Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 12/15 bl. 4-7
  • Hoe jy dankbaarheid kan toon vir wat Jesus gedoen het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe jy dankbaarheid kan toon vir wat Jesus gedoen het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Volg Jesus se voorbeeld na
  • Stel die aanbidding van Jehovah eerste
  • Sal jy op Jesus se liefde reageer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Is jy dankbaar vir wat Jesus gedoen het?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Waarom moet ons “die Christus” volg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • God die Seun of “die Seun van God”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 12/15 bl. 4-7

Hoe jy dankbaarheid kan toon vir wat Jesus gedoen het

DADE sê luider “Dankie” as blote woorde. As jy waardeer wat Jesus vir jou gedoen het, sal jy dus geloof wil beoefen in hom as jou Verlosser. Trouens, dit is die enigste manier waarop jy kan hoop om by Jesus se offerande baat te vind. Onthou jy die uitdrukking “geloof beoefen” wat in die New World Translation in Johannes 3:16 aangetref word? Wel, dit beteken meer as om te glo en te erken dat hy vir jou gesterf het. Dit beteken dat jy ook handel volgens daardie oortuiging.

Slaan ag op die instruksies wat Petrus kort na Pinkster, 33 G.J., aan sy Joodse luisteraars gegee het: “Toon dus berou en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word” (Handelinge 3:19, NW). Dit dui op optrede van tweërlei aard. Aan die een kant stry ons opreg teen die sondige neigings van die verstand en die liggaam. Aan Aan die ander kant smeek ons God om vergifnis vir ons sondes op grond van Jesus se offerande.​—1 Johannes 2:1, 2.

Volg Jesus se voorbeeld na

Colin, wat al 24 jaar ’n gedoopte Christen is, is gevra waarom hy dankbaar is vir wat Jesus gedoen het. Hy het geantwoord: “Ek waardeer sy losprysofferande, maar dit is sy voorbeeld wat my die meeste help. Sy lewe is ’n model wat ek wil navolg.”

Sal ons nie Jesus se voorbeeld van nederigheid, onderdanigheid en selfopofferende liefde wil navolg as ons waarlik dankbaar is nie? As jou lippe “Ja!” sê, hoe antwoord jou gesindheid en dade? Hoe sal die meeste mense byvoorbeeld reageer wanneer hulle ’n taak ontvang wat ware aanbidding sal bevorder maar wat nederigheid en opoffering van hulle verg, soos die skrop van vloere in ’n plek wat vir Christelike vergaderinge gebruik word? Hoe sou jy reageer? Sou jy, uit waardering vir Jesus en sy hemelse Vader, geredelik ’n opdrag aanvaar wat talle benede hulle waardigheid en te ongemaklik sal ag? Jesus het hom verneder om ’n vergelyklike diens aan ander te lewer.​—Johannes 13:2-17; Filippense 2:7, 8.

Kom ons beskou nog ’n voorbeeld. Misverstande tussen mense lei dikwels tot bitsige woorde en gekrenkte gevoelens. Wat sou die meeste persone doen as hulle in ’n vertrek vol mense was, en daar was iemand daar wat hulle tevore ernstig te na gekom het? Wat sou jy doen? Sou jy, uit dankbaarheid teenoor Jesus en Jehovah, uit jou eie die eerste stap doen om met daardie persoon versoen te raak, en sal jy dit met ’n stille en sagmoedige gees doen? Dit is hoe Jesus en sy hemelse Vader teenoor die sondige mensdom opgetree het.​—Romeine 5:6-10; 1 Johannes 4:9-11.

Buiten dat hy sy hemelse heerlikheid prysgegee het om ’n mens te word en daarna sy aardse lewe neergelê het as die mens se Vrykoper, het Jesus die mensdom ’n onskatbare diens bewys deur sy onderrigting. Geen ander mens het so ’n kragtige invloed ten goede op die mensdom gehad soos Jesus Christus nie. Hy was ’n onderrigter sonder gelyke. Hy het mense onderrig aangaande God se naam, persoonlikheid, voornemens en wil vir menseskepsele.​—Johannes 7:45, 46.

Een van die beste voorbeelde van sy onderrigting is die Bergpredikasie. Daarin het Jesus ’n beginsel gestel wat bekend geword het as die gulde reël: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Mattheüs 7:12, NAV). Hy het ook getoon wat die twee grootste gebooie van die Wet is: ‘Om Jehovah God uit jou hele hart, siel, verstand en krag lief te hê, en om jou naaste lief te hê soos jouself’ (Markus 12: 29-31). Nog iets wat ons nie oor die hoof moet sien nie, is sy profesieë, waarvan die vervulling so duidelik toon waar ons ons in God se tydrooster bevind.​—Mattheüs, hoofstukke 24 en 25.

Jesus het sy onderrigting deur sy handelwyse gerugsteun en ons sodoende die ideale, die volmaakte, voorbeeld gegee om na te volg. Hy het sy loopbaan begin deur hom geheel en al oor te gee om sy Vader se wil te doen en dit toe gesimboliseer deur in water gedoop te word. God het hom aarde toe gestuur om bowenal vir die waarheid te getuig. Net voor sy dood kon Jesus vir sy Vader sê: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring”, en “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het”.​—Johannes 17:4, 6.

Jesus wou hê dat ander sy voorbeeld moet navolg. Dit blyk uit sy eie woorde en die van ander. “Kom agter My aan”, en “Kom hier, volg My”, het Jesus in Mattheüs 4:19 en 19:21 gesê. ‘Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld nagelaat, sodat julle sy voetstappe kan navolg’ en “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is”, het die apostels Petrus en Paulus geskryf.​—1 Petrus 2:21; 1 Korinthiërs 11:1.

As jy dankbaarheid wil toon vir wat Jesus Christus as die Groot Onderwyser en Voorbeeld vir jou gedoen het, moet jy aanhou om jou vertroud te maak met sy leringe. Dit verg gereelde studie van God se Woord, veral die Christelike Griekse Skrifte, waar Jesus se leringe aangetref word. Aangesien jy hulp nodig sal hê om te verstaan wat jy lees, sal dit verstandig wees om gebruik te maak van Bybelstudiehulpe wat juis met daardie doel gedruk is.a Wend ook ’n doelbewuste poging aan om in jou daaglikse lewe toe te pas wat jy leer. Ja, die regte optrede is nodig. Jesus het gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”​—Mattheüs 7:21; 4:17; Lukas 4:17-21.

Stel die aanbidding van Jehovah eerste

Daar is vandag meer as 1 056 000 000 mense wat bely dat hulle Christene is. Maar hoe min dankbaarheid toon die meeste van hulle tog vir wat Jesus vir hulle gedoen het! Baie dink blykbaar dat hulle heel goed doen as hulle twee maal per jaar kerk toe gaan, op die Christendom se groot vakansiedae. Of ander sê dalk: ‘Ek het God lief omdat ek in die Tien Gebooie glo.’ Maar hoeveel mense gehoorsaam daardie gebooie? Daardie volmaakte wet, wat eens vir die nasie Israel bindend was, het die grootste klem gelê op die korrekte aanbidding van Jehovah God, spesifiek deur sy eerste vier gebooie.​—Exodus 20:1-11.

Hoeveel sogenaamde Christene volg werklik Jesus se voorbeeld deur die beginsels van die Tien Gebooie in hulle daaglikse lewe toe te pas? Gee hulle aan God hulle “onverdeelde trou”, soos die tweede gebod vra? (Kyk NAV.) Maak hulle, soos Jesus, God se naam op gepaste wyse bekend, soos die derde gebod beklemtoon? Ware Christene is nie net deugsaam nie, maar stel ook die aanbidding van Jehovah eerste in hulle lewe.​—Mattheüs 6:33.

Baie sulke Christene weet dat dit ’n deel van hulle aanbidding van God is om byeen te kom. Maar het jy al ooit die gereelde bywoning van Christelike vergaderinge as ’n teken van dankbaarheid beskou? Die apostel Paulus het. Hy redeneer so in die tiende hoofstuk van sy brief aan die Hebreërs. Hy wys ook op die gevaar van apatie teenoor Christelike vergaderinge. So ’n houding kan daartoe lei dat ’n Christen mismoedig raak en ophou om goeie geloof swerke te verrig. In ander gevalle kan mense se waardering vir God se weg tot redding deur Christus afneem. As dit die geval is en hulle nie iets doen om hulle verswakkende geloof op te bou nie, kan dit tot moedswillige sonde, selfs afvalligheid, lei. Dit sou daarop neerkom dat hulle God se gawe ‘minag’​—’n belediging vir sowel Jehovah as Jesus.​—Hebreërs 10:23-31, vgl. NAV.

Let op Paulus se waarskuwing aangaande diegene wat nie alleen die vergaderinge gering ag nie maar selfs God se gawe vir redding verwerp. “As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?”​—Hebreërs 10:28, 29, NAV.

Die Wet was God se gawe deur Moses. Paulus herinner sy lesers daaraan dat as onboetvaardige oortreders van daardie goddelike Wet die doodstraf ontvang het, diegene wat God se groter gawe deur Jesus Christus, die Grotere Moses, met minagting verwaarloos des te meer straf verdien. Die wat die Seun van God as hulle Verlosser ontheilig en sy offerande verag, sal “die tweede dood” sterf​—’n swaar straf met geen hoop op ’n opstanding nie.​—Openbaring 21:8; Deuteronomium 13:6-10; 17:2-7.

Paulus toon ook hoe ondankbaar die moedswillige sondaar of afvallige geword het. So ’n man maak hom op drie maniere skuldig aan die hoogste belediging. Ten eerste het hy “die Seun van God verag” of “vertrap” (AB). Òf hy beskou Jesus nou as sy vyand, want in die ou tyd het oorwinnaars op die nekke van hulle verslane vyande getrap, òf hy verag Jesus, want mense vertrap die dinge wat hulle verag. (Vergelyk Mattheüs 7:6.) Ten tweede het hy “die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag”. Hy smaad die middel waardeur hy gereinig is (Christus se bloed). Hy beskou daardie bloed, wat die nuwe verbond bekragtig het, as van geen groter waarde as die bloed van onvolmaakte mense nie, as iets wat nie heilig is nie. Ten derde het hy “die Gees van genade beledig”. Hy het God se werkende krag gelaster en Jehovah se invloed opsetlik teengestaan deur te sê dat dit geen waarde het en dus vir hom van geen nut is nie.​—Efesiërs 4:30.

Ons kan sulke flagrante dade van minagting vermy as ons altyd God se gawe vir redding waardeer. Christelike vergaderinge is ’n manier waarop ons die regte beskouing kan behou. Aangesien Jehovah en Jesus onsigbaar teenwoordig is by hierdie vergaderinge, sal dankbare Christene hulle nie afjak, soos die afvalliges doen nie, maar sal hulle eerder hulle uiterste bes doen om die vergaderinge gereeld by te woon.​—Vergelyk Maleagi 3:16; Mattheüs 18:20.

Wees dus dankbaar vir wat Jesus vir jou gedoen het. Toon ware geloof in sy losprysofferande. Volg sy voorbeeld in jou optrede teenoor ander. Stel die aanbidding van sy Vader, Jehovah God, eerste in jou lewe. Dan kan jy sê: “God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe” van onverdiende goedheid deur Christus.​—2 Korinthiërs 9:15.

[Voetnote]

a Ons beveel byvoorbeeld die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aan, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

[Prent op bladsy 6]

Maniere waarop jy dankbaarheid teenoor Jesus kan toon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel