Vrae van lesers
▪ Is Jehovah se Getuies net so streng oor vraatsug onder hulle lidmate soos oor die skadelike rookgewoonte?
Jehovah se Getuies neem ’n Bybelse standpunt teen rook in, en hulle aanvaar ook die Skriftuurlike veroordeling van vraatsug.
Hulle glo dat rook Bybelbeginsels skend. Rook behels nikotienverslawing. Daarbenewens is dit onnatuurlik om rook in te asem. Rook besoedel die liggaam, veroorsaak gesondheidsprobleme en het lewens verkort wat tot God se lof gebruik moes geword het. Rook veroorsaak ook gevaarlike besoedeling van die lug wat ander inasem; dit is beslis nie naasteliefde nie.—2 Korinthiërs 7:1; Romeine 12:1; Markus 12:33.
Maar wat van vraatsugtige ooretery? Ronduit gesê, die Bybel veroordeel vraatsug, wat onmatige of gulsige ooretery is. ’n Israelitiese seun wat ’n onberouvolle “vraat en ’n suiplap” was, moes tereggestel word (Deuteronomium 21:18-21, NAV). Spreuke waarsku teen “omgang met vrate” (Spreuke 28:7, NW; 23:20, 21). Vraatsug is ook verkeerd, aangesien ons vertel word dat “gierigaards” nie God se Koninkryk sal beërwe nie. (1 Korinthiërs 6:9, 10; vergelyk 1 Petrus 4:3; Filippense 3:18, 19.) Christenopsieners moet hulleself ‘beheers’ en nie “lui vrate” wees nie (Titus 1:8, 12, NAV). Dit is so ernstig dat sommige opsieners van hulle amp onthef is weens hulle onbeheerste eetgewoontes.
Daar moet egter besef word dat dit nie maklik is om te bepaal wanneer dit vraatsug is nie. Eet (in teenstelling met die inaseming van tabakrook) is natuurlik en reg. Gesetheid is ook nie die enigste maatstaf van vraatsug nie; ’n baie maer persoon kan ’n vraat wees. Die Bybel veroordeel nie oorgewig nie, maar eerder ooretery, wat moontlik, maar nie noodwendig nie, tot gesetheid kan lei.
Party mense is oorgewig as gevolg van klierkwale of siekte, hoewel Professor Judith Rodin volhou dat slegs “5 persent van alle gevalle van gesetheid hoofsaaklik deur mediese probleme veroorsaak word”. Oorerflikheid kan ’n persoon tot gesetheid laat neig. Dr. William Bennett sê: “Talle vet mense behou hulle gewig deur te eet wat ’n persoon met ’n gemiddelde gewig eet . . . Hulle is metabolies anders.” Sekere wetenskaplikes meen selfs dat as ’n vet persoon minder eet sy liggaam sy metaboliese tempo verlaag sodat hy kalorieë stadiger verbruik. Maar al is ’n vet persoon nie ’n vraat in die sin dat hy ’n gulsige eter is nie, moet hy (of sy) dalk God se raad met groter erns toepas.
Christene moet byvoorbeeld selfbeheersing aankweek, wat ook op eet van toepassing is (Galasiërs 5:22; 2 Petrus 1:5-8). Die apostel Paulus het die Christen aangespoor om soos ’n hardloper te wees wat “selfbeheersing in alle dinge” beoefen. Paulus ‘het sy liggaam gekasty en dit as ’n slaaf gelei sodat hy nie afgekeur sou word nie’ (1 Korinthiërs 9:24-27, NW). ’n Gesette persoon sal moontlik ‘sy liggaam moet kasty’ ten opsigte van hoeveel, wat, wanneer en hoe hy eet.a
Dit kan gevaarlik wees om vet te wees. Verslae toon dat gesetheid kan lei tot hoër bloeddruk en cholesterolvlakke, volwassene-suikersiekte, etlike soorte kanker, hart- en galblaaskwaal, gewrigsontsteking en asemhalingsprobleme. “Die sterftesyfer vir mense wat 20 persent oorgewig is, is een derde hoër as die gemiddelde; vir diegene wat 30 en 50 persent oorgewig is, is die syfers onderskeidelik 50 en 100 persent hoër” (The New York Times, 27 Februarie 1985). Soortgelyke verslae van gesondheidsprobleme kom uit Engeland, Duitsland en Italië.
’n Christen wil Jehovah waarlik ‘uit sy hele hart, siel [of lewe], verstand en krag liefhê’ (Markus 12:30). Baie hou op rook om hulle gesondheid en lewe te bewaar wanneer hulle die Christelike godsdiens bestudeer. Moet Christene nie net so besorg wees dat oorgewig weens oormatigheid hulle gesondheid en hulle lewe wat aan Jehovah toegewy is, kan ondermyn nie?
Party mense eet meer wanneer hulle hartseer, gefrustreerd, eensaam of kwaad is. Hoewel ’n Christen nie sulke gevoelens heeltemal kan voorkom nie, kan hy hom tot God en tot sy broers wend eerder as om verligting deur onnodige etery te soek. Lees in hierdie verband Filippense 4:6, 7, 11-13. Selfs wetenskaplikes wat aanvoer dat ’n persoon ’n natuurlike neiging tot ’n sekere gewig het, erken dat dit verander kan word. Hulle beklemtoon dat ’n mens minder voedsel met ’n hoë vetinhoud moet eet en meer oefening moet kry. Interessant genoeg, in baie gebiede kry Christene gesonde oefening deur te loop en te klim wanneer hulle gereeld aan die bediening van huis tot huis deelneem. Paulus het ook die bediening “in arbeid en moeite” vervul.—2 Korinthiërs 11:26, 27.
Jehovah se Getuies keur dus vraatsug af op grond van wat die Bybel sê. Hulle strewe daarna om, ongeag hulle gewig, ‘selfbeheersing in alle dinge te beoefen’, en dit sluit hulle eetgewoontes in. Dit is nie hoofsaaklik vanweë ’n kulturele oordeel oor die mode nie, maar omdat hulle volgens Bybelbeginsels wil lewe en bedrywige Christene wil wees wat God se goedkeuring wegdra.
[Voetnote]
a Hoeveel: eet gereeld minder met elke ete. Wat: verminder inname van styselagtige prulkos en koeldrank, lekkers en vet, soos botter en olie. Volg liewer ’n gesonde, gebalanseerde dieet. Wanneer: moenie tussen maaltye of in die stilligheid eet nie. Hoe: eet stadiger.