Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 9/1 bl. 4-7
  • Jy kan met God wandel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan met God wandel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sien die Onsienlike
  • Die voordele as ’n mens met God wandel
  • Hulp om in die stryd te volhard
  • Wandel met God—die eerste stappe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Sal jy met God wandel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wandel deur geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Hou aan wandel in Jehovah se weg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 9/1 bl. 4-7

Jy kan met God wandel

“SAL twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” het die profeet Amos gevra (Amos 3:3). Kan jy egter ’n ‘afspraak’ maak om met God te wandel?

Ja! Trouens, God neem die inisiatief deur ons te nooi om sy vriende te wees. Hy dring nie so ’n vriendskap aan ons op nie. Hy trek ons eerder aan deur sy luisterryke hoedanighede. Die skepping alleen verskaf oorvloedige getuienis van God se goedheid! “Sy onsigbare dinge [“hoedanighede”, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Romeine 1:20). Of soos die apostel Paulus in Handelinge 14:17 gesê het: “[God het] Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”

Manne soos Henog en Noag was derhalwe gretig om God se aanbod van vriendskap te aanvaar. Hulle het besef dat God ‘waardig is om die heerlikheid en die eer te ontvang’ (Openbaring 4:11). Hulle het dus God se uitnodiging aanvaar en hom in geloof genader. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag”, het Paulus gesê, “want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Jy kan gevolglik ook ’n ‘afspraak’ met God maak deur ’n verhouding met Hom na te streef. En die psalmis het gesê: “Welgeluksalig is hy wat U [God] uitkies en laat nader kom.”​—Psalm 65:5.

Aangesien ’n vriendskap met God op sy voorwaardes berus, moet ’n mens sy Woord, die Bybel, bestudeer om uit te vind wat “die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). “Hoe kan ek tog [Jesaja se profesie verstaan] as niemand my die weg wys nie?” het ’n opregte soeker na God in Bybeltye gevra. En miskien voel jy ook so. God het egter toegesien dat ’n dissipel met die naam van Filippus hierdie man nader en die profesie verduidelik (Handelinge 8:30-35). Toon God minder belangstelling in persone wat hom vandag opreg soek? Die blote feit dat jy hierdie Bybeltydskrif lees, lewer immers bewys van God se belangstelling in jou! Sou dit nie verstandig wees om diegene by wie jy hierdie tydskrif gekry het, toe te laat om jou te help om selfs meer van God te leer nie?

Sien die Onsienlike

Namate jou kennis van God toeneem, sal hy vir jou al hoe werkliker word. Jy sal weldra besef dat hy nie ’n naamlose bondel energie is nie, maar eerder ’n Persoon met ’n naam! Die Bybel sê in Psalm 83:18 (NW): “Dat mense kan weet dat U, wie se naam Jehovah is, U alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” As ’n Persoon, het Jehovah eienskappe, voorkeur en teensin​—selfs gevoelens!—​Vergelyk Exodus 34:6, 7; Psalm 78:40.

God het ook regverdige standaarde. Spreuke 3:32 sê byvoorbeeld: “Die verkeerde is vir die HERE ’n gruwel, maar sy verborgenheid [“vertroulike omgang”, NW] is met die opregtes.” Josef was een van die “opregtes”. Die Bybel deel ons mee hoe die vrou van sy Egiptiese heer, Potifar, Josef herhaaldelik gevra het om geslagsomgang met haar te hê. Maar hy het geweier en gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?”​—Genesis 39:9.

Jehovah was vir Josef wesenlik. Hy het ’n heilsame vrees vir Hom gehad en opgetree asof hy in Sy letterlike teenwoordigheid is. Josef was soos die psalmis wat gesê het: “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.” (Psalm 16:8; vergelyk Spreuke 3:5, 6.) Moses het ook sulke geloof gehad. “Hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.”​—Hebreërs 11:27.

Dit behels derhalwe meer as die inname van kennis om met God te wandel. Dit beteken dat jy ’n lewenswyse aanvaar wat strook met God se geopenbaarde wil en voorneme! Soos die apostel Paulus dit gestel het: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”​—1 Korinthiërs 10:31.

Die voordele as ’n mens met God wandel

“Al is dit nie veeleisend om te loop nie”, het Sussman en Goode in hulle boek The Magic of Walking geskryf, “beveel mediese en gesondheidsdeskundiges dit aan weens ’n verstommende verskeidenheid voordele.” Volgens berig help dit ’n mens om jou gewig te beheer, beter te slaap, minder gespanne te wees en hartkwaal te voorkom. As dit die geval met fisiese wandeling is, kan ons verwag dat dit selfs meer voordele sal inhou wanneer daar met God gewandel word.

Moet egter nie ’n diep emosionele ondervinding verwag nie. Namate jy met gebed en geloofsdade ‘tot God nader’, sal jy “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, geniet (Jakobus 4:8; Filippense 4:6, 7). Een vrou het byvoorbeeld straf gedrink en dwelms gebruik weens voortdurende neerslagtigheid. Sy het ook ’n aantal sektes van die valse Christendom ondersoek. Maar toe het sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Sy het gesê: “Hoewel niks anders wat ek op die proef gestel het my neerslagtigheid kon verlig nie, het ’n begrip van Jehovah se voornemens sin aan my lewe gegee.” Ja, wanneer ’n persoon begin om met God te wandel, word hy gelei op ’n weg wat ongetwyfeld vir hom geestelike en emosionele voordele sal meebring.​—Vergelyk Jesaja 30:21.

’n Skerpsinnige vrou genaamd Abigail het op nog ’n voordeel gewys. Sy het vir koning Dawid gesê: “As ’n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die HERE u God.” Stel jou dit voor! Wanneer hy deur sy vyande bedreig word, sal Dawid se lewe in Jehovah se beskermende bewaring wees soos ’n kosbare voorwerp wat versigtig toegedraai is vir bewaring. Hoewel dit nie noodwendig te kenne gee dat God se knegte altyd fisiese beskerming sal ontvang nie, sal Hy gewis die ewige belange beskerm van diegene wat vandag met hom wandel!​—1 Samuel 25:29; vergelyk Psalm 116:15.

Dit beteken egter nie dat jy vry sal wees van die mens se algemene probleme asof Christene onkwesbaar is nie. Salomo het gesê dat ‘tyd en lotgeval almal’ (Prediker 9:11). Die apostel Paulus is byvoorbeeld deur “’n doring in die vlees” geteister, moontlik die een of ander fisiese kwaal (2 Korinthiërs 12:7; Galasiërs 4:13-15). Sy metgesel Timotheüs het eweneens “herhaalde ongesteldhede” gehad (1 Timotheüs 5:23). Christene het vandag insgelyks hulle deel van siektes en voel soms selfs mismoedig of neerslagtig.

Jehovah God laat met tye ook kortstondige beproewinge toe sodat ons gelouter kan word, soos toe hy toegelaat het dat Josef opgesluit word (Psalm 105:17-19). Party word dalk soos Stefanus deur gewelddadige vervolgers om die lewe gebring (Handelinge 7:57-60). Maar God se vriende moet nooit verlate voel nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 4:8, 9.) “Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam” (Hebreërs 6:10). Een Christin, wat onderskraag is deur jare van onregverdige gevangenskap, het gesê: “Ek is volkome oortuig daarvan dat niemand wat ywerig in Jehovah se diens volhard, teleurgestel sal word nie. Ek het met my hele hart op Jehovah en op sy gerusstellende woorde vertrou: ‘Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.’”​—Hebreërs 13:5.

Hulp om in die stryd te volhard

Dit is nie maklik om so ’n getroue weg te handhaaf nie. Satan en sy goddelose geesmagte is daarop uit om ons te verstrik (Efesiërs 6:12). Dan is daar die huidige goddelose stelsel met sy aantreklike verlokkinge. ’n Christen in die eerste eeu genaamd Demas het die weg verlaat omdat “hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Timotheüs 4:10). Laastelik is daar ons gevalle vlees met sy neiging tot die bose (Romeine 7:21-23). As ons steeds met God wil wandel, moet ons voortdurend teen hierdie invloede stry.

God het egter drie kragtige instrumente vir ons beskikbaar gestel (1) Sy Woord, die Bybel, wat die nodige leiding voorsien (Psalm 119:105). (2) Sy sigbare organisasie, die Christengemeente, wat God se geestelike voedingsprogram uitvoer (Mattheüs 24:45-47; Efesiërs 4:11-16). Die Wagtoringgenootskap, die uitgewer van hierdie tydskrif, is nou verbonde aan daardie organisasie. (3) Sy heilige gees, wat ons deur gebed, ’n studie van die Skrif en omgang met sy volk ontvang. Dit sou ’n ernstige fout wees om enigeen van hierdie voorsienings te verwaarloos. Die profeet

Miga vermaan ons: “Wandel beskeie met jou God” (Miga 6:8, NW). Dit beteken dat ons ons beperkinge erken en volkome op God steun.

Om met God te wandel, kan inderdaad vergelyk word met ’n dogtertjie wat saam met haar vader deur ’n woeste storm loop. As sy sy hand sou los of besluit om haar eie koers in te slaan, sal sy gou verdwaal. Maar as sy stewig vashou, kan sy veilig en met vertroue met haar vader wandel. Ons moet ook sorg dat ons ons aan God se leiding onderwerp wat deur sy Woord en organisasie gegee word. Onafhanklikheid kan ons slegs hopeloos laat verdwaal. Deur beskeie met God te wandel, kan ons egter veilig deur die komende storm van Armageddon gelei word en behoue bly tot in ’n beloofde nuwe orde. Daar sal die dood en pyn tot die verlede behoort (Openbaring 16:16; 21:3, 4; 2 Petrus 3:13). Sal jy derhalwe God se welwillende uitnodiging aanvaar om met hom te wandel?

[Prent op bladsy 6]

God se Woord, gees en organisasie kan ons help om getrou ‘met God te bly wandel’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel