Lewensverhaal
Soek eers die Koninkryk—’n veilige en gelukkige lewe
SOOS VERTEL DEUR JETHA SUNAL
Ná ontbyt het ons die aankondiging oor die radio gehoor: “Jehovah se Getuies is onwettig, en hulle werk is verbied.”
DIT was 1950, en ons vier, almal vroue in ons twintigerjare, het as sendelinge van Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek gedien. Ons het die vorige jaar daar aangekom.
Sendingdiens was nie altyd my doel in die lewe nie. Ek het wel as kind kerk toe gegaan. Maar my pa het gedurende die Eerste Wêreldoorlog opgehou om kerk toe te gaan. Die dag toe ek in 1933 in die Episkopale Kerk aangeneem is, het die biskop net een vers uit die Bybel gelees en toe oor die politiek begin praat. My ma was so ontsteld dat sy nooit weer teruggegaan het kerk toe nie.
Ons lewenswyse verander
Vyf kinders is vir my ouers, William Karl en Mary Adams, gebore. Die seuns was Don, Joel en Karl. My suster, Joy, was die jongste kind, en ek was die oudste. Ek was omtrent 13 toe ek my ma eendag ná skool ’n boekie sien lees het, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Die titel was Die Koninkryk, die hoop van die wêreld. “Dít is die waarheid”, het sy vir my gesê.
My ma het ons almal vertel van die dinge wat sy uit die Bybel geleer het. Deur haar woorde en voorbeeld het sy by ons tuisgebring hoe belangrik Jesus se raad is: ‘Soek eers die koninkryk en sy regverdigheid.’—Matteus 6:33.
Ek het nie altyd met waardering geluister nie. Eenkeer het ek gesê: “Ma, hou op om vir my te preek, of ek gaan nie meer die skottelgoed afdroog nie.” Maar sy het taktvol aangehou om met ons te praat. Sy het gereeld al die kinders saam met haar na die Bybelstudies geneem wat in Clara Ryan se huis gehou is en wat binne loopafstand was van ons huis in Elmhurst, Illinois, VSA.
Clara het ook klavierlesse gegee. Wanneer haar studente by jaarlikse musiekuitvoerings opgetree het, het sy die geleentheid gebruik om oor God se Koninkryk en die opstandingshoop te praat. Omdat ek in musiek belanggestel het—ek het vioollesse geneem vandat ek sewe was—het ek na Clara geluister.
Kort daarna het ons kinders saam met my ma gemeentelike vergaderinge aan die westelike kant van Chicago begin bywoon. Dit was ’n lang rit met die bus en trem, maar dit was deel van ons vroeë opleiding in wat dit beteken om eers die Koninkryk te soek. In 1938, drie jaar nadat my ma gedoop is, het ek saam met haar na ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Chicago gegaan. Dit was een van 50 stede wat by daardie geleentheid deur middel van radiotelefoon verbind was. Wat ek daar gehoor het, het my hart geraak.
Maar musiek was ook baie na aan my hart. Ek het in 1938 klaargemaak met skool, en my pa het gereël dat ek aan die Amerikaanse Musiekakademie in Chicago gaan studeer. Gedurende die volgende twee jaar het ek dus musiek studeer, in twee orkeste gespeel en ’n loopbaan in daardie rigting oorweeg.
My vioolonderwyser, Herbert Butler, het van Europa af gekom om in die Verenigde State te werk. Ek het dus vir hom die boekie Vlugtelingea gegee, in die hoop dat hy dit sou lees. Hy het, en ná my les die volgende week het hy gesê: “Jetha, jy speel goed, en as jy voortgaan met jou studies, sal jy in ’n radio-orkes kan speel of self musiek kan gee. Maar”, het hy bygevoeg met die boekie wat ek vir hom gegee het in sy hand, “ek dink jou hart is hierin. Waarom maak jy dit nie jou loopbaan nie?”
