Die Bybel—Die boek vir die hele mensdom
“KYK, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon.”
Wat vir ’n menigte was dit? En wat het hulle gedoen?
Hulle was “bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande”, sê die verslag voorts. “En hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Nee, dit was nie ’n gewelddadige gepeupel wat iets geëis of vir die een of ander saak betoog het nie. Dit is eerder ’n gelukkige, vrolike menigte wat pas tevore ’n baie opwindende ondervinding beleef het. “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, . . . Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, . . . en God sal alle trane van hulle oë afvee.”
’n Boodskap vir die hele mensdom
Die uitbeelding van daardie internasionale “groot menigte” word aangetref in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, in hoofstuk 7, verse 9 tot 17. Deur die gebruik van woordbeelde gee dit ons ’n vooruitblik op die tyd wanneer die mensdom nie meer verdeeld sal wees op grond van ras, taal en nasionaliteit nie, maar verenig sal wees in vrede en harmonie, geheel en al bevry van vrees en armoede. Dit is wesenlik die unieke boodskap wat die Bybel aan die ganse mensdom voorhou.
‘Maar in watter opsig is daardie boodskap uniek?’ vra jy dalk. ‘Praat mense rondom die wêreld nie al jare lank van vrede en eenheid nie?’ Dit is inderdaad so. In hierdie eeu van internasionale spanning, aangeblaas deur politieke, rasse-, ekonomiese en godsdienstige twiste, is elke regdenkende mens immers besorg oor wêreldvrede. Maar lank voor daar sulke internasionale twiste bestaan het en lank voor die oorlewing van die mensdom ooit in die gedrang was, het die Bybel vertel van ’n tyd wanneer die hele mensdom vrede en eenheid onder een regering, God se Koninkryk, sal geniet.
’n Wêreldbeskouing van die begin af
Reg van die begin af bied die Bybel ’n wêreldbeskouing ten opsigte van die mensdom se toekoms. “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” was die eerste bevel wat Adam en Eva van hulle Skepper, Jehovah God, ontvang het (Genesis 1:28). Adam en Eva sou nie die voorsate van een ras of nasie wees nie. Hulle sou eerder die voorouers van die mensdom wees. Die apostel Paulus het van hierdie feit getuig toe hy die boodskap van die Bybel aan Grieke in Athene verkondig het. Hy het vir hulle gesê dat God “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak [het] om oor die hele aarde te woon”.—Handelinge 17:26.
Ons moet erken dat die idee dat die hele mensdom uit broers en susters bestaan ver verhewe was bo die denke van mense in die algemeen. Selfs vandag, met al die gepraat oor wêreldvrede en broederskap, is rassevooroordeel en nasionalisme steeds onder die verdelendste kragte wat die mensdom teister, nie waar nie? Die Bybel gaan nietemin hierdie en ander grense te bowe. Dit spreek tot mense van alle nasies as een groot gesin en praat van die aarde as een groot tuiste vir die ganse mensdom. In hierdie opsig is dit waarlik ’n boek vir die hele mensdom.
Die vooruitsig van alle mense wat aardwyd as ’n gelukkige gesin saamlewe, sou verwesenlik gewees het as Adam en Eva aan Jehovah God gehoorsaam gebly het. Maar dit is nie hoe sake verloop het nie. “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het”, deel die Bybel ons mee.—Romeine 5:12, NW.
In die lig hiervan is geen ras of nasie beter of slegter as enige ander ras of nasie nie. Weereens spreek die Bybel tot alle mense, sonder vooroordeel of partydigheid. Dit sê eenvoudig dat ‘almal gesondig het en dat dit hulle aan die heerlikheid van God ontbreek’ (Romeine 3:23). Hoewel mense in sekere gebiede materieel beter daaraan toe is, meer skoolopleiding gehad het, ensovoorts, bly die feit staan dat ons, waar ons ook al kyk, mense sien wat met dieselfde basiese probleme—siekte, ouderdom, onvolmaaktheid en die dood—worstel.
’n Belofte tot voordeel van die hele mensdom
Ofskoon die toestand van die mensdom uiters haglik geword het, is die mens nie sonder hoop gelaat nie. Op die kritieke tydstip het Jehovah God ’n belofte gemaak. God het aan Abraham gesê: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (Genesis 22:18). Terloops, hierdie belofte is deur drie van die wêreld se groot gelowe—Judaïsme, die Christendom en Islam—as deel van hulle opvattings aanvaar. Die Bybel alleen openbaar die vervulling van hierdie belofte deur te vertel van Jehovah God se handelinge met Abraham en sy afstammelinge, met inbegrip van die eertydse nasie Israel.
