Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 4/15 bl. 26-27
  • “Regskwessies by oortappingsgeneeskunde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Regskwessies by oortappingsgeneeskunde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Soortgelyke materiaal
  • Gawe van lewe of kus van die dood?
    Ontwaak!—1990
  • Bloedoortappings—Hoe veilig?
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Brittanje, bloed en VIGS
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 4/15 bl. 26-27

“Regskwessies by oortappingsgeneeskunde”

“DIE mees onlangse, en potensieel gevaarlikste, siekte van die twintigste eeu, VIGS.” So het dr. L. A. Laskey (Senior Wetenskaplike, Genentech Corp.)’n probleem beskryf wat gelei het tot ’n kongres op 19 en 20 September 1985 in Washington, D.C., V.S.A.

Jy weet waarskynlik dat VIGS (Verworwe Immuungebreksindroom) al met bloedprodukte en met bloedoortappings verbind is. Die gedrukte program het dit so gestel:

“Geen enkele gesondheidsprobleem in ons heugenis het soveel bespreking en vrees onder die algemene publiek veroorsaak nie. VIGS-gevalle kan in die volgende jaar verdubbel, en tot eenmiljoen Amerikaners [en tallose ander in ander lande] kan die siekte opdoen. Die potensiële regsaanspreeklikheid voortspruitend uit VIGS is derhalwe groot.”

Nagenoeg 200 dokters, regsgeleerdes en bloedbankpersoneellede het byeengekom vir die kongres oor “Regskwessies in Oortappingsgeneeskunde”. Die werk of loopbaan van die meeste van die kongresgangers was met bloedoortappings verbind. Maar ’n aantal van Jehovah se Getuies het ook die kongres bygewoon. Laat ons met jou ’n paar van die dinge deel wat die sprekers onthul het.

Die vernaamste kwessies was die risiko van die verspreiding van VIGS deur bloed en die wetlike risiko’s vir diegene in die bedryf wat bloed versamel, verwerk of verkoop. Laasgenoemde kwessie het na vore gekom in die eerste toespraak, oor die ‘organisasie, finansiering en regulering van die bloedbanksisteem’. Sodanige regulering, het dr. P. J. Schmidt gesê, dateer uit die 17de eeu. Die Franse geneesheer Denis was betrokke “by die eerste wanpraktyksaak in [die geskiedenis van] oortapping”, omdat hy “lamsbloed oorgetap het op ’n jong man, wat gesterf het”. Is regulering nog nodig? Schmidt het erken: “Ek dink daar is talle onbekende faktore. Die oortappingsdaad is nietemin ’n enorme uitdaging van dag tot dag. ’n Miljoen keer per maand in hierdie land is dit ’n eksperiment in immunologie, in epidemiologie, dikwels sonder regspresedent.”

Later het dr. Paul Ness (Johns Hopkins-hospitaal) gepraat oor “Wat verkeerd kan loop met oortappings”. Hy het gesê dat dit in net “’n halfuur baie moeilik is om te praat oor alles wat met bloedoortapping verkeerd kan loop”. Trouens, hy het beoog om ’n skyfie te vertoon met die bewoording “Waarskuwing”, asof dit ’n etiket was, “die volgende kan verkeerd loop met bloedoortapping”, waarna ’n lys sou volg van “ongeveer 50 verskillende dinge . . . [Maar] ek weet dat daardie lys geensins volledig sal wees nie”.

Dr. Johanna Pindyck (Greater New York Blood Program) het gesê dat ‘nie-A-nie-B-hepatitis die gebiedendste probleem rakende ’n oortappingoordraagbare siekte is wat ons op die gebied van oortapping konfronteer’. Hierdie soort hepatitis “word vermoedelik veroorsaak deur minstens twee virale agentia, maar hulle presiese aard is nog nie geïdentifiseer nie. Navorsing is al etlike jare aan die gang​—ruim 10 tot 15 jaar—​maar ons het nog nie die oorsaak ontdek nie.” Aangaande die beste proefmetode om bloed vir hierdie hepatitis te toets, het sy opgemerk: “Ek sou sê dat moontlik 10 persent van die bloedvoorraad tans getoets word, of miskien selfs ’n bietjie minder as dit.”

Waar hulle VIGS bespreek het, het dr. Pindyck en ander die hoopvolle mening gelug dat huidige keuringstoetse bloedbanke nou in staat stel om “die oortapping van bloedprodukte” feitlik te elimineer “as ’n bron van VIGS-oordraging”. Is dit so? Dr. Laskey het later gesê huidige toetse is ‘ongelooflik duur, gevaarlik om te doen en nie heeltemal akkuraat nie’. Wat van ’n nuutontwikkelde metode wat na sy mening beter is? Hy het vertel van proefnemings met pasiënte wat VIGS of die VIGS-verwante Kompleks het. By ’n aantal van hulle het die toetste nie die VIGS aan die lig gebring nie. ‘Niemand [dit wil sê, geeneen van die toetse] sou die VIGS [ontdek] het nie’, het hy gesê.

