Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 2/1 bl. 22-26
  • Jehovah se hand is met ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se hand is met ons
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My besluit
  • Teokratiese mylpale
  • My geloof word beproef
  • Die tronklewe
  • Betheldiens
  • Bewyse wat ons van God se gees gesien het
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Kan jy jou beskikbaar stel?
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Soek eers die Koninkryk—’n veilige en gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • ’n Seldsame Christelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 2/1 bl. 22-26

Jehovah se hand is met ons

Soos vertel deur Simon Kraker

“WATTER loopbaan dink Pa moet ek volg?”

“Wel, Simon, dink mooi na oor die saak, want ek kan nie die besluit vir jou neem nie.”

“Ja, Pa, maar met Pa se ondervinding sal Pa beter weet!”

“Dit is dalk so, Simon. Daar is baie moontlikhede en hulle lyk almal aantreklik, maar watter een sal jou die gelukkigste maak?”

“Nou goed, Pa. Ek het gedink aan musiek, ballet, akrobatiek, die geneeskunde en die priesteramp. Ek stel in elkeen belang.”

Watter keuse sou jy gedoen het? Watter weg sou jy ingeslaan het? In die vroeë 1920’s het iets met my gesin gebeur wat ’n groot invloed op my keuse van ’n loop baan gehad het. Laat ek jou daarvan vertel.

My ouers, Mary en Joseph, is albei in Oostenryk gebore, maar hulle het mekaar in die Verenigde State ontmoet en is hier getroud. Voor Vader na die Verenigde State geëmigreer het, het hy as ’n beroepstrompetspeler die hele Europa deurreis. Derhalwe het hy gesorg dat al agt sy kinders nie net ’n goeie akademiese opvoeding kry nie, maar ook ’n musikale. Ek het die gesinsorkes se vioolspeler geword.

As Rooms-Katolieke wou Moeder en Vader hê dat ons almal ’n goeie godsdienstige opvoeding moet ontvang. Ek kan die Rooms-Katolieke Bybel onthou wat ons in die huis gehad het. Dit was groot, het ’n goue kruis op die dik omslag gehad en was in ou Duitse letters gedruk. Ek het genoeg daaruit geleer om ’n groot respek vir die Bybel as die Woord van God op te bou.

In die vroeë twintigerjare het ’n ander godsdiens gratis Bybeltraktate voor ons Holy Trinity-kerk in die stad Cleveland, Ohio, uitgedeel. Ons het hulle huis toe geneem en met ons Bybel vergelyk. Hulle is uitgegee deur die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Een traktaat wat ek veral kan onthou omdat dit Moeder gelukkig gemaak het, het gehandel oor die toestand van die dode. Sy het twee seuns verloor toe hulle nog babas was. Die traktaat het haar laat besef dat hulle nie in die limbus lewe of in die vaevuur of hel ly nie, maar dat hulle onbewus in die graf op die opstanding wag (Prediker 9:5, 10; Johannes 11:24, 25). Watter vertroosting was dit tog​—nie net vir Moeder nie, maar vir ons almal!

My besluit

Toe Duitssprekende Bybelstudente (Bibelforscher) ons huis besoek het, het Skriftuurlike waarhede al hoe duideliker geword. Namate ons meer Bybelkennis opgedoen het, het ons al hoe verder weggedryf van ons Katolieke erfenis. Nou het ek my in ’n dilemma bevind. By geboorte is ek Simon genoem, Peter toe ek gedoop is en Joseph toe ek aangeneem is. Ek het ’n altaardienaar geword, Latynse gebede en Misse geleer en verskeie godsdiensampte beklee. My ouers het gehoop dat ek ’n priester sal word, en ek was self vasbeslote om ’n groter aandeel in die godsdienstige lewe te hê.

My vroeëre loopbaan verwagtinge het my egter al hoe minder aangestaan. Dit was nie meer ’n kwessie van hoe ek mense kon vermaak, ’n beroemde gimnas kon word of as ’n dokter kon praktiseer nie. Die vraag was eerder: Wat kan ek doen om ander geestelik te help? Ek het nie meer die Rooms-Katolieke priesteramp as die oplossing gesien nie.

