Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 3/15 bl. 15-20
  • Gee geen plek aan die Duiwel nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gee geen plek aan die Duiwel nie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Soortgelyke materiaal
  • Staan Satan teë, en hy sal vlug!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “Staan die Duiwel teë”, soos Jesus gedoen het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Moenie plek toelaat vir die Duiwel nie
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe lyk die Duiwel?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 3/15 bl. 15-20

Gee geen plek aan die Duiwel nie!

“Laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie.”​—EFESIËRS 4:26, 27.

1. Hoe het Petrus die Duiwel beskryf, en watter versekering omtrent beskerming het die apostel gegee?

’N WREDE wilde dier is op roof uit. Hy het ’n onversadigbare drang om Christene te verslind. Petrus waarsku: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof . . . En mag die God van alle genade self, . . . nadat ons ’n kort tyd gely het, julle . . . bevestig, versterk.”​—1 Petrus 5:8-10.

2. (a) Watter omstandighede maak ons ontvankliker vir aanvalle deur Satan? (b) Waarom het die persoon wat ’n slagoffer van afvalligheid word dit net aan homself te wyte? (c) Watter swakheid het die weg gebaan vir die Duiwel om dit in die hart van Judas Iskariot in te gee om Jesus te verraai?

2 Ons kan seker wees dat die Duiwel en sy agente, demone sowel as mense, gereed is om enige knaende twyfel, enige ernstige persoonlikheidsgebrek, enige nalatigheid aan ons kant om geestelik sterk in die geloof te bly, uit te buit. Maar Jehovah se Woord verseker ons dat die Duiwel ons nie sal verslind as ons ’n ferm standpunt teen hom inneem nie (Jakobus 4:7). Niemand word byvoorbeeld ’n slagoffer van afvalligheid omdat dit eenvoudig nie vermy kon word nie. Niemand is voorbestem om die geloof te verlaat nie. Beweegredes is daarby betrokke. Johannes het weliswaar gesê dat party “van ons uitgegaan [het], maar hulle was nie van ons nie” (1 Johannes 2:19). Maar dit het gebeur omdat hulle òf afvalligheid verkies het òf aanvanklik met ’n slegte beweegrede in Jehovah se organisasie ingekom het. Judas Iskariot het ’n goeie hart gehad toe hy as een van Jesus se 12 apostels geroep is, maar die Duiwel het hom toegelê op Judas se swakheid, naamlik gierigheid. Selfs voor die aand waarop Jesus verraai is, het “die duiwel . . . dit al in die hart van Judas Iskariot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai”.​—Johannes 13:2.

3. Watter faktore kan ’n persoon beïnvloed om ’n slagoffer van afvalligheid te word?

3 ’n Persoon slaan ’n verkeerde weg in omdat hy toelaat dat sy eie selfsugtige redenasie, sy eie ambisies en begeertes, sy gekose metgeselle en milieu sy denke vorm en sy wil beïnvloed. Paulus het gepraat van party wat ‘eenmaal verlig geword en die hemelse gawe gesmaak het, maar afvallig geword het’ (Hebreërs 6:4-6). As ons nie voortdurend op ons hoede is nie, kan die Duiwel ons hart deur sy sluwe propaganda ontvanklik maak vir afvallige denke. Maar wat gebruik die Duiwel om ’n persoon ’n maklike slagoffer van afvalligheid te maak?

4. Wat kan gebeur as ons voor bitterheid, wrewel en foutvindery swig?

4 Algemene gesindhede waarna Satan op die uitkyk is, is bitterheid, wrewel en foutvindery. Sulke gevoelens kan so sterk word dat daar min plek is vir liefde en waardering. Miskien word ’n onopgeloste probleem soos ’n kanker, wat ’n persoon gebelg en geregverdig kan laat voel om van noodsaaklike Christenvergaderinge weg te bly. As hy lank toornig bly, ‘gee hy plek aan die Duiwel’ (Efesiërs 4:27). Die verontwaardigde individu sien slegs sy broer se menslike swakhede raak, in plaas van hom “sewentig maal sewe” keer te vergewe, en hy versuim om die moeilike omstandighede te benut as geleenthede om Christelike eienskappe te vervolmaak (Mattheüs 18:22). As iemand na hom kom terwyl hy so voel en te kenne gee dat Jehovah se organisasie onderdrukkend of beperkend is, of selfs dat sekere grondleerstellings verkeerd is, sal die verbitterde Christen se hart moontlik vir hierdie ongegronde bewerings ontvanklik wees. Hoe noodsaaklik is dit dus om nie toe te laat dat bitterheid en wrewel opbou nie! Moenie dat die son oor jou toorn ondergaan nie. Gee liewer ten volle uiting aan liefde.

5. (a) Hoe kan trots of gebelgdheid oor teregwysing ’n valstrik wees? (b) Hoe help nederigheid ’n mens om standvastig in die geloof te bly?

5 Na watter ander harts- en gemoedstoestande is die Duiwel op die uitkyk? Wel, daar is trots, verwaandheid, gegriefdheid dat ’n mens nie die aansien ontvang wat jy meen jou toekom nie. Dit is almal valstrikke van die Duiwel (Romeine 12:3). As jy raad ontvang of selfs tereggewys word vir die een of ander verkeerde gewoonte of gesindheid kan dit ook ’n ideale tyd wees vir die Duiwel om jou aan te hits om jou af te vra of jy in die regte organisasie is. Bly dus nederig. Wees tevrede om jou as “’n mindere” te gedra. Moenie dat trots of verwaandheid ooit veroorsaak dat jy jou standvastigheid in die geloof prysgee nie.​—Lukas 9:48, NW; 1 Petrus 5:9.

6, 7. (a) Wat is party blyke van ongeduld wat die Duiwel gou uitbuit? (b) Wat moet ’n mens doen as jy wysheid kortkom?

6 Ongeduld is nog iets waarna die Duiwel op die uitkyk bly. Ons voel soms dat veranderinge aangebring moet word; ons wil vinnige optrede, onmiddellike antwoorde hê. ‘Hierdie probleem moet nou opgelos word, anders gooi ek tou op. Ek moet dadelik die antwoord op hierdie vraag hê, anders gaan ek nie verder nie. Armageddon en die nuwe stelsel is al jare lank “net om die draai”. Ek is moeg gewag.’ Jy kan daarvan seker wees dat die Duiwel gereed is om saadjies van twyfel en opstand in sulke saailande van ongeduld te saai. Volharding en geloof is nodig.​—Hebreërs 10:36, 39, NAV.

7 Jakobus het gesê: “En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ’n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:4-8, NAV). Moenie dat die Duiwel jou ’n kandidaat vir afvalligheid maak omdat jy onbillik en ongeduldig geword het en aan die beloftes van God twyfel nie! Wees geduldig, wees dankbaar. Wag op Jehovah.​—Psalm 42:5, NW.

8. Hoe kan die neiging om teen gesag in opstand te kom die weg baan vir die Duiwel om ’n persoon te verlok om Skriftuurlike beperkinge te verwerp?

8 Wat gebruik die Duiwel nog om ons te laat wegdraai? Het hy nie nog altyd probeer om opstand aan te hits, om Jehovah se knegte krities te laat word teenoor diegene wat die leiding gee nie? ‘Die ouere manne verstaan eenvoudig nie. Hulle is te krities, onbillik’, sê sommige miskien. ’n Mens gaan moontlik verder en beweer dat die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies of ander verantwoordelike broers inbreuk maak op vryheid van gewete en op die individu se “reg” om die Skrif te vertolk. Maar onthou Josef se nederige woorde: “Is uitlegging nie ’n saak van God nie?” (Genesis 40:8). En het Jesus nie voorspel dat ’n organisasie van gesalfdes, “die getroue en verstandige dienskneg”, in hierdie laaste dae die taak opgelê sou word om geestelike voedsel op tyd te verskaf nie? (Mattheüs 24:45-47). Pas op vir diegene wat probeer om hulle eie teenstrydige opinies te verkondig. Pas ook op vir diegene wat alle beperkinge wil afwerp of wat vryheid beloof en sê dat Jehovah se Getuies slawe is! Petrus het van sulke valse leraars gesê: “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword.”​—2 Petrus 2:1, 19.

9. Watter gesindheid openbaar persone dikwels wat krities is oor diegene wat die leiding gee?

9 Wat is dikwels die beweegrede van persone wat die Genootskap of diegene wat die leiding gee, kritiseer? Is dit nie dikwels dat die een of ander toepassing van die Skrif hulle persoonlik raak nie? In plaas van hulle te skik na gegronde leerstellings en goeie leiding, wil hulle hê dat die organisasie moet verander. Kom ons lig dit toe met ’n paar voorbeelde:

10. Hoe kan die aandrang op ’n ongewone styl van kleredrag of voorkoms daartoe lei dat jy ‘plek gee aan die Duiwel’?

10 ’n Broer dring aan op ’n ongewone styl van kleredrag of voorkoms. Die ouere manne meen dat hy nie ’n goeie voorbeeld stel nie en gee hom nie sekere voorregte nie, soos om van die verhoog af te onderrig. Hy is gebelg en beweer dat ander hom sy Christelike vryheid probeer ontneem. Maar wat sit agter sodanige redenasie? Is dit nie gewoonlik trots, ’n onafhanklike gees of ’n ietwat kinderagtige begeerte om jou eie sin te kry nie? Hoewel dit oënskynlik iets kleins is, gee ’n persoon wat so redeneer ‘plek aan die Duiwel’. Maar liefde en nederigheid sal ons kleredrag en voorkoms beskeie en gepas laat wees. Ons moet alle dinge ter bevordering van die goeie nuus wil doen en nie om onsself te behaag nie.​—Romeine 15:1, 2; 1 Korinthiërs 10:23, 24.

11. Wat kan agter twyfel oor Jehovah se gebod oor die onthouding van bloed sit?

11 Kom ons beskou nog ’n voorbeeld. Jy hoor miskien van tyd tot tyd dat iemand dit bevraagteken of die Skriftuurlike verbod op die eet van bloed werklik op oortappings van toepassing is. Maar wat sit agter daardie redenasie? Is dit vrees​—vrees dat ’n mens moontlik jou huidige lewe of dié van ’n dierbare kan verloor? Vervaag die hoop op die opstanding? Getroue Christene gaan nie ’n kompromis oor God se wet aan nie of soek nie na maniere om dit te verwater nie. Die onthouding van bloed om die liggaam te voed is net so noodsaaklik soos die onthouding van hoerery en afgodediens, want dit alles is in dieselfde geesgerigte besluit van die apostels en ouere manne te Jerusalem veroordeel.​—Handelinge 15:19, 20, 28, 29.

12. Waarom moet misplaaste lojaliteit ons nie die Skriftuurlike vereiste om sosiale omgang met uitgesette persone te vermy, laat skend nie?

12 Party wat krities is, sê dat Jehovah se organisasie te streng is oor die vermyding van sosiale omgang met uitgesette persone (2 Johannes 10, 11). Maar waarom voel sulke kritici so? Het hulle ’n hegte familieband of misplaaste lojaliteit aan ’n vriend wat hulle bo lojaliteit aan Jehovah en sy standaarde en vereistes stel? Hou ook in gedagte dat voortgesette sosiale omgang met ’n uitgesette persoon, selfs ’n naverwant, die oortreder kan laat dink dat sy weg nie so ernstig is nie, en dit kan hom verder skaad. Maar die beëindiging van sulke omgang kan by hom ’n hunkering laat ontstaan na wat hy verloor het en ’n begeerte om dit terug te kry. Jehovah se weë is altyd die beste, en dit is vir ons eie beskerming.​—Spreuke 3:5.

13. Watter gesindheid moet ons ten opsigte van die openbare predikingswerk van huis tot huis hê?

13 ’n Ander persoon beweer moontlik verkeerdelik dat die Skrif nie die predikingswerk van huis tot huis voorstaan nie. Maar is dit omdat hy alreeds nie van hierdie belangrike werk hou nie en ’n verskoning soek om dit nie te doen nie? Liefde vir God en ons naaste moet ons beweeg om die dringendheid van hierdie lewensreddende werk te besef. Volharding is weer eens nodig. Die apostel Paulus het van sy eie volharding gepraat toe hy ‘grondig getuienis afgelê het aan Jode en Grieke’ terwyl hy in die openbaar en van huis tot huis onderrig het (Handelinge 20:18-21, vgl. NW). Moet ons nie sy goeie voorbeeld getrou volg eerder as om te kla nie? Kyk na die duisende wat in die “een kudde” versamel is danksy Jehovah se seën op die huis-tot-huiswerk! (Johannes 10:16). En moenie die uitstekende voordele, naamlik die opleiding, dissipline en sterker geloof, vergeet wat ons ontvang wanneer ons van huis tot huis gaan om die goeie nuus na mense te neem nie.​—Vergelyk Handelinge 5:42;  Timotheüs 4:16.

14. Hoe dink jy moet ons reageer wanneer kritici Jehovah se Getuies daarvan beskuldig dat hulle valse profete is?

14 Ons kan ten slotte kyk na wat die Genootskap in die verlede oor chronologie gepubliseer het. Sommige teenstanders beweer dat Jehovah se Getuies “valse profete” is. Hierdie teenstanders sê dat datums gestel is, maar niks gebeur het nie. Ons vra weer: Wat is die beweegrede van hierdie kritici? Spoor hulle God se volk aan om waaksaam te wees, of probeer hulle eerder om hulleself te regverdig omdat hulle weer in lome onaktiwiteit verval het? (1 Thessalonicense 5:4-9). Maar belangriker nog, wat sal jy doen as jy sulke kritiek hoor? As ’n persoon dit bevraagteken of ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel lewe, of miskien dink dat God so genadig is dat hy sekerlik nie die dood van soveel miljoene mense gedurende die “groot verdrukking” sal veroorsaak nie, het hierdie individu reeds sy hart voorberei om na sulke kritiek te luister.​—2 Timotheüs 3:1; Mattheüs 24:21.

15. Wat bewys dat Jehovah se Getuies nie valse profete is nie, maar eerder geloof in God se Woord en die onfeilbare beloftes daarin het?

15 Ja, Jehovah se volk moes van tyd tot tyd hulle verwagtinge hersien. Weens ons gretigheid het ons die nuwe stelsel voor Jehovah se bestemde tyd verwag. Maar ons toon ons geloof in God se Woord en die onfeilbare beloftes daarin deur die boodskap daarvan aan ander te verkondig. Die feit dat ons ons begrip ietwat moes hersien, maak ons buitendien nie valse profete nie, of verander nie die feit dat ons wel in “die laaste dae” lewe en binnekort die “groot verdrukking” sal deurmaak wat die weg sal baan vir die aardse paradys nie. Hoe dwaas tog om te dink dat ons die hele versameling waarhede in twyfel moet trek omdat verwagtinge ietwat aangepas moes word! Die bewyse is duidelik dat Jehovah sy een organisasie, met “die getroue en verstandige dienskneg” wat die leiding gee, gebruik het en steeds gebruik. Ons voel dus soos Petrus, wat gesê het: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.”​—Johannes 6:68.

16, 17. (a) Hoe help die toepassing van Jesus se woorde in Mattheüs 7:15-20 ons om die organisasie wat Jehovah se seën geniet te identifiseer? (b) Meld party van die goeie vrugte wat in die lewens van Jehovah se ware knegte geopenbaar word.

