Jehovah—die God van tye en seisoene
“Alles het sy bepaalde uur.”—PREDIKER 3:1
1, 2. (a) In watter opsigte is mense bewus van tyd? (b) Wat sou vandag gebeur as ons nie kon vasstel hoe laat dit is nie?
ONS is baie bewus van tyd in die alledaagse lewe. Wanneer ’n horlosie byvoorbeeld wys dat dit aand is en ons die son sien sak en die lug sien donker word, weet ons dat die nag nader kom. En in sekere dele van die aarde, wanneer die kalender aandui dat dit naherfs is en ons die temperatuur week na week sien daal en die bome se blare sien afval, bevestig ons dat die winter naby is. Die aanduidings van hoe laat of watter seisoen dit is, staaf dus wat horlosies en kalenders vir ons sê.
2 As ons nie kon vasstel hoe laat of watter seisoen dit is nie, sou baie aspekte van die lewe heeltemal wanordelik gewees het. Dink byvoorbeeld aan honderde vliegtuie wat by ’n besige lughawe probeer land as daar geen manier was om te bepaal wanneer hulle moet neerstryk nie! Of dink aan miljoene mense wat probeer om betyds by die werk te kom as hulle nie kon vasstel hoe laat dit is nie!
3. By wie het tye en seisoene ontstaan?
3 By wie het tye en seisoene ontstaan? Dit was by die Skepper van die heelal, Jehovah God. Genesis 1:14 (NAV) sê: “Toe het God gesê: ‘Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui.’”
Belangriker tye en seisoene
4-6. (a) Wat is belangriker as om tye en seisoene vir menslike bedrywighede te onderskei? Waarom? (b) Watter vrae moet ons stel?
4 Hoewel dit belangrik is om te weet hoe laat en watter seisoen dit is wanneer dit by menslike bedrywighede kom, is daar iets baie belangrikers: Hoe laat of watter seisoen is dit uit God se standpunt? Prediker 3:1 sê: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd.” Hoewel dit waar is vanuit die menslike standpunt, geld dit nog meer vanuit God se standpunt. Hy het bepaalde tye en seisoene vir die uitvoering van sy voorneme. As ons nie ons lewe in ooreenstemming met hierdie feit lei nie, gaan al die pogings om ons lewe volgens horlosies of kalenders te reël uiteindelik nutteloos wees.
5 Waarom is dit die geval? Want Jehovah het ’n voorneme met hierdie aarde en met die mense daarop; anders sou hy dit nie geskep het nie. As ons nie ons lewe na daardie voorneme skik nie, sal ons nie daarby ingesluit word nie. En sy voorneme sal ongetwyfeld presies op tyd volbring word. Hy sê: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jesaja 55:11.
6 Ons moet dus vra: Hoe laat of watter seisoen is dit uit Jehovah se standpunt? Hoe pas die nasies en volke van hierdie wêreld by sy tydtafel in? Ja, hoe pas jy in? Het jy jou lewe in ooreenstemming met God se voorneme en tydtafel ingerig?
Volbring hierdie wêreld God se voorneme?
7. Watter beskouing huldig die meeste godsdienstige mense, maar waarom is daar geen grond hiervoor nie?
7 Baie mense dink dat hulle by God se voorneme ingesluit is omdat hulle sê hulle in God glo. Maar as jy vir hulle vra om vir jou in God se Woord te toon wat daardie voorneme is, kan hulle dit nie doen nie. Hulle doen wat hulle wil en meen nogtans dat God hulle op die een of ander manier sal begunstig. Die meeste wêreldheersers het deur die eeue heen ’n soortgelyke gesindheid gehad. Hulle het gemeen dat God sy voorneme deur hulle bewerkstellig, ongeag wat hulle doen. Maar hulle kan ook nie sê wat daardie voorneme is nie.
8. Waarom is dit onredelik om te dink dat die Skepper die heersers en mense van hierdie wêreld ondersteun?
8 Toon die Bybel dat God hierdie wêreld, met inbegrip van die heersers en mense wat tot ’n godsdiens behoort, ondersteun? Dink hieraan: God se krag is ontsagwekkend. Hy het die heelal geskep wat miljarde sterrestelses insluit wat elkeen weer miljarde sterre bevat (Psalm 147:4). Daarbenewens het God oneindige wysheid. Sou die nasies soveel eeue lank so baie geweld, oorlog, ongeregtigheid en lyding ondervind het as God, met sy mag en wysheid, hulle ondersteun het? Sou God volksleiers en miljoene lede van hulle volk lei om teen ander volksleiers en miljoene lede van hulle volk, wat ook beweer dat hulle deur God gelei word, te gaan oorlog voer en hulle om die lewe te bring? Is dit redelik?
9. Wat sê God se Woord moet die geestelike toestand van sy ware knegte wees?
9 Die Bybel sê vir ons in Eerste Korinthiërs 14:33 dat God “nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” is. Daarbenewens sê Jehovah vir diegene wat waarlik lede van sy volk is: ‘Julle moet almal eenstemmig wees, en daar moet geen skeuringe onder julle wees nie, maar julle moet verenig wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening’ (1 Korinthiërs 1:10). Gestel iemand onder God se volk voldoen nie aan hierdie standaard nie. Wat dan? Romeine 16:17 vermaan: “Hou hulle in die oog wat tweedrag . . . veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.” Volks- en godsdiensverdeeldheid en -konflikte is dus duidelike bewyse dat God nie sulke nasies, godsdiensleiers en hulle aanhangers ondersteun nie.
10, 11. Watter tekste toon deur wie die heersers en mense van hierdie wêreld ondersteun word?
10 Deur wie word hulle dan ondersteun? Eerste Johannes hoofstuk 3, verse 10 tot 12, sê: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie.” Eerste Johannes hoofstuk 4, vers 20, sê eweneens: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” Jesus het dus hierdie reël in Johannes 13:35 vasgelê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
11 Sien jy ’n ooreenkoms tussen die liefde en eenheid wat onder God se ware knegte moet heers en die weg wat wêreldleiers en mense in die algemeen eeue lank gevolg het? Die slagting van godsdienstiges deur ander godsdienstiges het in ons eeu alleen tienmiljoene lewens geëis. Diegene wat mekaar doodgemaak het, het dikwels tot dieselfde godsdiens behoort! Dit is onomstootlike bewys dat God hulle nie ondersteun nie. God se Woord toon eerder dat hulle ondersteuner niemand anders as Satan die Duiwel is nie. Dit is waarom die apostel Johannes kon sê: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19). Ja, Satan is “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiers 4:4). Hy is die krag agter die leiers en mense van hierdie wêreld wie se dade toon dat hierdie mense nie uit God kan wees nie.
God se voorneme met die sagmoediges
12, 13. Wat is God se voorneme met hierdie aarde en met mense?
12 Toe Jehovah mense geskep het, was hy egter van voorneme dat die hele aarde ’n paradys soos die tuin van Eden moet word, bevolk met volmaakte, verenigde, gelukkige mense (Genesis 1:26-28; 2:15; Jesaja 45:18). Daardie voorneme is nie deur opstandige mense en bose geesskepsele verydel nie. Aangesien Jehovah ’n God van tye en seisoene is, sal sy voorneme ook uitgevoer word op die bepaalde tyd wat hy daarvoor vasgestel het. Hy sal nie toelaat dat menseheerskappy wat onafhanklik van hom is steeds ná die aangewese tyd sy voorneme teenstaan nie.
13 Jesus het volle vertroue in Jehovah se voorneme met hierdie aarde gehad. Hy het vir ’n kwaaddoener wat geloof in hom getoon het, gesê: “Jy [sal] saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Dit was die toekomstige aardse paradys. By ’n vorige geleentheid het Jesus gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5). Jesus het waarskynlik hier verwys na die gedagte in Psalm 37:11 waar dit sê: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”
14. Watter soort mense sal die aarde beërwe?
14 Wie is dit wat die aarde sal beërwe? Psalm 37:34 sê: “Wag op [Jehovah] en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.” Verse 37 en 38 voeg by: “Let op die vrome [“onberispelike”, NW] en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.” Mense wat die aarde sal beërwe, moet Jehovah dus leer ken, aan sy beloftes glo en in sy oë opreg en onberispelik wees omdat hulle sy wette gehoorsaam. Soos Eerste Johannes 2:17 dit stel: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
15. Watter belangrike ding moet gebeur voordat groot, voordelige wêreldveranderinge kan plaasvind?
15 Maar as daardie veranderinge moet plaasvind, beteken dit dat die huidige toedrag van sake drasties sal moet verander. Dit sou eerstens beteken dat alle hedendaagse regerings op aarde uit die weg geruim moet word, aangesien menseheerskappy nog nooit wenslike toestande meegebring het nie. Maar sulke wêreldskokkende gebeure sal vir Jehovah maklik wees. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Hy tog verander die tye en die geleenthede [“seisoene”, NW]; Hy sit konings af en stel konings aan.”—Daniël 2:21.
Teenstanders word uit die weg geruim
16, 17. (a) Hoe het Jehovah afgereken met die Farao wat Sy voorneme teengestaan het? (b) Hoe is Jehovah se profetiese woord bevestig?
16 Dink aan wat Jehovah aan magtige heersers en dinastieë in die verlede gedoen het, veral aan diegene wat probeer het om met sy voornemens in te meng. Hulle, sowel as hulle ryke, is verbrysel en soos stof deur die wind weggewaai. Daar was byvoorbeeld die Farao van Egipte wat God se volk slawe gemaak het. Jehovah het egter ’n voorneme met sy knegte gehad en hy het vir Moses gestuur om vir Farao te sê om hulle vry te stel. Maar Farao het hoogmoedig gesê: “Wie is [Jehovah] na wie se stem ek moet luister?” Hy het bygevoeg: “Ek ken [Jehovah] nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.”—Exodus 5:2.
17 Jehovah het Farao talle geleenthede gebied om van gedagte te verander. Maar soos Exodus 11:10 sê, het Farao hom keer op keer “verhard”. Jehovah het egter onstuitbare mag. Toe sy vasgestelde tyd aangebreek het, het hy Farao en sy leërs in die Rooi See laat verdrink. Exodus 14:28 sê: “Geeneen van hulle het oorgebly nie.” Jehovah se knegte is andersyds beskerm en bevry. En dit het boonop gebeur presies op die tyd wat Jehovah se profetiese woord voorspel het, aan die einde van ’n tydperk van 400 jaar wat hy eeue tevore teenoor getroue Abraham gemeld het.
18. Wat het Jehovah met Nebukadnesar van Babilon gedoen? Waarom?
18 Dan was daar koning Nebukadnesar van Babilon. Hy het begin spog oor sy mag en prestasies, asof hy ’n god was. Maar Daniël 4:31 sê: “Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ’n stem uit die hemel: Koning Nebukadnesar, jou word aangesê—die koningskap word jou ontneem.” Jehovah het vir hom gesê dat hy soos ’n dier in die veld verlaag sou word totdat hy, soos vers 32 sê, sou erken “dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil”. En dit is net wat gebeur het presies op die tyd wat Jehovah daarvoor bepaal het.
19. Waarom het Jehovah oordeel aan Babilon en sy koning, Belsasar, voltrek?
19 Die laaste koning wat in Babilon geheers het, was Belsasar. Dit was toe Jehovah se tyd dat daardie dieragtige ryk moes val. Waarom? Omdat die Babiloniërs Jehovah se volk gevange gehou en Jehovah belaster het. Daniël hoofstuk 5 vertel dat Belsasar ’n groot fees vir duisend van sy beamptes berei het. Toe het Belsasar “bevel gegee om die goue en silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadnesar uit [Jehovah se] tempel van Jerusalem weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink” (Daniël 5:2, 3). Let op wat hulle toe gedoen het: “Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys” (Daniël 5:4). Hulle het Jehovah bespot en belaster deur uit die heilige voorwerpe te drink wat in Jehovah se aanbidding gebruik is. Deur hulle valse gode te aanbid, het hulle Satan aanbid.
20, 21. Watter boodskap het Daniël aan Belsasar oorgedra, en hoe is dit vervul?
20 Maar op daardie oomblik het iets verbasends gebeur. Die vingers van ’n hand het teen die muur van die paleis geskrywe! Dit het die koning so geskok dat “die gelaatskleur van die koning verander [het], en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan” (Daniël 5:6). Nie een van Belsasar se godsdiensraadgewers kon die handskrif verstaan nie en daarom is Jehovah se kneg Daniël ingeroep om dit uit te lê. Daniël het vir die koning gesê dat die boodskap van Jehovah kom, en dit het gelui: “God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; . . . u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; . . . u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.”—Daniël 5:26-28.
21 Medo-Persiese leërs het die stad daardie einste nag ingeval deur hekke wat onverskillig oopgelaat is. Daniël 5:30 sluit af: “In dieselfde nag is Belsasar . . . gedood.” Babilon se val het Jehovah se volk in staat gestel om presies 70 jaar ná hulle gevange geneem is na hulle tuisland terug te keer. Dit was presies volgens Jehovah se tydtafel, soos geopenbaar in Jeremia 29:10.
22, 23. Hoe het Jehovah afgereken met koning Herodes Agrippa I, wat eerste-eeuse Christene vervolg het?
22 In die eerste eeu was koning Herodes Agrippa I die laaste heerser van Palestina, ’n deel van die Romeinse Ryk. Herodes het die apostel Petrus in die gevangenis laat sit en ander Christene vervolg. Hy het selfs die apostel Jakobus om die lewe laat bring (Handelinge 12:1, 2). Herodes het ook bloeddorstige swaardgevegte en ander heidense vertonings gereël. Al hierdie dinge het sy bewering dat hy ’n aanbidder van God is, geloën.
23 Maar toe het Jehovah se tyd aangebreek om hierdie teenstander tereg te stel. Handelinge 12:21 tot 23 sê vir ons: “Op ’n bepaalde dag het Herodes ’n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek. Daarop het die volk hom toegeroep: ’n Stem van ’n god en nie van ’n mens nie!” Wat het toe gebeur? Die Bybel sê: “En onmiddellik het ’n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” Dit is nog ’n voorbeeld van hoe Jehovah ‘konings afsit’, soos Daniël 2:21 gesê het.
24. Wat bewys sulke geskiedkundige feite?
24 Sulke geskiedkundige gebeure bewys dat Jehovah sy tye en seisoene vir sy voornemens het. Dit toon ook dat hy gewis die vermoë en die krag besit om sy voorneme te volbring en hierdie aarde in ’n paradys om te skep waarin “geregtigheid sal woon”.—2 Petrus 3:13.
Kan jy onthou?
◻ Waarom is dit so belangrik om Jehovah se tye en seisoene te onderskei?
◻ Waarom ondersteun God nie die heersers en mense van hierdie wêreld nie?
◻ Watter soort mense sal die inkomende Paradys op aarde beërwe?
◻ Hoe het Jehovah getoon dat hy kan afreken met heersers wat hom teenstaan?