Ek het ernstig daaroor nagedink. In plaas van my studies by die Musiekakademie voort te sit, het ek my ma se uitnodiging aanvaar om in Julie 1940 die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Detroit, Michigan, by te woon. Ons het in tente in die woonwapark gebly. My viool het natuurlik saam met my gegaan, en ek het in die byeenkomsorkes gespeel. Maar in die woonwapark het ek baie pioniers (voltydse evangeliedienaars) ontmoet. Hulle was almal so gelukkig. Ek het besluit om my te laat doop en ’n aansoekvorm vir pionierdiens in te vul. Ek het tot Jehovah gebid om my te help om my hele lewe lank in die voltydse bediening te bly.
Ek het in my tuisdorp begin pionier. Later het ek in Chicago gedien. In 1943 het ek na Kentucky verhuis. Daardie somer, net voor die streekbyeenkoms, het ek ’n uitnodiging ontvang om die tweede klas van die Gileadskool by te woon, waar ek vir sendingwerk opgelei sou word. Die klas sou in September 1943 begin.
Gedurende die byeenkoms daardie somer het ek by ’n Getuie gebly wat gesê het dat ek enige van haar dogter se klere kon kry wat ek wou hê. Haar dogter het by die leër aangesluit en vir haar ma gesê om al haar goed weg te gee. Vir my was dit ’n vervulling van Jesus se belofte: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Die vyf maande by Gilead het gevlieg, en ná ons graduering op 31 Januarie 1944 kon ek nie wag om met die sendingdiens te begin nie.
Hulle het ook die voltydse diens gekies
My ma het in 1942 as ’n pionier begin dien. Op daardie stadium was my drie broers en my suster nog op skool. My ma het hulle dikwels ná skool ontmoet en saam met haar in die veldbediening uitgeneem. Sy het hulle ook geleer om met takies by die huis te help. Sy het dikwels tot laat opgebly om te stryk en ander noodsaaklike take te verrig sodat sy gedurende die dag in die bediening kon uitgaan.
In Januarie 1943, terwyl ek in Kentucky pionier het, het my broer Don ook begin pionier. Dit was ’n teleurstelling vir my pa, wat gehoop het dat al sy kinders universiteit toe sou gaan, soos hy en my ma. Nadat hy byna twee jaar pionier het, is Don genooi om sy voltydse diens by die hoofkantoor van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, voort te sit.
Joel het in Junie 1943 begin pionier toe hy nog in die huis was. Gedurende daardie tyd het hy tevergeefs probeer om my pa te oorreed om ’n streekbyeenkoms by te woon. Toe Joel egter nie ’n tuisbybelstudie met iemand in die gebied kon begin nie, het my pa ingestem dat hy ’n studie met hom kon hou uit die boek “Die waarheid sal julle vrymaak”. Hy het die vrae maklik beantwoord, maar daarop aangedring dat Joel vir hom skriftuurlike bewyse gee van wat in die boek staan. Dit het Joel gehelp om Bybelwaarheid sy eie te maak.
Joel het gehoop dat die Dienspligraad wat Don as ’n bedienaar vrygestel het, dieselfde vir hom sou doen. Maar toe die raad sien hoe jonk Joel lyk, het hulle geweier om hom as ’n bedienaar te klassifiseer en hom vir militêre diens opgeroep. Toe hy geweier het om te gaan, het hulle ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik. Nadat die FBI hom opgespoor het, het hy drie dae in die gevangenis van die Cook-distrik deurgebring.
My pa het ons huis gebruik as sekuriteit vir borgtog. Daarna het hy dieselfde gedoen vir ander jong Getuies wat hulle in ’n soortgelyke situasie bevind het. Die onregverdigheid van die saak het my pa baie kwaad gemaak, en hy het saam met Joel na Washington, DC, gegaan om appèl aan te teken. Joel is uiteindelik as ’n bedienaar geklassifiseer, en die saak is afgewys. My pa het vir my in my sendingtoewysing geskryf: “Jehovah moet seker die eer vir hierdie oorwinning kry!” Teen die einde van Augustus 1946 is Joel ook genooi om by die hoofkantoor in Brooklyn te gaan dien.
Karl het ’n hele paar keer gedurende sy skoolvakansies pionierdiens gedoen voor hy vroeg in 1947 met skool klaargemaak en ’n gewone pionier geword het. My pa se gesondheid het toe begin agteruitgaan, en Karl het hom ’n tyd lank met sy sakeonderneming gehelp voordat hy ’n pioniertoewysing elders aanvaar het. Laat in 1947 het Karl saam met Don en Joel by die Brooklyn-hoofkantoor as ’n lid van die Bethelgesin begin dien.
Nadat Joy klaargemaak het met skool, het sy begin pionier. Toe, in 1951, het sy by haar broers in Bethel aangesluit. Sy het Bethelkamers skoongemaak en ook in die Intekeningafdeling gewerk. In 1955 is sy met Roger Morgan getroud, ook ’n lid van die Bethelgesin. Ongeveer sewe jaar later het hulle besluit om ’n gesin te begin en Bethel verlaat. Hulle het twee kinders grootgemaak wat ook Jehovah dien.
Toe al die kinders in die voltydse diens was, het my ma my pa die nodige aanmoediging gegee sodat hy ook sy lewe aan Jehovah toegewy het en in 1952 gedoop is. Hy het 15 jaar lank, tot sy dood, die Koninkrykswaarheid op baie vindingryke maniere aan ander verkondig, selfs al het siekte hom beperk.
Ná ’n kort onderbreking weens my pa se siekte het my ma tot haar dood pionierdiens gedoen. Sy het nooit ’n motor gehad nie; sy het ook nie fietsgery nie. Sy was ’n kort vroutjie en het gestap waar sy wou wees, dikwels ver uit die stad om Bybelstudies te hou.
Na die sendingveld
Nadat ons aan die Gileadskool gegradueer het, het ’n groep van ons ’n jaar lank noord van die stad New York pionier totdat ons die nodige reisdokumente kon kry. Uiteindelik het ons in 1945 na ons toewysing, Kuba, vertrek waar ons geleidelik by ons nuwe lewenswyse aangepas het. Baie het gunstig op ons predikingswerk gereageer, en ons almal het kort voor lank talle Bybelstudies gehou. Ons het etlike jare lank daar gedien. Toe is ons na die Dominikaanse Republiek gestuur. Op ’n dag het ek ’n vrou ontmoet wat my aangespoor het om een van haar kliënte te gaan besoek, ’n Franse vrou met die naam Suzanne Enfroy, wat hulp gesoek het om die Bybel te verstaan.
Suzanne was ’n Jood, en toe Hitler Frankryk binnegeval het, het haar man haar en hulle twee kinders na ’n ander land geneem. Suzanne het gou vir ander vertel van die dinge wat sy geleer het. Sy het eers met die vrou gepraat wat my na haar toe gestuur het, en toe met Blanche, ’n vriendin uit Frankryk. Albei het vooruitgang gemaak en is gedoop.
“Hoe kan ek my kinders help?” het Suzanne my gevra. Haar seun het vir dokter geleer en haar dogter het balletklasse geneem, in die hoop dat sy by die Radio City Music Hall in New York sou dans. Suzanne het vir hulle ’n intekening op Die Wagtoring en Ontwaak! gestuur. Gevolglik het haar seun, sy vrou en sy vrou se tweelingsuster almal Getuies geword. Suzanne se belangstelling in Jehovah se Getuies het haar man, Louis, senuweeagtig gemaak omdat die regering van die Dominikaanse Republiek teen dié tyd ons werk verbied het. Maar nadat die hele gesin na die Verenigde State getrek het, het hy ook uiteindelik ’n Getuie geword.
Ons dien al is die werk verbied
Hoewel die werk van Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek verbied is kort nadat ons in 1949 daarheen gestuur is, was ons vasbeslote om eerder aan God as heerser gehoorsaam te wees as aan mense (Handelinge 5:29). Ons het voortgegaan om eers God se Koninkryk te soek deur die goeie nuus daaroor bekend te maak, soos Jesus sy volgelinge beveel het (Matteus 24:14). Ons het egter geleer om “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” te wees terwyl ons die predikingswerk doen (Matteus 10:16). My viool het byvoorbeeld goed te pas gekom. Ek het dit saamgeneem wanneer ek Bybelstudies gehou het. My studente het nie violiste geword nie, maar etlike gesinne het knegte van Jehovah geword!
Nadat die werk verbied is, is ons vier meisies—ek, Mary Aniol, Sophia Soviak en Edith Morgan—van die sendinghuis in San Francisco de Macorís verskuif na een wat by die takkantoor in Santo Domingo, die hoofstad, was. Maar elke maand het ek na ons oorspronklike toewysing gegaan om ’n musiekles te gee. Sodoende kon ek vir ons Christenbroers geestelike voedsel in my vioolkis neem en die rapporte van hulle getuieniswerk terugbring.
Toe die broers van San Francisco de Macorís weens hulle Christelike standpunt oor neutraliteit in Santiago opgesluit is, is ek gevra om vir hulle geld en, indien moontlik, Bybels te neem en ook nuus vir hulle gesinne terug te bring. Toe die wagte by die gevangenis in Santiago my vioolkis onder my arm sien, het hulle gevra: “Waarvoor is dit?” “Om vir hulle te speel”, het ek geantwoord.
Een van die liedere wat ek gespeel het, was een wat deur ’n Getuie geskryf is terwyl hy in ’n Nazi-konsentrasiekamp was. Daardie lied is nou nommer 29 in die liedereboek van Jehovah se Getuies. Ek het dit gespeel sodat ons gevange broers dit kon leer sing.
Ek het verneem dat baie van die Getuies verskuif is na ’n plaas wat aan Trujillo, die hoof van die regering, behoort het. Daar is vir my gesê dat dit naby die busroete is. Ek het omtrent twaalfuur die middag van die bus afgeklim en die pad daarheen gevra. Die eienaar van ’n klein winkeltjie het na ’n bergreeks beduie en vir my sy perd aangebied, asook ’n seun om my die pad te wys, as ek my viool as sekuriteit sou agterlaat.
Aan die anderkant van daardie heuwels moes ons ’n rivier oorsteek; albei van ons het op die perd gesit terwyl hy geswem het. Daar het ons ’n swerm papegaaie gesien, met hulle glansende groen en blou vere wat in die son geblink het. Dit was ’n pragtige gesig! Ek het gebid: “Dankie, Jehovah, dat u hulle so pragtig gemaak het.” Uiteindelik het ons teen vieruur die middag by die plaas aangekom. Die soldaat in bevel was so gaaf om my toe te laat om met die broers te praat en hulle alles te gee wat ek vir hulle gebring het, selfs ’n klein Bybeltjie.
Op pad terug het ek heeltyd gebid, want dit was toe al donker. Teen die tyd dat ons by die winkel aangekom het, was ons papnat van die reën. Aangesien die laaste bus van die dag reeds vertrek het, het ek die winkeleienaar gevra om vir my ’n verbygaande vragmotor voor te keer. Kon ek dit waag om saam met die twee mans in die vragmotor te klim? Een van hulle het my gevra: “Ken jy vir Sophie? Sy het met my suster gestudeer.” Ek het tot die slotsom gekom dat dit Jehovah se antwoord op my gebed was! Hulle het my veilig tot in Santo Domingo gebring.
In 1953 was ek onder dié van die Dominikaanse Republiek wat die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in die Yankee-stadion, New York, bygewoon het. Ons hele gesin, ook my pa, was daar. Ná ’n verslag oor hoe die predikingswerk in die Dominikaanse Republiek vorder, het ek en my sendingmaat, Mary Aniol, kortliks gedemonstreer hoe ons die getuieniswerk ondanks die verbod doen.
Spesiale vreugdes van die reisende werk
Daardie somer het ek Rudolph Sunal ontmoet met wie ek die volgende jaar getroud is. Sy familie het kort ná die Eerste Wêreldoorlog Getuies in Allegheny, Pennsilvanië, geword. Nadat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog tronkstraf uitgedien het weens sy Christelike neutraliteit, het hy by Bethel in Brooklyn, New York, begin dien. Kort nadat ons getroud is, is hy genooi om as ’n reisende opsiener gemeentes te besoek. Ek het hom die volgende 18 jaar in die kringwerk vergesel.
Ons diens het ons onder meer na Pennsilvanië, Wes-Virginië, New Hampshire en Massachusetts geneem. Ons het gewoonlik by ons Christenbroers in hulle huise tuisgegaan. Dit was ’n besondere vreugde om hulle goed te leer ken en Jehovah saam met hulle te dien. Hulle het altyd hartlike en opregte liefde en gasvryheid aan ons betoon. Nadat Joel met my gewese sendingmaat, Mary Aniol, getroud is, het hulle drie jaar in die reisende werk deurgebring en gemeentes in Pennsilvanië en Michigan besoek. Daarna is Joel in 1958 genooi om weer ’n lid van die Bethelgesin te word, dié keer saam met Mary.
Karl was ongeveer sewe jaar lank in Bethel toe hy gevra is om ’n paar maande lank as kringopsiener te dien sodat hy verdere ondervinding kon opdoen. Daarna het hy ’n instrukteur by die Gileadskool geword. In 1963 is hy met Bobbie getroud, wat tot haar dood in Oktober 2002 getrou by Bethel gedien het.
Gedurende sy baie jare by Bethel het Don van tyd tot tyd na ander lande gereis om die lede van takkantore en sendelinge te bedien. Sy toewysings het hom na die Ooste, Afrika, Europa en verskeie dele van die Amerikas geneem. Don se lojale vrou, Dolores, reis dikwels saam met hom.
Ons omstandighede verander
Ná ’n lang siekbed is my pa oorlede, maar voor sy dood het hy vir my gesê dat hy baie bly is ons het besluit om Jehovah God te dien. Hy het gesê dat ons baie meer seëninge ontvang het as wat die geval sou gewees het as ons universiteit toe gegaan het soos hy wou hê. Nadat ek my ma help pak het sodat sy nader aan my suster, Joy, kon trek, het ek en my man pioniertoewysings in Nieu-Engeland aanvaar sodat ons nader aan sy ma kon wees, wat toe ons hulp nodig gehad het. Nadat sy ma oorlede is, het my ma 13 jaar by ons gebly. Toe, op 18 Januarie 1987, het sy haar aardse loopbaan op die ouderdom van 93 voltooi.
Dikwels wanneer vriende my ma geprys het omdat sy al haar kinders grootgemaak het om Jehovah lief te hê en te dien, het sy beskeie geantwoord: “Ek was gelukkig dat ek goeie ‘grond’ gehad het om mee te werk” (Matteus 13:23). Wat ’n seën was dit tog om godvresende ouers te hê wat vir ons ’n goeie voorbeeld van ywer en nederigheid gestel het!
Die Koninkryk kom steeds eerste
Ons het altyd God se Koninkryk eerste in ons lewe gestel en het ook Jesus se raad probeer toepas om vir ander te gee (Lukas 6:38; 14:12-14). Jehovah het op sy beurt oorvloedig in ons behoeftes voorsien. Ons het ’n veilige en gelukkige lewe gelei.
Ek en Rudy is nog altyd lief vir musiek. Ons geniet dit wanneer ander wat daardie liefde deel ’n aand saam met ons kom deurbring en ons almal saam musiek maak. Maar musiek is nie my loopbaan nie. Dit is ’n bykomende vreugde in die lewe. Ek en my man geniet dit nou om die vrugte van ons pionierbediening te sien, die mense wat ons deur die jare heen gehelp het.
Ondanks die feit dat ons nou gesondheidsprobleme het, kan ek sê dat ons lewe die afgelope 60 jaar of wat in die voltydse bediening baie gelukkig en veilig was. Elke oggend wanneer ek wakker word, dank ek Jehovah dat hy my gebed verhoor het toe ek soveel jare gelede die voltydse bediening betree het, en dan vra ek: ‘Hoe kan ek gedurende hierdie dag eers die Koninkryk soek?’
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[Prent op bladsy 24]
Ons gesin in 1948 (links na regs): Joy, Don, my ma, Joel, Karl, ek en my pa
[Prent op bladsy 25]
My ma het ’n ywerige voorbeeld in die bediening gestel
[Prent op bladsy 26]
Karl, Don, Joel, Joy en ek vandag, meer as 50 jaar later
[Prent op bladsy 27]
Van links na regs: Ek, Mary Aniol, Sophia Soviak en Edith Morgan as sendelinge in die Dominikaanse Republiek
[Prent op bladsy 28]
Saam met Mary (links) by die Yankee-stadion, 1953
[Prent op bladsy 29]
Saam met my man in die kringwerk