Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 4/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Soortgelyke materiaal
  • Die nuttigste vergelyking wat jy kan maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Jehovah se Getuies
    Redenering uit die Skrif
  • Die antichris aan die kaak gestel
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 4/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

▪ Waarom het Jehovah se Getuies party wat steeds geloof in God, die Bybel en Jesus Christus bely vir afvalligheid uitgesit (geëkskommunikeer)?

Diegene wat so ’n beswaar opper, wys daarop dat talle godsdiensorganisasies wat beweer dat dit Christelik is afwykende menings toelaat. Selfs sommige geestelikes verskil met grondleerstellings van hulle kerk, en tog behou hulle ’n goeie posisie. In feitlik al die denominasies van die Christendom is daar moderniste en fundamentaliste wat grootliks met mekaar verskil oor die inspirasie van die Skrif.

Maar sulke voorbeelde gee ons geen grondslag om dieselfde te doen nie. Waarom nie? Talle sodanige denominasies laat wyd uiteenlopende menings onder die geestelikes en die lekeklas toe omdat hulle meen dat hulle nie seker kan wees oor wat presies Bybelwaarheid is nie. Hulle is soos die skrifgeleerdes en Fariseërs van Jesus se dag wat nie kon praat soos persone wat gesag het nie, terwyl Jesus met gesag geleer het (Mattheüs 7:29). Omdat godsdiensyweraars in geloofsvermenging glo, is hulle boonop verplig om afwykende menings nie te ernstig op te neem nie.

Maar so ’n beskouing van sake het geen grondslag in die Skrif nie. Jesus het nie saamgestem met enigeen van die sektes van Judaïsme nie. Jode van daardie sektes het bely dat hulle in die God van die skepping en in die Hebreeuse Skrifte, veral die Wet van Moses, glo. Jesus het nietemin vir sy dissipels gesê om “op te pas . . . vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs” (Mattheüs 16:11, 12; 23:15). Let ook op hoe sterk die apostel Paulus sake gestel het: “Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel vir julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” Toe het Paulus daardie stelling ter beklemtoning herhaal.​—Galasiërs 1:8, 9.

Die leer van afwykende of uiteenlopende menings is nie verenigbaar met die ware Christelike godsdiens nie, soos Paulus duidelik toon in 1 Korinthiërs 1:10 (NAV): “Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.” In Efesiërs 4:3-6 het hy voorts gesê dat Christene “ernstig [moet] strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal.”

Moes hierdie eenheid bereik en behou word deurdat elkeen die Skrif onafhanklik ondersoek, tot sy eie gevolgtrekkings kom en dit dan leer? Glad nie! Vir hierdie doel het Jehovah God deur Jesus Christus “gegee sommiges as apostels, . . . ander as evangeliste, ander as herders en leraars . . . totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man”. Ja, met die hulp van sulke bedienaars kon en sou gemeentelike eenheid​—eenheid in leer en bedrywigheid—​moontlik wees.​—Efesiërs 4:11-13.

Dit is duidelik dat ’n grondslag vir goedgekeurde omgang met Jehovah se Getuies nie kan berus bloot op geloof in God, in die Bybel, in Jesus Christus, ensovoorts nie. Die Rooms-Katolieke pous, sowel as die Anglikaanse aartsbiskop van Kantelberg, bely sodanige geloofsopvattinge, en tog bly hulle kerklidmate in hulle onderskeie kerkverbande. Die blote belydenis van sodanige geloofsopvattinge sou ’n persoon eweneens nie die reg gee om as een van Jehovah se Getuies bekend te staan nie.

Goedgekeurde omgang met Jehovah se Getuies vereis dat ’n persoon die hele versameling van die ware leerstellings van die Bybel aanvaar, met inbegrip van daardie Skriftuurlike opvattinge wat slegs deur Jehovah se Getuies gehuldig word. Wat sluit sulke opvattinge in?

Dat die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit die groot geskil is waarby die mensdom betrokke is, en dat dit die rede is waarom hy goddeloosheid so lank toegelaat het (Esegiël 25:17). Dat Jesus Christus ’n voormenslike bestaan gehad het en ondergeskik aan sy hemelse Vader is (Johannes 14:28). Dat daar vandag ’n “getroue en verstandige dienskneg” op aarde is ‘aan wie al Jesus se aardse belange toevertrou is’, en dat die dienskneg verbonde is aan die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies (Mattheüs 24:45-47). Dat 1914 die einde van die Heidense Tye en die oprigting van die Koninkryk van God in die hemel, sowel as die tyd vir Christus se voorspelde teenwoordigheid aangedui het (Lukas 21:7-24; Openbaring 11:15-12:10). Dat slegs 144 000 Christene die hemelse beloning sal ontvang (Openbaring 14:1, 3). Dat Armageddon, wat die oorlog van die groot dag van die almagtige God beteken, naby is (Openbaring 16:14, 16; 19:11-21). Dat dit gevolg sal word deur Christus se Duisendjarige Heerskappy, wat ’n aardwye paradys sal herstel. Dat die huidige “groot menigte” van Jesus se “ander skape” die eerstes sal wees om dit te geniet.​—Johannes 10:16; Openbaring 7:9-17; 21:3,  4.

Het ons ’n Skriftuurlike presedent om so ’n streng standpunt in te neem? Ons het inderdaad! Paulus het van sommige in sy dag geskryf: “Hulle woord sal voortwoeker soos ’n kanker, onder wie daar Himeneüs en Filetus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.” (2 Timotheüs 2:17, 18; kyk ook Mattheüs 18:6.) Daar is niks wat aandui dat hierdie manne nie in God, in die Bybel of in Jesus se offerande geglo het nie. Maar op grond van hierdie fundamentele punt, wat hulle aangaande die tyd van die opstanding geleer het, het Paulus hulle tereg as afvalliges bestempel met wie getroue Christene nie sou omgaan nie.

Die apostel Johannes het eweneens diegene wat nie geglo het dat Jesus in die vlees gekom het nie antichriste genoem. Hulle het moontlik in God, in die Hebreeuse Skrifte, in Jesus as God se Seun, ensovoorts geglo. Maar hulle het nie saamgestem oor hierdie punt dat Jesus werklik in die vlees gekom het nie, en is dus die “Antichris” genoem. Johannes sê verder van diegene met sulke afwykende menings: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”​—2 Johannes 7, 10, 11.

As ’n Christen (wat geloof in God, die Bybel en Jesus bely) onberouvol valse leerstellings bevorder, sal dit, in navolging van sulke Skriftuurlike voorbeelde, nodig wees om hom uit die gemeente te sit. (Kyk Titus 3:10, 11.) As ’n persoon net twyfel of oningelig is oor ’n punt, sal bekwame bedienaars hom natuurlik liefdevol help. Dit strook met die raad: “Gaan voort om barmhartigheid te toon teenoor sommige wat twyfel; red hulle deur hulle uit die vuur te ruk” (Judas 22, 23, NW). Die ware Christengemeente kan dus nie tereg daarvan beskuldig word dat dit hardvogtig en dogmaties is nie. Dit heg egter groot waarde aan en streef na die eenheid wat deur God se Woord voorgestaan word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel