Vasbeslote om volgens Jehovah se sedelike standaarde te lewe
DIE BYBEL stel dit duidelik dat as ’n man en ’n vrou saamwoon sonder om wettig getroud te wees hulle hulle aan hoerery skuldig maak en in so ’n toestand nie God se Koninkryk sal beërwe nie(1 Korinthiërs 6:9, 10).’n Ondervinding in die Britse Wes-Indiese Eilande handel oor ’n jong vrou wat hierdie waarheid te wete gekom het.
In St. Lucia het twee van Jehovah se Getuies die jong vrou teëgekom en sy het belangstelling in die Bybel getoon. ’n Bybelstudie is gevolglik met haar begin. Namate haar begrip verdiep het, het sy die nodigheid ingesien om sekere sedelike aanpassings te maak. Hoewel sy die moeder van vier kinders was, was sy nie getroud nie, maar het konsensueel saam met ’n man gewoon. Beide sy en die man het hard gewerk om ’n huisie te bou waarin hulle ses kon woon.
Toe die jong vrou besef dat haar lewe nie in ooreenstemming met God se regverdige standaarde was nie, was sy vasbeslote om veranderinge aan te bring. Sy moes òf trou met die man saam met wie sy gelewe het, òf sy moes hom verlaat. Sy het die saak met hom bespreek, maar hy het geen begeerte gehad om te trou nie. Hy was heeltemal tevrede met die konsensuele verhouding. Wat sou haar geloof haar beweeg om te doen? Sy moes ’n besluit neem as sy Jehovah wou behaag, en na biddende oorweging het sy besluit om die man te verlaat. Maar waar sou sy met haar vier kinders woon?
Nadat sy die saak met die man bespreek het, het hulle tot ’n billike akkoord gekom—’n halwe huis elk! Met die liefdevolle bystand van die broers, asook hulp van die man wat sy nou verlaat het, is die huis verdeel, een helfte vir haar en die ander helfte vir hom. Haar helfte van die huis is daardie selfde dag na ’n ander plek sowat agt kilometer daarvandaan vervoer. Binne ’n week is dit herbou en verander in ’n huisie met twee slaapkamers.
Nadat sy sodoende die nodige stappe gedoen het om haar lewe in harmonie met Jehovah se standaarde te bring, het sy dadelik aan die veldbediening begin deelneem, vergesel deur haar vier kinders. Sy het haar lewe aan Jehovah toegewy en is kort daarna gedoop. Om die geleentheid te vier, het sy as ’n hulppionier ingeskryf. Sy geniet nou ’n verdere seën daarin dat haar nuwe huis vir ’n Gemeentelike Boekstudie gebruik word, met ’n gemiddelde bywoning van 17. Jehovah het inderdaad haar vasbeslotenheid om ’n rein aanbidder van hom te word, geseën.