Hoofstuk sewe
Vier woorde wat die wêreld verander het
1. Hoe groot was die uitwerking van vier woorde wat lank gelede op ’n muur geskryf is?
VIER eenvoudige woorde wat op ’n gepleisterde muur geskryf is. Maar daardie vier woorde het ’n magtige heerser absoluut vreesbevange gemaak. Dit het aangekondig dat twee konings onttroon sou word, een van hulle sou sterf en dat ’n magtige wêreldmoondheid tot ’n einde sou kom. Daardie woorde het die vernedering van ’n geëerde godsdiensorde tot gevolg gehad. Maar die belangrikste was dat hulle die rein aanbidding van Jehovah verheerlik en sy soewereiniteit herbevestig het op ’n tyd toe die meeste mense hulle nie veel aan een van hierdie sake gesteur het nie. Daardie woorde werp selfs lig op wêreldgebeure van vandag! Hoe kon vier woorde dit alles doen? Kom ons kyk.
2. (a) Wat het ná Nebukadnesar se dood in Babilon gebeur? (b) Watter heerser was nou aan bewind?
2 Dekades het verbygegaan ná die gebeure wat indie 4de hoofstuk van Daniël beskryf is. Die trotse koning Nebukadnesar se heerskappy van 43 jaar in Babilon het tot ’n einde gekom toe hy in 582 v.G.J. gesterf het. ’n Reeks opvolgers het uit sy familie gekom, maar ’n vroeë dood of moord het die heerskappy van een na die ander van hulle kortgeknip. Uiteindelik het ’n man met die naam Nabonidus deur middel van ’n opstand die troon bestyg. Nabonidus was die seun van ’n hoëpriesteres van die maangod Sin en was klaarblyklik nie deur bloed verwant aan Babilon se koningshuis nie. Party gesaghebbendes meen dat hy met ’n dogter van Nebukadnesar getrou het om sy eie heerskappy wettig te maak, dat hy hulle seun Belsasar sy medeheerser gemaak het en hom soms jare lank in bevel van Babilon gelaat het. Dit sou beteken dat Belsasar Nebukadnesar se kleinseun was. Het hy uit sy grootvader se ondervinding geleer dat Jehovah die allerhoogste God is wat enige koning kan verneder? Nee!—Daniël 4:37.
’N FEES RUK HANDUIT
3. Watter soort geleentheid was Belsasar se fees?
3 Die 5de hoofstuk van Daniël begin met ’n feesmaal. “Koning Belsasar het ’n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink” (Daniël 5:1). Soos jy kan dink, moes dit ’n enorme saal gewees het sodat daar vir al daardie manne, saam met die koning se vrouens en byvrouens, plek kon wees. Een geleerde sê: “Die Babiloniese feesmaaltye was luisterryke geleenthede, al het hulle gewoonlik in dronkenskap geëindig. Die tafel was met wyn, wat van die buiteland ingevoer is, en allerhande lekkernye oorlaai. Die lug was met parfuum gevul; sangers en instrumentaliste het die vergaderde gaste vermaak.” Waar almal hom kon sien, het Belsasar gesit en sy wyn gedrink—en gedrink, en gedrink.
4. (a) Waarom is dit dalk vreemd dat die Babiloniërs feesgevier het op die nag van 5/6 Oktober 539 v.G.J.? (b) Wat het die Babiloniërs klaarblyklik ondanks die invallende leërs selfvertroue gegee?
4 Dit is vreemd dat die Babiloniërs op hierdie aand—5/6 Oktober 539 v.G.J.—in so ’n feestelike luim was. Hulle nasie was in oorlog gewikkel, en dit het nie met hulle goed gegaan nie. Die invallende Medo-Persiese magte het Nabonidus kort tevore ’n nederlaag toegedien en hy het na Borsippa, na die suidweste van Babilon, gevlug. En nou het Kores se leërs reg buite Babilon laer getrek. En tog lyk dit nie asof Belsasar en sy maghebbers bekommerd was nie. Hulle stad was immers die onverowerbare Babilon! Die kolossale mure daarvan het uitgetoring bo die diep gragte waarin die groot Eufraatrivier deur die stad gevloei het. Meer as duisend jaar lank is Babilon deur geen vyand ingeneem nie. Waarom sou hulle hulle dan bekommer? Miskien het Belsasar geredeneer dat die lawaai van hulle gefuif hulle selfvertroue aan hulle vyande buite die stad sou toon en dat dit hulle mismoedig sou maak.
5, 6. Wat het Belsasar onder die invloed van die wyn gedoen, en waarom was dit ’n growwe belediging vir Jehovah?
5 Kort voor lank het die oormatige gedrink Belsasar begin aantas. Soos Spreuke 20:1 sê: “Die wyn is ’n spotter.” In hierdie geval het die wyn die koning inderdaad ’n baie ernstige dwaasheid laat begaan. Hy het beveel dat die heilige voorwerpe uit Jehovah se tempel na die fees gebring word. Hierdie voorwerpe, wat as buit weggevoer is toe Nebukadnesar Jerusalem verower het, moes alleenlik as deel van rein aanbidding gebruik word. Selfs die Joodse priesters wat in vroeër tye die reg gehad het om dit in Jerusalem se tempel te gebruik, is gewaarsku om hulle rein te hou.—Daniël 5:2; vergelyk Jesaja 52:11.
6 Belsasar het egter iets selfs oneerbiedigers in gedagte gehad. “Die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue . . . het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys” (Daniël 5:3, 4). Op hierdie manier het Belsasar sy valse gode bo Jehovah probeer verheerlik! Hierdie gesindheid was blykbaar tipies van die Babiloniërs. Hulle het hulle Joodse gevangenes verag, hulle aanbidding bespot en geen hoop gebied dat hulle na hulle geliefde vaderland sou kon terugkeer nie (Psalm 137:1-3; Jesaja 14:16, 17). Miskien het hierdie beskonke heerser gedink dat dit sy vrouens en die amptenare sou beïndruk as hy hierdie gevangenes verneder en hulle God beledig, dat dit hom sterk sou laat lyk.a Maar as dit Belsasar wel goed laat voel het, het hierdie gevoel nie lank geduur nie.
DIE SKRIF AAN DIE MUUR
7, 8. Hoe is Belsasar se fees onderbreek, en watter uitwerking het dit op die koning gehad?
7 “Op dieselfde oomblik”, sê die geïnspireerde verslag, “het daar vingers van ’n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het” (Daniël 5:5). Wat ’n ontstellende gesig! ’n Hand het uit die niet verskyn en naby ’n goed verligte deel van die muur in die lug gehang. Stel jou die doodse stilte voor wat oor die geselskap gekom het terwyl die gaste oopmond daarna gestaar het. Die hand het ’n kriptiese boodskap op die pleister begin skryf.b Hierdie gebeurtenis was so onheilspellend, so onvergeetlik, dat mense vandag nog die uitdrukking “die skrif is aan die muur” gebruik om aan te dui dat onheil dreig.
8 Wat was die uitwerking op hierdie trotse koning wat hom en sy gode bo Jehovah probeer verhef het? “Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan” (Daniël 5:6). Belsasar wou groot en indrukwekkend voor sy onderdane lyk. Pleks daarvan het hy ’n toonbeeld van doodse vrees geword—sy gesig het verbleek, sy heupe het losgeraak en sy hele liggaam het so gebewe dat sy knieë teen mekaar geslaan het. Ja, Dawid se woorde, wat hy in ’n lied tot Jehovah gerig het, is beslis waar: “U oë is teen die hoogmoediges; U verneder hulle.”—2 Samuel 22:1, 28; vergelyk Spreuke 18:12.
9. (a) Waarom was Belsasar se angs nie dieselfde as godvrugtige vrees nie? (b) Wat het die koning die wyse manne van Babilon aangebied?
9 Let daarop dat Belsasar se vrees nie dieselfde was as godvrugtige vrees, ’n diep eerbied vir Jehovah, wat die begin van alle wysheid is nie (Spreuke 9:10). Nee, dit was sieklike vrees, en dit het geen wysheid in die bewende heerser voortgebring nie.c Pleks dat hy die God wat hy so pas beledig het om vergifnis gesmeek het, het hy hardop uitgeroep om “die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers” te laat kom. Hy het selfs gesê: “Enigeen wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee, hy sal met purper beklee word, en ’n goue ketting sal om sy hals wees, en as derde in rang sal hy in die koninkryk heers” (Daniël 5:7). Die derde heerser in die koninkryk sou inderdaad magtig wees, net ondergeskik aan die twee heersende konings, Nabonidus en Belsasar self. Daardie plek sou gewoonlik vir Belsasar se oudste seun gehou word. Dit is hoe desperaat die koning was dat hierdie bonatuurlike boodskap uitgelê moes word!
10. Hoe het die wyse manne gevaar in hulle pogings om die skrif aan die muur uit te lê?
10 Die wyse manne het in die groot saal ingeloop. Daar was geen tekort aan hulle nie, want Babilon was ’n stad waar valse godsdiens ’n groot invloed gehad het en wat vol tempels was. Mense wat beweer het dat hulle voortekens kon lees en kriptiese geskrifte kon ontsyfer, was beslis volop. Hierdie wyse manne was sekerlik in hulle noppies oor die geleentheid wat hulle gebied is. Hier was hulle kans om hulle vaardigheid voor ’n vername gehoor te toon, die koning se guns te wen en ’n posisie van groot aansien te verkry. Hoe het hulle tog daarin misluk! “Hulle was nie in staat om die skrif te lees en sy uitlegging aan die koning bekend te maak nie.”d—Daniël 5:8.
11. Waarom kon Babilon se wyse manne moontlik nie die skrif lees nie?
11 Of die skrif self—die letters—vir die wyse manne van Babilon onontsyferbaar was, is onseker. As dit was, sou hierdie gewetenlose manne kon doen net wat hulle wou om enige misleidende verklaring daarvoor te gee, moontlik selfs een wat die koning sou vlei. ’n Ander moontlikheid is dat die letters heeltemal leesbaar was. Aangesien tale soos Aramees en Hebreeus sonder klinkers geskryf word, kon elke woord egter ’n paar moontlike betekenisse hê. In daardie geval sou die wyse manne waarskynlik nie kon besluit watter woorde bedoel word nie. Al kon hulle dit doen, sou hulle nog steeds nie begryp wat die woorde beteken sodat hulle dit kon uitlê nie. Hoe dit ook al sy, een ding is seker: Babilon se wyse manne het jammerlik misluk!
12. Wat is bewys deur die feit dat die wyse manne misluk het?
12 Die wyse manne is dus as bedrieërs aan die kaak gestel, en hulle geëerde godsdiensorde as ’n bedrogspul. Wat ’n teleurstelling was hulle tog! Toe Belsasar sien dat sy vertroue in hierdie godsdienstige manne tevergeefs was, het hy nog banger geword, hy het bleker geword en selfs sy maghebbers was “in verwarring”.e—Daniël 5:9.
’N MAN VAN VERSTAND WORD ONTBIED
13. (a) Waarom het die koningin voorgestel dat hulle Daniël moet laat roep? (b) Watter soort lewe het Daniël gelei?
13 Op hierdie kritieke oomblik kom die koningin self—klaarblyklik die koningin-moeder—by die eetsaal in. Sy het gehoor van die opskudding by die fees, en sy het van iemand geweet wat die skrif aan die muur sou kon ontsyfer. Dekades vroeër het haar vader, Nebukadnesar, Daniël oor al sy wyse manne aangestel. Die koningin het hom onthou as ’n man met “’n voortreflike gees en kennis en verstand”. Aangesien Belsasar blykbaar nie van Daniël geweet het nie, is dit moontlik dat die profeet ná Nebukadnesar se dood sy hoë regeringsamp verloor het. Maar vernaamheid was nie vir Daniël belangrik nie. Hy was teen hierdie tyd waarskynlik al in die negentig en hy het Jehovah nog steeds getrou gedien. Ondanks sowat agt dekades van ballingskap in Babilon, het hy nog steeds onder sy Hebreeuse naam bekend gestaan. Selfs die koningin het hom Daniël genoem en het nie die Babiloniese naam gebruik wat vroeër aan hom gegee is nie. Trouens, sy het die koning aangespoor: “Laat Daniël nou geroep word, dan sal hy die uitlegging te kenne gee.”—Daniël 1:7; 5:10-12.
14. In watter moeilike posisie was Daniël toe hy die skrif aan die muur sien?
14 Daniël is ontbied en het voor Belsasar verskyn. Dit was ’n verleentheid vir die koning om ’n guns te vra van hierdie Jood, wie se God hy so pas beledig het. Nogtans het Belsasar Daniël probeer vlei en hom dieselfde beloning aangebied—die derde plek in die koninkryk—as hy die raaiselagtige woorde kon lees en uitlê (Daniël 5:13-16). Daniël het opgekyk na die skrif aan die muur, en die heilige gees het hom in staat gestel om die betekenis daarvan te verstaan. Dit was ’n oordeelsboodskap van Jehovah God! Hoe kon Daniël ’n skerp veroordeling teen hierdie verwaande koning in sy gesig uitspreek—en dit nog voor sy vrouens en maghebbers? Stel jou voor in watter moeilike posisie Daniël was! Het die koning se vleiende woorde en sy aanbod van rykdom en vernaamheid hom beïnvloed? Sou die profeet Jehovah se verklaring afwater?
15, 16. Watter noodsaaklike les uit die geskiedenis het Belsasar nie geleer nie, en hoe algemeen is ’n soortgelyke fout vandag?
15 Daniël het moedig gesê: “U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan ’n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak” (Daniël 5:17). Daarna het Daniël die grootheid van Nebukadnesar erken, ’n koning wat so magtig was dat hy net wie hy wou, kon doodmaak, laat lewe, verhoog of verneder. Maar Daniël het Belsasar daaraan herinner dat Jehovah, “die allerhoogste God”, Nebukadnesar sy grootheid gegee het. Dit was Jehovah wat daardie magtige koning verneder het toe hy hoogmoedig geword het. Ja, Nebukadnesar moes eenvoudig leer dat “die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil”.—Daniël 5:18-21.
16 Belsasar ‘het dit alles geweet’. En tog het hy nie uit die geskiedenis geleer nie. Om die waarheid te sê, hy het iets baie ergers gedoen as Nebukadnesar se sonde van trotsheid—hy het heeltemal onbeskaamd teenoor Jehovah opgetree. Daniël het die koning se sonde blootgelê. Daarbenewens het hy voor daardie heidense vergadering moedig vir Belsasar gesê dat die valse gode “nie sien en nie hoor en nie weet nie”. God se vreeslose profeet het bygevoeg dat Jehovah, in teenstelling met daardie nuttelose gode, die God is ‘in wie se hand u asem is’. Tot vandag toe maak mense gode van lewelose dinge deur geld, hulle loopbaan, aansien en selfs genot te verafgood. Maar nie een van hierdie dinge kan die lewe gee nie. Jehovah is die enigste een aan wie ons ons bestaan te danke het, op wie ons staatmaak vir elke asemteug.—Daniël 5:22, 23; Handelinge 17:24, 25.
DIE RAAISEL WORD OPGELOS!
17, 18. Wat was die vier woorde wat op die muur geskryf is, en wat beteken dit letterlik?
17 Die bejaarde profeet het daarna gedoen wat vir al die wyse manne van Babilon onmoontlik was. Hy het die skrif aan die muur gelees en uitgelê. Die woorde was: “Mene, mene, tekel ufarsin” (Daniël 5:24, 25). Wat beteken dit?
18 Die woorde beteken letterlik “’n mine, ’n mine, ’n sikkel en halfsikkels”. Elke woord het verwys na ’n geldeenheid, wat in dalende volgorde genoem is. Hoe verwarrend tog! Al kon die wyse manne van Babilon die letters identifiseer, is dit geen wonder dat hulle dit nogtans nie kon uitlê nie.