Maar dit is hier waar baie mense beswaar maak. Hulle meen dat dit ’n sprekende voorbeeld van nasionalistiese partydigheid of vooroordeel is. Op grond daarvan verwerp hulle die Bybel, of ten minste ’n groot deel van die Hebreeuse Skrifte, as blote stamlegendes. Maar is dit ’n gegronde redenasie? Waarom het Jehovah soveel vertroue in Abraham getoon en die belofte aan hom gemaak?
Die Bybel verduidelik: “Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem” (Jakobus 2:23). Dit is interessant dat die heilige boek van Islam, die Koran, ook geloof uitlig as die rede waarom God Abraham as ’n vriend aanvaar het. “Wie het ’n beter godsdiens as hy wat hom geheel en al aan Allah onderwerp? En dit is hy wat goed doen (aan ander) en die geloof volg van Ibrahim [Abraham], die opregte, en Allah het Ibrahim as vriend geneem.”—SOERA IV, vers 125, Holy Qur’an, in Engels vertaal deur M. H. Shakir.
Wat van die Israeliete? Meer as 400 jaar nadat God die belofte aan Abraham gemaak het, het Moses vir hulle gesê: “Die HERE het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar [dit was] omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het.”—Deuteronomium 7:7, 8.
Dit was dus nie omdat Abraham of die Israeliete tot ’n meerderwaardige ras of nasie behoort het, of omdat hulle enigsins beter as ander mense was nie. Dit was eerder as gevolg van God se liefde en onverdiende goedheid op grond van hulle geloof en regte werke. Die apostel Petrus het hierdie punt gestel toe hy gesê het: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, hom welgevallig is.”—Handelinge 10:34, 35.
Hoewel Jehovah God ’n tyd lank uitsluitlik met die nasie Israel gehandel het, het hy dus eintlik die welsyn van die hele mensdom voor oë gehad. Sy handelinge met Israel is nie in die Bybel opgeteken om die gees van nasionalisme te bevorder of om een nasie bo ’n ander te verhef nie. Inteendeel, “alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Ja, hierdie gebeure beklemtoon God se liefde en geduld in die wyse waarop hy gestalte gee aan die hoop dat die hele mensdom weer in vrede en harmonie verenig sal wees. Hoe gaan hierdie hoop verwesenlik word?
’n Bestuur vir vrede
“Dit is ooreenkomstig [God se] welbehae dat hy hom voorgeneem het om aan die volledige grens van die bestemde tyd ’n bestuur te hê, naamlik om alle dinge weer byeen te bring in die Christus, die dinge wat in die hemel en die dinge wat op die aarde is”, het Paulus verduidelik (Efesiërs 1:9, 10, NW). Wat is hierdie “bestuur”?
Die woord is vertaal uit die Griekse woord oikonomi’a, wat basies “die behartiging van ’n huishouding” beteken. Hoewel die mensdom vandag polities, etnies, ekonomies en godsdienstig verdeeld is, het God hom voorgeneem om al hierdie verdelende kragte uit die weg te ruim en weer die hele gehoorsame mensdom byeen te bring as ’n gelukkige, aardwye gesin. Hoe gaan hy dit doen? Deur die Messiaanse Koninkryk onder sy Seun, Jesus Christus.—Kyk Daniël 2:44; Jesaja 9:5, 6.
Vandag, te midde van wêreldwye spanning en probleme, gee miljoene mense rondom die wêreld gehoor aan die Bybelse boodskap oor vrede en harmonie. Hulle het na vore getree as daardie ongetelde “groot menigte” wat in die boek Openbaring beskryf word. Simbolies waai hulle reeds palmtakke voor God se troon deur hulle lof en onderdanigheid aan die een “wat op die troon sit”, Jehovah God, “en aan die Lam”, Jesus Christus.—Openbaring 7:9, 10.
Vind daardie boodskap by jou ingang? Jy kan, ongeag jou ras, nasionaliteit of taal, by daardie internasionale “groot menigte” aansluit deur nou die Bybel se boodskap te ondersoek en te aanvaar. Saam met hulle kan jy vol vertroue sê: “Ons verwag volgens [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Petrus 3:13.
Die Bybel kan inderdaad die Boek vir jou wees!
[Prent op bladsy 5]
Adam en Eva was die voorouers van die mensdom
[Prent op bladsy 7]
Abraham, wat sy vaderland verlaat het, het deur geloof en regte werke God se guns verkry