Jy kan dus verstaan waarom baie dit oorweeg om hulle eie bloed te berg of om bloed net van ’n vriend of ’n familielid te aanvaar. Maar dr. Joseph Bove (Yale-New Haven-hospitaal) het dit teengestaan en aangevoer dat dit duur sal wees en tekorte tot gevolg sal hê. Hy het daaraan toegevoeg: “Een van die grootste oorsake van oortappingverwante sterfgevalle is administratiewe vergissing​—die verkeerde bloed word op die verkeerde persoon oorgetap. Ek skaam my om te . . . sê dat ons in 1985, met al die tegnologie tot ons beskikking, met rekenaars en al die ander middele, nie die regte eenheid bloed in die regte pasiënt kan kry nie. Maar die feit is dat ons dit nie altyd regkry nie, en dit is hoe ons mense doodmaak.”

Die kongresgangers het gevolglik heelwat te sê gehad oor regskwessies. Hoe kan ’n bloedbank homself teen wanpraktyksake beskerm? Gestel dat toetse, wat nou beskikbaar is, toon dat ’n skenker se bloed VIGS-teenliggaampies bevat. Moet die bloedbank diegene verwittig wat die afgelope paar jaar sy bloed ontvang het? Dr. Schmidt (direkteur van ’n bloedbank) het gesê: “Ek is tans gekant teen verwittiging. Ons doen net wat ons moet doen, en niks meer as dit nie.” Moet hofbevele verkry word om bloed op te dwing aan die wat dit weier, soos Jehovah se Getuies wat om godsdienstige redes weier?

Jehovah se Getuies is inderdaad bespreek in dr. William Dornette se lesing: “Nalatigheid en aanspreeklikheidskwessies.” Hy het verduidelik dat een rede vir Getuies se weiering van bloed “hierdie hoofstuk uit Genesis [9:3, 4] is. En dit sê uitdruklik dat ‘Ek dit alles aan julle gee. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.’” Hoe redelik is daardie standpunt, en watter reg het Getuies om bloed te weier?

Dornette, ’n doktor in sowel die medisyne as die regte, het gesê: “Baie, baie jare lank word die lidmate van die Jehovahsgetuies-geloof al as ’n spul afwykendes beskou wat nie weet wat hulle doen nie, want ‘ek die mediese beroep​—die dokter—​weet alles’. Ons moet ten eerste besef dat hulle diep godsdienstig is. Ten tweede, hulle is Amerikaanse burgers . . . Ten derde, hulle het die reg om hul godsdiens te beoefen, en hulle stel daarin belang om gesond te word . . . Hulle glo aan mediese behandeling. En ek dink ons behoort respek te hê vir hulle regte as individue om hulle godsdiens vrylik te beoefen.” Hy het bygevoeg: “Versuim om toestemming van enige aard te verkry, kom neer op aanranding. Versuim om toestemming tot ’n oortapping te verkry, kom neer op aanranding. . . . As jy ’n bevoegde pasiënt se ingeligte weiering verkry, het jy jou vrygestel van aanspreeklikheid in ’n geregshof.”

’n Ander spreker, regsgeleerde Susan Lentz, het dit beklemtoon deur te sê: “Dit is belangrik om te verstaan dat ingeligte toestemming werklik slegs sinvol is as jy besef dat dit nie net die reg behels om toestemming te verleen nie, maar ook die reg om toestemming te weerhou.” Sy het bygevoeg dat “daar vanjaar reeds drie of vier [hof]beslissings was wat die regte van Jehovahsgetuie-pasiënte om oortappings van die hand te wys, bevestig het”. Sy het ten slotte gesê: “Namate die dinge wat u die afgelope dag en ’n half in verband met VIGS en verwante probleme gehoor het ’n groter probleem word, ten minste in die gedagte van die publiek, kan probleme in verband met weiering ook toeneem.”

(Verdere nuttige inligting oor VIGS sal in Ontwaak! se nommer van 22 April 1986 verskyn.)

[Venster op bladsy 26]

Kan pasiënte seker wees dat ’n bloedbank VIGS-besmette bloed sal kan opspoor? Dr. Myron Essex, voorsitter van die departement kankerbiologie van die Harvard School of Public Health, het onlangs gesê: “Dit is uiters onwaarskynlik dat die toets meer as 90 persent uitwys, en my vermoede is dat dit 75 tot 80 persent is. Ek sal geskok wees as dit enigsins hoër as dit is.”​—The New York Times, 4 Oktober 1985.

[Venster op bladsy 27]

“Die nuwe bloedtoets, wat verlede April goedgekeur is en deur alle bloedbanke gebruik word, bespeur slegs teenliggaampies van die VIGS-virus, HTLV-III. Wat dit ongelukkig nie bespeur nie, is mense wat die aansteeklike VIGS-virus dra en wat nog nie teenliggaampies teen die VIGS-virus geproduseer het nie . . . ’n Klein maar beduidende aantal van die nagenoeg eenmiljoen mense wat draers van die VIGS-virus is, sal nog nie teenliggaampies teen die virus vertoon wanneer huidige roetinetoetse by bloedbanke op hulle uitgevoer word nie.”​—Sanford F. Kuvin, M.D., Jerusalem, 17 November 1985.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel