander om ons huis te deel en as pioniers saam met ons te werk. Maar teen hierdie tyd, 1939, het oorlogswolke saamgepak en het dit gelyk asof almal in Coventry besig was om reëlings te tref vir ’n lang tydperk van ontbering en vir beskerming teen moontlike bomaanvalle.
Die Tweede Wêreldoorlog was ’n baie moeilike tyd vir almal, maar veral vir ons broers. Coventry, as ’n nywerheidsentrum, was nagenoeg ses jaar lank die spesiale teiken van die Duitse bomwerpers. Dit het talle slapelose nagte beteken. Ons het beurte gemaak om een nag per week wakker te bly om ons “pionierhuis” en ook ons bure se huise te beskerm, terwyl hulle weer ons huis op ander nagte beskerm het. Daar was ook party noue ontkomings. By een geleentheid het Chris ’n huis besoek om ’n Bybelboodskap oor te dra toe ’n bomaanval begin het. Bomme het geval en die huise weerskante van die huis wat sy besoek het, is heeltemal vernietig.
In en uit die tronk
Die feit dat die owerheid ons nie met rus wou laat weens ons neutraliteit nie, het dit vir ons nog moeiliker gemaak. Ek en Chris is gevolglik ’n kort rukkie in die tronk gesit. Ek het skaars my vonnis uitgedien, toe is ek weer aangekla en moes ek terug tronk toe. Ons het dit kat en muis genoem, aangesien ’n kat dikwels ’n muis sal los net om dit weer te bespring.
Hoewel ons min kontak met die tronkbewaarders gehad het, het ons soms die geleentheid gehad om vir party van hulle te preek. Ek onthou een bewaarder, genaamd Beveridge, wat die spot gedryf het met ons neutrale standpunt toe ek my eerste vonnis uitgedien het. Toe ek die tweede keer in die tronk gesit is, het sy gesindheid ietwat verbeter. Gedurende my derde vonnis was hy ons baie goedgesind, hoewel ons min geleentheid gehad het om met hom te praat. Toe ek uiteindelik uit die tronk is, het ek kontak met hom verloor.
Jare later het ons, terwyl ons in Portugal was, ’n brief van die Genootskap se kantoor in Brooklyn ontvang om ons mee te deel dat Eric Beveridge, ’n gegradueerde van Gilead (die Wagtoringskool om sendelinge op te lei), na Portugal toegewys is. Hoe bly was ons tog toe ons uitvind dat sy vader daardie vriendelike tronkbewaarder was! Hy het later as bewaarder afgetree en ’n gedoopte Getuie geword.
Sendingdiens en buitengewone uitdagings
Aan die einde van die oorlog in 1945 het die Koninkrykswerk in Engeland, soos in ander wêrelddele, ’n tydperk van vooruitgang en uitbreiding binnegegaan. Broer Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, en broer Henschel het Engeland besoek en ’n spesiale vergadering gehou met alle pioniers wat daarin belanggestel het om die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat in Februarie 1943 geopen is, by te woon. Ek en Christina het die vergadering bygewoon, ons voorlopige aansoeke ingevul en gewonder of ons ooit genooi sou word.
In 1946 het die Genootskap my genooi om kringwerk in Engeland te doen deur ’n aantal gemeentes te besoek. Ek het hierdie voorreg drie jaar lank geniet, en toe, toe ons dit die minste verwag het, het ons die finale aansoeke vir die sendingskool ontvang! Ons het dit dadelik ingevul en kort daarna is ons genooi om die 15de klas, wat in Februarie 1950 begin het, by te woon. Die volgende vyf maande in Gileadskool bo in die staat New York was ’n onvergeetlike ervaring van intensiewe Bybelstudie en ryp Christelike omgang. Voor ons dit besef het, het ons die gradeplegtigheid by Yankee-stadion op 30 Julie 1950 bygewoon. Ons toewysing? Brasilië.
’n Sendinghuis is geopen in die hawe Santos, Brasilië, waarvandaan koffie uitgevoer is, en ons was deel van ’n groep van agt sendelinge wat toegewys is om hier te begin werk. Die eerste ruk moes ons gewoond raak aan nuwe gebruike en die Portugese taal. Dit is redelik maklik vir ’n kind om ’n nuwe taal te leer. Maar vir ons, op die ouderdom van 40, was dit geensins maklik nie. Ek het eenkeer saam met ’n ander sendeling brood gaan koop. Die Portugese woord vir brood (pão) klink baie soos die woord vir stok (pau), hoewel eersgenoemde ’n ietwat nasale klank het. Aangesien ons nog nie die nasale klank bemeester het nie, het ons vir stokke (paus) gevra en het die verbaasde bakker gesê dat hy nie het nie!
’n Ander gebruik waaraan ons moeilik gewoond geraak het, was hoe om ’n huisbewoner se gasvryheid te aanvaar. Ons het gesê: “Muito obrigado” (Baie dankie) en verwag om verversings te ontvang. Dit het egter vir die huisbewoner nee beteken! Ons het uiteindelik die regte uitdrukking geleer: “Aceito” (Ek aanvaar), wat die huisbewoner—en vir ons—bly gemaak het.
Ons het gevind dat ons selfs moes leer hoe om aan ’n deur te “klop”. Jy sien, die Brasiliaanse gewoonte is om hard by die hek hande te klap. Dit het ons aanvanklik altyd verbaas wanneer die huisbewoner ons “klop” beantwoord het, maar ons het gou daaraan gewoond geraak.
Ongelukkig het ek binne ses maande na ons aankoms in Brasilië ’n dermkwaal weens amoebas opgedoen. Die uitgerekte behandeling vir die siekte het my baie swak laat word, en uiteindelik het ons, op aanbeveling van die dokter, met ’n swaar hart in Maart 1954 teruggekeer Engeland toe. In die gematigde klimaat aldaar het ek geleidelik herstel, maar terwyl ek aangesterk het, het ons ’n onverwagte brief ontvang.
’n Heeltemal ander soort sendingtoewysing
Die Genootskap het ons genooi om Portugal toe te gaan! Die werk aldaar was verbied, en die twee vorige takopsieners is uit die land verban. Ek kon toegang tot Portugal verkry as ’n sakeverteenwoordiger van ’n Engelse firma, en ons het in November 1954 daar aangekom.
Nadat ons in Brasilië gewerk het waar ons predikingswerk openlik gedoen is, het ons weldra besef dat ons hier in Portugal versigtig en baie taktvol sou moes wees. Aangesien ons werk verbied was, kon ons ons nie openlik as Jehovah se Getuies identifiseer nie. Die prediking van deur tot deur was ’n uitdaging, daar ons nooit geweet het wie ons sou teëkom nie. As iemand te nuuskierig of antagonisties was, het ons eenvoudig die gebied verlaat en op ’n ander dag teruggekeer. Dit was nie maklik om in die huise ingenooi te word nie, aangesien mense vreemdelinge begryplikerwys met agterdog bejeën het. Chris het egter ’n studie begin met ’n dame wat later vir haar vertel het dat sy werklik bang was om enigiemand in haar huis in te laat. Waarom het sy dit gedoen?
Dit blyk dat hierdie dame tot God gebid het om haar die regte weg te wys. Maar Chris het so kort na haar gebed geklop, dat sy lugtig was om haar in te nooi! ’n Bybelstudie is begin en die dame en haar tienderjarige dogter het albei tot toewyding en doop gevorder. Hulle is steeds standvastig in die waarheid.
Ek en Chris was destyds die enigste sendelinge in Portugal, maar die Genootskap kon geleidelik meer in die land instuur. Die werk het veral in die hoofstad, Lissabon, vinnig vooruitgegaan. Hierdie vermeerdering het teenkanting gewek. Etlike broers is in die tronk gesit en baie lektuur is gekonfiskeer.
Uiteindelik het die swaarste slag ons in 1962 getref toe ons, saam met vier ander sendelinge, beveel is om die land te verlaat. Ons het ’n onderhoud versoek met die hoof van die geheime polisie om te vra dat ons saak heroorweeg word, aangesien ons bloot die mense die Bybel geleer het. Sy antwoord was: “Julle het Portugese gasvryheid sewe jaar lank misbruik en sal nooit weer ’n voet in Portugal sit nie!” Ons was diep teleurgesteld.
Dit is baie moeilik om te beskryf hoe ons gevoel het om na sewe gelukkige jare in daardie sendingveld te moet padgee. Dit was eintlik vir ons baie moeiliker om Portugal te verlaat as toe ons Engeland in 1950 moes verlaat om Gilead toe te gaan. Ons het ten nouste saam met die broers gewerk; ons het in hulle vreugde en hulle probleme gedeel. Ons het gevoel ons gaan weg wanneer ons hulp en ondersteuning die nodigste was. Maar ons het geen keuse gehad nie. ‘Ons sendingdae is verby’, het ons hartseer gedink toe ons na Engeland uitgevaar het.
Van Engeland na die Amasone!
In Engeland het ons in die voltydse diens gebly as spesiale pioniers, maar ons het onvolkome gevoel. Ons het altyd die gelukkige tye in sendingdiens onthou, en wou dit weer geniet—soseer dat ons uiteindelik vir die Genootskap oor die moontlikheid van ’n ander toewysing geskryf het, hoewel ek toe oor die 50 en Chris 49 was. Hoe groot was ons vreugde tog toe ons ’n uitnodiging ontvang om terug te keer na Brasilië en te werk van ’n sendinghuis in Belém, ’n stad aan die mond van die Amasonerivier!