My ouers het hulle aandag en bedrywigheid nou toegespits op die ‘goeie nuus van God se Koninkryk’ wat die Bybelstudente verkondig het, en ek het ook (Mattheüs 24:14, NW). In 1924 het Moeder en Vader die “goeie nuus” van huis tot huis begin verkondig, en ek het saam met hulle gegaan. Twee jaar later, toe ek 12 jaar oud was, het Vader besef dat ek op my eie kon preek. Daarom het hy my ’n sakbybeltjie gegee om in my predikingswerk te gebruik. Voor ek my skoolloopbaan in 1929 voltooi het, het ek besluit om my aan God toe te wy.

Teokratiese mylpale

As ek terugdink aan die meer as 60 jaar sedert my gesin aan die Koninkryksverkondiging begin deelneem het, besef ek dat ons baie mylpale in die vooruitgang van God se sigbare organisasie verbygesteek het. In 1925 het The Watch Tower byvoorbeeld die artikel “Geboorte van die nasie” gepubliseer. Ek was verheug om te leer dat Jehovah opregte mense uit alle nasies bymekaarmaak om sy volk te wees. Daardie Skriftuurlike waarheid het my werklik beïndruk! Waarom? Omdat daar op daardie tydstip baie sterk vooroordeel teen Jode en Swartmense in ons buurt was. Maar God se volk is vry van alle verdelende kragte​—etnies, polities, kommersieel, militêr en sektaries (Handelinge 10:34, 35). Hoe opwindend was dit tog nie om die verduideliking van die profesie in Jesaja hoofstuk 66 te lees en te sien hoe dit in my eie dag vervul word nie!

Nog ’n teokratiese mylpaal vir ons gesin was die byeenkoms in 1928 in Detroit, Michigan. Daar was twee redes hiervoor. Dit was die eerste byeenkoms wat my ouers bygewoon het. En met hulle tuiskoms is ons kinders grootliks geraak toe hulle vreugdevolle entoesiasme om meer in Jehovah se diens te doen eenvoudig uitgeborrel het.​—Romeine 12:11, vgl. NW.

Toe, in 1931, het God se organisasie opwindende nuus vir ons gehad. Ons het ’n nuwe naam gekry​—Jehovah se Getuies. Wat ’n unieke voorreg om die naam van God voor mense en engele te dra!​—Jesaja 43:10-12.

Ek sal nooit die jaar 1935 vergeet toe dit duidelik geword het wie die “ander skape” en die “groot menigte” is nie (Johannes 10:16; Openbaring 7:9). Dit het baie mense​—my ook—​gehelp om die stap te doen om gedoop te word. Gedurende my eerste jare in die waarheid is daar nie klem gelê op die doop nie. Omdat ek my lewe reeds aan Jehovah God toegewy het, het ek nou besef dat dit gepas sal wees om daardie toewyding deur waterdoop te simboliseer.

Die jaar 1938 was ’n jaar van teokratiese reorganisasie. Tot op daardie tyd was daar net een sentrale vergaderplek van Jehovah se Getuies in Cleveland​—die Ingenieursouditorium wat vir Duitse, Poolse, Engelse en andertalige groepe gebruik is. Ná 1938 het God se organisasie gereël dat gemeentes in verskeie dele van die stad gestig word. Vader en party van my broers is as knegte in die gemeente aangestel. My toewysing was in die tydskrifafdeling.

In 1939 het ’n ander historiese gebeurtenis my geloof in Jehovah en sy sigbare organisasie versterk. Terwyl oorlogswolke aangerol het, het The Watchtower ’n artikel met die titel “Neutraliteit” gepubliseer. Hierdie artikel het my laat besef dat God se volk in vrede met almal moet lewe, selfs te midde van oorlogsgevaar. Ek was dankbaar, want dit het my voorberei op die swaar tye wat ek kort daarna sou deurmaak.

In 1939 het ek ook die eerste keer na die stad New York gegaan. Daar het ek die tweede President van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, ’n toespraak in Madison Square Garden hoor hou. Terwyl broer Rutherford gepraat het, het nagenoeg 500 godsdiensvyande probeer om die vergadering met hulle gejou op te breek. Maar dit was alles tevergeefs. Broer Rutherford het end-uit deurgedruk, en die gehoor het met entoesiastiese applous gereageer.

Iets wat my na aan die hart lê en wat ek nog goed kan onthou, is die internasionale byeenkoms wat in 1942 in my tuisstad, Cleveland, gehou is. Die wyd geadverteerde openbare toespraak was “Vrede​—Kan dit voortduur?” Skriftuurlike bewyse is voorgelê om te toon dat enige toekomstige, mensgemaakte vrede nie sal standhou nie.

My geloof word beproef

Dit was gedurende daardie tyd dat my geloof ten opsigte van die neutraliteitsgeskil beproef is. Ek was ’n bestuurder in die onderdele-afdeling van die General Motors-maatskappy. Hulle het my toegelaat om deeltyds te werk, en dit het my in staat gestel om my bedrywigheid as ’n bedienaar van God se Woord eerste te stel. Maar sou ek, met die oorlog wat gewoed het en die Verenigde State wat nou daarby betrek was, aan die stryd deelneem, of sou ek vrystelling probeer kry weens my sekulêre werk? Ek het nie een van die twee gekies nie. Ek was ’n geordende bedienaar en het op grond daarvan die wetlike reg op vrystelling van militêre diens gehad. Maar die Vrystellingsraad het nie saamgestem nie.

Die Raad het voorgestel: “Jy kan as ’n kapelaan in die weermag gaan dien.” “Nee”, het ek geantwoord. “My gewete laat my nie toe nie, omdat ek ’n bedienaar van God se Woord is en ek my lewe aan daardie werk gewy het.”

“Maar jy kan dit in die weermag ook doen.”

“Nee”, het ek gesê. “Ek kan my medemens net van die ‘goeie nuus’ dien wat in die Bybel gevind word.”

My saak is na ’n hoër hof verwys. In die Federale Hof het ek daarop gewys dat my vader weens sy godsdiensoortuigings teen die dra van wapens en militêre betrokkenheid uit Oostenryk gevlug en na die Verenigde State gekom het.

“Maar jy sal nie hoef te veg nie”, het die regter gesê. “Met jou agtergrond en opleiding sal jy ’n uitstekende kapelaan uitmaak, jongman.”

“U Edele, hoe kan ek dit doen? As my gewete my nie toelaat om wapens op te neem nie, hoe kan ek ’n ander aanmoedig om dit te doen?”

Die tronklewe

Ten spyte van die dokumentêre bewys dat ek ’n evangeliedienaar is, is ek in die noordelike herfs van 1943 tot vyf jaar in die federale strafgevangenis in Lewisburg, Pennsilvanië, gevonnis. Ek was egter nie die enigste Getuie in Lewisburg nie, want daar was ongeveer 50 ander broers daar. Teen die tyd dat ek vrygelaat is, was daar nagenoeg 200.

Die gevangenis het uitgesprei gelê op sowat vierhonderd hektaar grond. Dit het bestaan uit geboue waar die gevaarliker misdadigers gehuisves is, ’n plaaskamp vir die vertroude prisoniers en ’n dorpie waar die sipier, wagte en ander gevangenispersoneel gewoon het. Getuies is gewoonlik na die plaaskamp gestuur. Dit was my werk om die plaaskampgevangenes na en van hulle werkplekke aan te ry.

Aanvanklik is ons nie toegelaat om godsdiensvergaderinge te hou en Bybellektuur te hê nie. Tog het ons die Watchtower gereeld ontvang. Hoe was dit moontlik? Party besoekers wat deur die beboste dele van die terrein moes loop om by die dorpie en gevangenisgeboue uit te kom, het ’n papiersak met die tydskrifte daarin ongemerk langs die pad laat val. Ek of ’n ander broer het die sak gaan soek en die inhoud onder die ander broers uitgedeel. Nog ’n manier waarop ons lektuur gekry het, was deur die vriendelikheid van een van die wagte wat in die dorpie gewoon het. Hy het ou koerante op sy huis se stoep laat lê. Wanneer ons die ou koerante gaan haal het, het ons dikwels van ons tydskrifte tussenin gevind. Later het die sipier aan ons versoek voldoen om gereeld vergaderinge te hou en Bybellektuur te ontvang.

Eendag, toe ek ’n werkspan by die sipier se tuin afgelaai het, het ek my boeglam geskrik. Ek het die Genootskap se boek Die waarheid sal julle vrymaak tussen my klere versteek gehad. Terwyl die gevangenes gesnoei en gras gesny het, het ek in die vragmotor gesit en die boek versigtig uitgehaal. Maar stel jou my skok voor toe die sipier se dogtertjie skielik agter my opspring en sê: “Boe! Wat lees jy?”

Omdat sy my betrap het met lektuur wat eintlik in my sel moes gebly het, het ek vir haar gesê dat dit ’n boek is wat die Bybel verduidelik. Sy het selfs nuuskieriger geword toe ek haar een van die prente in die boek gewys het. Dit was van ’n man wat afbuk en sy voetboeie losmaak. “Baie mense is soos hy”, het ek gesê. “Hulle is aan valse godsdiensopvattings geboei, en Jesus wil hulle bevry, want hy het gesê: ‘Die waarheid sal julle vrymaak.’”​—Johannes 8:32.

Die volgende dag het die kind se moeder gesê: “Simon, my dogter het my alles vertel van julle gesprek oor die Bybel en van die boek wat jy haar gewys het. Sy was baie beïndruk, en dit het vir my ook interessant geklink.” Gelukkig het die voorval nie onaangename gevolge gehad nie.

Ek het minder as die helfte van my vonnis uitgedien. Nadat ek in 1946 vrygelaat is, het ek spoedig weer by die geledere van die voltydse pioniers aangesluit.

Betheldiens

Die Blye Nasies- Teokratiese Byeenkoms wat in 1946 in Cleveland gehou is, was nog ’n belangrike gebeurtenis in my lewe. Dit was daar dat ek aansoek gedoen het om na Bethel te kom​—voltydse diens by die Wagtoringgenootskap se wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York.

Twee verteenwoordigers van die Genootskap, broer Milton Henschel en broer Robert Morgan, het kortliks verduidelik wat Betheldiens behels en toe onderhoude gevoer met die wat daar was. Ek het hulle huiwerig genader. Maar toe die onderhoud eers begin het, het ek gesien dat hulle baie vriendelik en ongekunsteld is.

“Waarom wil jy by Bethel dien?” het een van die broers gevra.

“As ’n pionier doen ek al wat ek kan in Jehovah se diens”, het ek geantwoord. “Maar ek is seker dat ek meer sal kan doen as ek Bethel toe kan gaan.”

“Jy sal beslis meer doen as jy Bethel toe kom”, het die ander gesê.

Hy was reg! Sedert my eerste dag by Bethel, 18 Februarie 1947, het ek hierdie diens baie interessant en lonend gevind. Ek dank Jehovah elke dag dat sy hand my na hierdie heilsame diensvoorreg gelei het.​—2 Thessalonicense 3:5.

Bewyse wat ons van God se gees gesien het

Nadat ek 45 jaar lank ter wille van die Koninkryk ongetroud gebly het, het ek my “deugsame vrou”, Grace Suiter, reg hier by die Brooklyn-Bethel gevind (Spreuke 31:10). Sy het in 1939 van die Midde-Weste van die V.S.A. af Bethel toe gekom, hoewel sy en haar gesin die waarheid in Kalifornië geleer het.a Sedert ons huwelik in 1959 het ons gevind dat Jehovah se hand met diegene is wat hom liefhet en getrou dien.

Ek en my geliefde Grace het in baie opsigte ’n eenderse agtergrond. Ons is albei in 1914 gebore, albei ons gesinne het godsdienswaarheid gesoek en ons het albei op die ouderdom van 12 saam met ons ouers aan die predikingswerk van huis tot huis begin deelneem. Daarbenewens is dit, as ’n egpaar in die Betheldiens, ’n vreugde om saam die moedige inisiatief te ondervind wat God se organisasie neem om die getuieniswerk “tot aan die uiterste van die aarde” uit te brei!​—Handelinge 1:8.

Was ons al ooit spyt dat ons onder die hand van God gekom het? Nie Grace nie! “Ons diens hier by Bethel het nie vir ons materiële rykdom gegee nie”, sê sy. “Maar ons lewens is op ’n blywender manier sinvol. Al het ons nie vleeslike kinders nie, het ons beslis talle geestelikes.”

Ek is ook glad nie spyt nie! Ons keuse om Jehovah in die voltydse diens te loof, was ’n baie goeie een. Ons lei ’n vol lewe met ’n edele doel, danksy die feit dat ons “onder die kragtige hand van God” is.​—1 Petrus 5:6.

[Voetnote]

a Die Wagtoring se nommer van 15 November 1983 bevat die lewensverhaal van haar broer, wyle Grant Suiter, en hulle gesin.

[Prent op bladsy 23]

My ouers, Joseph en Mary

[Prent op bladsy 25]

Simon en sy vrou, Grace

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel