Die Pous en die Apokalips
AVERTING ARMAGEDDON (Om Armageddon af te wend) is die titel wat twee joernaliste gekies het vir hulle boek in 1984 oor onlangse pouslike politiek. Gordon Thomas en Max Morgan-Witts doen al meer as 17 jaar lank verslag oor die pousdom. Wat kan hulle ons meedeel in verband met besorgdheid oor die apokalips in die hoogste kringe van die Katolieke Kerk?
Volgens hierdie joernaliste het monseigneur Emery Kabongo, persoonlike sekretaris van Johannes Paulus II, gesê: “Die Pous is soos ’n geestelike Hercules wat probeer om die supermoondhede uitmekaar te hou en om ’n kern-Armageddon af te wend.”
Dit wil voorkom of kerkleiers veral besorg is oor wêreldvernietiging deur mensetoedoen in plaas van oor God se selektiewe ingryping in mense-aangeleenthede—die apokalips wat die Bybel voorspel. Averting Armageddon sê derhalwe: “Onder die wat saam met Kabongo werk, is daar geen uiterlike teken van spanning terwyl hulle probeer om die apokalips wat hulle bespeur teë te hou nie. . . . Maar agter hierdie vertoon is daar ’n gespannenheid wat die direkte uitvloeisel is van die internasionale Sinode van Biskoppe. [Die sinode] het sy beraadslagings op ’n somber noot afgesluit, met afkeuring van ‘strydlustige aggressiwiteit, geweld en terrorisme, die opbou van arsenale van sowel konvensionele en veral kernwapens, en die skandalige handel met alle oorlogswapens’.” Selfs die pous is daarby betrokke. Thomas en Morgan-Witts berig dat werke soos International Defense Review, The Problems of Military Readiness, en Surprise Attack: Lessons for Defense Planning op die boekrakke in sy studeerkamer staan. Hulle voeg by:
“Naby die ensiklieke is boeke oor ’n onderwerp wat nou die Pous se aandag boei: die eskatologie, die studie van Bybelse leringe wat daarop dui dat God Sy Koninkryk op aarde sal oprig deur ’n reeks ‘gebeurtenisse’ ter afsluiting van ’n tydvak. Johannes Paulus glo vurig . . . dat iets ‘beslissends’ die wêreld kan oorkom, moontlik nog voor die einde van die eeu. Kan dit pessiekte wees, ’n tweede Swart Dood? Of droogte of hongersnood van ondenkbare omvang? Of kernoorlog? Hy vrees nou dikwels laasgenoemde; miskien is hy, so het hy al gemymer, in die rol van die hoof van die Kerk geplaas gedurende ’n tydperk wat die finale dekade van die wêreld kan wees voor dit permanent deur ’n kernramp uitgewis word.”
Averting Armageddon vestig ook die aandag op die simboliese “oordeelsdaghorlosie” wat gereeld in die Bulletin of the Atomic Scientists vertoon word. Toe hierdie “horlosie” in Desember 1947 vir die eerste keer gepubliseer is, het dit op sewe minute voor middernag gestaan om te toon “hoe naby die wêreld aan ’n kern-Armageddon is”. Na die wapenbeperkingsooreenkoms van 1972 (SALT) is die wysers van die horlosie teruggeskuif tot twaalf minute voor middernag. In 1984 het Thomas en Morgan-Witts geskryf: “Die horlosie staan nou op net drie minute voor middernag. Dit is die naaste wat dit in dertig jaar aan die oordeelsdag was.”
Ten spyte van pouslike pogings “om ’n kern-Armageddon af te wend”, toon die wysers in [November] 1985 nog steeds dat daar nog net drie minute grasie is. Maar laat ons aandag nie afgetrek word deur kwellinge oor die vraag of die nasies die mensdom sal vernietig nie. Pleks van die apokalips te probeer vermy, sal ons verstandig wees indien ons God se weg van redding uit die apokalips soek, want dit sal gewis “oor die hele wêreld kom”.—Openbaring 3:10.