’n Nuwe handleiding vir die veldbediening
BY HONDERDE “Handhawers van onkreukbaarheid”-Streekbyeenkomste gedurende 1985-1986 is ’n nuwe handleiding vir die veldbediening in talle tale bekendgestel. Die gebruik daarvan kan mense help om die bevredigende antwoorde te verkry wat die Bybel op hulle vrae verskaf. Die titel van hierdie boek is Redenering uit die Skrif, en dit het 448 bladsye. Wat is party van die kenmerke daarvan?
◻ “Inleidings vir gebruik in die veldbediening.” Dit is verkry by kring- en streekopsieners, pioniers en ouere manne wat baie jare ondervinding het en wat goeie resultate in hulle bediening behaal.
◻ “Hoe jy kan reageer op potensiële gesprekdempers.” “Ek stel nie belang nie”, “Ek het my kerk”, “Ek is besig” en talle ander word hier bespreek. As hierdie besware jou verhinder om ’n getuienis in jou gebied te lewer, sal jy nuttige, nuwe benaderings hier vind. Die gedeelte bevat ook praktiese inligting oor gesprekke met Boeddhiste, Hindoes, Jode en Moslems.
◻ Daar is meer as 70 hoofonderwerpe. Onder meer “Aborsie”, “Drie-Eenheid”, “Dwelms”, “Seks”, “Reïnkarnasie”, “Spiritisme”, “Vakansiedae”, “Wegraping” en baie ander. Hieronder word wenke gegee oor hoe ’n mens die soort vrae wat nou, in die 1980’s, dikwels gevra word, kan beantwoord. Byvoorbeeld: “Hoe kan ons seker wees dat die Bybel nie verander is nie?” “Het almal ’n voorbestemde ‘tyd om te sterwe’?” “Waarom laat God lyding toe?” Daar is ook wenke oor hoe jy kan redeneer met ’n persoon wat sê: “Mense het die Bybel geskryf”, “Ek het my eie begrip van God”, “Ek lei ’n goeie lewe. Ek behandel my naaste goed. Dis genoeg godsdiens vir my”, en talle ander. Hulle is uit agttien lande versamel. As jy die handleiding gebruik, kan dit jou help om baat te vind by die ondervinding wat ander oor ’n tydperk van dekades opgedoen het deur uit die Skrif te redeneer.
◻ Hierdie boek is nie geskryf om enigiemand te help om “argumente te wen” met mense wat geen respek vir die waarheid het nie. Dit verskaf eerder waardevolle inligting wat jy kan gebruik om te redeneer met individue wat jou sal toelaat om dit te doen. Party stel vrae waarop hulle werklik bevredigende antwoorde wil hê. Ander meld moontlik net hulle opvattinge in die loop van die gesprek, en hulle doen dit dalk met ’n mate van oortuiging. Maar miskien is hulle redelike persone wat bereid is om na ’n ander beskouing te luister. Dan kan hierdie boek jou grootliks help om Bybelwaarheid duidelik aan hulle oor te dra. Moenie aarsel om vir hulle te wys wat die boek bevat en daaruit vir hulle te lees nie.
◻ In ooreenstemming met die voorbeeld wat die apostel Paulus gestel het toe hy in Griekeland gepreek het, maak dit gepas gebruik van aanhalings uit die sekulêre geskiedenis, ensiklopedieë, godsdiensnaslaanwerke, Bybelwoordeboeke, ensovoorts. Alles is byderhand.
◻’n Saakregister van onderwerpe en tekste, sewe bladsye lank, is ingesluit om jou die antwoorde gou te help vind.
◻ Neem hierdie waardevolle handleiding gereeld in die veldbediening saam met jou. Bied dit aan vir Bybelstudente wat ’n begeerte openbaar om met ander te praat oor wat hulle geleer het. Gewoonlik sal dit nie vir die publiek aangebied word nie. Maar as iemand om ’n eksemplaar vra, moet jy nie huiwer om vir hom een te kry nie.