Ons het dit waardeer dat die Genootskap se brief ons ’n idee gegee het van die klimaat in Belém—”warm en bedompig”, het dit gesê—en dat ons die keuse gegee is om die toewysing van die hand te wys. Ons was egter verheug oor die vooruitsig om na Brasilië terug te keer, al was dit na ’n ander deel van die land. Ons het dit met graagte aanvaar en vroeg in 1964 in ons nuwe toewysing aangekom.
Nadat ons ’n jaar in Belém gedien het, is ek genooi om kringwerk te doen en gemeentes in daardie gebied te besoek. Dit was ’n groot uitdaging. Die kring was sowat 1300 kilometer lank en 500 kilometer breed en het albei kante van die Amasone-rivier ingesluit. Die hitte? Wel, ons moes maar net daaraan gewoond raak! Toestande was dikwels primitief. Selfs grondpaaie was in daardie dae skaars. In die droë seisoen het stofwolke van hulle af opgeslaan. In die reënseisoen was hulle onbegaanbaar.
Benewens vertroue op Jehovah vir sy beskerming het ’n goeie humorsin gehelp. Met een besoek aan ’n afgesonderde Getuiegesin moes ons in ’n stal slaap. Toe Chris die oggend wakker word, was sy vol bloed. Ons het gedink iets ernstigs het gebeur en die broer geroep. Stel jou ons verbasing voor toe hy ons kalm vertel dat sy blykbaar deur ’n vampier gebyt is! Een naslaanwerk verduidelik dat van die vlermuise in die Amasonegebied bloedsuiers (Dysopes) is, hoewel hulle geesins so gevaarlik is soos verdigsels ’n mens sou wou laat glo nie. As ons dit net vroeër geweet het, sou ons nie so geskrik het nie!
Na ’n jaar op daardie kring is ons oorgeplaas na Rio de Janeiro en later na São Paulo, waar ons nou etlike jare lank dien. Die Brasilianers is baie openhartig en vriendelik, en dit is ’n genoeë om ook die liefde en gasvryheid van die broers in hierdie deel van die land te geniet. Ons het terselfdertyd talle goeie ondervindinge in die veld gehad.
By een huis het ’n kind Chris se handegeklap beantwoord. Hy het gesê dat sy moeder nie deur toe kan kom nie omdat sy huil. Chris het besef dat iets verkeerd is en gesê: “Sê vir haar senhora Christina wil graag met haar praat.” Die moeder het deur toe gekom en gevra: “Weet jy enigiets van die Bybel af?”
“Dit is juis waarom ek hier is!” het Chris geantwoord. Sy het Chris ingenooi. Op die tafel was ’n groot Bybel en dit was oop waar die dame gelees het op soek na vertroosting. Sy was baie ontsteld omdat haar man al ’n week weg was na ’n rusie tussen hulle.
“Hy is ’n goeie man en vader”, het sy gesê, “en ek is seker hy is nie saam met iemand anders weg nie.” Chris het enkele Bybelbeginsels oor gesinslewe met haar gedeel en ’n Bybelstudie in die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe begin. Daardie selfde aand het die dame Koninkryksaal toe gegaan. Aangesien ons daardie week na die volgende gemeente moes vertrek, is die studie aan ’n plaaslike verkondiger oorgegee. Hoe bly was ons tog toe ons die gemeente ses maande later besoek het en nie net die dame nie, maar haar man en drie kinders ontmoet het! Later is die man en vrou as Jehovah se Getuies gedoop.
Hoewel ons albei oor die 70 is, kan ons nog steeds deur Jehovah se goedertierenheid in ons sendingtoewysing dien, hoewel ons nie meer so baie soos voorheen reis nie. Dit was ’n wonderlike voorreg om so baie ryp sendelinge en plaaslike broers en susters te ontmoet en saam met hulle te werk. Ons is bly dat ons van die begin af probeer het om ‘God se Koninkryk eerste te soek’ in ons lewens. Ons geniet die sendingdiens meer as 30 jaar lank al. Ons hou altyd die woorde van die psalmis in gedagte: “Want [Jehovah] is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid” (Psalm 100:5). En hoe het ons dit tog waardeer!
[Lokteks op bladsy 25]
Ons het altyd probeer om ‘God se Koninkryk eerste te soek’ in ons lewens, en seëninge as gevolg daarvan ontvang
[Prent op bladsy 24]
In Brasilië moes ons leer hoe om by ’n deur te “klop”—deur ons hande hard by die hekkie te klap