Jongmense—moenie bedrieg word nie
“Satan self verander hom in ’n engel van die lig.”—2 KORINTHIËRS 11:14.
1. (a) Op watter maniere is baie van ons al bedrieg? (b) Wie word gewoonlik makliker bedrieg?
ONS is ongetwyfeld al almal op die een of ander tyd bedrieg. Miskien het jy ’n speletjie gespeel waarin ’n opponent jou met ’n bedrieglike beweging geflous het en toe punte aangeteken het om die spel te wen. Of dalk het jy ’n mooi kledingstuk van oënskynlik goeie kwaliteit gekoop en toe, nadat jy dit ’n kort rukkie gedra en dit laat skoonmaak het, ontdek dat die kwaliteit nie so goed was nie. Wie word oor die algemeen makliker bedrieg, dit wil sê, mislei of gekul? Is dit nie dié met minder ondervinding nie? En die gevolge is dikwels baie ernstiger as om bloot ’n spel te verloor of gekul te word wanneer jy iets koop.
2. Hoe is sommige jongmense tot ernstige sonde verlei?
2 Beskou die geval van Julie, nog maar in haar tweede jaar op hoërskool, wat “verlief” was op “die aantreklikste en gewildste ou in die hele skool”, soos sy dit gestel het. Sy het verduidelik: “Ek het hom gesê ek is nie gereed vir wat hy wil hê nie, maar hy het my bly vertel hoe lief hy my het en dat daar nie probleme sal wees nie. Toe ek aanhou weier, het hy die troefkaart gebruik. Hy het gesê: ‘Ek het regtig omgegee vir jou, en ek het gedink jy voel dieselfde oor my. As jy dit nie aan my wil bewys nie, moet ons seker maar uitmaak.’” Julie het geswig en hoerery gepleeg. Toe sy die volgende dag ontdek dat die seun oor sy “verowering” gespog het, het sy besef dat sy totaal bedrieg is. Sy moes geweet het dat die seun dit nie sou gedoen het as hy haar werklik liefgehad het nie.
3. (a) Waarom is hoerery so ’n ernstige sonde? (b) Wat is Satan die Duiwel se doel?
3 Julie is deur bedrog of kullery oorreed om haar aan ’n ernstige skending van God se wet skuldig te maak. Om daardie rede spoor die Bybel ons aan: “Vlug vir die hoerery.” En dit sê onomwonde: ‘Geen hoereerder het ’n erfdeel in die koninkryk van Christus en van God nie’ (1 Korinthiërs 6:18; Efesiërs 5:5). Satan die Duiwel stel miskien nie daarin belang of jy ’n balspel wen of verloor en of jy verstandig is wanneer jy iets koop nie, maar hy probeer beslis om jou te mislei sodat jy God se wet verbreek. “Julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind”, waarsku die Bybel (1 Petrus 5:8). Hy gebruik inderdaad al sy slinkse denkvermoëns en doen hom selfs as ’n engel van die lig voor om ons van Jehovah God se diens af te rokkel! Stem dit ons nie tot ernstige nadenke nie?—2 Korinthiërs 11:14.
Leer uit wat met Eva gebeur het
4. Waarom kan daar gesê word dat jongmense ’n spesiale teiken van Satan is?
4 Maar daar is iets wat jongmense tot selfs ernstiger nadenke behoort te stem: Julle is ’n spesiale teiken van Satan. Hoe so? Omdat julle jonk is, het julle minder tyd gehad om kennis en wysheid te verkry, en Satan lê hom toe op die wat minder ervare is. Hy het dit heel aan die begin van sy opstand gedoen. Onthou dat dit Eva was wat hy in die tuin van Eden genader het, nie haar man Adam wat ’n ruk voor haar geskep is nie. En Satan was suksesvol. Hy het die jonger en minder ervare Eva bedrieg, ja, deur valse voorwendsels mislei. “Want Adam is eerste gemaak”, verduidelik die Bybel, “daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”—1 Timotheüs 2:13, 14.