16 Dit is slegs in Jehovah se geestelike paradys, onder Jehovah se Getuies, dat ons die selfopofferende liefde kan vind waardeur Jesus gesê het sy ware dissipels gekenmerk sou word (Johannes 13:34, 35). Valse profete word deur hulle slegte vrugte blootgestel vir wat hulle werklik is. Maar Jesus het getoon dat die goeie bome aan hulle goeie vrugte geken sou word (Mattheüs 7:15-20). En watter goeie vrugte het ons tog nie in die geestelike paradys nie! Verbasende vermeerdering vind in feitlik elke land plaas. Meer as 3 000 000 gelukkige onderdane van God se Koninkryk wêreldwyd is lewende bewys dat Jehovah ’n volk op die aarde het.

17 Omdat hulle deur God onderrig word, bring Jehovah se Getuies werklik die vrugte van Christelikheid in hulle lewens voort (Jesaja 54:13). Dit is slegs Jehovah se volk wat heeltemal van Babiloniese bygelowigheid losgebreek het. Net hulle het ’n organisasie wat nougeset bly by wat God se Woord oor geslagsonsedelikheid, aborsies, dronkenskap, diefstal, afgodediens, rassevooroordeel en ander wêreldse strewes en gebruike sê. En hulle is die enigste mense wat die opdrag gehoorsaam om die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk te verkondig (Mattheüs 24:14). God se eie Woord wys onteenseglik op Jehovah se Getuies as die een georganiseerde volk wat sy seën geniet!

18. Wat moet die posisie van Jehovah se knegte wees wanneer hulle voor afvallige leringe te staan kom?

18 Ja, ons is seker dat Jehovah se waarheid vir almal wat getrou op die Christelike weg volhard steeds pragtig en bevredigend is​—selfs in groter mate as toe hulle dit die eerste maal gehoor het. Neem jou derhalwe voor dat jy nooit eens sal raak aan die gif waaraan afvalliges wil hê jy moet proe nie. Slaan ag op die wyse dog ferme bevele van Jehovah om diegene heeltemal te vermy wat jou wil bedrieg, jou wil mislei, jou na die weë van die dood wil laat wegdraai. As ons Jehovah met ons hele hart, siel en verstand liefhet, terwyl ons ons naaste soos onsself liefhet, sal ons geen plek laat vir afvallige denke om in te dring nie (Mattheüs 22:37-39). Ons sal ‘geen plek aan die Duiwel gee nie’, en ons sal geen begeerte hê om elders te soek nie. Ons sal nie weens ’n valse lering ‘gou ons verstand verloor nie’.​—2 Thessalonicense 2:1, 2.

19. Watter weg sal verseker dat ‘niemand ons beroof van ons prys’ van die ewige lewe nie?

19 Laat ons altyd ons voorreg waardeer om in Jehovah se geestelike paradys te wees, waar ons soveel ryk seëninge geniet. Ons weet wie getrou by die woorde van die ewige lewe bly. Laat ons dus in noue omgang met hulle bly, in die wete dat hulle ons ware, getroue broers en susters in die geloof is. Mag ons steeds dieselfde vreugde en bevrediging smaak as toe ons die waarheid geleer het, met die versekering van die wonderlike beloning van die ewige lewe in Jehovah se nuwe stelsel. Soos Paulus dit so raak gestel het: “Laat niemand julle van jul prys beroof nie”​—Kolossense 2:18.

Kan jy antwoord?

◻ Waarom is dit waar dat niemand voorbestem is om die geloof te verlaat nie?

◻ Hoe kan wrewel, trots en ongeduld in die hart plek gee aan die Duiwel?

◻ Wat sit gewoonlik agter kritiek oor raad wat gegee word deur diegene wat die leiding gee?

◻ Watter vrugte bring Jehovah se Getuies voort wat bewys dat dit die een organisasie is wat deur God gebruik word?

[Prent op bladsy 16]

Deur raad te verwerp, kan ons ‘aan die Duiwel plek gee’

[Prent op bladsy 17]

Trots kan lei tot ’n val waarvan ’n mens miskien nooit herstel nie

[Prent op bladsy 19]

Besige en gelukkige knegte van Jehovah ‘gee geen plek aan die Duiwel’ of aan afvallige idees nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel