Wees heelhartig in die veldbediening
Deel 2—Bou entoesiasme op
1 Dit is makliker om entoesiasties te wees oor iets wanneer ons dit geniet. Dit is ook gewoonlik waar dat ’n mens dit geniet om iets te doen waarvoor jy voorberei het. Dit is beslis waar as ons ons bediening ten volle wil vervul.—2 Tim. 4:5, vgl. NW.
VOORBEREIDING NOODSAAKLIK
2 Ons entoesiasme in die veldbediening hou direk verband met hoe goed ons voorberei het en hoe dikwels ons in die velddiens uitgaan. Wat kan ons byvoorbeeld sê as ons iemand in die bediening van huis tot huis ontmoet wat sê dat hy ’n Moslem is? ’n Goed voorbereide verkondiger kan sê: “Dit is interessant. Ek het nog nie met baie Moslems gepraat nie. Maar ek het iets oor ’n paar van julle godsdiensleerstellings in hierdie handboek gelees. [Blaai na bladsy 23 van die Redenering-boek.] Dit sê julle glo dat Jesus ’n profeet was maar dat Muḥammad die laaste en belangrikste profeet was, nie waar nie? [Laat huisbewoner antwoord.] Glo julle ook dat Moses ’n ware profeet was? [Laat huisbewoner antwoord; hy sal dit waarskynlik bevestig.] Kan ek jou in die Heilige Geskrifte wys wat God vir Moses oor Sy persoonlike naam gesê het?” Jy kan dan Exodus 6:3 lees (NW). Só kan jy ’n interessante gesprek begin.
3 Dit is vir baie van ons moeilik om spesifieke bladsynommers te onthou. Maar met ’n bietjie voorbereiding en oefening kan ons die deel “Gesprekdempers” voor in die Redenering-boek gebruik. Daardie deel bevat onder andere etlike bladsye inligting wat ons kan help om mense te antwoord wat sê dat hulle aan ’n bepaalde godsdiens behoort.
4 Die Redenering-boek bevat ook ’n goeie deel oor inleidings. Jy kan hierdie inleidings gerus probeer. Ons sal moontlik ons aanbieding by die situasie moet aanpas. Aan die einde van baie van die onderwerpe in die Redenering-boek is daar ’n deel “Wanneer iemand sê”, wat gepaste materiaal voorsien in antwoord op spesifieke vrae of besware wat met die onderwerp verband hou. Maar al hierdie goeie materiaal is net vir ons nuttig as ons dit in ons voorbereiding gebruik.
HOE OM VOOR TE BEREI
5 Let op watter publikasies tydens die Diensvergadering bespreek gaan word, en maak seker dat jy hulle by jou het sodat jy gedurende besprekings en demonstrasies daarna kan kyk. Só kan jy meer baat vind by ander se voorbereiding.
6 Dit is nuttig om ’n bietjie tyd daaraan te bestee om vir die velddiens voor te berei. Maak seker dat jy die lektuur aangeskaf het wat jy nodig het. Gebruik ’n paar minute om na die Onderwerp vir gesprekke te kyk. Hersien die tekste wat gebruik word, en soek spesifieke gesprekspunte in die lektuur wat jy gaan aanbied. Dit sal help as julle dit as ’n gesin saam doen.
7 Hou oefensessies. Julle kan op verskillende tye oefen—ná die Gemeentelike Boekstudie, by gesellighede, in motorgroepe, tussen deure. Dit kan baie aangenaam wees en goeie geleenthede skep om bekwamer te word as ons ons aanbieding oefen en bespreek en demonstreer hoe ons besware kan oorkom.
8 Goeie voorbereiding sal ons entoesiasme vir die bediening opbou sodat ons bekwame werkers kan word en vreugdevolle bevrediging kan maai.—Joh. 2:17.