Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 4/15 bl. 3-4
  • Hoe sal jy ’n boek vir die hele mensdom kies?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe sal jy ’n boek vir die hele mensdom kies?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kenners se keuse
  • Die beste keuse
  • Die Bybel—’n boek wat verdien om gelees te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Bestudeer die Paradys op aarde-boek en die Verenig in aanbidding-boek
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Wat die boek bevat
    ’n Boek vir alle mense
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 4/15 bl. 3-4

Hoe sal jy ’n boek vir die hele mensdom kies?

AS JY, ondanks die baie dinge wat jy van dag tot dag moet doen, tyd sou inruim om een boek per week te lees, sal jy meer as 3 000 boeke in jou lewe kan lees. Ofskoon dit merkwaardig klink, is dit niks meer as ’n druppel in die emmer wanneer jy daaraan dink dat meer as tien keer soveel nuwe publikasies elke jaar in die Verenigde State alleen verskyn nie. En dit sluit nie eens die duisende klassieke werke in wat elke opgevoede persoon veronderstel is om te gelees het nie.

Dit is duidelik dat, wat boeke betref, ’n opmerking wat sowat 3 000 jaar gelede gemaak is vandag nog net so toepaslik is: “Aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.”​—Prediker 12:12.

Maar is daar een boek onder al hierdie baie boeke wat so waardevol en belangrik is dat dit bo al die ander uittroon as ’n boek wat iedereen behoort te lees? Is daar een wat lands-, kultuur- en taalgrense te bowe gaan en tereg ’n boek vir die hele mensdom genoem kan word?

Ons keuse van leesstof is van meer as bloot akademiese belang, daar dit uiteindelik ons denkwyse, ons waardebegrip en ons oordeel beïnvloed. Dit is ’n saak wat die aandag van opvoeders, ouers en ander in beslag geneem het en steeds in beslag neem. Daar is al talle opnames gemaak oor wat noodsaaklike leesstof uitmaak, en die resultate was baie insiggewend.

Die kenners se keuse

In 1890 het ’n boekuitgewer die saak by talle van die toonaangewende letterkundiges van sy dag aangeroer. Hy wou van hulle weet watter boeke na hulle mening die belangrikste is. Die uitslag? “Die Bybel, Shakespeare en Homer was die oorweldigende gunstelinge van letterkundiges gedurende die negentiende eeu”, berig een naslaanwerk. “En”, voeg dit by, “die ererol sal vandag wesenlik onveranderd wees.”

Onlangse opnames bevestig dit. In September 1982 het die tydskrif Time byvoorbeeld die antwoord van agt vooraanstaande professore, geskiedkundiges en bibliotekarisse gepubliseer op die vraag: “Watter vyf boeke moet elke opgevoede persoon gelees het?” Hoewel die kenners dit nie ten volle eens was nie, het vyf van die agt​—’n besliste meerderheid—​die Bybel by hulle aanbevelings ingesluit. Waar dit oor ’n soortgelyke opname verslag gedoen het, het Psychology Today berig dat “van die 165 vermelde boeke, die Bybel die meeste stemme getrek het: 15. Geen ander boek het naby gekom nie.”

Van besondere belang is die resultate van ’n peiling deur The Korea Times om te bepaal hoe die nasie se nie-Christene die Christenkerke beskou. “Die peiling toon dat Christene, vergeleke met nie-Christene, selfsugtiger, geldgieriger en minder pligsgetrou is”, sê die koerant. Die verslag sê egter voorts: “Ondanks hulle ongeloof het 70 persent van die ondervraagdes hoë agting vir die grootheid van die Bybel.”

Die beste keuse

Talle soortgelyke peilings en opnames kan aangehaal word om te toon dat die Bybel keer op keer aangewys is as die boek wat ver bo alle ander uitstyg. Om verskeie redes blyk dit die allerbeste keuse te wees onder boeke van die verlede sowel as die hede, oos sowel as wes.

Die belangrike vraag is egter hoe jy die Bybel beskou. Dink jy miskien, as jy in ’n Westerse land woon, dat die Bybel verouderd is in ons moderne, wetenskaplike wêreld en dat dit weinig waarde het by die oplos van hedendaagse probleme? Beskou jy, as jy in ’n Oosterse land woon, die Bybel as ’n Westerse boek wat geen werklike betekenis vir jou het nie? Of het die Bybel ’n boodskap waarvan alle mense vandag moet kennis neem? Bied dit hulp met die probleme waarmee mense oral vandag te kampe het? Is dit werklik ’n boek vir die hele mensdom?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel