Gebruik Christelike bevryding reg
CHRISTENE is “tot vryheid geroep”, maar hulle word gewaarsku om nie “hierdie vryheid as ’n voorwendsel vir sedelike verdorwenheid” te gebruik nie (Galasiërs 5:13; 1 Petrus 2:16, NW). Hoe tragies sou dit tog wees as ’n Christen Christelike bevryding sou misbruik sodat hy weer van nuuts af in slawerny kom! Kom ons kyk na ’n voorbeeld.
Menige godsdienstige persoon is geleer dat dit ’n sonde is om sterk drank te drink. Juiste kennis van die Bybel sal hom van hierdie verkeerde gedagte bevry, aangesien die Bybel nie die drink daarvan nie, maar dronkenskap, veroordeel. (Vergelyk Psalm 104:14, 15 met 1 Korinthiërs 6:10 en; 1 Petrus 4:3.) So ’n bevryde Christen kan dus nou vry voel om af en toe ’n drankie te geniet. Maar as hy “hierdie vryheid as ’n voorwendsel vir sedelike verdorwenheid” sou begin gebruik, kan hy hom te buite gaan en in ’n mate van alkohol afhanklik word, selfs daaraan verslaaf raak.
Nadat hy van valse beskouings ten opsigte van ontspanning, kleredrag en persoonsversorging of maatskaplike gedrag bevry is, durf ’n Christen dus nie tot die ander uiterste gaan nie: deur te veel tyd of geld te bestee aan dinge wat voorheen verbode was maar nou toelaatbaar is. Dan sou hy Christelike bevryding misbruik. Dit kan ernstige gevolge hê.
Verkondig die bevrydingshoop
Veral sedert die oprigting van God se Messiaanse Koninkryk in 1914 nader sy belofte dat “die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” vinnig vervulling (Romeine 8:21). Christus het reeds die hemele van Sataniese invloed bevry (Openbaring 12:7-12). Hy gaan binnekort Babilon die Grote vernietig, wat die mens deur godsdiensdwaling in slawerny gehou het. Dan sal hy die mensdom by God se oorlog, Armageddon, van onvolmaakte menseregering bevry deur dit uit die weg te ruim (Daniël 2:44; Openbaring 18:21; 19:11-21). Hy sal mense selfs van die vernaamste ondersteuner van slawerny bevry wanneer Satan heeltemal onskadelik gestel word sodat hy “die nasies nie meer [kan] verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie”.—Openbaring 20:2, 3.
Teen die einde van sy Duisendjarige Heerskappy sal Christus die mens heeltemal bevry het van al die slegte gevolge van die oorspronklike vryheidsbeweging in Eden. Mishandelde rassegroepe sal bevry wees van onregverdige of diskriminerende behandeling. Vroue sal bevry wees van verdrukkende manlike oorheersing. Siekes sal bevry wees van siekte. Bejaardes sal bevry wees van die verswakkende uitwerking van die ouderdom. En, wonder bo wonder, bedroefde persone sal bevry wees van smart, want hulle afgestorwe dierbares sal van die graf bevry wees!—Openbaring 20:13-21:5; kyk ook Psalm 146:5-10.
Deur hierdie goddelike bevrydingsboodskap te verkondig, gebruik Jehovah se Getuies vandag hulle Christelike bevryding op ’n nuttige wyse. Hoe kortsigtig sou dit tog van hulle wees om menslike vryheidsbewegings te ondersteun, wat hoogstens gedeeltelike verligting kan bring en wat in werklikheid die ware bevrydingshoop verdoesel.
Dink daaraan: Jy het die geleentheid om ’n baie wonderliker bevryding te beleef as die vryheid waarvan Patrick Henry gepraat het. Jy het boonop die geleentheid om na Armageddon die seëninge daarvan vir ewig te geniet!