Die agora—Die hart van antieke Atene
DIE intellektuele gemeenskap van Atene was in beroering! Nuwe idees is altyd op daardie Griekse stad se agora, of markplein, verkondig. Maar hierdie keer was dit iets heel anders. Dit het gelyk of ’n sekere Joodse man, wat pas tevore in die stad aangekom het, “’n verkondiger van vreemde godhede” is. Hy het buitengewone dinge vir “dié wat daar was”, gesê. “Wat sou hierdie babbelaar tog wil sê?” het die trotse Epikureërs en die sedige Stoïsyne gevra. Ja, die Ateense agora was die plek om openbare debatte oor so te sê enige onderwerp op aarde te voer. Maar om vreemde gode in te voer—nee, dit was nou een te veel!—Handelinge 17:17, 18.
Dit was die wantrouige reaksie van die Ateners toe die apostel Paulus vir die eerste keer op die agora van Atene begin preek het. Hy het oor Jesus Christus en die opstanding gepraat. Maar wat was vir die oënskynlik onbevooroordeelde kultuur van Atene so ongewoon aan die bekendstelling van sulke nuwe begrippe op die agora?
Atene kry sy stadsplein
Wat eintlik uniek was, was die agora self en die sentrale rol wat dit in die godsdiens- en openbare lewe van die Ateners gespeel het. Die agora van Atene is ’n gebied van ongeveer 10 hektaar met ’n sagte helling wat noordwes van die Akropolis geleë is. Hierdie stuk grond is blykbaar vroeg in die sesde eeu v.G.J., gedurende die lewe van die Ateense staatsman en wetgewer Solon, as die terrein van die stadsplein opsy gesit. Die instelling van demokrasie in Atene, met sy groter klem op die burgerlike lewe, het tot ’n groot toename in boubedrywighede gedurende die eerste deel van die volgende eeu gelei. Dit het die agora nuwe lewe gegee en het dit ’n betekenisvoller rol laat speel.
Die Griekse woord a·go·raʹ is afgelei van ’n werkwoord wat “byeenkom, vergader” beteken. Dit pas by die gebruik van die agora as die vernaamste vergaderplek van die stad. Die agora het die hart van die maatskaplike en openbare lewe geword. Dit was die setel van burgerlike administrasie en regterlike gesag, die belangrikste plek om handel te dryf en sake te doen, die plek waar toneelopvoerings van Griekse dramas aangebied is, ’n plek waar sportvertonings gehou kon word en ’n geliefkoosde vergaderplek vir intellektuele bespreking.
Wil jy graag op ’n toer gaan deur wat oorgebly het van die tempels, suilegange, standbeelde, monumente en openbare geboue van die agora in Atene? Kom ons laat die geraas en gewoel van die hedendaagse stad agter en volg die gruispaadjies tussen die swygende marmerruïnes, die gesnede stene en die vervalle poorte wat met onkruid toegegroei is en ondersoek die agora se verlede.
Tempels, heiligdomme en beskermgode
Die talle tempels, altare en heiligdomme wat aan verskillende godhede gewy is, beïndruk besoekers. Al daardie dinge het daartoe bygedra dat die agora die vernaamste sentrum van aanbidding naas die Akropolis was. Gedurende die Goue Eeu van klassieke Atene het godsdiens deel uitgemaak van elke aspek van die openbare lewe. Dit het uiteraard beteken dat die godhede wat as die “beskermgode” van staatsdepartemente en administratiewe dienste benoem is tempelheiligdomme op die agora gekry het.
Een van die opvallendste van hierdie strukture was die Tempel van Hefaistos. Die godin Atena is met Hefaistos geassosieer. Albei hierdie godhede is hier as beskermgode van die kunste en ambagte aanbid. Argeologiese ontdekkings van metaalbewerking en pottebakkery rondom hierdie tempel het dit geïdentifiseer met Hefaistos, die Griekse god van die kunste waarby die gebruik van vuur ’n vername rol speel. Hierdie goed bewaarde tempel is waarskynlik in die sewende eeu G.J. omskep tot die Grieks-Ortodokse Kerk van St. Georgius, hoewel dit nie vandag as sodanig gebruik word nie.
Die agora het natuurlik sy eie beskermgod nodig gehad. Dit was Zeus Agoraios, wat soos hulle geglo het die redenaarskuns geïnspireer het en aan wie ’n versierde altaar gewy is wat uit kosbare Penteliese marmer gekap is. (Vergelyk Handelinge 14:11, 12.) Aan weerskante van ’n nabygeleë altaar van die Moeder van die Gode is daar ’n indrukwekkende rangskikking van monumente ter ere van helde.
’n Bietjie verder aan vind ons ’n klein Ioniese tempel. Die aardrykskundige Pausanias het dit as die Tempel van Apollo die Vader geïdentifiseer. Waarom? Omdat hy volgens ’n ou Griekse legende die vader was van Ion, die vader van die Ioniese ras waarvan die Ateners deel was.a In hierdie hoedanigheid was Apollo een van die beskermgode van die staat se administratiewe organisasie, veral met betrekking tot die verskillende broederskappe wat daar in die stad was.
Net noord hiervandaan sien ons die kalksteenoorblyfsels van ’n kleiner tempel, wat gedurende die middel van die vierde eeu v.G.J. gebou is. Zeus en Atena Fatrios, die vernaamste godhede van die voorouerlike godsdienstige broederskappe, is hier aanbid. Lidmaatskap hiervan was so te sê ’n voorvereiste vir Ateense burgerskap. Net oorkant die straat vind ons die oorblyfsels van ’n altaar van die Twaalf Gode.
In die Stoa van Zeus Eleuterios daar naby is die vernaamste Griekse godheid weer vereer, hierdie keer as die god van vryheid en verlossing. Hierdie suilegang, of stoa, was ’n gewilde wandelgang en vergaderplek. Die bekende filosoof Sokrates het na bewering saam met sy vriende in hierdie stoa bymekaargekom, waar hulle kon sit en gesels of ’n entjie kon gaan stap. Baie voorwerpe wat ter versiering aan hierdie stoa toegewy en geoffer is, soos die skilde van die krygsmanne wat gesterf het in gevegte om Atene te verdedig, het direk betrekking gehad op die stad se verlossing van sy vyande of met die behoud van sy vryheid.
Die Panateneïese Weg
’n Breë gruispad, wat die Panateneïese Weg genoem word, loop diagonaal oor die agora. Die naam en spesiale karakter daarvan is ontleen aan die nasionale fees van Atene, die Panateneë. Tydens hierdie fees is die sluier van die godin Atena langs hierdie pad van die Prosessie-huis (langs die stadspoort) na die Akropolis geneem. ’n Fries aan die Partenon help ons om ons die prag en praal van die feesoptog voor te stel—die perderuiters, die renstrydwaens, die beeste en skape vir offerandes, die jong manne en meisies wat die instrumente dra wat tydens die offerande gebruik sou word. Die burgers van Atene en hulle gaste het na die optog gekyk, en die argitekte het ruim voorsiening gemaak vir hulle gerief toe hulle die agora ontwerp het. Die suilegange met hulle terrasse aan die voorkant en die trappe is byvoorbeeld op vindingryke wyse ontwerp om ’n goeie uitsig op die optogroete te bied. Daar was plek vir baie toeskouers op die groot aantal trappe wat uit hulle fasades gekap is.
“Vol afgode”
Met so baie tempels, standbeelde en monumente bymekaar, is dit geen wonder nie dat die apostel Paulus se “gees in hom geïrriteerd geraak [het] toe hy sien dat die stad vol afgode is” (Handelinge 17:16). Wat Paulus gesien het toe hy die agora binnegegaan het, moes hom geskok het. Daar was soveel falliese standbeelde van die god Hermes dat ’n hele oordekte suilegang, wat as die Stoa van Hermes bekend staan, nodig was daarvoor. Kledingstukke op ander geverfde uitbeeldings van Hermes vertoon swastikas—simbole van vrugbaarheid en lewe. Daar was ’n standbeeld van Venus Genetrix, die godin van geslagsliefde, asook een van Dionisus wat ’n aantal falliese kruise op het. As teken van die “heiligheid” van die agora was daar ’n grensklip met ’n bak met “heilige” water sodat almal wat daar ingegaan het hulle seremonieel kon reinig.
In die lig van hierdie uiters godsdienstige klimaat, is dit vir ons maklik om te verstaan waarom Paulus se posisie besonder gevaarlik was. Hy is daarvan verdink dat hy “’n verkondiger van vreemde godhede” is, en die wet van daardie tyd het bepaal dat ‘niemand enige afsonderlike gode, of nuwes, mag hê nie; hy mag ook nie in die geheim enige vreemde gode aanbid nie, behalwe as hulle in die openbaar toegelaat word’. Dit is dus geen wonder nie dat die apostel na die Areopagus geneem is om ondervra te word.—Handelinge 17:18, 19.
Die sentrum van administrasie
’n Ronde gebou wat die Tolos genoem word, was die hoofkwartier van die Ateense regering. Baie voorsitters van die stad het snags in hierdie gebou geslaap sodat daar altyd verantwoordelike amptenare byderhand was. ’n Stel standaardgewigte en -mate is in die Tolos gehou. Fasiliteite vir verskeie departemente van die administrasie was daar naby geleë. Die Stadshuis was op ’n terras geleë wat uit die heuwelhang noordwes van die Tolos gegrawe is. Daar het lede van die Raad van 500 vergaderinge gehou waartydens hulle komiteewerk gedoen het en wetgewing vir die Vergadering voorberei het.
Die Koninklike Stoa was nog ’n belangrike stadsgebou. Dit was die setel van die Koninklike Argont van Atene—een van die stad se drie vernaamste magistrate. Van daar af het hy baie administratiewe verantwoordelikhede in verband met godsdienstige en wetlike sake behartig. Dit is waarskynlik hier waar Sokrates moes verskyn toe hy van oneerbiedigheid teenoor die gode aangekla is. Die voorvaderlike wette van Atene is uitgegraveer teen die mure van ’n gebou wat teenoor dit staan. Die argonte, of hoofmagistrate, het elke jaar op ’n steen voor dieselfde gebou gestaan om hulle ampseed af te lê.
Die Stoa van Attalus
Die bes bewaarde gebou van die agora is die Stoa van Attalus. As ’n jong man het Attalus, die koning van Pergamum (tweede eeu v.G.J.), aan die skole van Atene studeer, soos baie ander kinders van koninklike families in die Mediterreense wêreld. Toe hy sy troon bestyg het, het hy hierdie luisterryke geskenk—die Stoa van Attalus—aan die stad van sy alma mater gegee.
Die hooffunksie van die Stoa van Attalus was om ’n beskutte en deftige wandelgang te voorsien vir informele assosiasie. Sy vloer en terras het ’n uitstekende plek verskaf van waar daar na optogte gekyk kon word, terwyl sy gewildheid as ’n wandelgang sekerlik ook die sukses daarvan as ’n winkelsentrum verseker het. Die winkels is waarskynlik deur die Staat aan handelaars verhuur sodat die gebou as ’n bron van inkomste gedien het.
Noudat die Stoa van Attalus tot sy oorspronklike toestand herstel is, is dit ’n uitstekende voorbeeld van geometriese ontwerp. Die algemene verhoudings, die aangename verskille in skaal tussen die onderste en boonste ordes van suile, die interessante speling van lig en skaduwee en die rykheid en prag van die materiale daarvan dra alles tot die uniekheid daarvan by. Eentonigheid word op verskeie maniere voorkom, hoofsaaklik deur die gebruik van drie soorte suilkapitele—Dories, Ionies en Egipties.
’n Plek vir kulturele bedrywighede
’n Gebou waar baie kulturele gebeurtenisse in Atene plaasgevind het, was die Konsertsaal. Dit was die geskenk van Vipsanius Agrippa, die skoonseun van die Romeinse keiser Augustus. Die voorste deel is met veelkleurige marmer uitgelê. Die dak van die ouditorium, met sitplek vir ongeveer 1000, het ’n spanwydte van sowat 25 meter gehad en het oorspronklik geen steunstukke aan die binnekant gehad nie. Dit was een van die moedigste eksperimente met dakwerk in die antieke wêreld wat aan ons bekend is! Maar baie van die vermaak wat daar aangebied is, was waarskynlik twyfelagtig vir ware Christene, met hulle hoë sedelike standaarde.—Efesiërs 5:3-5.
Weetgierige mense van antieke tye het waarskynlik die Biblioteek van Pantainos besoek. Die mure daarvan was vol kabinette waarin handgeskrewe papirus- en perkamentrolle gehou is. Die hoofvertrek van die biblioteek kyk in ’n westelike rigting, deur ’n ry kolomme, op ’n binneplein met ’n suilegang uit—’n aangename plek om rond te loop, te lees of te peins. ’n Inskripsie is gevind waarop twee van die biblioteek se reëls is. Hulle was: “Geen boek mag weggeneem word nie” en “[Die biblioteek] is oop van die eerste tot die sesde uur.”
Die agora vandag
In die laaste jare is die agora amper ten volle opgegrawe deur die Amerikaanse Skool vir Klassieke Studie. Waar dit vreedsaam in die skadu van die Akropolis rus, het dit ’n gunstelingplek geword vir die toeris wat die geskiedenis van antieke Atene kortliks wil ondersoek.
Die nabygeleë Monastiraki-vlooimark—binne loopafstand van die agora en die Akropolis—is nog ’n fassinerende wêreld. Dit gee die besoeker ’n verrassende maar tog aangename smaak van Griekse volksoorleweringe en Midde-Oosterse basaarbedrywighede en winskopies. En die besoeker sal natuurlik ook Jehovah se Getuies daar sien wat vreugdevol presies dieselfde doen as wat die apostel Paulus meer as 1900 jaar gelede gedoen het—hulle verkondig die goeie nuus van die Koninkryk in die openbaar ‘vir dié wat daar is’.
[Voetnoot]
a Die naam Ioneër kom van dié van Jawan, die seun van Jafet en kleinseun van Noag.—Genesis 10:1, 2, 4, 5.
[Venster op bladsy 28]
Die handel in Atene
Die agora was nie net die intellektuele en burgerlike hart van Atene nie, maar was ook die stad se belangrikste mark. Atene het ’n handelsentrum geword wat bekend was vir sy sterk geldeenheid sowel as die nougesetheid van sy argonte, wat die gesag gehad het om seker te maak dat alle saketransaksies eerlik en regverdig geskied.
Atene het wyn, olyfolie, heuning, marmer en nywerheidsprodukte soos erdewerk en bewerkte metaal uitgevoer. In ruil daarvoor het hulle hoofsaaklik koring ingevoer. Aangesien Attika (die streek om Atene) nie genoeg voedsel gelewer het om sy inwoners van voedsel te voorsien nie, was die handelstandaarde streng. Die mark van Peiraeus (die hawe van Atene) moes altyd genoeg vars voedsel hê om in die behoeftes van die stad en die leër te voorsien. En handelaars is nie toegelaat om voorrade op te gaar sodat hulle dit gedurende moeilike tye teen ’n hoër prys kon verkoop nie.