Die diere van Openbaring—Waarom moet ons van hulle lees?
OPENBARING! Dit is die treffende naam van die laaste boek van die Bybel. Die boek is vol lewendige woordbeelde, waarvan dié van ’n draak en van drie diere uitsonderlik is. Hierdie diere is vir party skrikwekkend. Ander maak hulle af as die verbeeldingsvlugte van ’n ou man. Waarom moet jy dan van die diere van Openbaring lees? Want jou geluk is daarby betrokke.
Die apostel Johannes was weliswaar bejaard toe hy die boek Openbaring bykans 1 900 jaar gelede geskryf het. Maar beteken dit dat die diere wat daarin beskryf word die hallusinasies van ’n siniele verstand is? Nee, en Johannes was nie die eerste bejaarde wat sulke gesigte gesien het nie. ’n Man met die naam Daniël het ook op sy oudag gesigte van diere gesien, en hierdie gesigte was juiste profesieë oor die veranderinge in menseregering (Daniël hoofstukke 7 en 8). Daarbenewens het Jesus Christus self Daniël as goddelik geïnspireerd beskou, hom ’n profeet genoem en uit sy geskrifte aangehaal.—Mattheüs 24:15.
Jesus het getoon dat sy apostels ná sy dood bykomende goddelike onderrig sou ontvang (Johannes 16:12, 13). En aangesien talle aspekte van die boek Openbaring op ’n merkwaardige wyse vervul is, kan ons daarvan seker wees dat die apostel Johannes se gesigte van die diere van Openbaring ook deur God geïnspireer is.—2 Timotheüs 3:16.
Die inleiding van die boek Openbaring sê: “’n Openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het . . . En hy het sy engel uitgestuur en dit in tekens deur hom aan sy slaaf Johannes meegedeel” (Openbaring 1:1, NW). Die beelde in die boek Openbaring, dié van die diere daarin inkluis, is dus simbolies, nie letterlik nie. Dit is nie nodig om bang te wees om van hulle te lees nie. Hierdie simboliese diere bied Christene noodsaaklike kennis en stel hulle in staat om hulle verhouding met God te bewaar. Daarom kon die apostel Johannes skryf: “[Gelukkig] is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.” Ja, as jy hierdie simbole verstaan, kan dit jou nou en in die toekoms geluk verskaf.—Openbaring 1:3, vgl. NW.