Jesus se lewe en bediening
Terug in Kapernaüm
TEEN hierdie tyd het Jesus se roem wyd en syd versprei, en talle mense reis na waar hy in afgesonderde plekke bly. Na ’n paar dae keer hy egter terug na Kapernaüm langs die see van Galilea. Die nuus dat hy weer by die huis is, versprei vinnig deur die stad, en talle kom na die huis waar hy is. Fariseërs en wetgeleerdes kom selfs van Jerusalem af.
Die skare is so groot dat hulle in die deur staan en daar geen plek vir enigiemand anders is om in te kom nie. Die toneel is geskik vir ’n waarlik merkwaardige gebeurtenis. Wat by hierdie geleentheid gebeur, is van die allergrootste belang, want dit help ons om te besef dat Jesus die mag het om die oorsaak van menselyding te verwyder en almal wat hy wil gesond te maak.
Terwyl Jesus die skare leer, bring vier mans ’n verlamde man op ’n bed na die huis. Hulle wil hê Jesus moet hulle vriend genees, maar weens die skare kan hulle nie inkom nie. Hoe teleurstellend tog! Maar hulle gooi nie tou op nie. Hulle klim op die plat dak, maak ’n gat daarin deur die dakspane te verwyder en laat die bed met die verlamde man tot reg langs Jesus afsak.
Is Jesus kwaad oor die onderbreking? Glad nie! Hy is eerder diep beïndruk deur hulle geloof. Hy sê vir die verlamde: “Jou sondes is jou vergewe!” Maar kan Jesus werklik sondes vergewe? Die skrifgeleerdes en die Fariseërs dink nie so nie. Hulle redeneer by hulleself: “Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?”
Jesus weet wat hulle dink en sê vir hulle: “Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en neem jou bed op en loop?” Sonder om op ’n antwoord te wag, draai Jesus hom na die verlamde en sê: “Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.” En hy doen dit dadelik deur voor die oë van almal met sy bed uit te loop! Die mense roep verbaas uit: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”
Het jy opgemerk dat Jesus sondes in verband met siekte noem en dat die vergifnis van sondes met die herstel van gesondheid verband hou? Die Bybel verduidelik dat ons eerste ouer Adam gesondig het en dat ons almal die gevolge van daardie sonde, naamlik siekte en die dood, geërf het. Maar onder die heerskappy van God se Koninkryk sal Jesus die sondes vergewe van almal wat God liefhet en dien, en dan sal alle siekte uit die weg geruim word. Hoe wonderlik sal dit tog wees! Markus 2:1-12; Lukas 5:17-26; Mattheüs 9:1-8; Romeine 5:12, 17-19.
♦ Wat was die toneel van ’n waarlik merkwaardige gebeurtenis?
♦ Hoe het die verlamde man Jesus bereik?
♦ Waarom is ons almal sondig, maar hoe het Jesus hoop gebied dat vergifnis van ons sondes en herstel tot volmaakte gesondheid moontlik is?
[Volbladillustrasie op bladsy 8]