’n Unieke Atheense rots
AAN DIE westekant van Athene se beroemde Akropolis en met ’n valleitjie tussenin is ’n rotsrif van kalkklip wat die Grieke die Areopagus noem. Dit lyk nie juis indrukwekkend nie—dit is sowat 300 meter lank, ’n rapsie meer as 120 meter op sy breedste plek en ongeveer 115 meter hoog. Wat hierdie rots uniek maak, is die buitengewone geskiedenis, sekulêr en Bybels, wat daarmee geassosieer word.
Die naam Areopagus beteken letterlik “Heuwel van Ares” of “Marsheuwel”, daar Mars die Romeinse eweknie van die Griekse Ares, die oorlogsgod, is. Volgens oorlewering is die eerste hofsaak, oor ’n vreemde moord onder die gode, daar gehou. Ares het tereggestaan weens moord op die seun van die seegod Poseidon. Die rots het dus belangrik geword in die regs- en politieke sake van antieke Athene. Dit het uiteindelik die setel geword van die stad se eerste hof, wat die Hof, of Raad, van die Areopagus, of bloot die Areopagus, genoem is.
Daar is geen sekerheid oor presies wanneer die Hof ontstaan het nie. Maar teen ongeveer die sewende eeu v.G.J. het dit groot mag oor al die stadsake uitgeoefen, en sy lede is gekies uit die aristokrasie en rykes, die vooraanstaandes van die volk. Maar met verloop van tyd het die stadsmagistrate en die volkshof sy mag merendeels oorgeneem. Sy jurisdiksie is beperk tot moordgevalle en godsdiens- en opvoedkundige sake.
In Perikles se tyd (c. 495-429 v.G.J.) is daar byvoorbeeld berig dat die Areopagiete diegene verhoor het wat die “heilige olyfbome”, wat die bron van olyfolie vir heilige diens was, ontheilig het. Die Areopagiete is beskou as die bewakers en beheerders van sedes en godsdiens wat die stad teen enige ongewenste “vreemde gode” beskerm het. Geskiedenisstudente sal onthou dat die beroemde filosoof Sokrates (470-399 v.G.J.) juis om sulke redes deur die Atheense hof veroordeel is: “die verleiding van die jonges” en “die verwaarlosing van die gode wat die stad aanbid en die beoefening van godsdiensnuwighede”.
Wanneer die Areopagus moordsake verhoor het, is dit gewoonlik in die opelug gedoen sodat “die regters en die aanklaer nie dalk besoedel word deur onder dieselfde dak as die oortreder te wees nie”. Volgens die prosedure moes die aanklaer op ’n klip sit wat Onverbiddelikheid genoem is en die beskuldigde op een wat Wandaad genoem is. Vandag kan jy bo-op die heuwel twee wit klippe sien wat glo die toneel van die hof was. Verhore oor ander sake is waarskynlik gehou in die sogenaamde Koninklike Gallery (Stoa Basileios) in die agora, of markplein, in die vallei onder die Areopagus.
Die bekendste geskiedkundige gebeurtenis wat egter by die Areopagus plaasgevind het, is die een wat in die Bybel in Handelinge hoofstuk 17 opgeteken is—die apostel Paulus se besoek aan Athene waar hy sy onvergeetlike toespraak “in die middel van die Areopagus” gehou het.—Handelinge 17:22.
Toe Paulus Athene besoek het, het hy “baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is”. Dit het hom beweeg om talle gesprekke met die mense in die agora aan te knoop oor “die evangelie van Jesus en sy opstanding”. Hierdie boodskap het klaarblyklik die nuuskierigheid van die mense geprikkel, veral die van die Epikureïese en die Stoïsynse filosowe, en hulle het Paulus ’n breedvoeriger verslag van die “vreemde gode” en die “nuwe leer” by die Areopagus laat gee.—Handelinge 17: 16-34, NAV.
Paulus het van die geleentheid gebruik gemaak en die goeie nuus van Jesus moedig en kragtig verdedig. Sy toespraak is ’n pragstuk van logika en weerlegging; die impak daarvan is vandag nog net so kragtig soos toe die Atheners dit aanvanklik gehoor het. Vandag is daar onderaan die rots, aan die westekant, ’n bronsplaat om die gebeurtenis te herdenk. Paulus se toespraak is in groot Griekse unsiale, of hoofletters, daarop gegraveer vir almal om te sien. Dit is nie net ’n stilswyende getuienis van die lang en unieke geskiedenis van die rots nie, maar ook van die geskiedkundige betroubaarheid van die Bybel.