Vrae van lesers
◼ Wie of wat word afgebeeld deur “Leviatan” van Jesaja 27:1?
Jesaja 27:1 lees: “In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviatan, die vinnige slang, en oor die Leviatan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.” Ons pas hierdie profesie toe op Satan die Duiwel en sy goddelose organisasie op aarde.
Die Wagtoring van 15 Oktober 1985 het verduidelik dat Jesaja hoofstuk 27 ’n herstellingsprofesie is. Die eerste vervulling het die eertydse nasie Israel geraak, wat in hulle tuisland herstel sou word na 70 jaar van gevangenskap in Babilon. Alhoewel die meeste van die ballinge van Babilon afkomstig was, sou sommige van Egipte en die gebied van Assirië terugkeer. Jehovah God het bepaal dat sy volk bevry sou word, met die gevolg dat daardie nasies hom nie kon keer deur onafhanklike of gesamentlike pogings nie. Hulle kon vir mense sterk en geslepe gelyk het, soos ’n eertydse Leviatan (waarskynlik ‘n krokodil), maar Jehovah sou nietemin slaag in die belang van eertydse Israel.—Vergelyk Job 40:20–41:25.
Wat sal “Leviatan” egter afbeeld in ’n grotere vervulling van Jesaja hoofstuk 27? Begryplikerwyse dink ’n mens aan Satan die Duiwel, want Openbaring 12:9 beskryf hom as “die groot draak” en “die ou slang”. Hy is al lankal ’n vyand van God en Sy volk. Boonop maak die Skrif dit duidelik dat Satan sal ondergaan. God het ’n dag bepaal waarop hy, deur sy Seun, sy mag gaan uitoefen om die Duiwel uit te skakel. Daardie “draak” of “slang” sal dus neergevel word soos met ’n groot en sterk swaard.—Hebreërs 2:14; Openbaring 20:1-3, 10.
Maar onthou dat die onmiddellike vyande wat eertydse Israel moes trotseer, sigbare nasionale teenstanders soos Egipte, Assirië en Babilon was. Op soortgelyke wyse kom God se Christenknegte vandag te staan voor tasbare teenstanders te midde van die onstuimige see van die mensdom wat van God vervreemd is (Openbaring 17:1, 15). Satan beheer ’n wêreldwye organisasie wat hy gebruik om die “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” te dwarsboom (Openbaring 12:17). Hierdie Duiwel-oorheerste organisasie het bewys dat hy geslepe en wreed is, soos ’n leviatan. Tog het hierdie “Leviatan” vroeg in hierdie eeu sy beheer oor geestelike Israel, naamlik die gesalfde Christengetuies van Jehovah, verloor.
En dit sal volkome neergevel word wanneer Jesus, vergesel van engelestryders, uittrek met “’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan”.—Openbaring 19:11-16.
Alhoewel daar in een opsig van Satan gepraat kan word as die Leviatan van Jesaja 27:1, sluit daardie profesie dus meer in as “die ou slang”. Dit sien veral op die sigbare, aardse organisasie wat deur hom oorheers word. Die voormelde Wagtoring kon derhalwe sy lesers se aandag vestig op die tyd wanneer “die hedendaagse, goddelose stelsel waaroor Satan die Duiwel as god heers, nie meer bestaan nie. Jehovah sal sy aandag gewend het tot die simboliese Leviatan, die vinnige, kronkelende slang wat in die see van die mensdom doenig is. Hy en die nasies, en selfs bonde van nasies, sal uit die weg geruim wees.”