19. Wat was die uitleg van die woord “Mene”?
19 Onder die invloed van God se heilige gees het Daniël verduidelik: “Dit is die uitleg van die woord: Mene—God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak” (Daniël 5:26). Na gelang van die klinkers wat die leser in daardie woord ingevoeg het, het die medeklinkers van die eerste woord toegelaat dat dit geïnterpreteer kon word as die woord “mine” en ook as ’n vorm van die Aramese woord vir “getel”, of “bereken”. Daniël het goed geweet dat die ballingskap van die Jode amper op ’n einde was. Van die 70 jaar wat dit volgens die voorspelling sou duur, was 68 jaar reeds verby (Jeremia 29:10). Die Groot Tydhouer, Jehovah, het die dae van Babilon se heerskappy as wêreldmoondheid getel, en die einde daarvan was nader as wat enigiemand by Belsasar se feesmaal gedink het. Trouens, die tyd was verby—nie net vir Belsasar nie, maar ook vir sy vader, Nabonidus. Dit is dalk waarom die woord “Mene” twee maal geskryf is—om die einde van albei hierdie koningskappe aan te dui.
20. Wat was die verklaring van die woord “Tekel”, en hoe was dit op Belsasar van toepassing?
20 “Tekel” daarenteen is net een keer en in die enkelvoud geskryf. Dit toon moontlik dat dit hoofsaaklik tot Belsasar gerig is. En dit sou gepas wees, want hy het persoonlik growwe oneerbiedigheid teenoor Jehovah betoon. Die woord self beteken “sikkel”, maar die medeklinkers laat ook toe dat dit as “geweeg” geïnterpreteer kan word. Daarom het Daniël vir Belsasar gesê: “Tekel—u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind” (Daniël 5:27). Vir Jehovah is hele nasies so niksbeduidend soos ’n stoffie aan ’n weegskaal (Jesaja 40:15). Hulle is magteloos om sy voorneme te dwarsboom. Wat sou een hoogmoedige koning dan beteken? Belsasar het homself bo die Soewerein van die heelal probeer verhoog. Hierdie nietige mens het dit gewaag om Jehovah te beledig en ware aanbidding te bespot, maar is “te lig bevind”. Ja, Belsasar het die vinnig naderende oordeel dubbel en dwars verdien!
21. Hoe was “Ufarsin” ’n drievoudige woordspeling, en wat het hierdie woord oor Babilon se toekoms as wêreldmoondheid aangedui?
21 Die laaste woord op die muur was “Ufarsin”. Daniël het dit moontlik in die enkelvoudige vorm, “Peres”, gelees omdat hy met een koning gepraat het terwyl die ander een afwesig was. Hierdie woord was die hoogtepunt van Jehovah se groot raaisel en was ’n drievoudige woordspeling. “Ufarsin” beteken letterlik “halfsikkels”. Maar die letters laat ook toe dat dit as twee ander woorde geïnterpreteer kan word—“verdelings” en “Perse”. Daniël het dus voorspel: “Peres—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.”—Daniël 5:28.
22. Hoe het Belsasar op die oplossing van die raaisel gereageer, en wat het hy dalk gehoop?
22 So is die raaisel dan opgelos. Die magtige Babilon het op die punt gestaan om voor die Medo-Persiese magte te val. Hoewel Belsasar verslae was oor hierdie veroordeling, het hy sy woord gehou. Hy het sy dienaars opdrag gegee om Daniël met purper te beklee, ’n goue ketting om sy nek te hang en uit te roep dat hy derde in rang in die koninkryk is (Daniël 5:29). Daniël het nie hierdie eerbewyse van die hand gewys nie omdat hy besef het dat dit die eer weerspieël wat Jehovah toekom. Belsasar het heel moontlik gehoop dat hy Jehovah se oordeel sou versag deur Sy profeet te vereer. As dit is wat hy probeer doen het, sou dit in elk geval tevergeefs gewees het.
DIE VAL VAN BABILON
23. Watter eeue oue profesie het in vervulling begin gaan terwyl Belsasar se fees nog aan die gang was?
23 Terwyl Belsasar en sy howelinge nog voor hulle gode gedrink en Jehovah bespot het, het ’n groot drama in die duisternis buite die paleis begin afspeel. ’n Profesie wat byna twee eeue tevore deur Jesaja uitgespreek is, het in vervulling begin gaan. Aangaande Babilon het Jehovah voorspel: “Aan alle gesug [weens Babilon] maak Ek ’n einde.” Ja, al die verdrukking wat daardie goddelose stad oor God se uitverkore volk gebring het, sou tot ’n einde kom. Hoe? Dieselfde profesie het gesê: “Trek op, Elam! Beleër, Medië!” Elam het ná die profeet Jesaja se dag deel van Persië geword. Teen die tyd van Belsasar se fees, wat ook in daardie profesie van Jesaja voorspel is, het Persië en Medië inderdaad saamgespan om ‘op te trek’ en Babilon te “beleër”.—Jesaja 21:1, 2, 5, 6.
24. Watter besonderhede aangaande die val van Babilon het Jesaja se profesie voorspel?
24 Trouens, selfs die naam van die aanvoerder van hierdie magte, sowel as die hoofpunte van sy oorlogstrategie, is voorspel. Jesaja het sowat 200 jaar tevore geprofeteer dat Jehovah iemand met die naam Kores sou salf om teen Babilon op te trek. Gedurende sy aanval sou alle hindernisse voor hom uit die weg geruim word. Babilon se waters sou “verdroog” word en sy groot deure sou oopgelaat word (Jesaja 44:27–45:3). En dit is presies wat gebeur het. Die leërs van Kores het die Eufraatrivier verlê, waardeur die watervlak verlaag is sodat hulle deur die rivierbedding kon gaan. Nalatige wagte het deure in Babilon se muur laat oopstaan. Sekulêre geskiedskrywers sê ook dat die stad ingeneem is terwyl sy inwoners feesgevier het. Babilon is ingeneem met bykans geen verset (Jeremia 51:30). Daar was egter ten minste een noemenswaardige sterfgeval. Daniël het gesê: “In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Darius, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.”—Daniël 5:30–6:1.
LEER UIT DIE SKRIF AAN DIE MUUR
25. (a) Waarom is antieke Babilon ’n gepaste simbool van vandag se wêreldwye stelsel van valse godsdiens? (b) In watter sin is God se hedendaagse knegte in Babilon gevange gehou?
25 Die geïnspireerde verslag inDaniël hoofstuk 5 is van besondere groot betekenis vir ons. As ’n sentrum van valse godsdiensgebruike is antieke Babilon ’n gepaste simbool van die wêreldryk van valse godsdiens. Hierdie wêreldwye organisasie wat op bedrog gebou is, word in Openbaring as ’n bloeddorstige hoer uitgebeeld wat “Babilon die Grote” genoem word (Openbaring 17:5). Sonder om ag te slaan op enige van die waarskuwings teen haar godonterende valse leerstellings en gebruike, het sy diegene vervolg wat die waarheid van God se Woord verkondig. Soos die inwoners van eertydse Jerusalem en Juda was die getroue oorblyfsel van gesalfde Christene as ’t ware in ballingskap in “Babilon die Grote” toe vervolging wat deur die geestelikes aangeblaas is die Koninkryksverkondigingswerk in 1918 feitlik tot stilstand laat kom het.
26. (a) Hoe het “Babilon die Grote” in 1919 geval? (b) Op watter waarskuwing moet ons self ag slaan en ook vir ander daarvan vertel?
26 Maar skielik het “Babilon die Grote” geval! O, haar val was omtrent geluidloos—net soos antieke Babilon in 539 v.G.J. byna geluidloos geval het. Maar hierdie figuurlike val was nietemin ’n vernietigende slag. Dit het in 1919 G.J. plaasgevind, toe Jehovah se volk uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat is en die seën van God se goedkeuring ontvang het. Dit het die mag van “Babilon die Grote” oor God se volk tot ’n einde gebring en was die begin van haar openbare blootlegging as ’n onbetroubare bedriegster. Daardie val kon nie ongedaan gemaak word nie, en haar finale vernietiging is op hande. Jehovah se knegte het hulle stem gevoeg by die waarskuwing: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie” (Openbaring 18:4). Het jy op daardie waarskuwing ag geslaan? Vertel jy ander daarvan?f
27, 28. (a) Watter lewensbelangrike waarheid het Daniël nooit uit die oog verloor nie? (b) Watter bewys het ons dat Jehovah binnekort teen die goddelose wêreld van vandag gaan optree?
27 Die skrif is vandag dus aan die muur—maar nie net vir “Babilon die Grote” nie. Onthou ’n lewensbelangrike waarheid wat aan Daniël se boek ten grondslag lê: Jehovah is die Universele Soewerein. Hy, en hy alleen, het die reg om ’n heerser oor die mensdom aan te stel (Daniël 4:17, 25; 5:21). Enigiets wat Jehovah se voornemens teëstaan, sal verwyder word. Dit is net ’n kwessie van tyd voor Jehovah optree (Habakuk 2:3). Vir Daniël het hierdie tyd uiteindelik in die tiende dekade van sy lewe aangebreek. Toe het hy gesien hoe Jehovah ’n wêreldmoondheid verwyder—een wat God se volk al van Daniël se kinderdae af onderdruk het.
28 Daar is onteenseglike bewys dat Jehovah God ’n Heerser vir die mensdom op ’n hemelse troon geplaas het. Die feit dat die wêreld hierdie Koning geïgnoreer en sy heerskappy teëgestaan het, is sekere bewys dat Jehovah binnekort alle teenstanders van die heerskappy van daardie Koninkryk gaan uitwis (Psalm 2:1-11; 2 Petrus 3:3-7). Tree jy in ooreenstemming met die dringendheid van ons tye op deur jou vertroue in God se Koninkryk te stel? Indien wel, het jy beslis uit die skrif aan die muur geleer!
[Voetnote]
a In ’n ou inskripsie het koning Kores van Belsasar gesê: “’n Swakkeling is as die [heerser] van sy land aangestel.”
b Daar is selfs bewys dat hierdie fyn besonderheid van Daniël se verslag akkuraat is. Argeoloë het gevind dat paleismure in antieke Babilon van bakstene gemaak is wat met pleister bedek is.
c Babiloniese bygelowe het hierdie wonderwerk moontlik nog skrikwekkender gemaak. Die boek Babylonian Life and History sê: “Buiten die aantal gode wat die Babiloniërs aanbid het, vind ons dat hulle hulle in so ’n mate oorgegee het aan geloof in die geeste dat die gebede en beswerings teen hulle ’n baie groot deel van hulle godsdiensliteratuur uitmaak.”
d Die tydskrif Biblical Archaeology Review sê: “Babiloniese deskundiges het ’n lys gemaak van duisende voortekens. . . . Toe Belsasar wou weet wat die skrif aan die muur beteken het, het die wyse manne van Babilon ongetwyfeld hierdie ensiklopedieë van voortekens geraadpleeg. Maar hulle was nutteloos.”
e Leksikograwe sê dat die woord wat hier vir “in verwarring” gebruik word, ’n groot beroering impliseer, asof die geselskap in rep en roer was.
f Sien bladsye 205-71 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
WAT HET JY GELEER?
• Hoe is Belsasar se fees op die aand van 5/6 Oktober 539 v.G.J. onderbreek?
• Wat was die uitlegging van die skrif aan die muur?
• Watter profesie aangaande die val van Babilon het in vervulling gegaan terwyl Belsasar se fees nog aan die gang was?
• Watter betekenis het die verslag van die skrif aan die muur vir ons dag?
[Volbladillustrasie op bladsy 98]
[Volbladillustrasie op bladsy 103]