5. (a) Wat moet ons nooit dink nie? (b) Waaroor was die apostel Paulus besorg, en waarom was dit gepas?
5 Moet nooit oorgerus raak en dink dat jy immuun is teen Satan se metodes nie, dat hy jou nooit sal kan beïnvloed om God se wette te verbreek nie. Onthou die goddelike waarskuwing dat ‘die Satan self hom in ’n engel van die lig verander’ (2 Korinthiërs 11:14). Die apostel Paulus was tereg besorg oor die moontlikheid dat die Aartsbedrieër suksesvol sou wees in sy aanslae teen Paulus se minder ervare mede-Christene. Paulus het geskryf: “Ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.”—2 Korinthiërs 11:3, NAV.
6. Wat beteken dit om verlei te word?
6 Let op dat Eva nie bloot bedrieg of gekul is nie; sy is ook verlei. Dit beteken dat sy deur ’n bekoorlike lokmiddel of versoeking beweeg is om ’n rampspoedige weg in te slaan. Volgens die Nasionale Woordeboek beteken verlei “tot sonde of kwaad oorhaal”, “lok tot iets onverstandigs”. Hierdie woordeboek toon ook dat verlei die betekenis het van “beweeg tot buite-egtelike gemeenskap”. Ons kan daarby baat vind om te ondersoek hoe Satan Eva verlei het (hoewel geslagsgemeenskap nie in hierdie geval ter sprake is nie) en ook om te kyk na soortgelyke metodes wat hy vandag gebruik.
7, 8. (a) Wat was die doel van Satan se vraag aan Eva? (b) Hoe het Satan die vrug aanloklik gemaak?
7 Satan het sy aanslag begin deur op subtiele wyse van ’n slang gebruik te maak om Eva God se wet in twyfel te laat trek. In woorde wat versigtig gekies is om agterdog en wantroue te wek, het hy gevra: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Met hierdie slinkse vraag het Satan geïmpliseer dat dit ’n jammerte is dat sy nie van al die bome van die tuin kon eet nie. Trouens, hy het aangevoer dat sy nie sou sterf soos God gesê het nie, maar dat sy eerder bevoordeel sou word deur van die verbode vrug te eet. “God weet dat as julle daarvan eet”, het Satan haar verseker, “julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 3:1-5.
8 Hoe goddeloos en geslepe van Satan om te kenne te gee dat God probeer het om voordelige kennis van Eva te weerhou! Volgens Satan het God selfs ’n ydele doodsdreigement gebruik om haar te verhinder om haar selfbeskikkingsvermoë te gebruik. ‘Haai, jy mis baie!’ het hy in der waarheid vir Eva gesê. ‘Jy sal nie sterf nie. Jy kan geniet wat God self geniet. Jy kan self besluit wat goed en kwaad is.’ Eva het gehou van die idee om haar eie besluite te neem sonder dat sy aan iemand verantwoording hoef te doen.
9. Watter reeks gebeure het tot Eva se sonde en uiteindelike dood gelei, soos Jakobus 1:14, 15 toon?
9 Gevolglik het Eva met begeerte na die boom begin kyk. “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet” (Genesis 3:6). Maar later, toe Eva ontdek het dat sy nie gekry het wat beloof is nie, het sy verduidelik: “Die slang het my bedrieg” (Genesis 3:13). Die slang het haar trouens ook verlei deur ’n bekoorlike lokmiddel of versoeking aan haar voor te hou totdat selfsugtige begeerte haar laat sondig en uiteindelik laat sterf het.—Jakobus 1:14, 15.
Pas op vir Satan se planne
10. Waarom hoef ons nie met Satan se planne onbekend te wees nie, en watter instruksies behoort ons te volg?
10 Satan gebruik soortgelyke planne, dit wil sê, skemas, sette en streke, om jongmense vandag te bedrieg en te verlei. Maar aangesien die Bybel Satan se bedrieglike metodes deeglik dokumenteer, hoef jy nie met sy planne onbekend te wees nie (2 Korinthiërs 2:11). Wat jy nodig het, is die gesonde verstand om ag te slaan op die waarskuwings en instruksies wat Jehovah God ons deur middel van sy Woord en organisasie gee.—Spreuke 2:1-6; 3:1-7, 11, 12; 4:1, 2, 20-27; 7:1-4.
11. Hoe verlei of bedrieg Satan jongmense dikwels sodat hulle verkeerde dinge doen?
11 Hoe gaan Satan dikwels te werk om jongmense tot sonde te verlok? Hy doen dit deur dinge wat God veroordeel, werke waardeur ’n mens jou God se misnoeë op die hals kan haal, baie aantreklik maar terselfdertyd onskadelik te laat lyk, net soos die vrug vir Eva gelyk het. En soos hy met Eva gedoen het, sal hy die idee probeer bevorder dat jy onnodig iets mis wat jou plesier kan verskaf. Op ’n slinkse, bedrieglike wyse probeer Satan dus om jou respek vir Jehovah se Woord, sowel as vir die instruksies van jou Godvresende ouers en God se organisasie, te ondermyn. Die Bybel spoor ons derhalwe met goeie rede aan: “Bly [staande] teen die liste [“listige aanslae”, NAV] van die duiwel.”—Efesiërs 6:11.
12. (a) Watter feit omtrent Satan moet ons almal ernstig opneem, en waarom? (b) Hoe beskou jy die woorde in 1 Johannes 2:15 en Jakobus 4:4? (c) Wat wil Satan jou graag laat glo?
12 Eva was natuurlik dwaas om Satan se leuen te glo. Maar neem baie jongmense vandag nie eweneens die waarskuwings in Jehovah se Woord of dié van hulle ouers of Christelike ouere manne lig op nie? Wat van jou? Neem jy dit byvoorbeeld ernstig op dat Satan die Duiwel die owerste van hierdie wêreld is en dat hy, as die god van hierdie wêreld, mense se sinne verblind? (1 Johannes 5:19; Johannes 12:31; 14:30; 16:11; 2 Korinthiërs 4:4). Probeer jy werklik om gehoor te gee aan God se gebod: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie”? (1 Johannes 2:15). En vra jou af: ‘Glo ek werklik die Skriftuurlike verklaring: “Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God’”? (Jakobus 4:4). Satan wil jou graag bedrieg sodat jy sal dink dat die wêreld geen bedreiging inhou nie, dat die werke wat dit bevorder onskadelik is. Maar pas op! Moenie bedrieg word nie!
Bedrieglike verlokkings vandag
13. Watter gebruik het in baie plekke gewild geword, en wat wil Satan ons graag daaromtrent wysmaak?
13 Satan verlok mense dikwels tot sonde deur dinge wat op sigself nie verkeerd is nie of wat nie uitdruklik in die Bybel veroordeel word nie. Ter toeligting: Hoewel baie egpare aangename herinneringe het aan die dae toe hulle mekaar die hof gemaak het, is daar potensiële gevare wanneer paartjies op afspraak uitgaan en alleen in mekaar se geselskap verkeer. Afspraakmakery is in werklikheid ’n betreklik moderne gebruik wat eers na die Tweede Wêreldoorlog in baie plekke gewild geword het. Satan wil jou graag wysmaak dat die gebruik bloot ’n onskuldige vorm van vermaak is wat jongmense in staat stel om lede van die ander geslag persoonlik te leer ken. Maar die gebruik is in werklikheid vol morele gevare.
14. (a) Hoe kan die gebruik om afsprake te maak beoordeel word? (b) Watter gevoelens kan ontstaan wanneer twee jongmense uitgaan?
14 Ouer, ryp Christene is, danksy hulle ervaring, meer bewus van hierdie gevare en kan dus nuttige leiding gee (Spreuke 27:12). Maar jy dink dalk dat dit geen gevaar inhou om afsprake te maak nie en dat jou ouers te streng is en jou pret bederf. Maar net soos mense beoordeel kan word volgens die vrugte wat hulle voortbring, so kan gebruike soos afspraakmakery ook volgens hulle vrugte beoordeel word (Spreuke 20:11; Mattheüs 7:16). ’n Agttienjarige meisie wat gereeld met ’n seun uitgegaan het, en wat swanger geraak het, het byvoorbeeld gesê: “Ek was een van die duisende kinders wat gedink het dit kan nie met my gebeur nie.” Sy het erken dat “handjies hou en soenery afgesaag raak” nadat jy ’n tyd lank uitgegaan het. ’n Sewentienjarige meisie wat dikwels met seuns uitgegaan het, sê eweneens: “Die soenery en liefkosings word al vuriger totdat ek nie meer kan wag dat die seun met my omgang het nie.” ’n Ongewone gevoel? Glad nie.
15. Vir watter tragedies is afspraakmakery in ’n groot mate verantwoordelik?
15 Wanneer jongmense wat fisiek tot mekaar aangetrokke voel hulle afsonder, soos dikwels gebeur wanneer hulle uitgaan, kan seksuele begeerte so sterk word dat dit selfs welmenende jongmense God se wet laat verbreek. Onthou dat heelwat meer as ’n miljoen tienderjarige meisies in die Verenigde State elke jaar swanger word, en dat honderdduisende van hulle aborsies ondergaan of hulle kinders buite-egtelik in die wêreld bring. Ongelukkig is van hierdie tienderjarige meisies kinders van Jehovah se Getuies, en so ook die seuns wat hulle swanger gemaak het. Die hedendaagse gebruik om afsprake te maak is in ’n groot mate vir hierdie tragedies verantwoordelik, sowel as vir moontlik miljoene van die nuwe gevalle van seksueel oordraagbare siekte elke jaar.
16. (a) Waar alleen kan seksuele begeertes tereg bevredig word? (b) Wat gebeur met baie van God se knegte?
16 God het bedoel dat seksuele begeerte in die huweliksband bevredig moet word, waar dit heilsame genot en bevrediging kan verskaf (Hebreërs 13:4; Spreuke 5:15-19). Maar Satan het hierdie Godgegewe gawe op geslepe wyse gebruik om mense te verlei sodat hulle hul voortplantingsvermoëns misbruik en hoerery pleeg. In vervloë tye is 24 000 Israeliete op een dag tereggestel weens hierdie oortreding teen God, en tans word duisende elke jaar uit die Christengemeente gesit weens hoerery. Wees dus verstandig. Luister na raad en leiding. Moet jou nie laat bedrieg nie.—Numeri 25:1-9, 16-18; 31:16.
17. (a) Watter bedrieglike beskouing staan Satan voor in verband met dinge soos sport, musiek en dans? (b) Waarom hou die wêreld se vermaak gevaar in vir God se knegte?
17 Wees ook op jou hoede teen ander planne van Satan. Sport, musiek en dans het byvoorbeeld ’n prominente deel van hierdie wêreld se vermaak geword. Dit is waar dat hierdie dinge op sigself nie noodwendig verkeerd is nie; dit kan genot verskaf en selfs voordele inhou (1 Timotheüs 4:8; Sagaria 8:5; Lukas 15:25). Satan staan egter op bedrieglike wyse die beskouing voor dat hierdie dinge geen kwaad kan doen nie, selfs wanneer jy gereeld saam met mense van die wêreld daaraan deelneem. Maar God se Woord waarsku: “Moet julle nie langer laat mislei nie: ‘Slegte geselskap bederf goeie sedes’” (1 Korinthiërs 15:33, NAV). Dink daaroor na. As godsdiens en die politiek ’n deel van Satan se stelsel is, is dit dan nie dwaas om te dink dat die vermaak van die wêreld vry van sy invloed is nie? Jy moet voortdurend op jou hoede wees en nie “toelaat dat die wêreld om jou heen jou in sy vorm indruk nie”.—Romeine 12:2, The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips.
Hulpmiddele om jongmense te beskerm
18. Waarom moet jy ouers waardeer wat jou onderrig en lei?
18 Jehovah God het liefdevol hulpmiddele voorsien om jongmense teen misleiding te beskerm. In die eerste plek het hy julle ouers voorsien om julle te onderrig en te lei. En julle kan dankbaar wees wanneer hulle dit doen. Een ongelukkige agttienjarige, wat buite-egtelik swanger geraak het, het gekla dat dit nooit sou gebeur het “as my ouers hulle werk behoorlik gedoen het en my vertel het van die gevare van ’n vaste kêrel en my verbied het om met hom uit te gaan nie”. Wees dus dankbaar as jy Godvresende ouers het. Hulle probeer jou nie kortwiek en jou lewe ondraaglik maak deur die beperkings wat hulle jou oplê nie. Inteendeel, hulle het jou lief en wil jou beskerm. Trek voordeel uit hulle ervaring en wysheid deur hulle raad te vra.
19. Watter bykomende hulpmiddele is voorsien om jongmense te beskerm?
19 Daarbenewens het Jehovah sy aardse organisasie voorsien om jou te help. Elke nommer van Ontwaak! bevat byvoorbeeld die rubriek “Jongmense vra . . .” wat toon hoe redelik Jehovah se standaarde is. Die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies is eweneens voorsien om jou te help om God se wette en beginsels by die skool te gehoorsaam. Verder kry ons bemoediging en raad deur middel van Die Wagtoring en by gemeentelike vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste. Trouens, die onderwerp wat ons nou bespreek, “Jongmense—moenie bedrieg word nie”, was ’n toespraak by ’n onlangse streekbyeenkoms sowel as die tema van ’n Diensvergaderingdeel.
20. (a) Waarom word baie hulp aan jongmense verleen? (b) Watter gesindheid sal jou help om weerstand te bied teen Satan se pogings om jou te bedrieg?
20 Moet nooit dink dat ons, deur al hierdie aandag, probeer saamspan teen julle om julle van julle vreugde te beroof nie. Nee, God se organisasie het julle lief, en alles wat gedruk en gesê word, is bedoel om julle te beskerm—om julle lewe te red! Leer om hierdie hulpmiddele te waardeer. Maak dit ’n gewoonte om die Bybel met behulp van die Genootskap se publikasies te bestudeer; laat Bybelwaarhede julle waardering opwek. Mag julle gesindheid wees soos dié van ’n agttienjarige wat, na ’n bespreking van reguit raad aan jongmense, geskryf het: “Dit het my eenvoudig laat besef hoe gelukkig ons as jongmense is om in die waarheid te wees! Geen ander organisasie op aarde gee soveel vir sy jongmense om of het hulle so lief nie!” Mag ons saamstaan en weerstand bied teen die Duiwel se pogings om ons te bedrieg, want ons is nie met sy planne onbekend nie!
TER HERSIENING
◻ Waarom is jongmense ’n spesiale teiken van Satan?
◻ Hoe het Satan Eva tot sonde verlei?
◻ Hoe verlei Satan jongmense dikwels vandag tot sonde?
◻ Watter hulpmiddele is daar om jongmense te beskerm?
[Prent op bladsy 10]
Net soos Satan Eva mislei het, wat minder ervare was as Adam, so is jongmense ’n spesiale teiken van Satan
[Prent op bladsy 13]
Wanneer jongmense hulle afsonder, kan seksuele begeerte sterk word en tot die skending van God se wet lei